Tou. Piet Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tou - Piet Steyn страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Tou - Piet Steyn

Скачать книгу

      “Nee, Sup, hy het daai seksie assistent van hom gestuur. Ek scheme die ou raak nou oud, kom nie meer so baie by die crime scenes uit nie. Henk is ook hier.”

      Pine steek vas. “Henk? Watter Henk?”

      “Daai De Beer-laaitie. Die een wat ons so gesoek het toe daai mad ou met sy snoeiskêr sy duime wou afsny.”

      “Hel, is hy al só groot?” Pine sien ’n oomblik weer die verskrikte bebloede bondeltjie mens wat hy in daardie donker kloof vir sy ma gegee het. Hoe lank terug is dit al? Hy raak oud!

      Die voordeur gaan oop voordat hulle dit bereik, en ’n lang swartkopvrou met ’n wit jas verskyn en vee ’n haarsliert wat oor haar gesig val weg. Dr. Annie de Villiers, forensiese patoloog, assistent van die eksentrieke Krappies Nothnagel, die hoof van die SAPD se forensiese afdeling in Silverton, is nie onbekend aan die speurders van die eenheid teen georganiseerde misdaad nie. Mooi Annie, het Kat haar gedoop nadat hy die eerste keer in haar donker oë agter die swartraambril gekyk het. Maar dit sê hy net agter haar rug. Vóór haar kom hy nie verder as om sy snorpunte uit sy mondhoeke te vee nie. Dít is sy beste “move” en is gewaarborg om enige vroumens se bene lam te maak. Eers links, dan regs met die handrug, terwyl hy smeulend met sy donker oë loer. Tot dusver was dit nie baie suksesvol met háár nie. Maar wag, die dag sal kom dat sy daardie bolla op haar kop losmaak, die blinkswart hare losskud en die bril afhaal … Kat ril opsigtelik.

      “Julle kan maar inkom,” sê sy met ’n donker, heserige stem. Kat reik onwillekeurig na sy snor. “Moet net nie aan iets raak nie.”

      “Kom, Kat,” sê Pine.

      Hulle stap agter haar in ’n korterige gang af. Jerome se tekkies maak skreegeluide op die gladde teëls. Sy beduie na die eerste deur regs en staan terug sodat hulle kan instap.

      “Bliksem!” Pine steek vas.

      Die kamer is karig gemeubileer. ’n Paar ou gemakstoele en ’n bank uit verskillende eras staan ongeërg voor ’n televisiestel met ’n skewe haasoor-antenna. Tussen TV en stoele is ’n rottang-koffietafel met ’n glasblad, daarop ’n paar plat pizzabokse met stukke pizza daarin en ’n paar leë bierbottels. ’n Staanlamp en ’n regop kombuisstoel lê omgekeer – bes moontlik die gevolg van ’n struweling. Die wit mure is kaal, sonder enige versierings, die oranje gordyne is sonverbleik en toiingrig.

      Dit is egter die toneel teen die muur verste van die TV wat die aandag aangryp: Drie mans wat aan toue van die plafon hang. Pine ruk sy blik vinnig weg van die gesigte wat in die laaste spasma van verskriklike pyn en doodsangs gestol het, tong op die ken, oë wit en wyd gesper, nie die geringste beweging nie. Hy dwing sy blik na die stukke gipsplafon op die vloer, na die goiingtoue wat aan ’n vensterraam vasgemaak is. Sy oë volg die styfgespande toue op na waar hulle oor ’n ontblote dakkap lei, af na die grusame gewigte wat dit gespanne hou, en dan vinnig verder na die drie donker vlekke op die mat.

      7

      Pine voel aan die Keyser se kop in sy sak, haal diep asem en draai sy rug op die drie stil figure. Hy stap verby die stoele voor die TV, die tafel met die pizzabokse en bierbottels na ’n venster aan die voorkant van die vertrek. Hy trek die oranje gordyn effens oop en staar uit oor die oorblyfsels van ’n tuin, ’n vervalle heining, die afskilferende muur van ’n buurhuis, ’n geroeste geut waaruit die smeltende ryp stadig drup. Twee olyflysters draai vlerkslepend op die doodgerypte grasperk om mekaar. Dis die lewe, dink hy. Hier binne is drie mense doodgewurg; daar buite dink dié twee aan nuwe lewe, die komende lente. Dis wat ’n mens moet kan regkry, om soos daardie voëls te wees, veral as jy elke dag gekonfronteer word met mense wat geskiet is, gesteek is, met klippe doodgegooi en selfs doodgebrand is met ’n buiteband om die nek. Soms moet jy self ’n lewe neem. Die ding is om net nie daaraan gewoond te raak nie, om altyd te weet dat die seisoen sal draai.

