Sirkusboere. Sonja Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sirkusboere - Sonja Loots страница 6

Sirkusboere - Sonja Loots

Скачать книгу

ook uit sy eie sak ’n gotiese klipkerk met gebrandskilderde vensters en ’n kloktoring vir die dorp laat bou het. En aan die formidabele Charles Scott van Manchester. En aan die sjokolademagnaat George Cadbury, met wie Lloyd aan’t konkel was om ’n koerant te koop sodat hulle menings kon swaai.

      Een diknek het ’n ander van Ben vertel, en wanneer hulle gerus was dat hy nie hul met-voorvader-se-voorletters-gegraveerde eet-gerei sou steel nie, het hulle hom na hul dinner parties en gentlemen’s clubs genooi. Na operas in die Savoy, herehuise, country manors en villas in die voorstede. Hy was een van die seisoen se rariteite. ’n Gawe grap om gaste mee te vermaak; min of meer op dieselfde vlak as die gesogte, eksotiese pynappels wat die gasvroue so graag op hul tafels ten toon gestel het voordat hulle dit op lange laas in dun skywe gesny het. Ontmoet ons vriend, generaal Ben Viljoen. Vars van die slagveld af. Vir die eerste keer vry ná sy lang verblyf op St. Helena. Dit is die stof van Afrika daar aan sy stewelpunte. Toe, skink vir ons.

      Daar is drankies geskink, horlosies aan kettings gerinkel, nóg drankies geskink, sigare opgesteek en kaarte geskommel. Sy Engelse gashere het na hom geluister, maar met ’n halwe oor. Die stemming was lighartig. Die swaar lyf van Victoria was in haar graf, en Edward se Engeland was jolig. Ben se gepieker het ’n trifle tedious geraak. ’n Mens sit nie met so ’n lang gesig langs ’n biljarttafel nie. Sny die kaarte, kêrel!

      Wat doen ’n verslaande generaal as ’n gefuif hom aan die gat byt? Hy hou sy glas sodat iemand dit kan volskink, natuurlik. Hy maak sy blinkgeskuurde bas by die oorwinnaars se etenstafels tuis en laai sy bord vol pap en room, geposjeerde en geroerde eiers, spek, ham, wors, gekruide niertjies, gerookte vis en koue vleis. Vir ontbyt. Vir middagete wei hy tussen die skinkborde vol galantiens, ham, tong, fisant, patrys, perskes, spanspekke, lemoene en bessies. Teen teetyd staan daar al weer torings toebroodjies en skons met konfyt en room. Aandete bestaan uit tussen agt en twaalf gange. Met sjampanje en wyn en whiskey en brandewyn heeldag lank, net wanneer jy wil. Ben het gesorg dat hy hom goed volstop.

      Wanneer hy dikgevreet was aan die kos, was daar die vroue met hul verregaande hoede en haartooisels, ritselende onderrokke, slepende some en styfgerygde middellyfies. Daardie gedurige getrippel op die hoëhaksteweltjies, die kloutjies waarmee hulle krummels uit hul koekbordjies pik, die gedimpelde dye onder die rokke! Dit het hom laat dink aan pienkgepoeierde weergawes van dinosourusse, die uitgestorwe akkedisse waarvan die Britte soms die geraamtes gevind het wanneer hulle steenkoolmyne uitgrawe.

      Wat staan ’n man te doen as hy soveel uitnodigings kry na soveel huise? Hy ruk op na die deure met die blink kloppers en donker posgleuwe en hy bars gewoon die wêreld van rankrosies en poeierdosies en silwersnuisterytjies binne. Boer op besoek was wat hulle wou hê en Boer op besoek is wat hulle gekry het.

      Sy trouring het hy al tydens die oorlog afgehaal. Nie dat iemand hulle daaroor sou moeg maak nie. Dit was ’n ope geheim dat Lloyd by die vrou van een van sy politieke bondgenote lê. Kitty was haar naam en ’n regte kwaaikat was sy. En wat van Lloyd se vrou?

      “Wat dink jy verkies sy?” het Lloyd met ’n snorklag geantwoord toe Ben hom vra. “’n Namby-pamby wat aan haar roksome klou of ’n egte derduiwel?”

      Sover Ben kon sien, het die baljaardery geen prys gehad nie. Hy moes net onthou dat selfs ’n man wie se vrou jy beetgehad het, steeds nie jou speelmaat is nie. Hy het saam met sy gashere gevreet en saans swaar in die chesterfieldbanke neergesak, maar nie gerus en selfversekerd soos húlle nie. Om ’n Engelsman van ’n sekere klas te sien sit in sy huis met die roostuine, fonteine en tennisbane daaromheen, is om te sien hoe sit jy as jy nie sommer weer gaan opstaan nie. So seker sit jy net met die gewig van ’n seëlring aan jou pinkie, goue mansjetknope in jou hempsmoue, ’n erfhorlosie aan ’n ketting in jou sak, bronsbeslag op jou kierie se kop, mure vol boeke in jou biblioteek, deftige porselein op jou tafels, kosbaarhede op jou kaggelrakke, kristalkandelare aan kettings teen jou plafonne, tapisserieë en skilderye in vergulde rame en goue girandole teen jou mure, dik matte op jou vloere, standbeelde van Griekse gode in jou fonteine. En búite die netjiese marmerrelings om jou huis en tuin: reusagtige stede wat al eeue lank op hul plek staan, geanker deur die gewig van vergange beskawings se krummelende stadsmure, museums vol oorlogsbuit, paleise vol juwele en wapenrusting, kerke met grafte uit die vergetelheid onder die marmervloere en bowenal die gewig van die glorieryke Britse geskiedenis, waarvan die pas onder meer gemeet word deur ’n horlosie so swaar dat sestien perde dit deur die strate na die parlementsgebou in Westminster moes sleep.

