Ontmoet my in Patong. Madeleine Malherbe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ontmoet my in Patong - Madeleine Malherbe страница 5

Ontmoet my in Patong - Madeleine Malherbe

Скачать книгу

wil sien. Ek het nog net in Europa gereis.”

      “Dis waar almal mos maar begin,” knik sy en bekyk hom ongemerk goed. Hy is nie juis ’n besondere mooi ou nie: bietjie groot en grof, maar ’n toonbeeld van blakende gesondheid. Hy kyk haar met forsende donker oë aan, sodat sy amper verleë voel oor al die aandag. Verder is hy mooi bruin gebrand, gespierd en selfs fiks, lyk dit vir haar.

      “Wat doen jy wat jou so mooi bruin en fiks maak?” verneem sy. “Dis nou jou beurt om my van al jou planne te vertel – wat was dit nou weer? Korttermyn en langtermyn,” terg sy.

      “Korttermyn: ’n potjie gholf eenmaal ’n week op ’n Saterdag,” begin hy. “En langtermyn: eendag die beste sjirurg in Pretoria.”

      “O, ek dink dis wonderlik,” knik sy. “ ’n Mens moet gróót dink. En jy sal definitief daardie toppunt bereik.” Sy hoor mos die mediese mense praat met lof oor hom in die hospitaal, en die pasiënte swymel oor hom. “Party van daardie tannies in my saal sal weer en weer wil laat opereer net om jou dienste te kry.”

      Hy gooi sy kop agteroor en lag vir haar.

      “En dis hoe almal in die saal weer oor jou as verpleegster voel,” vlei hy haar.

      “Ek kan dit nie glo nie.” Sy skud haar kop. “Dis nie wat óns hoor nie.”

      Die biefstuk wat sy bestel het en Wynand se vis word voor hulle neergesit.

      “Gewoonlik eet ek ook steak,” sê hy en kyk verlangend na haar bord.

      “Hierdie plek maak die lekkerste kos in Pretoria. Smaaklike ete,” lig sy haar glas in sy rigting en begin haar slaai eet.

      Wynand verorber letterlik sy bord kos. Hy het mos gesê dat hy besonder honger is.

      “Hoe gaan dit by julle in die sjirurgiese saal?” kom hy later by die rede vir sy uitnodiging. “Is julle nie verskriklik moeg vir Dunster se gedoentes nie?”

      “Wat kan ons doen?” sug Laura. “Dis nie asof ons ’n geldige klagte teen haar het nie. Sy is net nie konsekwent met haar kritiek nie, en sy is onaangenaam. Niks wat mens kan aanmeld nie. ’n Onaangename, kritiese geaardheid is iets wat die res van die saal maar moet aanvaar. As dit geregverdig was, sou dit goed wees; ’n mens moet ’n skoon saal en kiemvrye werkmetodes hê. Maar sy is darem te erg. Dit krap die atmosfeer om, dit maak dat mense agteraf brom. Maar sy tree nie oneties op nie. Almal trap in hulle spoor. Dis basies onskadelik.”

      “Nee, ek dink nie so nie. Sy dryf ons beste verpleegsters weg. Want hulle vra nie binne die hospitaal verplasings nie, hulle loop heeltemal weg uit ons hospitaal uit. Nou die dag is iemand selfs na ’n staatshospitaal van alle plekke – hier van ons pragtige privaat hospitaal af soontoe. Heeltemal ongehoord. En dit net omdat suster Dunster hulle so desperaat kwaad maak.”

      “Ek wens die owerhede wil haar bevorder na die een of ander administratiewe kantoor waar sy niemand hoef op te pas nie,” glip dit uit. Sy hou haar hand voor haar mond. “Ek moes dit nie gesê het nie.”

      “Wat ’n goeie plan!” roep Wynand uit.

      “Net onuitvoerbaar,” glimlag sy wrang.

      “Miskien nie.”

      Hy verander skielik die onderwerp en begin gesels oor ditjies en datjies. Laura voel skaam oor haar uitbarsting. Sy sal dit nog berou dat sy so tekere gegaan het.

