Hertog van die Pampas. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach страница 4

Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach

Скачать книгу

nie. “Don Alejandro, dis altyd ’n plesier om hier te kom en julle weer te sien.”

      Hy hou nog steeds haar hand vas, besef sy vervaard en wonder of sy dit moet wegtrek. Waar is die verloofde, die markiesin van wat ook al? Sy kan nie eens die naam onthou nie.

      Hy los eindelik haar hand en sy moet aanbeweeg. Sy voel hoe Raúl haar elmboog neem asof hy haar wil steun en sy kyk vlugtig dankbaar na hom.

      Die son het gesak en die gaste is die huis vol. Orals word lampe en kerse aangesteek. Miranda voel asof sy in ’n droom wandel. In ’n pragtige omgewing, maar iewers in die skaduwees skuil die nagmerriegevoel van verlies en pyn.

      Almal het verversings geniet en nou staan hulle en wag vir die aankondiging wat die doel van die aand se viering is. Miranda is bitterlik nuuskierig om te sien hoe die markiesin lyk, al is dit soos wag vir ’n slang om die paradys binne te seil.

      Uiteindelik is die spanning verby: ’n jong vrou kom by die breë trap af. Alejandro gaan gee haar sy hand en lei haar na onder, waar sy moeder en suster staan. ’n Vreemde jong man sluit by hulle aan. Die geraas van mense wat praat en gis, bedaar totdat ’n doodse stilte gedaal het.

      Miranda staar na die meisie, wat sy ’n jaar of twee ouer as syself skat. Al wat sy teenoor haar voel, is wrewel. Die markiesin is baie mooi, al is sy amper te delikaat en broos. Sy is uitsonderlik deftig aangetrek en haar kantversierde tabberd en juwele stel al die ander vroue s’n in die skadu. Haar vel is spierwit asof sy nooit in die son kom nie, en haar hare is donker met ’n effense rooi skynsel. Hovaardige swart oë kyk na die nuuskierige mense en haar volmaakte rooi mond glimlag skaars.

      Sy dink seker ons mense is nie van die onbesproke kwaliteit wat sy in Spanje ken nie, dink Miranda ergerlik. ’n Pragtige vrou, maar soos ’n nagblom wat nie hier in ons Argentynse grond aard nie. Sy pas eenvoudig glad nie hier of by Alejandro nie. Hoe kon hy, wat in die buitelug leef en byna op ’n perd se rug gebore is, eens dink dat dié vrou die regte een vir hom is?

      Doña Natalia lyk so selfvoldaan toe sy in die rondte na die gaste kyk dat Miranda op haar tande kners. Maar dit tref haar soos ’n hou in die maag toe die markiesin na Alejandro draai: haar gesigsuitdrukking verander van bykans minagtende trots en arrogansie na iets wat soos aanbidding lyk.

      Dan het hy reeds haar voete onder haar uitgeslaan, dink Miranda wrokkig. Die markiesin kan haar geluk seker nie glo om ’n man te kry wat so manlik en aantreklik is en terselfdertyd so ryk nie.

      Sy kreun innerlik terwyl sy haar gesig uitdrukkingloos probeer hou. Hoe gaan sy die hele bal deurworstel? Die lang ure deurstaan terwyl Alejandro en daardie vrou voor haar oë aan mekaar raak en in mekaar se oë kyk? Gewoonlik oorval die dansmaats haar en vanaand sal seker geen uitsondering wees nie, maar sy sal heeltyd pynlik bewus wees van daardie twee.

      Sy is in ’n dwaal van ellende toe Alejandro-hulle nader kom om die markiesin voor te stel. Doña Natalia loop trots voor met die houding van die matriarg.

      “Doña Mercedes, ek stel u voor aan ons naaste bure, die familie Almas de la Montara: Don Ramon, Doña Maria Luísa, Don Raúl en Doña Miranda. Vriende, ek stel julle met die grootste genoeë voor aan die Marquésa Mercedes Rontillana de la Barquete van Spanje.”

      Mercedes maak kil en teruggetrokke met almal kennis. Toe sy by Miranda kom, kyk sy haar uit die hoogte aan, bykans vyandig, en knik bloot haar kop.

      “Dié heer is die markiesin se broer, die Marqués Fernando Rontillana de la Barquete,” stel Doña Natalia die skraal man voor.

      Miranda moet sy ligte soen op haar hand verduur. Hy het ’n yl klein baardjie en snor, en is oordrewe hoflik. Sy swart oë takseer haar openlik vrypostig, sodat sy ril. Hoe durf hy hom aanmatig om so na haar te kyk, die arrogante vent? Hoe kan sy van twee sulke mense hou? Hulle is afstootlik.

