Brouhaha. Eben Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Brouhaha - Eben Venter страница 8

Brouhaha - Eben Venter

Скачать книгу

goed weet Jonas Maphalla, ’n Noord-Sotho van Polokwane. Hy is ’n groot man en sy gebare en welluidende stem vul die dubbelkajuit van sy brandweerrooi bakkie. “Taxi-bestuurders?!” Hy lag kliphard: “Hulle dink hulle kan bestuur, maar hulle is vrot bestuurders!”

      Nog ’n vol lag. Nie afwysend nie, net ’n kennisname: So ry daai ouens en daarom weet hy hoe om tussen hulle te ry.

      Ons draai van Empireweg af op die M2. Vir hom is dit nie net ’n oprit om jou op die snelweg na Soweto te kry nie. Wanneer Jonas hier ry, dink hy aan ’n been. In dieselfde draai het ’n lorrie vol verfblikke nou die dag omgeslaan. Daar sit die blertse rooi verf nog op die teer. Die bestuurder het beheer verloor en sy been is in die ongeluk afgeskeur. Omdat die ongelukstoneel oortrek was met blikke en rooi verf en wrakstukke, het hulle die been eers ’n week later gekry. “Poor man.”

      En Jan Smuts, vra ek oor die naam van die straat waarvandaan ons gekom het. O nee, daardie was ’n goeie man; hulle het nie al die straatname uitgegooi nie. Weer lag Jonas lekker en hy vat so gemoedelik aan my knie net om sy punt te staaf.

      Ek begin die stad geniet. Jonas is op sy tuisveld. Die man het ’n plesier aan die lewe, tasbaar, en Johannesburg met al sy wonde en wonders is deel van daardie plesier.

      Nes ek het ook hy in die vroeë jare tagtig hier aangekom. Maar niks van ’n Saterdagaandse loslopery in Hillbrow vir hom nie. Hy het van die noorde af gekom vir net een ding en dit is werk. Net jammer hy het nie die regte tjap in sy dompas gehad nie.

      10A in jou pas het beteken jy’s van Johannesburg, jy mag hier werk. 10B het beteken jy’s van elders, maar jy het ’n tjap en jy mag ook hier werk. Jonas het nie 10A óf 10B in sy pas gehad nie, net ’n R10 tussen die bladsytjies weggesteek. Maar al was dit geld, sou dit daardie dae net met party polisiemanne werk.

      Hy wys terug oostekant toe met sy duim, na Norwood. Grant Avenue met sy restaurante en kroeë en modewinkels vir sommige; vir Jonas is Norwood ’n nag in ’n polisiesel. Toe hy die oggend daar uitgelaat word, was hy smeulend.

      Nou dít moet hy van Nelson Mandela sê, sê hy en wys na Houghton, waar hy presies weet waar Madiba agter hoë veiligheidsmure woon: Toe daardie man ná 27 jaar uit die gevangenis stap, het hy nie ’n greintjie bitterheid of haat oorgehou nie. Daardie grootmoedigheid het hy van hom geleer, ’n liefdesles gepas vir ons land.

      Ons kom in Soweto en ek is nou in die ding. Daar langs Jonas met sy blik, al is dit dan net vir die duur van die toer, kan ek onmoontlik meer ’n voyeur met net witmens-oë wees. Op die sitplek tussen ons en bo-op my kamera wat ek voorlopig eers eenkant toe skuif, lê vandag se Daily Sun. Jonas lees daardie koerant van voor tot agter, elke dag.

      Eers wil hy my die splinternuwe mall gaan wys.

      Ons kom op ’n nuwe deurpad wat, net soos die indrukwekkende Bara-taxistaanplek, deel is van Soweto se opgeknapte infrastruktuur.

      “Hierdie pad het verlede jaar sy naam verloor,” lag Jonas al weer sy groot lag. “Dis nie meer die Ou Potchefstroompad nie, dis nou Chris Hani-weg.”

      En hier op regterkant een van die talle Rea Vaya-bushaltes, die op- en afklimplekke wat die roetes van die nuwe snel-busvervoer met mekaar skakel.

      “Rea Vaya? Is dit ’n Portugese woord?” Nou skater Jonas. Hy het die sleutel: Rea is ’n Sothowoord en dit beteken “ons is”, en Vaya is Tsotsitaal wat beteken “op pad alle kante toe”.

