Sirkusboere. Sonja Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sirkusboere - Sonja Loots страница 7

Sirkusboere - Sonja Loots

Скачать книгу

rule.jpg

      Wanneer die stof gaan lê en dit tyd raak vir oorgee, reg aan die einde van die Paardeberg-tablo, stap Ben met sy megafoon tot in die middel van die arena.

      “Die Boere is verslaan,” kondig hy aan. “Verpletterend verslaan.”

      Dit is verby. Die burgers kruip bedremmeld uit hul skuilings en word deur die Britte gevange geneem.

      “Hulle is stom van ontbering,” sê Ben. Die gehoor is stil. Eers wanneer die bebaarde ou stryder sy herverskyning maak, op sy perd en met ’n wit vlag bo sy kop, kry hulle weer lewe. Die mans gooi hul hoede in die lug, die vroue wuif met hul sakdoeke en die kinders skree hulle hees.

      “Generaal Piet Cronjé, die leeu van Potchefstroom en die held van Paardeberg,” probeer Ben hoorbaar bly bo die geraas. “Sy koeëls het die Britte se sjampanjebottels aan skerwe laat spat. Sjampanje wat hulle moes drink om moed te kry vir hul kragmetings met hóm.”

      Piet laat sy perd heen en weer voor die gehoor galop sodat hulle hom van alle kante kan bestudeer.

      “Hy het Jameson en sy Britte gestuit en die Jameson-inval tot ’n einde gebring,” vertel Ben onder applous. “By Magersfontein het hy en sy manne honderde Britte gewond, gedood en gevange geneem.”

      Nog harder applous.

      “Maar by Paardeberg is hy verpletterend deur lord Roberts verslaan en gevange geneem.”

      Piet klim van sy perd af en gaan staan met ’n geboë hoof voor Roberts. Agter hom huiwer sy vrou en ’n agterryer wat lyk asof daar trane oor sy wange loop. Die gehoor versober. Die applous rafel uit.

      “Op die veld agter hom lê sy dooies en gewondes in die son,” sê Ben. “Vierduisend burgers gee saam met hom oor.”

      Dit is doodstil. Almal kyk hoe die verslaande Boer in ’n kapkar klouter. Roberts beduie dat hulle na buite begelei moet word.

      “Ná Paardeberg word Cronjé as oorlogstrofee weggevoer en na St. Helena verban.”

      Stadig verdwyn die kapkar uit sig. Cronjé lig tam sy hand in ’n laaste afskeidsgroet.

      “Nóg,” roep die toeskouers sodra hy buite sig verdwyn. “Nóg!”

      Die optredes het gekom lank nadat Hester dood is. terwyl sy nog siek was, op sy plaas Palmietkuil, het Piet in die taal van Dawid begin dink. Hy het in ’n sonkol op die stoep in ’n ou rottangstoel gesit en morbied die heel droefgeestigste psalms in sy verslete ou Bybel opgesoek. Húlle het hy oor en oor gelees. Sy vinger het van die een reël na die volgende geskuif terwyl sy lippe roer en hy saggies saamprewel. Ja, hy was ook moeg van sy eie gesug, maar wat kon hy doen aan die feit dat sy oë dof geword het van verdriet?

      “Doen iets aan die kwaadsprekers, Here,” het Piet gebid. “Hulle met die kele soos oop grafte. Hoe lank voor my vyande beskaamd omdraai, Here? U wil geskied, maar hoe lank moet ek nog die laster verduur? Hoe lank, Here?”

      Hy kon ure lank so tragies daar met sy God sit en worstel. Dikwels het die trane oor sy wange geloop. Veral wanneer hy oor die samesweerders teen Dawid lees, het die somberheid hom vasgedruk, want hy het gewéét hoe dit voel om die teiken van on-verdiende vyandigheid te wees. Op Palmietkuil se buurplase, in die dorp en selfs in die kerk, oral waar hy kom, kon hy verwyte aanvoel. Die hele Potchefstroom-distrik het geweet hý was die een wat ’n tiende van die vegtende Boere in Britse hande laat val het. Hulle sou hom nooit daarvoor vergewe nie. Dit was onmoontlik om iewers te gaan sonder om hom vas te loop in die vriende, familie, weduwees en kinders van dié wat by Paardeberg gesneuwel het. Die oorlog was al langer as ’n jaar verby, maar steeds het hulle met dieselfde ou stories gekom. Cronjé moes eerder dít gedoen het, Cronjé moes eerder dát gedoen het. Skielik was almal vol bravade. Skielik was almal baie bekkig oor waar hy fouteer het. Maar toe die lug geel was van die liddietdampe en alles gestink het van lyke en karkasse en allerverskriklike vrees, tóé wou niemand raad gee nie, want die waarheid was dat niemand raad geweet het nie.

