Woestyngevangene. Andrea Abbott

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Woestyngevangene - Andrea Abbott страница 3

Woestyngevangene - Andrea Abbott

Скачать книгу

net reguit aanstap.

      Hy strompel voort. Geleidelik word die lug helderder en die son kom weer te voorskyn. Soos die sigbaarheid verbeter, skuif die horison al verder weg. Leo sien nou hy is in die middel van ’n enorme vlakte. Niks – nie ’n koppie, ’n bossie, ’n klip of stofpaadjie of ander lewende wese – verbreek die eentonigheid van daardie yslike oop ruimte nie.

      “Waar is ek?” vra hy hardop. Sy stem klink toonloos en flou in die eindelose leegte.

      ’n Herinnering kom meteens by hom op, byna soos ’n antwoord op sy vraag. Die ergste ding om te doen as jy in die woestyn verdwaal, het iemand eenkeer vir hom gesê, is om daar te probeer uitkom. Jy loop net in sirkels wat al wyer en wyer raak. Dis beter om net te bly waar jy is.

      Hy het dit te laat onthou. In sy verbete soektog na sy vriende, het Leo heeltemal verdwaal.

      2

      Skaduwee! Dis al waaraan Leo kan dink. Maar die enigste stukkie wat daar is, is sy eie skaduwee, en dit help hom niks. Dis soos ’n senuagtige hond wat wegbeweeg elke keer wanneer jy probeer nader kom.

      Die skroeiende son is genadeloos en die sand voel soos ’n brandyster teen sy bene. Hy plof neer, trek sy knieë op, leun vooroor en probeer sy kop en arms teen die son se fel strale beskerm. Die ander soek seker na my; hulle sal my nou-nou kry.

      Hy wag.

      En wag.

      En wag.

      Niks beweeg nie. Daar is geen welkome geluid van ’n enjin om die verstikkende stilte te verbreek nie. Dis so stil dat hy sy ore kan hoor suis. Die skril ziennnnggggg klink soos die geluid van sonbesies in die somer.

      Die tyd sleep verby, die son skroei sy pad oop deur die lug, die gesuis in sy ore word harder. Al wat verflou, is sy hoop dat die ander sal terugkom. Miskien kom iemand anders hier aan. Maar dis mos nou wensdenkery. Wat is die kanse dat iemand skielik in hierdie onverbiddelike en leë plek sal opdaag? Ek sal voor dan doodgaan van dors.

      Hy smag na iets om te drink. Sy tong is dik en opgeswel en sy keel is so droog soos die sand om hom. Die dors word al hoe erger, tot dit al is waaraan hy kan dink. Niks anders maak op hierdie oomblik meer saak nie.

      Drome van skaduwee maak plek vir fantasiebeelde van water: vonkelende water; glase water waarin ysblokkies rinkel; kristalhelder rivierwater wat oor klippe klater; watervalle wat by berge afstort; mere water, koel en blou en diep; reën wat die aarde deurdrenk; vars water wat sy mond vul en by sy keel afloop, hom afkoel en hierdie verskriklike dors les.

      ’n Sagte geluid, soos iemand wat asemhaal, onderbreek sy dagdroom. Hy kyk op.

      Daar staan ’n hond naby hom. Die uitgeteerde brak staar hygend na hom.

      Leo knip sy oë. Ek verbeel my goed.

      Maar die hond is nie ’n illusie nie. Hy is so werklik soos die hitte. Sy yl, sandbruin pels is styf gespan oor die rimpels van sy ribbes, en die punte van sy ore is geskeur en gaar gebyt deur vlieë. Sy kop lyk nogtans sterk, met ’n breë voorkop en ’n swart snoet. Hy het lang, gespierde bene en sy stert staan reguit agter hom in die lug.

      Hy is gehawend en taamlik lelik, nie ’n hond wat jy graag sou wou streel nie. Leo wil nie hê hy moet enigsins nader kom nie. Hy is heel moontlik ’n verdwaalde hond wat wild en kwaai geword het. Een verkeerde beweging, en die hond is kapabel en val hom aan. Dis al wat hy nou nodig het!

      “Wat wil jy hê?” vra hy. Sy stem bewe en verraai sy vrees.

      Die hond staar hom steeds met oë van staal aan.

