Kelder. Gerda Taljaard

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kelder - Gerda Taljaard страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Kelder - Gerda Taljaard

Скачать книгу

evolusie kan maklik deel wees van die skeppingsproses. Vir God is duisend jaar mos soos een dag en een dag soos duisend jaar. So iets. En goeters evolueer steeds. Kyk nou maar na my wat Esmeralda is. Al liggaamsdeel wat nog oefening kry, is my regtervoorarm – om nog ’n baklava of custard slice of bourekia in my kies te druk. Miskien raak ek so dik dat ek eendag nie meer kan loop nie. Dan evolueer ek tot hierdie vormlose massa met ’n ge­spierde tentakeltjie wat heeltyd uitskiet om nog ’n skemerkelkie of hors d’oeuvre in my wagtende keelgat af te gooi.

      Bleddie siek sin vir humor wat ek het. En waar kom ek daaraan? By die meester van galgehumor gekry, natuurlik. Die Een wat my uit modder saamgeflans het, wat my na sy beeld geskape het. Ek kan my goed voorstel hoe God hom slap lag vir die mens se manewales hier op aarde. Homo sapiens se skelmstreke en doellose geneuk en koddige geploeter. Sy waansinnige gejaag na wind. Sinnelose geklets. Vindingryke tricks om gespyker te word. Sy onversadigbare drang na mag en geld. Of is dit eerder iets om oor te huil? Lag met ’n traan dalk.

      Al wat ek weet, is dat God nie wil hê die mens moet homself te ernstig opneem nie. Want ek is seker Hy het hom al baie keer saam met my verkneukel oor my stommiteite. Soos die keer toe ek sonder ’n panty poskantoor toe is. Ek was al by die toonbank toe ek besef ek staan kaalstert onder my romp. Of die oggend toe ek ná ’n nag van ryk kos en wyn wakker word met ’n Rennie in my kuif. En daai keer met die bankroof toe ek op die vloer lê en die bankrower trip oor my. Slapstick op sy beste. Wat egter daarna gebeur het, was nie snaaks nie. Of was dit juis? Want hy het hom gewip en die vuurwapen op my gerig en die sneller getrek. Maar toe gebeur niks. Net ’n geklik. Twee keer. Eers ’n jaar of wat daarna kon ek daaroor lag, want ek kan my voorstel hoe ek op daardie oomblik moes lyk. My oë toegeknyp, mond vertrek, hande teen die ore. Wange drillend en rooi. Spoeg op die dubbelken, rok wat wie weet waar optrek. Regte spektakel.

      Dis dié dat ek toe verlede jaar met die inbraakpoging soos ’n hondsdol ding aan die lag gaan toe ek nogmaals in die loop van ’n skietding moes vaskyk. Ek het die agterdeur oopgemaak vir Dingaan om te gaan pie, toe staan poephol-met-die-pistool op my stoep en sê vir my ek beter my bek hou. Daar begin ek lag, heeltemal histeries. Ek het my letterlik nat gepiepie. Warm straaltjie wat teen my binnebeen afloop. Toe vlug die ou oor Plastiektiet se betonmuur. Seker gedink dis ’n ou mal vrou wat hier bly, Gadaravark wat hom al skaterend gaan stormloop.

      Maar die snaaksste was toe ou Koot een aand bo-op my aan die slaap geraak het. Die een oomblik het hy nog gretig aan my gevroetel en my in die nek gesoen. Die volgende oomblik het hy teen my bors gesnork, salig aan die slaap met ’n kwylsel op my boesem. Ek kon sommer voel hoe smile God saam met my.

      Foeitog, ou Koot. Hy het die wêreld van my gedink, maar sy kinders het my verafsku. Hulle was oortuig ek het met hom oor sy geld getrou. En hulle was reg. Hy was twintig jaar ouer as ek en nou nie juis ’n oil painting nie. Kortgat en bles. Harige neusgate. Maar toe gebeur die ondenkbare, die onverklaarbare. Ek raak vir hom lief, regtig lief. Ek het nie eens geweet mens kan iemand so liefkry nie. Dat jy kan verknog raak aan elke moesie, sproet, iedere haartjie op sy lyf. Elke sêdingetjie en gewoontetjie. Die manier waarop hy na my gekyk het. Sy stemtoon wanneer hy my “goggatjie” genoem het. Sy reuk, hoesie, selfs sy gesnork. Snags het ek wakker gelê om te hoor of hy nog asemhaal en sy hart nog klop. Bedags gekyk of hy eet en darem opelyf het.

      Vir sewe van die nege jaar wat ons saam was, het ek werklik liefde geken. Maar sy kinders kon dit nie raaksien nie. Tot en met sy dood het hulle my verag, selfs ná sy dood. Hulle het met slen­ters en later met ’n hofsaak sy testament onklaar probeer maak. Die regter deur hulle ou jakkals van ’n advokaat probeer oortuig dat Koot nie al sy varkies op hok gehad het toe hy dit laat opstel het nie. Dat hy die afgelope nege jaar al seniel was. Dat ek hom gemanipuleer het. Uiteindelik dat ek die ding vervals het. Maar ek het een van die beste prokureurs in die stad gekry om my te verdedig. Aggressiewe Jood met ’n bokbaardjie wat ’n kleinhuisie vol geld gekos het. Want al het ek lankal besef geld kan nie geluk koop nie, het ek geweet dis beter om agter in ’n limousine te sit en tjank as agter op ’n scooter. Nou nog tjank ek oor Koot. Hy was die eerste man wat my geleer het om ook vir myself lief te wees.