      Wat sou die ou verslete vegters wat in die oorlog onder sy bevel was tog verstaan van Ben se tyd saam met Lloyd George en sy invloedryke trawante? Ben het in Januarie 1903 in Engeland aangekom en teen die somer van daardie jaar was hy steeds aan’t ginnegaap in die geselskap van families wat sedert die tyd van die Tudors om die kantele van Carnarvon Castle hul bestaan maak. Hoe sou hy aan die dooies kon verduidelik van partytjies saam met manne soos George Cadbury, wie se familienaam die eerste keer in 1166 tydens die bewind van koning Hendrik II opgeteken is?

      Hy sou nie kon nie. En waar sou hy tog begin as hy aan sy gas-here moes verduidelik van Ben Viljoen van Varkiesdraai, in 1868 in ’n grot gebore en steeds aan’t swerf?

      Ons Viljoens het al onder baie bossies rondgeskrop, hooggeagte here. Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep. My voorvader was ’n Franse Hugenoot wat na die Kaap gevlug het, maar van sý voorvaders weet ek niks. Pioniers piekel nie stambome saam nie; hulle skud dit af soos ou slangvel. Ons Viljoens se geskiedenis begin op die nuwe vasteland, op plase rondom die grensposte naby Umtata en op die oewer van die Tsitsarivier. Die rekords is vaag, die details min. Vader het grond gekry van die kafferkaptein Gnangeliswe en dit Varkiesdraai gedoop. Ek is daar in ’n grot gebore, my vader se vierde kind, in ’n tyd van skraal vooruitsigte.

      God man, hulle sou hom mos uitgelag het.

      Grot, ja. Dis waar my gesin toe gewoon het, ja. Glad nie so buitengewoon nie, lord Cadbury. Dis woeste wêreld. Varkiesdraai was geen sprokie nie. Vader is verskeie kere deur die Batet-stam aangeval. Hy het telkens vee in strooptogte verloor. Ons is daarvandaan Pondoland toe; later goudvelde toe. Dis eers onlangs dat ons dorpenaars geword het.

      En wat sou hy sê oor sy lewe vóór die oorlog? ’n Boer sonder ’n plaas, bid jou dit aan! Konstabel, kantieneienaar, tikmasjiensmous, versekeringsmakelaar, koerantman en selfs, in ’n tyd toe die skuldeisers hom opgeskroef het, die dikbek wegryer van nagvuil by ’n hotel in Krugersdorp. Sanitary Contractor and General Commission Agent, het sy kontrak die saak probeer verdoesel.

      Nee, hy het hulle eerder niks van sy verlede vertel nie. Soos dit was, het hulle hom erg genoeg vir die gek gehou. Hy was ’n skoot-hond in hul ontvangskamers, ’n troeteldier vir hul verveelde vroue, maar hy moes tog net nie probeer om man tot man met hulle te praat nie. Dit het hy finaal besef toe hy vir Chamberlain gaan sien het. Soos ’n skoolseun het hy daar sit en stamel. Is dit waar, het hy probeer, dat sy naam op ’n swartlys is van Boere en ander in die Transvaal wat nie in die nuwe Britse territories in diens geneem moet word nie?

      Chamberlain het stram geglimlag. “Die name op daardie lys is van mans wat na bewering gevaarlik is vir ons ideale, omdat hulle dikwels gepoleerd voorkom, en ons met beloftes van vriendskap om die bos probeer lei. Is jy só ’n man, generaal Viljoen?”

      Ben het gesê dit klink vir hom daar is die een of ander soort misverstand. Hy het deurgedruk, vertel dat hy dit oorweeg om weer koerantman te word. Hy sou graag ’n tweetalige blad met ’n versoenings- en vredesbeleid wou begin. Hy het die woorde “versoening” en “vrede” benadruk, maar hy kon dit nie daar laat nie. Sou die nuwe regering behulpsaam kon wees met stigtingskapitaal van tienduisend pond?

      Chamberlain het hom nie reguit in die oë gekyk en hom daar en dan in sy peetjie gestuur nie. Hy het Ben verseker hy is favourably inclined en dat hy met Milner sou consult. Veel, veel later het Ben voëltjies hoor fluit dat Milner sy gat toegestop het. Ja, Ben Viljoen ken ook ’n paar mense.

Скачать книгу