Sirkusboere. Sonja Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sirkusboere - Sonja Loots страница 8

Sirkusboere - Sonja Loots

Скачать книгу

gesê dit gaan nou beter met haar. Sy het haar hand op sy kop gesit, asof sy hom wou troos. Toe hy weer opkyk, sien hy haar een oog is gebars. Toe hou hy haar gesig vas en sê vir haar: “Jy behoort aan Jesus. Ek is lief vir jou. Ek sal jou mis. Ek is jammer.” Al die heel moeilikste dinge sê hy vir haar. Toe eers.

      Toe dit nog oorlog was, het hy dikwels gebid dat hy by haar sou wees wanneer sy sterf, of sy by hóm as dit andersom moes wees. En dat hulle tuis sou wees, op Palmietkuil, nie op die slagveld nie. Hy het sy wens gekry, maar hy sou nooit agterna die gevoel van verlatenheid kon beskryf wat hy gekry het toe hy na daardie ou bors van haar kyk en besef dit beweeg nie meer nie. Hy was lam daarvan. Hester was weg. Hester met die harde hakskene en die sagte borste. Hester, pynlik netjies en presies, behalwe vir die hare wat altyd om haar ore loskom.

      Agterna was daar weer net stilte. Dit het vir hom gevoel na ’n nuwe, veel erger soort stilte. Dit het gekom van die lewendes én die dooies, van almal wat net mooi niks meer gehad het om vir hom te sê nie. Dan vat hy maar die Bybel en begin weer die psalms lees. Ja, ook sý siel was verskrik. Ja, selfs tot in sy gebéénte was hy verskrik.

      5

rule.jpg

      Fenyang was bly as Piet so op sy stoep sit met die groot boek. Dan kon hý ook sit. Hy wou nêrens heen gaan nie. Hy wou net kyk hoe sy vroue mandjies vleg en hoe sy koring groei. Vanjaar sou niemand se kommandoperde sy oes opvreet nie. Dit was sýne. Fenyang Mokeyane s’n.

      Dit wás droog, ja. Hulle wás honger. Die oorlog het al hulle kos en selfs die smaak uit hul mond gevat. Hulle het met leë hande op Palmietkuil teruggekom, hulle het niks meer in hul hande oorgehad behalwe eelte nie. Maar Fenyang het nie gekla nie. Daar was nog springhase in die veld en voëls in die bome. Hulle kon met ketties jag, die vroue kon veldkos soek. Die reën sou kom. Hy kon dit in sy bene voel. Hulle moes net wag.

      Die terugkom was bitter, maar nie so bitter soos die weggaan nie. Fenyang was op die buurplaas toe hy die kommando in ’n stofwolk sien verbytrek. Hy is haastig agterna. Op Palmietkuil het hy die perde tot by hul blaaie in sy hawer gekry. Ver oor die honderd perde was dit. Hy is reguit groothuis toe. Rangkokoropane het op die werf gesit met sy kop op sy knieë, die sekel langs hom in die stof waar hy dit neergesmyt het. Hy het sit en huil, al was hy toe al tien jaar oud en taai.

      “Hoekom keer jy nie?” het Fenyang geraas.

      “KaMongoele sê ek moet die perde uitlos. Hy sê hulle kan maar vreet.”

      Dit was ’n groot kwaad. Daardie stuk land was met húlle saad geplant. Dit was sý seun se sweet wat daar geval het. Die kind het in die donker geploeg en gesaai, snags, in die maanlig, nadat hulle klaar was met die baas se lande. Hy het soos ’n groot man gewerk waar die perde nou besig was om hulle dik te vreet.

      Fenyang het óm die huis geloop en by die agterdeur gaan klop. “Baas, wat gaan aan by my hawer?”

      “Vergeet die hawer,” het KaMongoele gesê. “Dis oorlog. Môre gaan ons saam met die kommando.”

      “Wie gaan saam?”

      “Ek en jy al twee. Ek het jou nodig.”

      “En die oes?”

      “Kokkerot is mos hier.”

      KaMongoele het Rangkokoropane altyd só genoem. Vir Fenyang het hy Jan genoem. “Kokkerot en die vroue moet oes.”

