Ontmoet my in Patong. Madeleine Malherbe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ontmoet my in Patong - Madeleine Malherbe страница 8

Ontmoet my in Patong - Madeleine Malherbe

Скачать книгу

weet hy het kliphard aangekondig hy wil nie in hierdie postmoderne wêreld kinders hê nie. Dit laat my wonder of hy nie baie selfsugtig is nie. Sien nie kans vir doeke ruil, opstaan in die nag, geduldig wees met ’n vrou wat kinders versorg en nie soveel tyd vir hom het nie. Jy weet hoe gesteld hy op voorkoms en netheid is – ontwerpersklere, daardie soort ding. ’n Moeilike ding vir die pa van klein woelwaters.”

      “Ag, ek het gedink dis maar praat, dat hy sal verander as ons eers met ’n gesin begin. Lief raak vir die kindertjies en aanpas. Ek sien dit dikwels gebeur onder die geharde wil-nie-trou-en-kinders-hê-nie-tipes. Nou die dag weer gesien by Sandi wat saam met ons geswot het en nou ’n baba het. Toe dit vir Arnold tref – die vaderskap – toe vat hy dit soos ’n man. Hy ruil doeke en vryf winde uit en is vir daardie dogtertjie só lief.”

      “Dit kan wel gebeur, maar sulke dinge moet mens maar betyds uitpraat. Dis waar verwydering begin: as albei nie eenders oor sulke belangrike dinge voel nie en mekaar wil verander. Dit kan later erg lol as kinders, kerk, geldsake, al die belangrike sake, nie vooraf uitgepraat is nie.”

      “Ag, nou ja, dis in elk geval te laat. Hy is weg en dis neusie verby. Intussen geniet ek alles wat ek en Dries doen. Weet Ma, ons was verlede week by die universiteit se sportgebou vir ’n uitvoering van gimnastiek? Die vloeroefeninge, met die hoepels en linte wat hulle so gooi. Dit was ongelooflik. En daardie opera in die Staatsteater waarvan ek Ma vertel het. Hierdie man het net elke dag iets nuuts en interessants wat ons saam kan doen.”

      “Nou sien, daar het jy dit: elke mens het sy eie belangstellings en talente. By Braam was dit leefstyl en voorkoms en sy werk as dokter. By Dries is dit vele belangstellings en talente en ’n uitstaande kop vir sake. Albei het soveel pluspunte.”

      “Ja, maar daardie vonk, Ma … Die vonk móét daar wees.”

      “Die sekerheid sal kom, my liewe kind. En as jy regtig nie weet nie, is tyd al wat sal help.”

      Haar pa en broer Anton kom al geselsend nader.

      “Die vuur is amper reg. Kan ek begin braai?” vra haar pa en kom vat haar en haar ma om die skouers. “My twee pragtige vroue,” lag hy en stoot hulle in die rigting van die braaiplek. “Laura, het jy gesien die lekker groot tjops wat jou ma raakgeloop het? Nie hierdie ou lamsboudjies met hulle vleisie so groot soos ’n vuurhoutjieboksie nie.”

      Toe hulle later by die piekniektafel gaan sit met hulle vleis en slaai, besluit Laura om hulle te vertel wat intussen gebeur het.

      “Onthou julle vir Francis, die Engelsman wat so verskriklik beseer was in die tsoenami? Hy het my in die week genooi om terug te gaan – om ’n jaar later te gaan kyk na die ramptoneel, van die verrigtinge daar by te woon en sommer na die plekke te gaan waarby ons nie laas jaar uitgekom het nie.”

      “Dit klink wonderlik! Het hy darem volkome herstel?” vra haar ma. Sy skep vir almal aartappelslaai in en gee die mengelslaai aan.

      “Hy sê hy was lank nog besig met fisioterapie, maar hy is nou beter. Ek het ’n foto van hom met ’n kierie of ’n kruk of iets.”

      “Het jy ooit geld vir nog so ’n vakansie?” bekommer haar pa hom oudergewoonte. “En het die man nie bybedoelings nie?”

      “Francis het aangebied om vir my vliegkaartjie en hotel te betaal. Dit klink my hulle is ’n hele paar wat kom, want hy praat van ‘ons’ en ‘kamers’ in die hotel. Ek neem aan dit kos hom nie te veel nie. Hy betaal mos met Britse ponde.”

      “En het jy toe ja gesê? Sjoe, dit klink lekker!” juig Anton. “Ek wou nog alles hoor van die snorkelplekke, en toe het jy laas jaar nooit daarby uitgekom nie. Jy mag maar weer my snorkel en paddavoete leen.”

