Bottelnek. Piet Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bottelnek - Piet Steyn страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Bottelnek - Piet Steyn

Скачать книгу

vir die pawnshop op die hoek nie. Tja, maar daai ma’s hoef ook seker nie met Rothmans en OBS gesupply te word nie! Die windgatgoed wat daar rondcruise sal nie eers wheelcaps hê nie, net sulke moerse mags met speke en sulke klas van dinge.

      Hy spoel die toilet, drink water, sommer met sy mond teen die kraan. Hy vee sy mond vies met ’n handdoek af. Jy moet nie sommer jou bek aan enige ding druk hier in Joburg nie, netnou sit jy ook met die vigs, soos ou Hans van die machine-shop se oliekop-laaitie.

      In die spieël bokant die wasbak loer sy regteroog bloedrooi deur die vuil haarspriete wat oor sy voorkop hang, die ander oog is ’n gat soos ’n rooi toegetrekte poephol. Sy baardstoppels slaan plek-plek grys deur. Miskien moet hy die goed maar laat groei, ’n disguise van ’n soort. Maar dit sal nog nie die pienk poepoog toemaak nie.

      Joe vee die hare agtertoe en sukkel terug bed toe, die dik mat sag onder sy kaal voete. Hy lê en luister na die huisgeluide toe iets teen die deur tok. Hy verstyf. Die deur gaan oop en ’n kort, dik man met ’n bos grys hare en ’n ringbaard kom hinkende met ’n kierie ingesukkel. Dit lyk asof sy een knie styf is. Hy het ’n kakiehemp met blou sakke, ’n kakiebroek en veldskoene aan.

      Wie de donner is hierdie bliksem? Dalk die baas van die plaas, sy klere lyk asof hy ’n boer is.

      “Ek het die toilet gehoor,” sê die man kortaf maar nie onvriendelik nie. “Soek jy koffie?” Hy leun op die rottangkierie, sy ander hand op die deurknop.

      “Wie de moer is jy, ou pel?” vra Joe, trek sy oog op ’n skrefie om te fokus.

      “Ja, jy sal seker nie onthou nie. Gesien jy was maar stukkend toe ek jou daar by die Ambush gaan optel het. Ek is Shorty.”

      “En wat vir ’n plek is dit hierdie?”

      “Dis ’n plot. Nie te ver van Pretoria nie.”

      Joe draai sy kop heen en weer, probeer die nekspiere loskry. “Dit is nogal ghrênd hier. Is dit jou plek?”

      “Dis Freddy s’n,” sê Shorty.

      “Freddy s’n?” snork Joe.

      Shorty grinnik, maar die halfhartigheid daarvan laat hom byna weemoedig lyk. “Hy gebruik dit vir ’n safehouse of vir vergaderings as hy sy suppliers wil impress. Jy kan maar sê ek is die janitor hier rond, pas die plek op en kyk na die tuin en so aan.”

      “Kom al dié geld uit daai kaalgatdansplek van hom?” Joe lê terug op die bed, sy oog toe. “Hel, ek werk my hele lewe lank my gat af en al blyplek wat ek ken is ’n simpel mynhuis met een toilet en een garage met ’n afgeskilferde deur!”

      “Ek het gehoor jy is sy outoppie,” sê Shorty. “Ek moet glo na jou kyk. Hier, vang.” Hy gooi ’n bos motorsleutels na Joe.

      Joe probeer vang, maar sy hande is vanmôre nie waar sy kop dink hulle is nie en die sleutels val op die vloer. “Wat’s dit?” Hy buk, sukkel om dit op te tel.

      “Ford Cortina. ’n Ouerige een, maar hy makeer niks nie. Hy staan in die garage. Die baas sê jy moet hom gebruik totdat joune weer reg is.”

      Joe staar stom na die sleutels. Moet hy bly wees oor die Cortina of wonder oor die Mazda? “Het jy my suitcase en toksak dalk gesien?” vra hy dan. “Dit was in die Mazda.”

      Shorty skud sy kop. “As dit in die Mazda was, kan jy maar daarvoor koebaai sê. Daai spul in Alex strip alles. Was daar drugs in?”

      Joe sit die sleutels op die spieëltafel neer. “Nee,” sê hy sonder om na Shorty te kyk. “Dis nie my game daai nie.” Hy draai dan weg van wat hy van hom in die spieël sien, kyk Shorty vierkant aan. “Net klere en so aan,” sê hy.

