Hertog van die Pampas. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach страница 7

Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach

Скачать книгу

jy iets op die hart, Miranda?”

      “Ek kan nie verstaan hoe julle mekaar sommer op die voornaam kan noem nie,” sê die markiesin. “In Spanje handhaaf ons die formaliteite.”

      Tot Miranda se verbasing kyk Alejandro spottend na die markiesin. “Ons is in Argentinië, ver van die koninklike hof, U Hoogheid, en ek ken Miranda vandat sy ’n baba was.”

      Die markiesin se doodsbleek gelaat kry ’n kleurtjie wat Miranda aan ergerlikheid toeskryf, maar sy trek net haar lippe dun en praat nie terug nie. Sy is duidelik geleer om haar toekomstige man te eerbiedig, dink Miranda minagtend.

      “Ek kan nie net hier sit en dinge so laat verbygaan nie,” sê sy vir Alejandro. “Daardie Ramirez en sy klomp boewe moet gestraf word. Ek het aan ’n oplossing vir ons probleme gedink. Vader se suster, Doña Mariangéla de García, se oorlede man het ’n hoë pos in die regering beklee. Sy moet ingelig word dat Vader dood is, maar afgesien daarvan kan sy heel waarskynlik vir my ’n oudiënsie by president Branco reël. Ek gaan hom vra om troepe uit te stuur om daardie banditti vas te trek.”

      Sy hoor hoe almal tegelyk uitroep.

      “Jy kan nie alleen gaan nie, en jou broer is te siek om jou te vergesel,” sê haar moeder met iets van haar ou vuur, want sedert haar man se dood praat sy maar min. “Jy sal my dwing om in my toestand saam te gaan.”

      “Moeder, ek sal vir Carmen saamneem, en van ons gaucho’s om ons op te pas.”

      “Ek dag daardie diktator van julle is besig om uitgewerk te word,” merk die markies snedig op. “ ’n President is mos nie iemand wat die mag erf soos ’n koning nie. Wil dié Ramirez hom nie juis uit die kussings lig nie? Hier in julle deel van die wêreld verrys daar mos die een aanspraakmaker na die ander.”

      Miranda kyk geskok na hom en toe na Alejandro. “Is dit waar dat die president se bewind tot ’n val gaan kom?”

      Alejandro lyk geïrriteerd. “Sover ek weet, is president Branco nog stewig aan die stuur. Die regeringstroepe is reeds hier en daar slaags met Ramirez se ondersteuners, maar dis nog nie ’n volskaalse oorlog nie. Hulle sal dalk bereid wees om te help. Ek sal saam met Miranda gaan.”

      “Maar jy kan nie weggaan nie!” protesteer sy moeder heftig. “Daardie Ramirez is hier by ons. As hy ons bure kon aanval, is ons dalk volgende. Ons het jou hier nodig.”

      “Dis waar,” stem Miranda saam. “Jy kan nie hier weggaan nie. In elk geval nie op die oomblik nie.”

      Alejandro sit sy hande palms ondertoe op die tafel weerskante van sy bord. “Dis nie vir jou veilig om deur ’n gebied te gaan waar die banditti maklik kan toeslaan nie. Dit kan ek nie toelaat nie.”

      Sy kyk hom uitdagend aan. “Dankie dat jy oor my begaan is, Alejandro, maar al is jy ons weldoener en vriend, het jy geen gesag oor my nie. Ek gaan, en klaar.”

      Hy kyk haar gebelg aan. “Iemand moet na jou veiligheid omsien as die mans van jou familie nie daar is om dit te doen nie.”

      “Wel, dit ís dalk ’n goeie idee om na Doña Mariangéla te gaan,” sê Doña Maria Luísa huiwerig. “Hoe anders kan ons haar laat weet van Don Ramon se dood? Sy sal ons mos baie kwalik neem as ons haar niks laat weet het nie en sy vind dit eers lank na die tyd uit. En sonder hulp sal ons daardie Ramirez nooit van ons rûe afkry nie.”

      Alejandro kyk na Miranda asof hy wonder of hy sy uitspraak moet heroorweeg.

      Die kil stem van die markiesin klink op: “Laat haar gaan, Don Alejandro. Sy lyk tog vir my na iemand wat haar eie kop volg.”

