Brouhaha. Eben Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Brouhaha - Eben Venter страница 11

Brouhaha - Eben Venter

Скачать книгу

– maar eerder oor die kopdinge. Watter perspektiewe laat staan jy en waarmee kom jy – gepantser – terug op geboortegrond en terug tussen jou mense?

      Net voordat ek vertrek, vind die jaarlikse Sydney Gay & Lesbian Mardi Gras plaas. Dit is een van die stad se groot feeste wat derduisende besoekers lok en miljoene dollars in die stadskoffers stort. Ek besef sommige lesers se keel trek teen dié tyd toe, maar luister na die punt wat ek wil maak.

      Opvallend is die boodskappe van ondersteuning voor in die amptelike program van die Mardi Gras – boodskappe van die Australiese eerste minister, die premier van Nieu-Suid-Wallis en die leier van die opposisie. Skeptici sal opper dat die boodskappe onvermydelik geraak het vanweë die groot klomp dollars wat die Mardi Gras vir die staat van Nieu-Suid-Wallis maak, maar vir skeptisisme is daar, veral wanneer jy na Suid-Afrika terugkeer, min plek.

      Die eerste minister sê die volgende in sy boodskap: “Die Mardi Gras is een van die sleutelgebeure op die Sydney-kalender en die voortgesette sukses daarvan weerspieël die kulturele diversiteit van die hedendaagse Australië.” Die leier van die opposisie stippel dié gees van verdraagsaamheid en inklusiwiteit nog duideliker uit: “Ná 32 jaar het die Mardi Gras protes aangeteken teen diskriminasie, dit het ’n sterk bewussyn van en groter steun vir mense met MIV en vigs bevorder … en bowenal is die Mardi Gras ’n viering van die mensdom in al sy verskeidenheid.”

      *

      Op sy roete tussen Sydney en Johannesburg vlieg QF64 baie naby aan die Suidpool verby. Toe die eerste sig op die koelblou suidelike seë kom, is daar ’n beroering op die vliegtuig. Baie passasiers gaan haal hulle kamera en mik deur die patryspoorte na onder: Spierwit blokke wat van ysberge afgebreek het, drywe op die koelblou water.

      “Is die blokke ys elke jaar hier of is dit ’n teken van aardverwarming?” vra ek vir een ou met ’n blou kortbroek en ’n polohemp van donkerblou rekstof. Hy lyk vir my Afrikaans en dit is toe ook so.

      “Nee,” sê hy, en “ja” sê hy en ek stap terug na my sitplek, en die kombers van skeptisisme – of, erger nog, sinisme – trek weer oor my. Ek bestel ’n 250 ml-botteltjie Kaapse sauvignon blanc en drink my beter.

      Begryp dit: As jy ’n lang ruk in Australië gewoon het, is die vlaag van negatiewe mediadekking oor Suid-Afrika oorrompelend. En ek praat nou nie van beriggewing oor krieket nie, want dit is soet doepa daardie wat jy lekker kan wegsluk.

      Boonop kom jy heeltyd in aanraking met nuwe Suid-Afrikaanse emigrante; skerpsinnige mense, goed gekwalifiseerd, mense met baie breins en baie bagasie. Die bagasie – en ek bedoel nie koffers met klere nie – is dít wat onwillekeurig saamgebring is uit dorpe en voorstede, en van plase wat nou eens en vir altyd agtergelaat is: lieflike ou herinnerings, maar toegegooi met sinisme en volslae negatiwiteit.

      Hiermee ry ek dus terug na die land van melk en moorde: die swaarwigtige perspektiewe van nuwe emigrante, die aanhoudende negatiewe beriggewing oorsee en nou nog die afgebreekte ysblokke daar ver onder. En bygeklits in die cocktail: Zuma.

      Vergelyk nou die inklusiewe boodskappe van ondersteuning vir die Mardi Gras met dié van Zuma kort voor sy verkiesing tot president: “Toe ek grootgeword het, sou ’n ungqingili (’n gay man) nie voor my kom staan nie. Ek sou hom net daar uitgeslaan het.”

      Agterna, waarskynlik op aanbeveling van sy adviseurs, moes hy die gewraakte stelling terugtrek. Maar wie’t toe in sy opregtheid geglo?