      “Dis nie ’n probleem nie, daarmee kan ek jou help.”

      “En ’n telefoonboek? Ek moet ’n adres of twee opsoek.”

      Shorty hinkepink weer terug deur die deur. “Wag eers, ek bring brêkfis en iets vir daardie babelaas, dan kan ons praat,” sê hy met sy rug reeds na Joe gekeer. “Daar is klere in die kas – behoort jou te pas, jy en Freddy het dieselfde bou.”

      “En Disprin en Rennies?”

      “Daar is in die badkamer!” roep Shorty vanuit die gang.

      Joe luister ’n ruk na die geklik van Shorty se kierie, stroop sy klere af en gaan staan onder die stort, eers warm en dan koud, maar dit help nie. Hy droog af en hoewel hy skoner is, voel hy steeds kakkerig. Hy skeer met ’n stomp Minora-lemmetjie wat hy op die vensterbank kry, kam sy hare met sy vingers voordat hy van die klere in die kas aantrek.

      In die badkamerkassie kry hy ’n pakkie Disprin en drink drie. Net vir ingeval kou hy ook ’n paar Rennies en strek hom op die bed uit. Toe Shorty weer teen die deur tok, stoot hy hom op sy elmboog op.

      “Pel, jy lyk beter,” sê Shorty, die kierie oor sy arm gehaak. Hy sit die skinkbord op die spieëltafel neer, ook ’n telefoongids. “Wie soek jy nou eintlik?” vra hy.

      Joe gaan sit op die kant van die bed en tel die skinkbord op sy skoot. “Ag, sommer ’n paar bliksems wat my skuld,” sê hy.

      “Vat nou ’n tip van my,” sê Shorty bedaard. “As jy hier wil bly, lê eerder laag en los hulle uit. Freddy soek nie moeilikheid hier nie.”

      Joe is effens verras deur die selfvertroue waarmee Shorty raad uitdeel. “Nou waar kom jy vandaan,” vra hy met ’n mond vol spek en eier. “Ek meen, hoe kom jy hier?” Hy blaas die stoom van die warm koffie af, per ongeluk beland ’n paar stukkies spek ook in die koppie.

      Shorty gaan leun met sy rug teen die ingeboude kas en trek denkbeeldige figure met die kierie op die mat. “Ek was een van Freddy se enforcers,” sê hy met sy oë op sy kierie se punt. “Toe die pote my gecorner het, het so ’n dik bliksem my knie afgeskiet. Ek het tyd gedoen, vir drugs ook.” Hy kyk op, glimlag skewerig. “Toe ek uitkom, beteken ek niks met die hoepelbeen nie, toe gee die baas vir my dié job.”

      Joe vee die laaste eiergeel op met die korsie van ’n stuk roosterbrood en prop dit in sy mond; vee eiergeel met ’n handrug van sy ken af. Hy slurp aan die koffie. “Hoe veilig is dit hier?” vra hy kouend. “Dit smaak my ek sal ’n ruk hier moet rondhang, tot my papiere reg is.”

      Shorty druk-druk met sy kierie op ’n kolletjie op die mat, kyk dan op. “Nee, dis oukei hier,” sê hy. Hy sak dan stram en met ’n gekraak van litte op sy knieë af en krap Joe se glasoog met die kierie onder die bed uit. “Jy beter die ding insit,” sê hy en sit dit ook op die spieëltafel neer. “Die pote soek na ’n vent met een oog.” Hy trek hom aan sy kierie op en hink deur toe.

      “Jy het nie my pistool gesien nie?” vra Joe voordat Shorty in die gang verdwyn. “Frikkie het hom gisteraand in sy kluis toegesluit.”

      Shorty stop en draai stadig om. “Jy het nie ’n skietding hier nodig nie,” sê hy op sy stil, bedaarde manier. “Tony sê jou kar en papiere sal oor ’n paar dae reg wees. Gebruik solank die Ford, maar nie te veel nie, jy het nie ’n lisensie nie, onthou.” Hy staan Joe ’n rukkie ingedagte en aankyk. “Ek sal by die baas hoor van jou gun,” sê hy voordat hy die deur agter hom toetrek.

      » 8 «

      Pine druk die deurklokkie

Скачать книгу