Tou. Piet Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tou - Piet Steyn страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Tou - Piet Steyn

Скачать книгу

moet ek weer aas ook brei.” Hy neem ’n lang teug uit die glas.

      “Hoe gaan hy af?” vra Kassie.

      “Nee, hy loop mooi. Thanks, pel.”

      Die motorboot kom terug en die man het steeds dieselfde grynslag op sy gesig en weer ’n middelvinger in die lug.

      “Gee pad, jou gemors!” skree Kris en gooi die laaste stuk kerriepap agter die boot aan. Die meisie op die ski’s waai vriendelik. “Ag, fok jou ook,” brom hy toe hy weer sy sit kry.

      Kassie sit met ’n glimlag aan sy bokbaard en trek. “Jy moet stadig, hy’s darem ’n manager,” roer hy sy ou vriend se moerigheid verder om.

      “Te hel met hom, ek werk nie vir hom nie.” Kris tel sy stok op en katrol in.

      “Ek hoor jou laaitie is nou by Serious Crimes,” verander Kassie die onderwerp.

      “Ja, in Welkom. Ek het vir hom gesê hulle mors hulle bleddie tyd. Voordat hulle nie die doodstraf terugbring nie …”

      “Jy weet mos hulle sal nie.”

      “Hulle steel nou die dag so wragtig ’n shifting spanner en ’n blok-en-tekkel uit my garage,” sê Kris verontwaardig. “Uit my bleddie garage, by die huis. Helder oordag!”

      Kassie sug. “Ja, ek weet nie waar alles gaan eindig nie.” Hy trek sy oë op skrefies teen die sonlig wat weerkaats van die bruin rivierwater, soek tussen die bosse en riete van die oorkantste oewer, asof hy dáár oplossings kan vind vir al die misdaad. Hy staan op, maak sy glas leeg en skiet die oorblywende stukkies ys die water in. “Ja.” Hy sug weer. Hy kan nie aan die jong meisies wat die afgelope tyd hier in hulle omgewing verdwyn het, dink sonder om nie ook aan Baby te dink nie. Sy was een keer byna weg … “Hoe … hoe gaan dit met Baby?” vra hy.

      “Heeltemal te mooi en te verdomp hups vir my laaikings,” brom Kris en spoeg windaf terwyl hy sukkel met die aas.

      “Jy moet daai kind van jou oppas. Kris, my ou maat. Dis lelike tye …”

      Kris kyk skerp om na Kassie, sien hoe sy pel oor die water kyk. Dan snap hy waarvan Kassie praat en brom iets onhoorbaars.

      “Kyk nou net dié verdomde zama-zamas,” verander Kassie weer die onderwerp, terwyl Kris steeds brommend vooroor buk om ’n stuk bruin brood in die water te druk. “Hulle gaan so wragtig onwettig ondergronds, moet my nie vra hoe nie, en steel die gouderts daar onder. Hoe kom hulle daar? Hoe oorleef hulle, maande lank? Wat eet hulle?”

      Kris staan en knie die stuk brood, soekend oor die bruin water na visbewegings. Tussen die riete sien hy ’n blink lyf deur die oppervlak breek, die breë plat snorbek ’n oomblik sigbaar. “Kassie, ons moet een aand weer kom viskoppe insteek,” sê hy. “Het jy gesien hoe draai daardie baber?”

      Kassie knik, maar hy laat hom nie van stryk bring nie: “Hoe kom die zamas daar? Daar is net een manier om ondergronds te kom, en dis met die cages by die skagte. Daar is veronderstel om kontrole te wees. Ek meen, as jy nie ’n werknemer is nie gaan jy nie ondergronds nie. Dis so maklik soos dit.”

      “Omkopery, ou pel. Omkopery. Hierdie zamas se vetgat base sit in Jo’burg en maak baie geld. Meer as party mynbase, want die bliksems het nie overheads nie.” Kris kerf ’n ui in die stuk gebreide bruinbrood in, beduie na Kassie met sy knipmes. “Ek sê nou vir jou, daar kom nog groot stront. Daai spul maak kos daar onder, op oop vlamme in ou werkplekke wat vrot is van die metaan. HKGK! Watch net.” Hy pluk vererg sy broek met die meshand aan ’n lussie hoër op.

      “Hoekom doen iemand nie iets nie? Dit kan mos nie so aangaan nie.”

