Sirkusboere. Sonja Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sirkusboere - Sonja Loots страница 2

Sirkusboere - Sonja Loots

Скачать книгу

in die lug op ’n koord dans terwyl hy met balle goël. Telkens weer het sy gevra hy moet versigtiger wees. Wat sy nie geweet het nie, was dat Frank kwaad was vir die fikse en lenige lyf waarmee hy vroeër soveel gewillige slagoffers verlei, vermaak en verkul het. En kwaad vir die ondankbare dikvelliges wat so gevrek en met sulke dooie oë daar in die sirkusstoele vir hom sit en kyk het. Hy wou die lyf van vyftien jaar gelede hê. En hy wou weer optree voor die gehore van tóé.

      Piet sou ook graag die horlosie wou terugdraai. Sy oumanskete het hy gelate verduur. Hy was net vaagweg bewus van sy rugpyn, aambeie, swakker wordende oë, stompgeknerste tande en die los vel aan sy borskas. Wat hý graag sou wou hê, was om die horlosie terug te draai na ’n tyd voordat alles by Paardeberg stukkend gebreek is. Dit was ’n vergeefse begeerte, en miskien ’n gevaarlike een, want die speletjies wat tyd op die ou end met hom gespeel het, was erger as wat hy ooit vooraf sou kon raai. Binnekort sou hy twee keer per dag voor sirkusgehore rondstap, en dan sou dit telkens wees asof alles gaan stilstaan op presies daardie dag toe hy met ’n geboë hoof voor Roberts gaan staan het.

      Elke weeksdag, om halfdrie die middag en seweuur in die aand, sou die ding hom wéér oorkom. Smiddags en saans sou hy die beskamende skouspel herleef. Elke keer sou dit weer dieselfde wees: Stadig, voetjie vir voetjie, stap hy vorentoe, totdat sy skaduwee aan sy vyand se skoenpunte raak. Hy het geen keuse nie. Hy móét oorgee. Hy knel sy sambok styf vas voor sy bors. Die ander vuis bal wit om sy perd se leisels. Hy is verrinneweerd ná maande in die veld: songebrand en vol steekplekke van die muskiete, skurf en vol swere en kneusings en bloedvinte, amegtig en met ekseem op sy vel. Sy reënjas is deurweek van modder, reën en sweet. Dit hang skeef aan sy maer skouers omdat hy op die laaste oomblik ’n verslete Veldbybel in sy een sak gestop het.

      “Jy het jou deeglik verweer,” sê lord Roberts. Hy wat Piet Cronjé is, sê niks. Hy klem sy kake vernederd op mekaar. Hy knip sy oë teen die blink van die Brit se gepoetste knope. ’n Fotograaf glip sy kop onder die swart kameradoek om die oomblik op film vas te lê.

      Roberts steeks sy hand uit na sy verslaande opponent.

      “Dis ’n eer om so ’n dapper krygsgevangene te hê.”

      Oor en oor sou dit weer só gebeur. Dit sou wees soos om rond te kruip tussen glasstukke, sodat die glas al fyner breek en hy daarmee saam. Eers wanneer die gehoor juigend opspring en begin hande klap, sou Piet weer weet waar hy is. Dan sou hy steunend op die kapkar klim en toelaat dat hy weggevoer word. Nie na St. Helena nie, maar sommer na sy tent onder die hickorybome. Al sou dít natuurlik ook ’n soort ballingskap wees.

      Piet se sirkushouery het gekom lank ná Frank se moeilike Kaapse seisoen. Frank moes eers na Johannesburg gaan en daar vir Ben ontmoet. En hy moes in sy menagerie na die siek olifant gaan omsien.

      Big Bert wou nie meer mondfluitjie speel of sy stapdans op ’n vat doen nie. Die kliere tussen sy oë het ’n taai gom afgeskei wat aan sy vel vasgesit het. Stukkies strooi en gebreekte takkies het daaraan vasgeklou en die geswelde kliere verstop. Sy swingel was teruggetrek in die skede, maar ’n straaltjie urine het onophoudelik teen sy agterbeen afgeloop.

      Frank het ingedagte met sy voorkop teen die olifant se flank gestaan toe hy die plan kry. Dit het iets te doen gehad met die littekens aan die agterkant van die dier se oor, daar waar die temmer met skerp ysterhoeke gehaak het, en iets met die reuk van die ou water in die dier se drinkbak. Dit het hom weggevoer na ’n plek wat orals en nêrens is, ’n diep put waar die opdrifsels van sy drome en ervarings, ook dié van sy pa en sy oupa, opgedam lê. Sy pa, die flambojante rondreisende akteur. Sy oupa, die uitgeslape ou Victoriaanse spotvoël.

