Hertog van die Pampas. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach страница 3

Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach

Скачать книгу

dat sy so gering geag word dat Alejandro vir hom ’n vrou uit Spanje moes kry. Sy houding teenoor haar was nog altyd so sjarmant dat sy haar begin verbeel het dat sy die uitverkorene sal wees. Baie van die groot grondeienaars se kinders trou met bure en dit versterk hulle onderling. Dis veral belangrik weens die konstante bedreiging van die bandito Pablo Ramirez, met sy stryd teen die rykes en die regering van president Ignacio Branco wat hulle steun.

      Alejandro is klaar so ryk en magtig. Hy het nie werklik nodig om bondgenote te soek nie, maar ook nie om ’n ryk vrou uit Spanje te kry nie. Die treurige oë is meteens gevaarlik blink en woedend. Sy draai weg van die spieël.

      “Dankie, Ana. Jy het jou bes gedoen.”

      “Vanaand draai die mans soos bye om u,” glimlag Ana. “Een van die dae is daar nog ’n verlowing in ons geweste.”

      Dit sal die dag wees, dink Miranda opstandig, maar sy dwing ’n glimlag na haar lippe.

      Sy gaan na die groot sitkamer, waar haar ouers vir haar wag. Hulle ry in die koets, met ’n groot geleide lyfwagte, want deesdae weet mens nie of die banditti jou voorlê nie. Dit maak dit opwindend maar ook senutergend om die veiligheid van jou eie estancia te verlaat.

      Raúl ry te perd, en Miranda wens sy kon eerder ook te perd gegaan het as in die stamperige koets op die stofpad, met haar ouers wat haar dophou asof hulle bang is sy gaan haar nie na behore gedra nie.

      “Don José de la Guardia sal seker by die bal wees. Hy het my gevra of hy jou die hof kan maak,” kondig haar vader meteens aan. “Hy is ’n uitstekende keuse. Hulle estancia is ryk, en hy is ook die oudste seun.”

      “Ag nee!” protesteer sy.

      Dié jong man uit ’n vooraanstaande familie en nie onaansienlik nie sal haar ouers natuurlik geval, maar teen Alejandro is hy vir haar nietig. Sy moet hoop verloor, maar sy kan nie …

      “Dis nou tyd dat jy ophou protesteer oor elke man wat ek aan jou voorstel,” blaf haar vader. “As jy nie uit die room kies nie, sluit jy naderhand ’n misplaaste huwelik. Almal wat jy weier, sal vir hulle ander bruide kry.”

      “Dalk sit jy nog op die rak,” merk haar moeder suur op.

      “Nee, dit kan ek nie voorsien nie,” wys haar vader sy vrou tereg. “Daar is te veel belangstelling, want Miranda het ’n mooi meisie geword en ons is ver-moënde mense. Ek wil net nie hê sy moet in die kloue van ’n derderangse fortuinsoeker beland nie.”

      Miranda bly doodstil sit. Hulle moenie dink hulle kan haar dwing nie. Al blyk haar ouers se huwelik ’n suksesvolle gereëlde huwelik te wees, sal sy nie in dieselfde strik trap nie. Om te beland in die bed van ’n man vir wie jy niks voel nie, waar jy jouself soos ’n lam ter slagting moet oorgee, is haar idee van hel.

      2

      Terwyl haar ouers gesels en hubare jong mans bespreek, kyk Miranda by die venster van die koets uit. In die verte is die hoë siërra agter die uitgestrekte estancia waarheen hulle op pad is, en voor hulle lê die Rio Santa Cruz, die rivier tussen die twee estancias, waar hulle ’n brug moet oorsteek wat Alejandro se vader nog gebou het.

      Die son is nog nie onder nie en die landskap spreek soos altyd tot haar. Sy het dié bodem met haar hele wese lief. So lief soos vir Alejandro, wat deel is daarvan soos die sneeu op die hoogste pieke van die siërra, die kolkende water van die rivier wat uit die berge vloei, die vlaktes met duisende stuks vee wat daarop wei, die pragtige herehuise, die kleurryke mense en gehuggies. Háár land, en sýne.

      Die koets rammel oor die houtbrug en soos altyd kyk Miranda met bewondering na die estancia San Felipe de Oragon. Die casco bestaan uit die herehuis, kapel en buitegeboue, geleë in ’n indrukwekkende park met palmbome en ’n aangeplante woud nie ver anderkant die rivier nie. Dis die mooiste casco wat sy ken. Hulle eie casco is soortgelyk, maar minder opulent.

