Sirkusboere. Sonja Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sirkusboere - Sonja Loots страница 3

Sirkusboere - Sonja Loots

Скачать книгу

hy langs ’n Krupp-houwitser en begin die wêreld deur sy teleskoop bespied.

      “Dit is generaal Louis Botha,” sê Ben. “Hy het heelnag op die sandsakke by die kanonstellings geslaap en hy is slaggereed vir aksie.”

      Die akteur glip koeëls uit die bandelier en vryf hulle strydlustig teen sy hempsmou blink terwyl die skare hom aanmoedig, maar Ben maak hulle stil en wys na die teenoorgestelde kant van die arena, waar Britse soldate in digte rye begin aantree. “Daar lê die klein Natalse dorpie Frere langs die spoorlyn van Durban na Ladysmith. Die grootste Britse leër in vyftig jaar is daar saamgetrek. Die offisiere hou krygsraad in die stasiemeester se gehawende gehuggie. Hul bevelvoerder is die duiwel van Devonshire, die bonkige oorlogsbul generaal Redvers Buller.”

      Ben laat die legendariese Devonshire-naam ’n oomblik in die lug hang. Dan verskyn die akteur, net so vors en rossig soos die werklike man, op ’n spogperd en lig sy rypet vir die toeskouers. Hulle juig hom luid toe. Sou dit Biffin wees? wonder ’n paar ingeligtes. Is dit die einste beroemde ros waarop Buller sy verskyning in die vuurlinie gemaak het? Maar daar is nie genoeg tyd om dit uit te pluis nie. Die generaal gee ’n teken en die troepe begin beweeg.

      “Die opmars na Colenso het begin,” roep Ben, maar sy stem word uitgedoof deur die geraas.

      Die akteurs weet wat van hulle verwag word. Hulle marsjeer in die Boere se rigting terwyl knapgeleerde perde en muile die kanonwaens sleep en osse wiegend die agterhoede vorm. Die gehoor verkyk hulle aan die lewensgetroue uniforms, die stofwolke wat die soldate se stewels en die vee se hoewe opskop en aan die pakosse wat so swaar dra aan egte pontonne en militêre bagasie.

      “Daar is Hildyard se manne,” roep iemand meegevoer. “Kyk die pluime!”

      Sommige raadpleeg hul programme. Henry Hildyard was die beste generaal aan Buller se sy, lees hulle. Oor die ander was daar van die begin af bedenkings: daar was twee paphartiges, ’n ander wat hom reeds in die Soedan as swak strateeg bewys het en ’n paar rammetjies wie se valse selfvertroue vreesaanjaend was.

      Dan skielik is die toeskouers se aandag weer in die arena voor hulle: ’n Zoeloedrywer klap met die sweep langs die muile se pote en begin in ’n lae, gedrae stem ’n lied sing wat oorloop van naderende onheil en diepe onrus.

      “Stadig beweeg die Britte nader aan die Boere, min wetend dat die dood op hul wag,” praat Ben wanneer die laaste note van die lied wegsterf. “Hulle kaarte en hulle verkenningsketse sou nutte-loos wees.”

      Die gehoor kyk hoe die Britte stelling inneem en hoe Buller die aanvalsteken gee. Meteens breek alle hel los. Die Britse kanonne begin hul bombardement. Die geraas is onbeskryflik. Die gehoor sit hul hande oor hul ore. Op die steiers begin kinders huil en daar is soms ’n vrou wat flou val.

      Die Boere lê in die loopgraaf terwyl die koeëls oor hul koppe trek. Net hier en daar is die bol van ’n hoed sigbaar. Alles is vooraf so beplan. Laat die Britte hul ammunisie op die verlate koppie uitmors, dit kan die Boere min skeel.

      ’n Oomblik lank raak dit stil in die arena. Die Britte is verdwaas. Waar is die Boere dan? Dan staan Botha uit die loopgraaf op, hardloop na die houwitser en vuur. Dit is ’n teken dat die Boere kan losbrand. Die mausers begin spoeg en die kanonne trek los. Een van die Britte gryp na sy bors en val; ’n tweede trek deur die lug. En nog een! Die Boere maai onder die Engelse linies.

      “Die perde hol weg,” roep iemand.

      “Kyk! Hierdie kant het ’n perd dood neergeval.”

      “Nog ’n perd is plat!”