      Haar ouers hou haar soos valke dop, besef sy. Hulle wil seker maak dat sy haar só gedra dat niemand kan raai sy is ontsteld nie.

      Diskreet kyk sy na Alejandro. Lyk hy verlief op dié brose vrou? Hy kom sjarmant en hoflik voor, maar waar is die skittering in sy oë en die subtiele lyftaal wat wys dat hy tot die markiesin aangetrokke is, dat hy haar begeer? Hy lyk amper te groot en manlik langs haar. Sy sou beter gepas het by ’n kragtelose, ingeteelde adellike man van haar broer se tipe. As Alejandro nie op haar verlief kan raak nie, hoe kon hy hom laat oortuig het om met haar te trou?

      Miranda is so siek van verydeling dat sy een van die laastes is wat agterkom dat daar ’n rumoer by die voordeur is. Sy sien net dat Alejandro die markiesin se hand van sy arm afhaal en haastig na die ingang gaan. Toe Miranda omkyk, staan daar twee van hulle eie gaucho’s by Alejandro se hoofbediende. Haar vader en Raúl baan dadelik hulle weg deur die mense.

      “Daar het iets by ons estancia gebeur,” sê Doña Maria Luísa ontsteld. Hulle wag gespanne totdat Raúl hulle kom vertel.

      “Die banditti, Pablo Ramirez se bende, val ons casco aan. Ek en Vader, Alejandro en van die ander mans gaan nou met versterkings daarheen. Ons moet hulle verdryf voordat hulle groot skade aanrig. Die vuilgoed het ons natuurlik dopgehou en net gewag dat ons vertrek voor hulle aangeval het.”

      Miranda hoor haar moeder se uitroep van skok en sien dat sy wankel, en haar gevoel van dwaling wyk onmiddellik. Dolores kom nader gehaas en help Miranda om Doña Maria Luísa op ’n stoel te laat sit.

      “Ek het geweet daardie Ramirez gaan ons nog aanval,” prewel Doña Maria Luísa. “Dit was net ’n kwessie van tyd.”

      “Dolores, ek wil ook teruggaan na ons huis,” sê Miranda dringend. “My merrie het gevul en ek is bang hulle steel my perde. Kan ek asseblief ’n perd by julle leen?”

      Dolores kyk haar geskok aan. “Nee, Miranda, jy kan nie gaan nie! Dis gans te gevaarlik. Dis manswerk om die banditti te verdryf. Alejandro sal my afslag as ek vir jou ’n perd leen om agterna te jaag.”

      Miranda stamp haar voet van frustrasie. “Ek gaan nie hier bly nie, al moet ek ’n perd steel!”

      Sy ruk haar mantilla af en gooi dit saam met haar waaier op ’n stoel neer. Toe gryp sy haar lang rok in albei hande vas, lig die soom sodat sy dit nie moet vastrap nie en hardloop uit, net betyds om te sien hoe die mans in hulle aandklere saam met ’n klein leër gaucho’s in die rigting van die brug jaag, Alejandro se swart hings heel voor.

      Daar is genoeg chaos op die werf sodat sy hopelik ongesiens na die stalle kan hardloop. Haar hare tuimel los en haar asem jaag brandend in haar keel.

      “Gou, saal vir my ’n perd op!” roep sy vir die verskrikte staljong.

      “Señorita, ek kan dit nie doen nie,” protesteer hy geskok en kyk na die pragtige rooi syrok wat om haar uitklok.

      Sy vlieg by hom verby, sien ’n perd in ’n stal en ruk die staldeur oop. Die hings trap senuagtig rond, maar sy paai hom, lig haar rok en kry dit reg om op sy rug te klouter.

      Die staljong skree en ’n ander een kom by, maar sy druk met die perd by hulle verby na buite. ’n Harde skop in die hings se lies laat hom vorentoe skiet en sy galop oor die werf, verby die perdekarre, na die brug. Agter haar hoor sy mense skree, maar sy klou aan die perd se maanhare en stuur hom agter die verdwynende ruiters aan.

      Van jongs af is sy gewoond om wilde perde te ry en te tem en sy het al dikwels bloots gery, maar nog nooit met ’n aandrok wat om haar wapper nie. As sy nou afval, val sy haar te pletter. Die wind suis deur haar hare en sy lê laag op die perd se nek. Opwinding bruis deur haar en verdoof

Скачать книгу