Tou. Piet Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tou - Piet Steyn страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Tou - Piet Steyn

Скачать книгу

      “Wit of swart man?”

      “Nee, hy was wit. O ja, hy het gesê hy is van die Vrystaatse Landbou-unie se veiligheidsafdeling. Hulle was glo besig met ’n opname op die plase, en het min of meer dieselfde vrae as julle gevra.”

      “Hoe bedoel Oom?”

      “Wou ook weet van die werkers op die plaas, hoeveel ons het, waar hulle bly, sulke tipe van dinge.”

      “En van ou Jantjie se seun,” val die tante hom in die rede. Sy haal die swart pot se deksel met ’n vadoek af en roer die pap met ’n houtlepel. Die krummelpap se effens aangebrande geur vul die kombuis.

      “Hû? O ja! Hy wou weet wat het van ons trekkerdrywer, Jantjie, se seun geword.”

      “En wat hét van hom geword?” vra Jan.

      “Ek het nie meer werk vir hom gehad nie, en moes hom laat gaan.”

      “Wat is sy naam?”

      “Elliot … Elliot Mabaso.”

      Jan kyk na Mac wat in ’n sakboekie aantekeninge maak. Hy wag totdat die speurder klaar geskryf het en vra: “Het Oom probleme met hom gehad?”

      “Nee wat, nie juis nie. Hy was in elk geval nie meer lus vir boer nie. Wou Welkom toe, op die myne gaan werk. Sover ek weet, is dit dan ook waarheen hy is.”

      “Is dit al wat die man wou weet?” vra Mac met sy een oog op ’n vet skaaprib wat Boeries op ’n houtbord uitmekaar sny. Die tante is besig om in ’n pan met sissende botter eiers te breek.

      “Ja, ek het nie daardie tyd gedink daar is iets verkeerd nie.”

      “En sy pa? Jantjie.”

      “Ek en hy het op Driefontein saam grootgeword. Saam kaalgat geswem in die dam, saam kleiosse gebou en kleilat gegooi.” Hy glimlag dromerig. “Saam slae ook gekry, van sy ouers én van myne.”

      “Is hy nog steeds op die plaas?”

      Die ou man kyk in die venster se rigting van waar die son nou ’n stofbespikkelde streep oor die plankvloer begin gooi. “Ja, Superintendent. Hulle sal ons ook eendag saam hier op Driefontein moet begrawe, dáár by die langbome op die rif. Waar die ander almal ook lê.” Hy bly ’n oomblik stil, selfs die kromsteel vergete in sy krom vingers. “Hy sal nou-nou die melkemmers bring, dan kan julle self met hom praat.”

      “So, Oom-hulle oorweeg dit nie om maar dorp toe te trek nie?” vra Jan.

      Die ou man trek sy skouers reguit. “Daar is nie ’n manier nie,” sê hy beslis. “Ek en die tante het dit al lankal uitgepraat. Hierdie plaas is al drie geslagte in ons familie, die een wat ons hier wil afhê, moet ons maar hier kom afhaal.”

      “Dis veiliger op die dorp, Oom. Het julle kinders? Kan julle nie by hulle gaan bly nie?”

      “Net twee. Die dogter is in die Kaap en die seun werk in Kanada. Albei is getroud, met hulle eie lewens. Sien hulle maar min.”

      Die koeie roep by die kraal na hul kalwers. Seker die einste Jantjie wat nou klaar gemelk het en hulle nou uitjaag veld toe, dink Jan.

      “Hulle sal nie kom boer nie,” verbreek die ou man die stilte, sy stem nou sag met ’n effense kraak, sy oë vogtig.

      “Los dit nou maar, Gys. Kom ons eet eers, die kos is reg,” sê die tante terwyl sy die pap van die Aga na die tafel verskuif. “Gaan roep een van julle die arme man hier buite, foei tog. Hy is seker al dood van die honger.”

      Die speurders staan al drie gelyk op, kyk na mekaar, en dan loop Boeries na buite en Jan en Mac gaan sit weer.

      “Beteken die woorde ‘Hof onder die Kruis’ vir Oom-hulle iets?” vra Jan.

      Die ou man kyk vraend na hom, dan na sy vrou wat haar kop skud. “Nee, daar was jare terug ’n Kerk onder die Kruis, Oos-Vrystaat se wêreld,” sê hy. “Is dit belangrik?”