      “Hy het op die soldaat geval. Of nee wag, hy het nie.”

      “Dankie hemel.”

      “Wat ’n deurmekaarspul!”

      “Kyk hoe lê die dooies.”

      Een van die Britse spelers koes na ’n oop kol in die stof en harwar, kniel daar en maak sy heliograaf haastig op ’n driepoot staan.

      “Hy ontbied White se hulp,” sê Ben, wat nou weer hoorbaar is oor die megafoon. Nog ’n Brit kniel in die stof, maak ’n grasmandjie oop en haal ’n duif te voorskyn. Met bewende hande bind hy sy boodskap aan die voël se poot en laat hom los. Die duif vlieg al hoër, en almal se oë volg hom tot hy net ’n stippel hoog bo die amfiteater is.

      “Dit was ’n vergeefse vlug,” sê Ben. “Niks kon meer die slagting keer nie.”

      Die gehoor staar verdwaas na die vernietiging voor hulle. Dooie perde en soldate lê in die stof gestrooi. Sommige lê halflyf in die water of slap oor die kanontrompe.

      “Maar Long is nie bang nie,” roep Ben.

      Charles Long, sê die program, was die kanonnier wat sy vyftienponders tot onder die vyand se neus wou neem omdat dit voorheen so goed by Omdoerman gewerk het.

      “Hy was dwaas eerder as dapper,” sê Ben.

      Long se batterye begin blaf, maar die Boerekoeëls begin dadelik onder sy kanonniers kou. Een ná die ander val hulle. Long self val ook. Die gehoor jou hulle uit en bedaar eers wanneer Buller sy herverskyning maak. Hy wil die vasgekeerde kanonniers gaan red. Met sy lyfarts langs hom ry hy tot in die vuurlinie, en stuit selfs nie toe die arts langs hom neergevel word nie. Vreesloos vorder hy tot by die donga waar Long se manne skuil. “Kom,” gebied hy bo die geraas. Hy soek vrywilligers om die kanonne te gaan haal. Drie manne klim koes-koes op hul paniekbevange perde. Onder hulle is Freddy Roberts, die veldmaarskalk se enigste seun.

      “Hy wou sy vader se respek verwerf,” vertel Ben. “Hy wou met ’n heldedaad in lord Roberts van Kandahar se koue hart kruip.”

      Voor die toeskouers se oë trotseer die driemanskap die trommelende koeëls. ’n Perd swik, struikel, beur dan weer vorentoe. En dan gebeur wat almal teen nou al weet in die regte lewe ook gebeur het: Freddy Roberts val. Hy rol kreunend in die stof en beland byna onder die hoewe van die ander twee se perde. Sy makkers storm voort, haak ná ’n woeste worsteling twee vyftienponders se voorstelle aan hul kanonwaens en begin dit wegsleep. Maar Botha se manne verdubbel hul vuur. Buller gooi sy arms in die lug. Dit is hopeloos, beduie hy. Los die kanonne. Los dit maar.

      “Hoera!” jil die skare. “Hier kom die Boere!”

      Die burgers jaag nader en vat Long se kanonne vir hulle. Hulle vang die soldate in die donga en keer die perde aan wat losgebreek het. Almal juig.

      “Dis nog nie verby nie,” bring Ben hulle tot kalmte. ’n Britse baardraer draf nader en tel Freddy Roberts van die grond af op. Die gewonde jongman staar na die ledemate wat hy nie kan beweeg of voel nie. Dan val sy kop terug teen die bloedbevlekte seil en sy lyf raak heeltemal stil. Die draer trek ’n seil oor sy kop. Die Zoeloedrywer hervat sy dodelied.

      Buller klim van sy vosperd af en gaan sak soos ’n ou man op ’n ammunisiekis neer. Dan staan hy op, gaan sit by ’n kamptafel, haal pen en papier uit.

      “Dit is sy kabel aan lord Roberts,” sê Ben. “Dit lui: Waarde Heer. U dapper seun is vandag dood. Deelneming. Buller.”

      ’n Kollektiewe sug styg uit die paviljoene op. Om te dink dat dit wáár is, dat alles werklik net so gebeur het!

      Ben wag ’n oomblik of twee voor hy aankondig dat daar ’n kort pouse sal wees. “Daarna,” beloof hy, “is dit die Boere se beurt om op hul baadjie te kry.”

Скачать книгу