      “O, hulle try, my ou pellie! Hulle try, maar die geld is te groot. Ek sê sit ’n paar dinamietkerse onder daai nes van ’n G Hostel in Welkom. Dis waar al die moeilikheid begin. Hulle smelt dan selfs die goud daar. Fok!” Kris skud sy kop, knie die aas aan sy hoeke vas.

      Kassie staan op en begin sy lyne inkatrol. “Het jy in die koerant gelees van die spul plaasaanvallers wat deur die een of ander groep uitgehaal is?”

      “Die mense is gatvol vir al die crime,” brom Kris. “Die swartes doen dit al lankal om skarminkels self reg te sien. Onthou jy nog die tyd van die tyre om die nek?” Hy vat nog ’n sluk, sit sy glas versigtig op die grond neer. Dan sê hy hardop wat hy netnou al wou sê: “Ek sal darem self ook hierdie klomp human traffickers ’n tyre om die nek wil sit.” Hy vee sy mond af. “Bleddie gemors.” Hy staan met ’n kreun op. “Laat ek maar weer try,” sê hy.

      “Whao! Wag! Meneer motorboot is weer op pad!”

      “Ek hoor hom! Watch my nou, ek sal hom regsien. Jou timing moet net reg wees.”

      “Kris, wat se stront wil jy nou weer aanvang?”

      “Watch net. Jy cast nét voor die boot, sodat die lyn nog nie gesink het as hy met die propeller daaroor gaan nie.”

      “En dan?”

      “Dan draai die lyn die propeller vas, die bootjie vrek in die middel van die rivier en Mejuffrou Virginia 2006 sink met haar bikini en ons lag vir hulle, middelvinger in die lug. Watch nou.” Hy swaai die aas die water in.

      Die boot en mejuffrou bikini kom verby. Kassie hou sy asem op, maar niks gebeur nie.

      “En nou?” vra Kassie half verlig, want hy wil nie moeilikheid hê met die man in die boot nie.

      “Die lyn is afgesny. Seker te dun,” brom Kris, probeer weer onsuksesvol sy broek met die een hand aan ’n lussie optrek.

      “Kris, kom ons loop,” sê Kassie, “ons kan net so wel by Harvinia-klub ’n dop gaan maak.”

      9

      Met sy voete op ’n lessenaarlaai en hande agter die kop, sit Jan Doep met ’n oop Bybel op sy skoot. Hy het pas ’n vers rooi onderstreep en sit nou ingedagte die nuwe dag deur die venster en aanskou. As dit nie vir die wind was nie, was dit nou ’n lekker helder wintersoggend in Welkom. Die son het vroeg al van die ryp ontslae geraak, maar toe kom dié koue suidewind, vol kunsmis en bogrond van die plase na Wesselsbron en Hoopstad se kant af, en trek soos ’n stuk growwe skuurpapier oor alles – jy vóél hom as jy dit buite waag. Kyk hoe staan die span werkers wat gestuur is om die polisiekantore se erf te kom skoffel, styf teen die muur om uit die wind te kom, hande diep in die sakke en voete stamp. ’n Vuurtjie van kasplankies en leë sementsakke help darem ook om die koue uit die vingers te trek. Dié dikbek wind kry sy byt in die Suid-Vrystaat. Hy wil nie weet hoe dit dáár geryp het nie, dalk selfs gesneeu.

      Jan Doep ril, maar dis nie net weens die koue nie; sy kop is ook met die Bybelvers besig, Levitikus 24:17: Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry. Moord met ’n religieuse ondertoon, dís waarmee hulle hier te make het. En gewoonlik hou dit nie op voordat baie mense gesterf het nie – dink maar aan die Charles Manson-moorde in Amerika in die laat jare sestig. ’n Leier, so mal soos ’n kolhaas, begeester ’n aantal mense met sy “profetiese visie”, en dan buit hy hierdie mense se passie vir die saak uit. Dis ’n wonder jy sien nie meer sulke dinge hier in Suid-Afrika nie. Met die eskalering van geweldsmisdade en die voortdurende oproepe om die doodstraf terug te bring, kan ’n sekte op grond van Levitikus 24:17 so onstuitbaar word soos ’n brand wat deur ’n sterk wind in lang wintergras voortgedryf word – ’n wind soos wat vandag waai.

      Jan

Скачать книгу