      Die estancia San Felipe de Oragon het ’n uitkyk-toring, die mirador, en die geboue is om ’n reuse binnehof gerangskik, waarin ’n groot fontein in ’n dam borrel en die indruk van koelheid skep as die hitte van die somer hulle tref. Danksy die fortifikasies lyk dit veilig, soos ’n kasteel.

      Sy het haar nog altyd verwonder aan die vloere met Florentynse teëls, die soliede klippilare, die vensters met gegote ystertraliewerk en ornamentele deure, die dik mure en hoë plafonne met swaar houtbalke. Kunstige stukadoorswerk is oral te sien. Die meubels is swaar en pragtig met baie goud- en silwerafwerking, die muurbehangsels en ornamente is die keurigste wat sy nog gesien het, en alles in die huis is ingevoer uit Spanje. Swaarde van Toledo en die harnas van ’n voorvader is teen die muur in die groot voorkamer aangebring, en daar is skilderye van die vername aristokratiese familie in deftige Spaanse kostuums.

      Sy sug. Dit was nog altyd lekker om hierheen te kom – die Semillano de Oragon-familie se gasvryheid is legendaries. Die vooruitsig om Alejandro hier te sien, het egter alle ander plesiere oortref. Gewoonlik as sy op dié werf inry, is haar hart bulderend van opgewondenheid en weet sy daar is ’n blos op haar wange en haar oë blink. Hierdie keer is daar egter net die seer in haar, die intense teleurstelling, en ’n wrewel wat die weersiens vertroebel.

      Die werf is vol rytuie en die personeel van die estancia versorg die ry- en karperde. Miranda is bewus van deftig geklede gaste wat arriveer, die vroue in lang, wye rokke, met kamme in en mantillas oor hulle hare en waaiers in hulle hande – waaiers waarmee ’n vrou duidelike boodskappe kan stuur, veral as haar oë bo-oor kyk en die res van haar gesig verberg is.

      Vandag traak Miranda nie wie die ander gaste is nie, sy wil net vir Alejandro en daardie vrou aan wie hy verloof moet raak, sien. By die trappe na die ingang gaan haar ouers vooruit en sy en Raúl volg. Dit voel asof alle oë op hulle is, maar sy konsentreer op die mense wat hulle inwag.

      Dolores, Alejandro se laatlamsuster wat fraai lyk in pienk, is soos gewoonlik bly om haar te sien. “Welkom, Miranda,” groet sy en omhels haar. “Jy lyk absoluut verruklik,” fluister sy.

      “Dankie.”

      Kan hulle nie die ongelukkigheid op haar gesig sien nie, of het haar streng opvoeding dit regtig moontlik gemaak om alle emosie weg te steek? Binne-in haar kolk dit.

      Doña Natalia – in swart tafsy met baie kant, want sy rou steeds ná haar man se dood – groet vriendelik. “Julle is soos altyd welkom.”

      Toe is Alejandro daar, onberispelik, asemrowend in ’n swart pak met onderbaadjie, spierwit hemp met kant by die kraag en polse, sy blinkswart hare netjies in sy nek vasgemaak. Sy gesig is vir Miranda soos ’n lig wat te helder is om direk na te kyk; sy berispe tevergeefs haar verraderlike, trommelende hart.

      Sy moet net kalm bly, kop omhoog, rug styf, net effens glimlag. Alejandro moenie agterkom dat haar hand bewe as hy dit soos gebruiklik soen nie. Gee my krag, bid sy, en toe is sy voor hom.

      “Miranda … soos altyd betowerend,” mymer hy en sy moet in daardie diep, donker oë tussen die swart wimpers kyk. Wat is in hulle dieptes? Tog nie spyt of jammerte nie.

      Sy oë terg en spot nie soos so dikwels in die verlede nie. Hy lyk uitdrukkingloos, sy blik eintlik versluier, want hy het hom nie aan haar verbind nie, en nou behoort hy aan ’n ander vrou. Hy moet hom stigtelik gedra.

      Toe hy haar hand neem en sy lippe dit liggies aanraak, voel dit asof haar vel skroei. Die hitte trek deur haar hele wese om haar week te laat. Waarom is sy tog so swak as sy by hom is? Dit maak haar sommer kwaad dat hy so ’n effek op haar kan hê. Ja, dis ’n emosie om aan vas te

Скачать книгу