      Toe sy haar kom kry, is dit al halftien.

      Sy stap na haar motor, met Wynand wat vir ’n kort oomblik sy arm om haar skouers vou. Toe sy oopsluit en weer na hom draai om dankie te sê, skrik sy effens. Hy staan baie naby aan haar, sodat sy selfs die geur van sy naskeermiddel kan ruik.

      “Ek sal jou graag weer wil sien,” sê hy en leun oor om haar te soen. Sy kan hom nie keer nie en voel ’n ligte soen op haar wang. “Veilig ry en lekker slaap.”

      ’n Elektriese skok gaan deur haar. Sy voel die intensiteit van sy nabyheid.

      “Jy ook,” sê sy outomaties en klim in, haar gedagtes skielik in ’n warboel. “Nogmaals baie dankie.”

      Sy het nooit daarby uitgekom om hom van Dries te vertel nie, behalwe die vlugtige verwysing na ’n kêrel wat oor haar rokery gekla het! Sou hy dit raakgehoor het? Of is dit vir hom onbelangrike inligting?

      Eers toe sy by haar motorhuis stilhou, sien sy Dries se motor.

      “Waar was jy?” verwyt hy dadelik toe sy uitklim.

      ~ 2 ~

      Haar laataandjie sonder Dries lei tot die eerste regtige groot argument tussen hulle.

      “Hoekom is jy so laat en waar was jy?”

      “Ek het jou mos ge-sms en gesê wat my planne was, onthou jy nie: ’n vergadering na werk. En ons het sommer geëet agterna.”

      Sy gaan nie verder verduidelik nie. Sy gaan ook nie uit en uit begin jok nie.

      “Kan ek inkom vir koffie dat ons hieroor praat?”

      “Niks om oor te praat nie. Jammer as jy vergeet het ek het iets aan. Ek is regtig flou en wil gaan slaap.”

      Hy ruk hom op en staan haar beskuldigend en aankyk.

      “Nag, lekker slaap.” Sy gee hom ’n piksoentjie, wat hy nie beantwoord nie.

      Uiteindelik ry hy met skreeuende bande weg en sy draai met bewende hande haar voordeur oop. Dit was tog onaangenaam. Sy hou haar nie gewoonlik so sterk en selfgeldend teenoor Dries nie. Sy sou ’n week gelede verduidelik en gepleit het en gesorg het dat hulle nie kwaad uitmekaar gaan nie.

      In die sitkamer kyk Zelda van haar boek af op. “Waar bly jy?”

      “Nie jy ook nog nie,” sug Laura en skop haar skoene uit.

      “Wat bedoel jy tog?”

      “Nee, Dries het my nou net hier buite daaroor aangevat dat ek so laat uit was. En hy wou weet waar ek so laat bly.”

      “O ja, hy was twintig minute gelede hier om na jou te verneem. Ek het gesê jy is seker maar saam met die vriendinne uit, dis mos sy skaakaand. Toe brom hy iets van jou vergadering na werk en loop weer. Hy het nou seker twintig minute in sy motor gesit en stoom en dit het natuurlik vir hom baie lank gevoel, daarom dat hy dit op jou uithaal.”

      “Jong, ek wou dit nou nie vir hom vertel nie, maar Wynand Loubser, een van die sjirurge, het my vir ete genooi. Hy wou uitvind wat daar op ons vloer aan die gang is. En toe eet ons ’n stukkie so tussen die ‘vergadering’ deur.” Laura glimlag skalks.

      “O-o-o,” sê Zelda veelseggend. “ ’n Nuwe bewonderaar, en jy wou dit nie vir Dries sê nie.”

      “Nee, dis nie ’n bewonderaar nie. Hy bekommer hom blykbaar oor die slegte atmosfeer op ons vloer en wou regtig weet wat daar aangaan.”

      “Om wat mee te maak? Hierdie dokters voel vere vir die atmosfeer in ’n saal. Hulle doen net hulle werk, plaas hulle bestellings en order almal rond. En almal spring vir hulle hoog en laag. Wat is daar vir hom daarin om hom

Скачать книгу