      “Wat as ek nie wil gaan nie?”

      “Dan gee ek vir jou ’n trekpas en dan moet jy áf van my plaas af. Jy en al jou mense. Dan is ek eindelik ontslae van julle.”

      Hulle het vir mekaar staan en kyk.

      “Moenie dink jy kan myne toe foeter nie. Dis oorlog, die myne maak almal toe. En daar’s nêrens plaaswerk nie. Al die base gaan veg.”

      “Ek kan ’n ander plek soek.”

      “Waar? By die buitenste kaffers?” KaMongoele het gelag. “Die astrante stamme kook oorlamse soos jy in hul potte, Jan. Hulle soek nie mak kaffers nie. Ek het te lank na jou gekyk, jy het te sag geword hier op my plaas.”

      “Ek wil nie gaan nie.”

      “Loop dan,” het KaMongoele hom opgeruk. “Ek sal op my eie probeer regkom. Bring net eers jou vyfpondboete.”

      “Vir wat?”

      “Dis Kruger se nuwe Krygswet. As julle nie wil veg nie, moet julle boete betaal. Vyf pond of vyf-en-twintig houe.”

      “Baas sal dit nie doen nie.”

      “Jy beter jou goedjies pak. Óf vir oorlog, óf vir swerf. Kies jy maar self.”

      Rangkokoropane het staan en luister. Fenyang het swaar gesluk. Dit is sleg as jou stertvere voor jou seun uitgepluk word. “Ek sal saam met Baas kom,” het hy gesê. “Maar as die vroue en kinders alleen oes, moet ons meer van die koring kry.”

      Op ’n ander dag sou KaMongoele hom daar en dan laat afransel het. Maar hy was te haastig, alles was onderstebo. “Julle kan een uit drie sakke kry. En julle bêre my deel tot ek terugkom,” het hy vir Rangkokoropane gesê. “Moenie dat ek agterkom jy’t verkeerd getel nie.”

      “Ja, Baas,” het Fenyang gesê.

      “Sorg dat jy reg is môre,” het Piet gesê. “Bring warm klere en twee dae mondprovisie.”

      Fenyang het nie geweet wat hy moet sê nie. Kon ’n jong kind en twee vroue op hul eie oes?

      “Wat kyk jy my so? Jy verstaan mos Afrikaans! Móndpróvisié! Kos!” Toe storm KaMongoele weer die huis in, en klap die deur hard agter hom toe.

      Hulle is die volgende dag daar weg. Fenyang agterna, want hy was mos soos ’n hoender wat ’n mens sommer van die werf af pluk. Ná ’n maand het hulle vir tant Hester kom haal. Die Boere het besluit hulle soek hul vroue bý hulle in die laers, om te help met kos en klere en die ander dinge waarvoor ’n man lus raak in die veld.

      “Jy kan my saamsleep, Piet,” het sy gemor. “Maar dan vat ek vir Sannie ook.”

      “Ag nee magtig, Vrou.”

      “Jy weet ek gaan nêrens sonder my meid nie.”

      “Die ou ding is te oud. Vat om hemelsnaam een van haar kinders.”

      “Nee! Ek soek my éie meid.”

      Sy het haar asem gemors. Dit was Piet Cronjé wat die sweep op Palmietkuil klap. Dit was hý wat besluit.

      Fenyang se ma moes bly. Nkatlholeng, sy kersvrou, sy eerste vrou wat die meeste lig maak, sý moes saam. Motheba, sy tweede vrou wie se lyf styfkalbas gestaan het met hul tweede kind, moes bly. Motheba en Mafenyang moes na ál die kinders kyk, na Nkatlholeng s’n ook. Nkatlholeng moes sonder haar kinders oorlog toe gaan. En Rangkokoropane sou die oes moes afhaal.

      Die vroue het vir Rangkokoropane gehelp, het Fenyang agterna gehoor. Die kinders ook. Hulle het gewerk tot hulle nie meer kon nie. Saam het hulle dertig sakke mabele afgehaal.

      Hulle was net klaar toe

Скачать книгу