Kelder. Gerda Taljaard

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kelder - Gerda Taljaard страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Kelder - Gerda Taljaard

Скачать книгу

Donkerte het oor ons huis gekom. In die aande wanneer my keeshond by my kom lê, kan ek dit voel. Iets wat soos onweer oor ons dak hang, wat deur die mure sypel en oor die vloer kruip. Ek hoor dit in die stilte. In die kraakgeluide van die huis. Die houttrap wat onverklaarbaar knars, die dakbalke se gekreun en die waterpype se gerammel.

      Vroegoggend wanneer ek gaan koffie soek, sit my ma met haar skotties by die kombuistafel. Dan kan ek sien dat iets in haar padgegee het. Wanhoop klou soos klitsgras aan haar. Sy praat nie, maar ek kan sien hoe die gedagtes deur haar kop trek.

      Ek droom gedurig van haar. Hoe sy met ’n bos sleutels van die een vertrek na die volgende stap. Die een deur ná die ander oopsluit. ’n Kamer in ’n kamer in ’n kamer. Ek kan haar hoëhakskoene oor die vloer hoor, die geklik-klak deur die leë vertrekke soos sy van deur tot deur beweeg. Ek hoor sleutels wat klingel, deure wat agter haar klap. Dit lyk nie soos my ma nie, tog is dit sy. ’n Jong, skraal vrou in ’n plooirok wat regop en flink beweeg. Die huis is ook nie vir my bekend nie, maar ek kry die gevoel dat ek al daar was. Op langelaas sluit sy die laaste deur oop. Wanneer die deur oopswaai, is die vertrek gevul met ’n verblindende wit lig, sodat sy terugsteier en haar hande voor haar gesig druk.

      Keer op keer word ek wakker met my hart in my keel.

      hoofstuk 2: trein na pretoria

      Sus

      Die eerste keer was sy skaars veertien. Sy het nie verstaan hoe die kind in haar lyf gekom het nie. Haar lyf het skielik net anders gevoel. Voor die bloed nog opgehou het, het daar fyn blou aartjies onder haar vel gewys. Haar tieties het vreemd seer gevoel. Die rif­rug het anders aan haar geruik, hy het sy snoet in haar skoot gedruk en sy groot kop teen haar maag en teer borste geskuur.

      Sy het vinniger moeg geraak en gesukkel om haar werk gedoen te kry. Teen die middag moes sy ’n bietjie gaan lê. Saans het sy voor die naaimasjien aan die slaap geraak, haar kop skuins oor ’n stuk flennie. Die paraffienlamp swart gebrand. Gare gekoek onder die Singer se voetjie.

      Die sinkbad kon sy nie meer alleen omkeer nie. Wanneer sy wasgoed ophang, het die son bokant haar kop getol en haar ore gesuis. Sy kon haar bloed teen haar slape voel klop. En sy het agtelosig geword, die wasgoed aan die draad vergeet, dan is dit stokstyf gevries die volgende môre.

      Haar hande het dom en traag geraak, sy het melk aan tafel gestort. “Wat is jy so lomp, Sus,” het haar pa gebulder, “het jy pap in jou hanne, of wat?”

      “Jy raak lekker dik,” het haar ouboet Floors opgemerk. “Van al die soetpap en uitgebraaide vetjies wat jy vir jouself hou, nè, ou Sus?”

      Sy het hom met die nat vadoek teen die oor bygekom, maar sy kon nie stry nie, sy het onverklaarbaar vet geword. Waar haar lyf eers seningrig was, het dit sag geword. Sy het maklik gekneus en sy was honger. Terwyl sy knie of insuur, het sy sulke hompe deeg in haar mond gedruk.

      Een oggend toe sy voor die koolstoof buk, het Bettie haar só gekyk en haar aan die arm kom vat. “Maar my jirre, Sus, wat lyk dit my jy’s by die lyf?” Sus het nie geweet waarvan sy praat nie, sy het haar vir Bettie vervies en haar arm afgeskud. Bettie het hand oor die mond gestaan en haar kop geskud. Sy het Sus se voorskoot gelig en teen haar maag gevoel. “Ek moet dit geweet het … helsem!”

      Sus het geskrik. Dit was een van die min kere dat sy Bettie regtig kwaad gesien het. Dit het gelyk asof sy haar ’n klap wou gee. Maar Bettie het agteruit getree en gestrek na ’n Mazawatteeblik op die rak. Daaruit het sy vier pond gehaal. Baie geld. Sy het dit in Sus se hand gestop. “Hoe lank bly jou bloed al weg?” het Bettie gevra.

      Sus wou huil.

      “Hoe lank?” het Bettie gesis en haar aan die skouers geruk.