      Laura knik. “Dankie, ek sal. Ek het Francis laat weet ek kom, maar julle besef dis oor Kersfees? Die gedagte is dat ons presies ’n jaar na die tsoenami daar sal wees. Dit sal seker maar ’n hartseer spulletjie wees met al die verwoesting en verdrinkings wat gedenk word, en vir my ook wat na julle sal verlang.”

      “Weet jy, ons praat daarvan om maar weer na Ouma in Louis Trichardt te gaan vir Kersfees,” sê haar pa. “En sy is so deurmekaar, sy sal julle kinders seker nie eens mis as julle nie saamkom nie. Dis eintlik dus ’n goeie tyd om weer Thailand toe te gaan, Laura, as jy graag wil gaan. Anton kan met ons saamry Limpopo toe en weer lekker gaan perdry in die Soutpansberg. Dis nou ongelukkig nie ’n lekker Kersfees hier by ons by die huis vanjaar nie.”

      “Ons sal jou mis, my kind, maar dis so ’n gulde geleentheid om op te maak vir die ontberings in Phuket laas jaar,” beaam haar ma. “ ’n Mens is natuurlik jammer oor al die verliese wat die plaaslike mense gely het, maar ek was net so spyt vir julle vakansiegangers dat julle toe nie ’n heerlike eilandvakansie gehad het nie. Sommerso teruggekom en hier net weer by ’n hospitaal kom inval. En gewerk en gewerk sedertdien.” Sy sug simpatiek.

      “En wie sê daar is nie weer ’n tsoenami nie?” Anton teken ’n hoë brander met sy vurk in die lug.

      “Nee wat, daardie was die soort gebeurtenis wat net een maal in ’n mens se geskiedenis voorkom,” verklaar haar pa kort en kragtig. “Dis waarom dit so besonders was dat Sussie daar was. En natuurlik wonderlik, ’n bestiering, dat sy dit oorleef het.”

      “Ek sal nooit vergeet toe ek die oggend wakker word en hulle op die nuus berig oor die tsoenami nie,” sê haar ma. “Eers het ons nie ’n idee gehad van presies hoe erg dit was en waar in die wêreld dit orals getref het nie. Ek kon nie eintlik dink dis daar waar jy so lekker gaan vakansie hou het nie. Maar toe kom jou oproep wat vertel jy was in die middel daarvan. Toe skrik ek vir die eerste keer so groot dat ek aan die bewe gaan. Om te dink jy was amper in daardie magtige waters.”

      Haar ma pink sowaar weer ’n traan weg en klad dit sommer met haar papierservet droog. Om tot verhaal te kom, begin krap sy die borde skoon en pak hulle in die mandjie.

      Ek kan my voorstel dat dit vir ’n ma verskriklike nuus was, dink Laura terwyl sy afgetrokke help opruim. Haar pa begin die rooster skoonmaak en Anton kom nader om die mandjie by haar ma te neem.

      Met haar ouers se goedkeuring dat sy weer eens vir Kersfees weg sal wees, voel Laura sommer baie meer positief oor die voorgenome vakansie. Sy ontspan oor haar besluit en begin die vooruitsig geniet.

      “Ek vertrek op 24 Desember na Phuket en sal op Kersdag daar aankom, betyds vir die herdenkings wat op 26 Desember plaasvind,” vertel sy een aand kort daarna vir Dries. “Ek wil baie graag sien hoe die wêreld nou daar lyk. As ek aan die plek dink, sien ek net opdrifsels en verwoesting in my kop.”

      Sy sien die verbasing op sy gesig. Hy het dus haar woorde van nou die dag nie vir ’n oomblik ernstig opgeneem nie, besef sy. Maar sy druk deur, verbete om haar nie nou meer te laat ompraat om te bly nie.

      “Die vliegkaartjie is bespreek en betaal,” gaan sy voort. “Ek kom op Kersdag net voor middagete in Patong aan, en die hotel het glo daardie aand ’n wonderlike Kersete vir hulle gaste.”

      Sy sien ’n dun trek van ontevredenheid om sy mond. “My ma sal baie ontevrede wees. Sy het gedink ons kom óf vir Oukersaand óf vir Kersdag na haar toe. Selfs vir albei as jy sou kon bly.”

      “Sy sal dan in elk geval baie bly wees as jy kom, want met my uit die land is jy sommer daar vir al twee dae,” troos Laura. “My ouers gaan na Louis Trichardt na my ouma toe. Sy ly mos aan Alzheimers, maar hulle sê haar fisieke toestand het ook nou nogal versleg. Dis dalk haar laaste Kersfees. Hulle sal op die familieplaas gaan oorbly en my broer sal

Скачать книгу