      Die een lyster vlieg op en gaan sit op die nek van die afkopkabouter.

      Pine draai terug na waar die forensiese mense stil besig is om foto’s te neem en met kwassies te soek na vingerafdrukke of ander leidrade. Almal probeer die swaaiende lyke nie raaksien nie; wil so gou moontlik wegkom uit die gruwelkamer wat stink na urine en ontlasting en die vloerpolitoerdeksel vol dooie sigaretstompies wat omgekeer langs die glasbladtafel lê, en bo-oor alles die reuk van die dood wat almal toevou in kille angs.

      Jerome kyk op van die werksaamhede van die forensiese span, merk dat hy weer op Pine se aandag aanspraak kan maak en kom aangestap met ’n plastieksakkie in sy hand. “Sup, check net ’n bietjie hier.”

      Pine sit sy leesbril op en bekyk die koevert met die A4-bladsy daarin, loer dan vraend oor die halfmaanlense na die speurder.

      “Dit was op een se bors vasgespeld,” verduidelik Williams.

      Kat kom loer oor sy skouer. Aan die een kant is daar ’n skets van ’n brandende kers in ’n houer wat soos ’n bak met vloeistof lyk. Bokant die skets staan: Hof onder die Kruis, en daaronder: Levitikus 24:17.

      “Wat de donner beteken dit?” grom Kat.

      Pine draai die koevert om. Agterop is ’n lys misdade en datums, meestal gewapende roof met verswarende omstandighede, ook ’n moord of twee. Ooglopend misdade waarby dié slagoffer betrokke was, en hierdie stuk papier is dus ’n soort klagstaat.

      “Hel,” grom Kat weer. “As dit alles waar is, was hulle drie groot skarminkels. Ek dink die donners het gekry wat hulle verdien.”

      “Die een of ander godsdienskultus?” Pine kyk vraend na Annie de Villiers wat hulle uit ’n hurkende posisie dophou. “Enige idee wat in Levitikus 24:17 staan? Of wat Hof onder die Kruis beteken?”

      Sy kom regop, vee ’n paar swart hare met ’n wit rubberhandskoen van haar voorkop, skud haar kop en trek haar skouers vierkantig. “Ons is amper klaar hier, kan ons hulle maar lossny?” vra sy en beduie na die lyke.

      Kat se hand gaan halfpad na sy snor, maar Annie se blik was so vlugtig op hom dat hy dit laat vaar.

      Pine knik en gee die koevert terug aan haar, laas week se gesprek met Jan Doep nou weer in sy gedagtes. “Ja, sny maar af. Kom, kêrels.” Hy wink Kat en Jerome saam. “Kom ons kry ons ry.”

      Buite druk hy ’n nommer op sy selfoon en stap elmboog in die wind met die foon teen sy oor ’n ent weg. “Hallo, Jan, dis Pine van Jo’burg.”

      “Yes, Pine. Hoesit daar in die groot stad?”

      “Vrek koud.” Pine is nie lus vir gemeenplase nie. “Jan, ek staan hier by ’n misdaadtoneel, kan nie baie praat nie. Luister ’n bietjie hierna en sê my of dit bekend klink.” Hy loop ’n draai oor die dooie grasperk, selfoon teen die oor, terwyl sy ander arm in die lug beduie soos hy die misdaadtoneel vir Jan beskryf.

      “Ja, dit klink na dieselfde lot wat by Wesselsbron was,” sê Jan Doep ná Pine se beskrywing. “Die kleredrag, die klagstaat, die lot, alles klink dieselfde.”

      “Dit lyk nie goed nie.”

      “Nee, en dit lyk ook nie of dit gaan ophou nie.”

      “Dis waarom ek jou bel. ’n Ooggetuie sê die een slagoffer het onder druk vir die aanvallers vertel hulle werk vir ’n kaping-sindikaat daar in jou wêreld. Hy het name genoem ook. Die leier is ene Doepie of Deppie, so iets. Ek weet nie of jy dit kan gebruik nie.”

      “Dippie,

Скачать книгу