      Voeg hierby die Londense Guardian wat ’n klomp gesiene joernaliste gevra het om hulle vooruitsigte vir die nuwe jaar reg or die wêreld neer te skryf. Só het ene Jenni Steele geprofeteer: “In Suid-Afrika is daar ’n baie werklike vooruitsig dat gevaarlike etniese verskille na vore gaan tree. Sedert apartheid aan sy einde gekom het, was daar ’n ongemaklike alliansie tussen die twee dominante groepe: die Zoeloes en die Xhosas. Dit is nou besig om tot niet te gaan.”

      Dit is die eggo’s van sulke frisgewaagde beriggewing en naïewe politieke uitsprake waarmee ek terugkeer. Maar bowenal is dit die uiters swaarmoedige, nee, keelafsnyperspektiewe van ’n Afrikaner in murg en been wat my bybly. En teister.

      Ek verwys hier na Breyten Breytenbach se brief aan Nelson Mandela in die Desember 2008-uitgawe van die Amerikaanse tydskrif Harper’s. Dit is die einste maer man met die groen trui wat eenkeer lank gelede geskryf het:

      My voorouers praat met my:

      So ver soos die asem terug kan tel

      Lê die oorskot van my mense in hierdie aarde se skoot:

      Stowwerige semen,

      Ek het ’n belegging,

      hier

      ’n nederige blyke van vertroue in die oneindige ryk van die dooies.

      In Harper’s spreek Breytenbach egter sy diepe ontnugtering uit oor sy “belegging”, oor sy droom dat daar ná 1994 “in hierdie aarde se skoot” verwesenlik sou word: gulhartigheid, ekonomiese geregtigheid, kreatiwiteit, en siviele en regerende verantwoordelikheid.

      Drink die wyn klaar, maak oë toe, los maar eers vir Breyten met al sy breins en mnr. Zuma met syne. Vergeet en vergewe sommer ook en probeer slaap.

      Om by die huis te kom moet ek deur die Langkloof en oor die Swartberge ry. Daar is appelsmouse langs die pad wat melerige Jonathans reg voor jou karruit indruk, en teen die kloof se hange rooi en wit proteakelke, bitterlik mooi. Die lug is ’n silwerblou en die son is warm en soet en heldergeel. Ek trek af by ’n kafee op Uniondale en stap binne om ’n bottel water te koop, maar toe ek binne is, besluit ek op ’n Fanta.

      Die kafee ruik na daardie minipakkies Surf wat pas uit ’n kartonboks op die rakke gepak is, na bruinbrood en witbrood in dun plastieksakkies en na die drie skywe polonie en een snysel hopeloos te geel cheddarkaas wat ’n man in ’n blou overall vir sy middagete kom koop, en na die roserige deodorant van die jong, tammerige vrou wat jou kleingeld in jou handpalm uitkeer, en na die trossie Calitzdorpse hanepoot in ’n piering wat net daar onder haar hand lê.

      Ek hang so ’n bietjie rond: Daar kom ’n blou polisieman in en ’n gekreukelde antie met drie kinders en nog een op die heup en Duitse rooiwangtoeriste en twee Indiërmans, reisende verkoopsmanne wat Cokes en ’n pakkie Stuyvesant kom koop, en ’n boer met ’n kakiehemp en ’n kollie wat buite op sy bakkie wag en twee seuns wat ’n Will Smith-DVD kom haal en nog baie ander soorte mense wat almal op presies dieselfde manier deur die vrou agter die toonbank gehelp word.

      En oor die luidsprekers ’n liedjie wat ek al lankal wou vergeet: “Ha ha said the clown.”

      Dit maak nie saak of jy al baie gereis het of jou hele lewe lank op dieselfde dorp woon nie: Jy weet sommer dié soort kafee bestaan net in Suid-Afrika. En op haar tydsame, net-net verdraagsame manier het die jong, tammerige vrou haar eie mardi gras geskep in daardie kafee wat heel waarskynlik nie eens aan haar behoort nie.

      Ek gaan staan op die stoep en proe die nagemaakte lemoensmaak van die Fanta en ek bevind my in ’n ander tydlose wêreld as die een waarvandaan ek nou net kom.

      Die kafee met sy kafeereuke en sy kafeebeligting en sy kafeeklanke en -smake en -voorrade – blykbaar het niks daarvan oor die jare verander nie. En so verwelkom die kafee jou en ook weer nie, want oorvriendelik is hy nie, daarvoor is hy te lank in die land.

      Die gruwelland wat Breytenbach ver verby moedeloos maak, die verkragtings en kapings en herhaaldelike huisinbrake en OTM’e wat opgeblaas word – ware stories waarop jou mense en vriende jou trakteer

Скачать книгу