Sirkusboere. Sonja Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sirkusboere - Sonja Loots страница 11

Sirkusboere - Sonja Loots

Скачать книгу

lus ook nog, maar dié heildronk drink hy nie saam nie. Selfs hý moet iewers die streep trek.

      “Is jy ’n soldaat?” vra Frank.

      “Ek wás. Nou weet ek nie meer nie. Dis vrede en ek sit ledig.”

      “Het jy nie ’n plaas nie, Boer?”

      “Nee.”

      “’n Boer sonder ’n plaas. Elke dag iets nuuts.” En Frank lag hom byna dood.

      “Ek het net ’n boek, en dit gaan my niks in die sak bring nie,” sê Ben suur.

      “Watse boek?”

      “Wat ek oor die oorlog geskryf het.”

      Frank lyk beïndruk. “’n Skrywer. Dis deftig. Wat is jou naam?”

      “Ben Viljoen.”

      “O. Die Boeregeneraal. Ek het al van jou gehoor. Slaan my dood. Hier sit jy en suip soos ’n doodgewone kroegvoël.”

      “My rang was nog nooit van enige hulp nie,” sê Ben. “Dit het die Britte gretig gemaak om my te vang, ja. Maar op St. Helena het hulle my in ’n tent laat bly en vir Piet Cronjé ’n huis gegee. En ná die oorlog is Botha, De la Rey en De Wet sonder my Europa toe vir die onderhandelings. Asof ‘generaal’ sommer ’n bynaampie is wat my ma my gegee het.”

      “Klink my hulle was nie lus vir jou nie,” waag Frank dit.

      “Of ek vir húlle nie. Hulle kan in hulle verdomde maai vlieg.”

      Frank antwoord nie, maar hy kyk met nuwe oë na Ben. Hy bestel vir hulle elkeen nog ’n dubbel-whiskey en takseer die generaal met die gladgewakste kantkuif. Hy raai die flambojante kronkel van sy mededrinker se snor verklap selfvertroue en flair, dalk selfs ’n verbeelding en ’n sintuig vir intrige. Ben is ’n haan onder die henne, dít kan hy sien. Maar die haantjie se krop sit tot barstens toe vol gedwarsboomde drome, raai hy. Hy weet hoe dít voel. Lo and behold, dink Frank, hierdie Boer is byna so keelvol soos ekself.

      “En jý? Het jy geveg?” vra Ben ná ’n ruk. terwyl hy dit vra, kry hy al lag. Die Engelsmannetjie sal duidelik nie ’n vark kan slag nie, never mind ’n mens.

      “Nee. Maar ek het al baie gevare trotseer.”

      “Soos?”

      “Die land was nie altyd so mak soos nou nie, Boerbok,” vervies Frank hom. “Ek toer al sedert die 1880’s in die ongerepte binneland. Dikwels moes ek manalleen myle lange distansies aflê. Ek had my kwota noue ontkomings. Daar was robuuste blootstelling aan doodsgevaar op ’n menigte maniere.”

      “Noem één voorbeeld.”

      “Die keer toe inboorlinge my duskant Wepener gevange geneem het. Agttien-agt-en-tagtig, as ek reg onthou. Die kaffers was boos, want hulle dag ek is een van die troepe wat by die Basoetogrens sou oorlog maak. My sakdoektruuks het my gered. Hulle het gedink dis togati. Toorkuns. Toe ek weer sien, laat hulle my loop.”

      Ben lag. “Is dit die naaste wat jy ooit aan oorlog gekom het?”

      “Ek is nie ’n soldaat nie. Ek veg net met my skuldeisers,” sê Frank. “Veral deesdae. Voor die oorlog het dit goed gegaan met Fillis se Sirkus, maar nou is niemand meer lus vir grappies en poetse nie.”

      “Dan weet ek ook nou wie jý is,” sê Ben.

      “Ja. Aangenaam. Frank Fillis,” en Frank steek sy hand uit. “Befaamde volksvermaker. Impresario, arties en sirkusbaas. Skepper van kolossale skouspele en treffende tablo’s. En laaste maar nie die minste nie, eienaar van Afrika se eerste en enigste eenwielfiets.”

      Ben skud van die lag én hy skud die hand wat na hom uitgesteek word. Dis nie die eerste Engelse handjie wat hy in syne neem nie. Buitendien, die oorlog is verby en dit klink vir hom die vrede is vir hulle al twee ewe simpel.