      “Nee wat. Oom Gys, ek sal dalk later weer met jou moet praat. Laat julle gedagtes maar ’n bietjie gaan. Vir nou is dit egter genoeg.”

      “Ja, dis reg, kom ons ogies nou eers,” sê hy toe Boeries en die konstabel in uniform hul stoele raserig oor die plankvloer inskuif. Die ou man laat sak sy kop op sy bors, die tante se hand in syne. Hy bid ’n algemene tafelgebed, maar net voordat hy “amen” sê, huiwer hy en voeg ’n bykomende sinnetjie by: “Dankie dat U oor ons gewaak het in hierdie nag …”

      5

      Pine was tot eenuur die oggend aan diens sodat Ann ook ’n slaapkans kan kry. ’n Vuil doek en twee leë bottels getuig van sy toewyding. Hy is behoorlik vaak, dit is eers ná ’n geklop en ’n gevryf en gebid vir ’n wind, in enige rigting – boontoe of ondertoe – dat hy Tiaan uiteindelik aan Ann kon oorgee en hom terugtrek na die spaarkamer sodat sy gesnork hulle nie pla nie. Vir ’n paar uur baie nodige slaap. Maar toe pla die stoeplig hom, en die bure se brak aan daardie kant van die huis blaf heelnag vir sy gat! En toe hy uiteindelik sy oë toemaak en die slaap hom wegvoer … toe kom die donner met die een been weer.

      Die maanlig val in silwer bane deur die donkerte. Die bome se blare is uit silwer foelie gesny en dit skitter en ritsel as die wind pla. Selfs die stamme van die bome glinster silwer en saam met die ligte geritsel bring dit ’n helder rustigheid. Maar dan die donker gedaante met oë wat heldergeel skyn en die silwer verdring. Die wind begin ruk en maal, blare word opgeswiep, takke met harde knalle afgeruk. Uit die kop van die swart gedaante skiet vuurtonge, soos uit ’n vulkaan. Die rooi lawa skiet by die tandelose bek uit, voer ’n figuur met die gesig van ’n mens mee. Die mens spring op net een been in die kokende stroom rond en word dan in die grond in weggesleur, sy mond ’n gapende gat waaruit ’n klanklose kreet skeur …

      Pine ruk regop, hy is natgesweet en sy asem jaag. Hy is heeltemal gedisoriënteer, en dit duur ’n ruk voordat hy die mure herken, die stoeplig agter die gordyne … Tiaan huil by Ann in die slaapkamer. Hy kantel die Timex aan sy pols na die dowwe gloed wat deur die gordyne val. Sesuur. Amper tyd om op te staan. Hy vat ’n sluk water uit die glas op die kassie voor die bed en lê terug op die kussing. Watse helse droom was dit al weer? Weer die man met die een been! Wie de donner is hy?

      Pine Pienaar swaai sy bene van die enkelbed met die knopperige matras. ’n Oomblik sit hy so met sy gesig in sy hande en probeer die dag in perspektief kry, staan dan op en loop sleepvoetend kombuis toe. Hy vat die Spar-sak met die vorige dag se vuil doeke, roep die worshond wat ingewurm onder sy kombers in sy kassie lê en maak die agterdeur oop. Die dag is besig om te breek. In die ooste skeur die son hom los van die swart horison, gooi ’n oranje streep teen vlieswolke.

      “Toe, Vlooi! Plassie, dis bleddie koud hier buite.” Die hond verken met sy neus teen die grond die hele agtertuin; besluit dan in elk geval om sy been teen die witstinkhout se stam te lig – soos elke oggend.

      Pine gooi die sak in die asblik, haal ’n hand vol mieliegruis uit ’n plastiekemmer onder die afdak en skiet dit oor die stukkie grasperk – vir die bosduiwe en die tortelduiwe en enigiets anders wat mielies wil vreet. Dis sy stukkie boerdery, al wat oorgebly het van sy kinderjare op die familieplaas in die Vrystaat. Hy loer weer na die Timex. Dit is omtrent hierdie tyd soggens dat sy pa altyd die primus met brandspiritus geprime het en dan begin pomp het. Die son sal ook nou begin om

Скачать книгу