      Jonas is ingenome daar langs my soos hy vetgee en los en vaardig tussen honderde wit taxi’s vleg. En ek voel veiliger as wat ek ooit agter ’n driemanshoë laserbeveiligde muur in Parktown kan voel. Dis oor Jonas se groot, uitgestalde lewensvreugde.

      En oor die stad waarvoor hy al die sleutels het. Ek is bevoorreg om dit ’n slag só te ervaar.

      Onder ’n staalolifant deur ry ons die reusagtige parkeerterrein voor die Maponya Mall binne. ’n Stralende spuitfontein, kinders aan ouers se hande, shop till you drop. Daar’s geen rede om ’n foto te neem nie, want dit lyk soos enige mall in die wêreld. Behalwe dat dit in Soweto is en almal, ek, het gedink Soweto is, wel, Soweto.

      “Very nice,” sê Jonas. En dit is. Dis bleddie nice. Ek is beïndruk. Terug onder die olifant uit.

      Die megasakeman Richard Maponya sit agter die besigheid. “Hy’t selfs renperde,” voeg Jonas by. En die olifant is sy gelukbringerdier. Ook Jonas Maphalla s’n.

      Laaste stop: Soccer City.

      Ons vat die eerste die beste afrit, maar dit bring ons nie vreeslik naby nie. ’n Klomp manne in blou oorpakke en veiligheidshelms is besig om die terrein om die stadion mooi te maak. Jonas hang elmboog eerste by sy venster uit en praat Sotho, en as dit nie werk nie, slaan hy oor na Zoeloe.

      Met al die tale op sy tong – sy eie Sotho plus nog Zoeloe, Xhosa, Engels, so ’n raps Afrikaans en Tsotsitaal – het hy ’n pas wat ek maar net kan begeer. Nog ’n slag kry hy presies wat hy wil hê: die kortpad wat ons reguit tot by die stadion gaan vat.

      Daar lê die pragtige kalbas, sy golwende wande afgewerk met skakerings van aalwynrooi en renostergrys en mielie-meel-beige. Op die wande hang werkers aan abseiltoue en bring die laaste afrondingswerk aan die duisende reghoeke waarmee die wand bedek is.

      Die juweel van die 2010-sokkerstadions, ’n produk van die argiteksfirma Boogertman Urban Edge + Vennote met sy 25 stuks mense.

      Dit is vir my amper so mooi soos Beijing se Olimpiese hoofstadion, maar omdat dit hier op die winterbruin Hoëveld verrys het, sy aan sy met die byna een miljoen inwoners van Soweto, is dit vir my ’n groter prestasie, eleganter én aardser. Johannesburg op sy heel beste.

      In die laatmiddag se spitsverkeer draai ons terug op die snelweg noorde toe. Jonas hou sy konsentrasie sonder om spanning of ongeduld te wys. Padwoede is so ver van hom soos woede uit die jare toe hy moes baklei vir sy reg om hier te werk.

      ’n Mercedes-sportmotor trek langs ons by die verkeerslig in. “Mooi kar,” sê Jonas. En vertel toe van ’n kliënt wat soms tot drie maande op ’n slag in China werk.

      Dan gaan trek hy haar Mercedes uit die garage en gaan ry ’n draai met hom sodat sy batterye nie pap raak nie. Baie maklik om so ’n kar te bestuur, lekker terugsit, lekker show-off, al daardie goed.

      Maar dit laat hom niks ryker voel as wat hy reeds hier in Johannesburg is nie.

      *

text2.tif image6.tif

      Vlugteling in die Sydney-hawe

      My heel eerste Viëtnamese vriend het ek in die vroeë jare negentig in Sydney leer ken. Sy naam was Vân (jy spreek dit uit “vên”, soos in: my vên staan in die waenhuis). Vân het saam met sy familie en ander vlugtelinge, tweehonderd en vyftig siele altesame, op ’n boot uit Suid-Viëtnam padgegee. In Australië word sulke mense boat people genoem.

      Vân het min gepraat oor daardie hellevaart. Hy was ’n seun, tien jaar of so oud, groot genoeg om niks daarvan te vergeet nie. Dit het ek gehoor by ander Viëtnamese wat ek leer ken het toe ek eers met Vân bevriend geraak het: Tommy, Bao, Trung.

      ’n Fyngeboude man was hy, maar nie tengerig nie. Sy beenstruktuur

Скачать книгу