      Miranda kyk na haar en merk die vrou se venynige uitdrukking. Wat het sy teen haar, behalwe dat sy op haar neersien? En wat weet sy in elk geval van haar?

      “U het reeds ’n mening oor my gevorm, sien ek,” sê Miranda sarkasties. “Al ken ons mekaar skaars en het ons nog nie eens een gesprek gehad nie.”

      Alejandro se gesig lyk soos donderweer. “Moenie inmeng nie, asseblief, Doña Mercedes,” sê hy kil. “En onder my dak laat ek ook nie my vriende beledig nie. Miranda is besig om aan ons almal se veiligheid te dink, joune inkluis.”

      Miranda kyk verbaas maar dankbaar na hom en merk dat die markiesin verleë lyk. Doña Natalia kyk haar seun kwaai aan, maar hy steur hom klaarblyklik nie daaraan nie.

      Ná ’n gelade stilte probeer Miranda hom weer oorhaal. “Jy kan vir my van jou gaucho’s ook leen sodat ek ’n sterk geleide het.”

      Hy huiwer, maar lyk nie inskiklik nie.

      “Jy kan, my seun,” sê Doña Natalia. “Sy behoort veilig te wees, as sy net gou maak en nie langs die pad vertoef nie.”

      Miranda kyk stip na hom. “Alejandro, ek móét eenvoudig gaan. Ons het nie ’n keuse nie.”

      Baie teësinnig knik hy naderhand. “Ek sal halfpad saamgaan. En as jy terugkeer, stuur jy ’n boodskapper vooruit dat ons jou kan ontmoet.”

      “Ek belowe. Ek sal vinnig gaan en terugkom, sodat die gaucho’s kan terugkeer na die estancias.”

      Alejandro knik, en daarmee is die plan beklink.

      Miranda treur oor haar vader en is angstig oor haar broer. Dis moeilik om Raúl te los, want sy is vreeslik bekommerd oor hom, maar hulle estancia, hulle hele bestaan, word bedreig. Ramirez sal hulle ruïneer – hy het dit al halfpad reggekry. Hoe gaan hulle ooit herstel as sy nie self iets daadwerkliks doen nie?

      Dis in elk geval ook vir haar ’n pyniging om te moet sit en aanskou hoe die markiesin met verliefde skaapoë na Alejandro kyk en natuurlik gretig wag vir die amptelike aankondiging van hulle verlowing. En dis vir Miranda swaar om haar eie gevoelens weg te steek as sy gedurig vir Alejandro sien. Hy laat steeds haar hart op loop gaan en haar lyf word week van verlange. Om saam met hom onder een dak te wees en hom van naderby en heeltyd te aanskou, laat verdiep net haar gevoel vir hom. Dit maak die aanvaarding dat sy hom gaan verloor des te moeiliker en pynliker.

      Alejandro ry langs Miranda voor die muilwa met die bagasie. Carmen sit langs die drywer, en om hulle is ’n klein, swaargewapende geleide.

      Sy kyk onderlangs na hom op sy groot swart hings, sy blink stewels in die stiebeuels en ’n opgerolde sweep en geweer aan sy saal vasgemaak, en haar hart trek met ’n punt na hom. Onder die breërandhoed met silwerbeslag is sy gesig egter ernstig en bekommerd.

      “Ek hou nie daarvan dat jy so alleen reis nie,” grom hy.

      “Ek is nie alleen met dié groot geleide nie,” herinner sy hom met ’n glimlag. “Niemand sal dit waag om ons aan te val nie.”

      Hy frons egter nog steeds. Dié meisie is vurig en onverskrokke, maar gans te mooi om alleen te reis, selfs met ’n duenna by haar, dink hy. Selfs as sy ooglopend rou. Mans kyk begerend na haar – hy let dit lank reeds op en dit irriteer hom meer as wat hy wil erken.

      Hier is sy nou in swart rydrag en haar slanke, regop figuur vang die oog. Hy sien hoe loer die gaucho’s na haar. Natuurlik sal hulle haar beskerm, maar hulle is ook net van vlees en bloed en kan nie help om haar te bewonder nie. As sy verpligtinge teenoor almal onder sy dak en veral teenoor Mercedes hom nie so vasgehou het nie, sou hy nooit vir Miranda alleen laat gaan het nie. Hy sou haar eenvoudig al die pad vergesel het, want om haar

Скачать книгу