      Eers jare daarna het sy jongste seun my een oggend uit Kanada gebel. “You really did love him, didn’t you?” het hy ná ’n ongemaklike stilte gevra. “Ja, ek het,” het ek geantwoord. Toe het die foon doodgeklik. Seker in trane, die arme man.

      Ou Koot Hamman het ek deur ’n pasmaatsrubriek in ’n tydskrif ontmoet. Eers was ek skrikkerig vir die hele affêre. Sê nou maar net Pot Soek ’n Deksel van Kroonstad of Captain Sunshine van Germiston of Hartebreker van Port Elizabeth is almal gesertifiseerde psigopate? Of seksmaniakke? Maar mens kan mos psigopate en seksmaniakke in die kroeg ook optel, het ek gedink. Of in die kerk, dalk juis in die kerk. Daarom het ek deurgedruk. Boonop was ek moeg gesukkel. Moeg vir sente omdraai. Dik vir konfyt kook en lappies naai. Keelvol om soetlike stories uit te dink vir vroue­tydskrifte. Sat vir die beknopte huisie in Hercules met sy lekkende dak, deurgeroeste geiser en pienk muurpapier. Ek moes ’n man met geld kry en gou.

      Ek het my aansoek ingestuur: Maagd (darem net my sterre­teken!) van Pretoria is ’n 56-jarige Christenvrou met rooibruin hare en groen oë. Sy is 1,68 m lank, mollig en hou van kook, naaldwerk, lees, tuinmaak, musiek en kampeer. Sy is lid van die NGK en rook nie, maar geniet ’n glasie wyn by geleentheid. Haar ideale maat is eerlik, selfonderhoudend en het ’n goeie sin vir humor. Mans van 55–75 wat die oog op ’n vaste verhouding het, is welkom om te skryf. Hy mag ’n bles, baard of snor hê.

      Koot kon kies tussen Aspoestertjie van Kemptonpark, Woestynblom van Namibië en Blonde Bom van Brakpan, maar hy het mý gekies. Selfs toe hy sien ek is nie net mollig nie, maar spekvet, het hy van my gehou. En toe hy agterkom die “glasie wyn by geleentheid” is eintlik twee liter dooswyn per dag, het hy my aanvaar. Die res is geskiedenis.

      Ja, die Here het maar ’n sinistere sin vir humor. Daarom kan ek ook wraggies nie help om te wonder of Hy nie dalk in sy mou lag vir party gospelsangers se geteem nie. Want party goed wat ek oor die radio hoor, laat my hare behoorlik rys. Laat my cringe, soos Benjamin sal sê. Dan wonder ek, vind Hy dit komies of bekotsens­waardig? Verkies Hy Arvo Pärt bo Jan de Wet? Of is alle pogings tot lofprysing, hoe power dit ook al in sekere mensore mag klink, vir Hom aanneemlik?

      Ek onthou nog hoe Benjamin as klein seuntjie met oorgawe in die kerk gesing het, ontsettend vals. Maar daar was lig in sy lewe­rikogies wanneer hy “Stille nag” of “Kom herwaarts, getroues” ge­sing het. Nou glo hy in niks. Op ’n dag sommer ophou kerk toe gaan en geweier om die seën aan tafel te vra. Uit die bloute een oggend aangekondig hy is nou ’n ateïs en ek moet hom fokkenwil uitlos.

      Maar ek dink die ding het gekom omdat hy as kind elke aand vir ’n pa gebid het. Jare lank. Ek het hom dikwels gehoor. Wanneer ek saans sy bedliggie afsit, die laken onder sy ken indruk en hom soen, het ek nog ’n rukkie in die donker gang bly staan. Dan het ek gehoor hoe hy vra en vra. Tevergeefs, want die talle mans wat ek oor die jare huis toe gebring het, het hy nooit as pa aanvaar nie. Nie eens vir ou Koot wou hy “pa” noem nie. En Koot was goed vir Benjamin, het hom soos sy eie kind behandel.

      My dierbare, sensitiewe Benjamin. Wat ook maar ’n bliksem kan wees as hy die dag wil. Toe ek hom een en dertig jaar gelede vir die eerste keer in my arms vasgehou het, kon ek nie glo hy is myne nie. Iets so heel, so perfek. En stewig, asof sy handjies en voetjies aangeskroef was. So klein as wat hy was, het hy daardie lenteoggend opgekyk na my. Met soveel vertroue en onskuld dat die wêreld skielik sin gemaak het. Ek het hom dadelik liefgehad. Al was my omstandighede allesbehalwe ideaal, het ek my voorgeneem om hom die beste te gee. Maak nie saak wat ek moes prysgee of hoe hard ek moes werk of watse slenter ek moes gebruik om my doel te bereik nie. Ek sou hom met my lewe beskerm. En ek het hom goed versorg, dit kan ek onomwonde sê.

      Ek het hom oral in sy drastoeltjie saam met my geneem, selfs na die haarkappersalon en restaurant waar ek in daardie stadium gewerk het. Ek het met hom gesels, hom vir uitstappies gevat, met hom gedans, musiek

Скачать книгу