      Sus het probeer uitreken, op haar vingers getel en ’n paar keer oor haar lippe gelek. “Vanaf Desember. Ses … sewe maande.”

      “Dan’s dit te laat om dit weg te maak,” het Bettie gesug, haar gelerige oë bloedbelope. “Vat hierdie geld en kry ’n trein Pretoria toe en sorg dat jy by jou ant Hildegard kom, sy sal weet wat om te doen, hoor jy my, Sus?”

      Sus het haar kop geskud, haar wange nat. Sy wou nie na kwaai ant Hildegard toe gaan nie.

      Bettie het aan ’n vuurhoutjiesplinter gekou en dit toe uitge­spoeg. “Here tog, kind, verstaan jy dan nie, jy gaan ’n kleintjie kry!”

      Sus het op die taai linoleum gaan sit, haar kop teen haar knieë. Alles het skielik sin gemaak. Die nagte by Kareltjie in die bed, die seerkry met haar pa in die skuur. Boerbokke wat op mekaar klim. Die ooie wat opswel en die lammers wat maande later slymerig uit hulle glip.

      Bettie het die fluitende ketel van die stoofplaat geskuif. “Gaan na mies Hildegard in die stad toe tot jou tyd kom. Sy sal jou hospitaal toe vat en dan kan julle besluit wat van die kind word.”

      ’n Week later, dit was ’n Woensdagoggend, het Sus gemaak soos Bettie gesê het. Sy het vir haar pa gejok, gesê antie Hilde het haar genooi om daar te gaan kuier. Sy het nie gedink haar pa sou ja sê nie, maar hy het. Miskien het hy geweet, want hy het haar die afgelope maand of twee minder skuur toe laat kom. Of dalk het Bettie hom gesê, al het sy belowe om nie te vertel nie.

      Sy het een van haar ma se rokke aangetrek, dit het styf oor haar maag gespan en ’n punt getrek. Gelukkig was dit winter en kon sy haar maag onder ’n trui wegsteek. Sus het ’n strooihoedjie met ’n geel lint opgesit en haar voete in ’n paar van haar ma se skoene probeer kry, maar haar voete was te geswel. Sy het toe maar haar skoolskoene by die sykouse aangetrek.

      Haar pa het haar in sy Austin Veekraalstasie toe gevat. Sy wou nie voor langs hom sit nie, sy het agterop saam met die hond en ’n paar appelkratte gesit.

      Dit was koud op die trein, dit het gevoel asof mense haar aangaap. Sy het ’n seun herken wat saam met haar op skool was, maar gemaak of sy hom nie sien nie. Hy was ’n boelie. Een van daai wat haar altyd “wurgpatat” genoem en haar hare getrek het.

      Sy het by die venster uitgekyk na lusernlande en sementdamme en huise wat verbyflits. En haar koue mielie en stuk brood geëet wat Bettie vir padkos ingepak het. By haar voete het twee gepekelde beestonge in ’n lapsak gelê wat Bettie vir ant Hildegard saamgestuur het, sorgvuldig in koerantpapier toegedraai.

      Esmeralda

      Wees versigtig waarvoor jy wens. Wees nog versigtiger waarvoor jy bid, want die Here het ’n vreemde sin vir humor. Kyk nou maar na mans se geslagsdele, om van vroue s’n nie eens te praat nie. Alhoewel ou Koot destyds nogal ’n ophef van my koejaweltjie gemaak het. Asof dit die oulikste ding op aarde was. Self kon ek nooit daarna kyk nie, nou nog nie. Wat nog te sê daaraan vat.

      Ieder geval, die hele skepping getuig van die Here se absurde humorsin. Kangaroe, vlermuis, duisendpoot, ’n bleddie ietermagog. Maar Benjamin sê die totstandkoming van die heelal is blote toeval. ’n Onvoorsiene konkoksie van chemiese stowwe ná ’n moerse ontploffing. Maar toeval het nie ’n sin vir humor nie. Hoewel ek die hele idee van evolusie nogal snaaks vind. Lagwekkend om te dink die verwaande mensdom het eens op ’n tyd, soos Benjamin sê, uit die primordiale slymsop geklim en in die stof rondgekruip. Onwaardig.

      Wanneer iemand my die dag afpis, sien ek hom of haar so hande-viervoet in die drek, dan voel ek beter. My stuck-up buur­vrou met die Dolce & Gabbana-sonbril en plastiektiete. Die selfvoldane dominee wat destyds nie vir Benjamin wou doop nie omdat ek ongetroud was. Daardie sepie-“aktrieze” met die Jimmy Choo-spykerhakke wat my nou die ander dag nie in Checkers

Скачать книгу