      “Voertsek! Gaan weg!” Leo tel ’n hand vol sand op en gooi dit na die brak.

      Hy staan terug, maar nie op ’n stert-tussen-die-bene-manier nie. Hy bly trots en regop. Hierdie hond is nie senuweeagtig of dreigend nie, maar vol selfvertroue, te oordeel aan hoe hy Leo aankyk. Dit lyk kompleet of hy die seun iets probeer vra: Sy kop is skuins gedraai en hy knip nie ’n oog nie. Hy is beslis nie die basterbrak waarvoor Leo hom eers aangesien het nie. En dit lyk ook nie of hy die seun enige kwaad wil aandoen nie.

      Versigtig steek Leo sy hand uit. “Het jy ook verdwaal?”

      Die hond draf ’n entjie weg, stop, draai om, en kyk weer na hom met daardie selfde nuuskierige uitdrukking.

      Leo staan op en loop na hom toe.

      Die hond gee weer pad en stop net buite sy bereik, asof hy ’n speletjie speel.

      Leo is nie lus vir speletjies nie. “Ag, vergeet dit,” sê hy en plof weer op die sand neer.

      Die hond staar na hom.

      “Wat wil jy hê?” vra Leo.

      Die hond draf weg en kyk terug oor sy skouer. Toe Leo hom nie volg nie, kom hy terug. Hierdie keer stop hy so naby dat Leo sy hondereuk kan ruik en sy warm asem op sy nek kan voel. Hy wag om te sien wat die hond volgende gaan doen.

      Vir ’n rukkie beweeg nie een van die twee nie. Maar die hond verbreek op die ou end die dooiepunt en herhaal dieselfde gedrag. Hy beweeg weg, stop ná ’n paar meter, draai om en kom terug. Hierdie keer gee hy ook ’n kort blaffie.

      “Probeer jy vir my iets sê?” vra Leo. “Wil jy hê ek moet saam met jou kom?”

      Die hond kry met lang spronge koers. Leo staan op en volg hom. Hy kyk aanhoudend terug, ingeval iemand opdaag om hom te red. “Waarheen gaan ons?” vra hy, meer vir homself as vir die hond.

      Dit lyk nie of daar êrens is om heen te gaan nie. So ver as wat die oog kan sien, is die woestyn ’n warm, droë see van rooi. Sy golwe is die horisontale hittegolwe: wrede lugspieëlings wat dorstige woestynreisigers flous en laat dink daar is water voor hulle. Maar, nes skadu’s, beweeg hulle gedurig verder terug. Niemand kom ooit naby aan hulle nie.

      Terwyl hy agter die hond aansukkel, weet Leo hy vat ’n kans. Bly waar jy is, kom die raad van lank gelede weer in sy kop op. Maar dis net as jy nie ’n hond het wat vir jou wys waarheen om te gaan nie. Die hond hardloop verder sonder om een keer te stop, aan die grond te snuif of die lug te ruik, of selfs rond te kyk. Daar is ’n doelgerigtheid aan hom wat Leo laat dink hy weet presies waarheen hy gaan.

      Nadat hy ’n laaste keer omgekyk het, besluit Leo eens en vir altyd om die brak se lot te deel. Soos enige lewendige wese kan ’n hond nie lank sonder water oorleef nie. En as dié een in hierdie verdorde plek aan die lewe kan bly, moet hy weet waar om dit te kry. En wat meer is, hy lyk amper mak. Hy moet aan iemand behoort. Dalk is hy nou selfs op pad huis toe.

      Die ander het al ure gelede hier weggery, dink Leo. Sy skaduwee gee hom ’n aanduiding van tyd. Dis nou baie langer as toe hy middagete teen daai koppie opgeklim het. En al een wat nog opgedaag het, is die hond. As ek hier bly, wag ek dalk vir die res van die dag en die hele nag. Teen dan sal ek doodgaan van die dors.

      Nadat hy alles oorweeg het, besluit hy die hond is sy beste kans om gered te word. Hy sal hom maar moet vertrou.

      * * *

      “Eish!” sê Victor en druk ’n yskoue blikkie teen sy wang. “Net wat ek nodig het.” Hy trek die ringetjie bo-op die blikkie oop. Daar is ’n sisgeluid soos die soet swart vloeistof skuimend opborrel en by die kante afloop. Hy slurp dit op.

Скачать книгу