      Hulle dop eers ure later dronk by die kroeg uit, en ’n week ná hul eerste ontmoeting stuur Frank ’n sirkuswerker met ’n nota na Ben se ma se huis: Confrère! Kameraad! Wat ’n goeie ontmoeting was dit nie! Ons moet weer beraadslaag. In dieselfde hoofkwartier. Vanmiddag om drie.

      Ben grinnik toe hy dit lees. Met alle plesier, laat hy weet.

      Dit is die begin van ’n trotse tradisie van kakpraat en kwaaidrink. Hulle daag in goeie kondisie op, altyd weer by dieselfde kroeg, en elke sessie begin stigtelik genoeg. Maar later bondel hulle inkapabel van hul stoele af en flenter dronk by die deur uit, en die volgende oggend word elkeen wakker met ’n hoofpyn wat soos ’n merrie teen die skedel skop.

      Frank amuseer vir Ben. Niemand in Krugersdorp se jeremiades is interessanter as die sirkusman s’n nie. Saans in die arena lyk Frank redelik presentabel met sy wit rybroek, swart stewels, rooi jas met lang flappende pante en perdesweep, maar as die son op hom skyn, slaan hy volgens Ben ’n potsierlike figuur. Hy het ’n spits gesig en maer beentjies en die details van sy monderings hang van sy bui af. Soms dra hy ’n aandbaadjie met ’n kniebroek daarby; die volgende dag ’n verbleikte tuniek uit die Soedannese oorlog, of ’n groen fluweelbaadjie met omboorsels van goue kant, of kruisbande vol kastige “medaljes”. Daarby dra hy altyd ’n leertas wat hy sy portmanteau noem. As Ben vir hom vra wat hy daarin hou, sê hy geheimsinnig: “Planne, Boerbok. Vir ’n blink toekoms.”

      Ben hou daarvan dat Frank sy eerste dop vinnig wegslaan en dan ’n lang inventaris moontlike gespreksonderwerpe aframmel, die een so gek soos die ander. “Wat sal daai massiewe suurheid van jou laat wyk, Boerbok? Wil jy hoor van al die beserings in Bombaai toe een van ons sitplekstellasies ineengestort het? Van die koningin se verjaarsdagviering in Kaapstad, toe ’n mak luiperd ’n tienjarige kind se kopvel afgeskeur het? Van ’n ontmoeting met ’n gewapen-de Swazikryger en sy poedelkaal dogter met die mandjie eiers op haar kop?” In die stem van ’n afslaer, asof hy die verhale opveil. Wil Ben hoor van ’n afgryslike treinongeluk waarna Frank die lyk van ’n moeder met ’n baba aan die bors gesien het? Van die perd wat hy in ’n meer buite Barkly-Wes gevind het, tot by sy maag weggesak in die modder, en met groot moeite uitgesleep het, net om te vind daar hang ’n drenkeling aan die stiebeuel?

      “Vertel eers hoe lank is jy al in die land,” sê Ben die eerste keer.

      “Lank. Langer as twintig jaar. Agttien-tagtig in die Kaap aan wal gestap en dadelik tuis gevoel.”

      “Tuis! Tussen daardie klomp moerskonte van die Kaap?”

      “Ja.”

      Ben moet maar skoorsoek, Frank laat hom nie uitlok nie. Dis die Boere se oordrewe republiek-politiek wat so klink, weet hy. Wat weet Ben in elk geval van die Kaap in daardie jare? Dit was die mooiste plek wat Frank in sy lewe gesien het. Die berg met sy dramatiese missluiers; die lang, lae huise met groot stoepe in die stadskom; die grasieuse mense in die strate. Die Maleiers het toerings gedra, spits strooihoede met ’n woelsel rooi en wit katoen daaronder, en hier en daar het die ouer mans nog kaparrings tussen hul tone vasgeknyp. Frank het hom vergaap; dit was wonderlik eksoties. “In die Kaap kon ek voel hoe ’n nuwe wêreld wink,” sê hy. “By die huis was daar ’n hoop skuld, ’n wyf wat by die dag al dikker raak en ’n baba wat huil elke keer as ek hom wil optel. Hier in Afrika was daar geléénthede.”

      “Wás,” sê Ben. “Nou’s daar net suur gesigte oral waar jy kyk.”

      “Couldn’t

Скачать книгу