Susanna M Lingua-keur 15. Susanna M Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua страница 1

Susanna M Lingua-keur 15 - Susanna M Lingua

Скачать книгу

>

      

      Susanna M Lingua

      Keur 15

      Rista • Die eerste skakel • Die rooikop van Sonnerus

      Melodie

Rista

      1

      Op tweejarige ouderdom moes Rista albei haar ouers afstaan aan ’n afgryslike dood. Gerhard de Vos se motor het op ’n spooroorgang met ’n aankomende lokomotief gebots.

      Gelukkig was Rista daardie dag ongesteld en moes sy tuis bly by haar ouma, anders was ook sy in die ongeluk betrokke.

      Die dae wat op die ongeluk gevolg het, was vir die klein dogtertjie baie verdrietig. Menige dag het Ouma, soos almal haar genoem het, bitterlik saam met die ongelukkige dogtertjie geween. Die eindelose weemoed en verlange wat so duidelik in die kind se donker ogies te bespeur was wanneer sy haar ouma aanstaar, was vir die ou dame te veel om te aanskou. Sy het magteloos gestaan om iets daaraan te doen, want geen trane kon die ouers ooit terugbring nie.

      Soos die jare gekom en gegaan het, het die wond in Rista se hart langsaam genees, ofskoon dit sy merk onuitwisbaar op haar gelaat het.

      Na die heengaan van oupa De Vos het Ouma hulle vrugbare plaas wat aan die Kraairivier grens en twaalf kilometer van die dorpie Kroondal geleë is, verkoop. Sy het al die behae wat sy voorheen in die boerdery geskep het, ineens verloor. En om voortaan daar alleen saam met Rista te woon, het Ouma nie voor kans gesien nie.

      Met die plaas se geld het Ouma ’n groot, moderne, gemeubileerde losieshuis op Kroondal gekoop. “Ouma se losieshuis,” soos almal op Kroondal later die plek genoem het, het drie ongetroude onderwysers, twee onderwyseresse en die dorp se enigste tandarts gehuisves.

      Ouma het haar loseerders sonder uitsondering as haar eie kinders beskou. In haar het hulle ’n ware moeder en ’n getroue raadgewer ontdek. Sy het met ’n simpatieke oor na almal se leed en sorge geluister, en hulle dan van raad gedien waar dit nodig geblyk het.

      Die mense het Ouma later so lastig geval vir losies dat sy verplig was om haar losieshuis te vergroot. Aangesien die gebou op vier erwe geleë was, was dit heel maklik om aan die linkerkant nog ’n vleuel van vier kamers aan te bring.

      In die stel nuwe kamers het Ouma onmiddellik twee tiksters van die landdroskantoor, een landdrosklerk en die dorp se apteker gehuisves. Die hele groep tesame was soos een groot familie en besonder vrolik, aangesien hulle almal enkellopend was en geen sorge van ’n familie op hulle skouers gedra het nie. Vir hulle was die lewe elke dag na werksure die ene plesier en vermaak.

      Net Rista het nie altyd meegedoen aan hulle vermaak nie. So ’n plesierige lewe het beslis nie in haar smaak geval nie. ’n Goeie boek het haar meer geïnteresseer as hulle plesier en vermaak. En tog het almal besonder baie van haar gehou, al was sy soms teruggetrokke.

      Ofskoon Rista baie deur Ouma verwen is, was die ou dame se woord tog by haar wet en sou sy dit nooit waag om enigiets aan te vang voordat dit Ouma se goedkeuring weggedra het nie. En vir haar swartkrulkopdogtertjie kon Ouma ook nooit iets weier nie. Ouma se enigste strewe tot dusver was nog altyd om Rista se lewe vir haar so aangenaam moontlik te maak. En juis daarom moes haar geringste ou wensie vervul word.

      Maar nadat Rista matriek met eersteklas geslaag het, het die ou dame ten ene male verseg om haar universiteit toe te laat gaan. “Ek sal nooit die kind so ver van my af laat gaan nie,” het sy menigmaal aan haar vriendinne gesê wanneer hulle die kinders oor ’n koppie tee sit en bespreek het.

      Aangesien Rista nie daaraan gewoond was om haar ouma se wense te weerspreek nie, het sy haar dit maar laat welgeval, hoe swaar dit ook al vir haar was. Sonder ’n woord het Rista aan die ou dame se wense toegegee en haar begeerte om universiteit toe te gaan laat vaar.