      Frank se idee het gegroei uit elke makabere skouspel wat hy en sy voorvaders ooit aanskou het: die agterstraatse honde- en hoendergevegte, die openbare teregstellings, die reisende sigeuners wat bere aan leerrieme laat toertjies doen, die verskrikte hase wat by kermisse op tamboeryne dans, die fratsmense wat op verhogies agter fluweelgordyne ten toon gestel word.

      Dit was ’n baldadige, ongehoorde plan. Presies die soort plan waarvan hy gehou het. Dit sou moeilik wees. Die risiko’s sou groot wees, die logistiek ’n nagmerrie. Hy sou moes navrae doen, reëlings tref, finansiering en vrywilligers werf. En dan sou hy daardie suurgat generaal aan sy kant moes kry.

      Frank het oor die olifant se rug gestreel en regopper gestaan. Hy was nie bang vir die oubaas se angel nie. Piet Cronjé, het hy geweet, is die by wat die heuning soet sou maak.

      2

rule.jpg

      Twee keer per dag, om halfdrie in die middag en seweuur saans, word Ben met wolwefluite en ’n gestamp van voete in die amfiteater verwelkom. Die toeskouers in die volgepakte paviljoene is opgewonde. Hulle kom uit New York, Chicago en Atlanta en hulle rek hul nekke om die held uit Afrika beter te kan sien. Hy is omgeef deur die romantiek wat sy ongerepte vasteland vir hulle inhou. Hy verteenwoordig die drama en skouspel van die verafgeleë slagvelde waaroor hulle in die koerant gelees het.

      Generaal Viljoen het ’n volle twee jaar en vier maande teen die Britse oormag geveg, lees hulle in die programnotas. Hy het volhard totdat die Britte sy perd onder hom uitgeskiet, hom gevange geneem en hom vir die res van die oorlog na St. Helena verban het.

      ’n Oorlogsbeuel blaas en ’n militêre orkes begin speel. Ben stap tot in die middel van die stowwerige arena en buig laag. Weg is die gehawende man met die mauser van twee en ’n half jaar gelede. Hy dra blinkgepoetste stewels en ’n deftige militêre tuniek met goue koord op die bors. Die dames loer deur hulle lornjette na sy raafswart kuif en snor, sy donker wenkbroue en die glimmende medaljes op sy bors. Die mans reken goedkeurend hy was ’n gedug-te opponent vir sy teenstanders. Hulle het simpatie met die Boere se stryd. Hul voorvaders het immers ook ’n onafhanklikheidsoorlog teen Engeland geveg; daarom bewonder hulle die gideonsbende wat die magtige Britse Ryk soveel probleme gegee het.

      “Welkom by die Suid-Afrikaanse Boereoorlog-vertoning,” bulder Ben oor sy megafoon. “U is by die grootste militêre skouspel wat die wêreld nog gesien het!”

      Die applous is oorverdowend. Ben glimlag, stap met lang treë van die een kant van die arena na die ander. “Ek wil u bekend stel aan ’n groep merkwaardige mans en vroue uit die mees verafgeleë dele van Suidelike Afrika. Hulle het onverdrote in die oorlog geveg – en hulle doen dit vandag weer. Dié keer vir u plesier.”

      Die orkes speel marsmusiek en dan wys Ben die grootste helde aan die gehoor uit. Dáár is kommandant Maree, wat tien keer gewond is, maar elke keer oorleef het; dáár veldkornet Van Gass, die eenarmheld van Spioenkop; en dáár die bobaas-bomplanter Maans Lemmer. Selfs treine wat die Britte met dik toue toegewoel of met ysterplate gepantser het, was nie veilig as Maans Lemmer in die omtrek was nie.

      Wanneer al die helde hul buiging gemaak het, wag Ben dat die applous bedaar. “Dames en Here!” vervolg hy. “Nou volg opvoerings van die oorlog se twee vreesaanjaendste veldslae. Eerste aan die beurt is Colenso, waar vyfduisend Boere wonderbaarlik ’n volle sestien bataljons van die Britse leër, tesame met kavallerie en grofgeskut, platgevee het.” Hy beduie met ’n wye gebaar na ’n watervoor in die arena. “Hier sien julle die brullende Tugelarivier.” Dan wys hy na ’n loopgraaf in die geel kleigrond van St. Louis. ’n Paar van die Boeresirkusakteurs het reeds daar ingekruip. “Agter die Tugela kruip die Boere in loopgrawe weg,” verduidelik Ben. “Hulle is so te sê onsigbaar. Lang gras en klippe kamoefleer hul skuilplekke en hul kanonne. Daar is min van hulle, slegs ’n handvol, maar dit is genoeg. Hulle wag geduldig. Die vyand het geen benul wat kom nie. Hulle dink die Boere skuil hoër op teen Grobbelaarskop. Die Boere het loopgrawe daar bo gegrou om die Britte te mislei. Dit werk. Die Britte is houtgerus. Hulle weet nie van die klein bende vegters reg voor hul voete in die lang gras nie.”

Скачать книгу