      En nou het hulle hom agterna staan en verkwalik. Oor Paardeberg, en omdat hy die broer was van Andries, wat in die oorlog vir die Engelse geveg het. Potchefstroom se mense was net mooi niks lus vir die Cronjé-pakkaas nie. Dat die twee broers ook nie met mekáár oor die weg kom nie, het vir hulle nie ’n windkraak van ’n verskil gemaak nie.

      Piet sou graag vir Andries wou vra hoe hy iets so godskreiend laakbaar kon doen, maar sedert Andries se seun by Paardeberg gesneuwel het, was hulle soos vreemdelinge vir mekaar.

      “Is dit mý skuld?” het Piet vir Andries gevra die laaste keer toe hulle gepraat het.

      “Maar waar was jy?”

      “Ek was daar. Daar by hom.”

      “Langs hom?”

      “’n Ent verder. Maar naby.”

      “Hoekom was jy nie bý hom nie?”

      “Ek sou nie kon keer nie, Andries.”

      “Jy kon probeer het. Jy kon ten minste net probeer het om my kind veilig te hou.”

      Hester het hom dit ook verwyt. Dit is deur sy hardkoppigheid dat hulle vasgekeer geraak het, het sy geglo. Omdat hy hardekwas was toe De Wet ’n helpende hand wou uitsteek. Was dit nie daarvoor nie, sou hulle altemitters nie vasgekeer geraak het nie. Sou haar swaerskind nie met ’n verbryselde lyf in die gras bly lê het nie, sou vriende en familie nie om hulle gesneuwel het nie, sou sy ná die oorlog haar kop omhoog kon hou.

      Dit was nou die één ding wat hy altyd agterna van Hester sou onthou: Sy kon mos ’n stilte soos ’n brood knie en hom al hoe groter laat rys. Sy kon hom gaarmaak met die hitte van haar toorn, en hom porsie vir porsie uitdeel, en hom laat hou lank nadat jy al begin dink het hy moet al baie amper op wees. En dan kon sy jou nog aan die korsie laat wurg tot jou kake skoon lam is. Hester het ’n manier gehad met ’n stilte, en haar laaste een het langer gehou as al die ander saam. Sy het daardie stilte op die eiland begin insuur en hom saamgebring plaas toe en hom selfs op haar sterfbed vir Piet bly voer.

      “Gaan jy vir altyd kwaad bly?” het hy dit op die laaste gewaag. “Tot héél aan die einde?”

      Sy het nie geantwoord nie. Hy het haar hand styf vasgehou, al kon hy nie agterkom of sy ook sýne vashou nie.

      “Hóékom, Hester?”

      Hy het nie gedink sy gaan antwoord nie, maar sy hét.

      “Want jy máák daarna, Piet.”

      Hy het nie weer daar langs haar opgestaan nie. Hy kon sien dis tyd. Ná ’n ruk het hy vir haar al die óú liedere in sy hees stem gesing en uit die Bybel gelees. Die hele nag het hy daar by haar gesit. Sy met die roggel. Wanneer sy bewe of stuiptrekkings kry, het hy haar vasgehou.

      “Ek sterf.”

      Sy het nog net dié een keer gepraat.

      “Jesus bloed het jou gereinig,” het hy gesê. Hy het gesê sy moenie twyfel nie en hy het haar hand vasgehou en vir haar gekyk en sy het vir hóm gekyk. Sy was te bang om haar oë toe te maak. Hy het later moeg geraak, sy kop langs haar op die kombers laat sak en met sy wang teen haar hand gelê. Wanneer sy

Скачать книгу