      “Jy sal tog nooit eendag nodig hê om te werk nie, my kind,” het Ouma probeer verduidelik. “Jou vader het jou heeltemal vermoënd nagelaat. En wanneer ek te sterwe kom, is jy ook my enigste erfgenaam.” Dan het sy weer byna pleitend gesê: “Vergeet tog nou maar die ou universiteit en bly by Ouma. Jy is al wat ek nog het, Ristatjie.”

      Vir die jong meisie was dit ’n gevoelige slag. Sy het so daarna uitgesien om haar te gaan bekwaam as ’n maatskaplike werkster. Ouma se besware en besluit het vir haar baie selfsugtig voorgekom. Sy leef tog immers nie meer in die ou dae toe ’n meisie se enigste ideaal net was om eendag ’n goeie huisvrou en moeder vir haar kinders te wees nie. Elke reggesinde jong meisie wil in ’n mate onafhanklik wees, haar bekwaam in die een of ander beroep wat sy later kan volg. Aan ’n huwelik en die veelvoudige pligte daaraan verbonde het Rista nog maar selde gedink.

      Op haar negentiende verjaardag het Ouma haar verras met ’n pragtige, nuwe rooi motortjie wat as verjaardaggeskenk bedoel was. Haar groot donker oë het daardie dag letterlik gestraal van geluk by die aanskoue van die pragtig ontwerpte voertuig. Haar geluk het byna gedreig om haar te oorweldig. Gedagtig aan haar ouma se besorgdheid, het dit trane in haar oë gebring. Sy het byna nie geweet hoe om haar ouma te bedank vir so ’n groot, pragtige geskenk nie. Sy kon die ouer vrou net om die hals val en ’n aangedane “Dankie, Ouma” uitkry.

      Rista het maar weinig kennis van die teenoorgestelde geslag gehad. Die enigste jong man wat sy nog ooit na enige geselligheid, konsert of musiekuitvoering vergesel het, was haar vriendin Brenda se broer, Johan, wat toe nog ’n proponent was en voor wie sy grootgeword het.

      Sy het besonder baie van Johan gehou. Hy het haar hoflik en met respek bejeën. Hy het geen eise aan haar gestel nie en het haar vriendskap aanvaar op die voorwaardes waarop sy dit gebied het. Hulle vriendskap was ’n lus om te aanskou.

      In Rista het Johan op sy beurt ’n ware pastoriemoedertjie ontdek. Sy was alles wat hy van ’n vrou verlang het. Sy was geensins vleierig en uitspattig soos ’n bakvissie nie. Vandat Johan haar ken – en dit is van kindsbeen af – was sy besadig en ’n opregte dametjie, ook baie intelligent.

      In sy hart het Johan altyd die hoop gekoester om Rista eendag sy eie te maak, want hoe nodig sou hy haar nie kry in die pastorie waar hy dalk honderde kilometers van sy eie mense geskei sou wees nie.

      Met haar lieftallige geaardheid en fyn maniertjies sou sy vir hom die ideale lewensmaat wees. Sy sou hom soos geen ander nie kon bystaan en inspireer in die groot taak wat op hom gewag het. Saam sou hulle twee die werk van hul groot Skepper verrig – ja, in liefde en harmonie verrig.

      By sy huisgenote was dit ’n uitgemaakte saak dat Johan hom met Rista in die eg sou verbind en sy is reeds in die landdros se woning as ’n lid van die gesin beskou. Sowel die landdros as sy vrou was trots op hulle seun se keuse vir ’n lewensmaat. Want het hulle Rista dan nie al van haar geboorte-uur af geken en geweet wat in daardie stil dogter steek nie?

      Rista was egter onbewus van Johan se hartsgeheime. Sy het hom as ’n broer beskou aan wie sy al haar probleme kon toevertrou met die oog op goeie raad, waarvan sy ook mildelik gebruik gemaak het.

      Johan het nooit sy hart vir Rista oopgemaak nie. Hy het maar te goed begryp dat haar gevoelens jeens die manlike geslag nog aan die sluimer was. En daardie sluimerende gevoelens wou hy nie toe al by haar wek nie, nie voordat hy ’n beroep aanvaar het nie. Ja, dan sou hy terugkom en haar om haar hand kom vra, haar saggies kom wek uit haar jare lange sluimering.

      Intussen moes Johan optree as hulpprediker op ’n dorpie ongeveer tweehonderd kilometer van Kroondal af.

      Maar na ’n tydperk van drie maande as hulpprediker kon hy terugkeer na Kroondal waar hy sy beminde moes agterlaat.

      Met

Скачать книгу