Kelder. Gerda Taljaard

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kelder - Gerda Taljaard страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Kelder - Gerda Taljaard

Скачать книгу

gewys.

      Oom Jasper, haar ma se broer, het op die rooi stoepie van sy spoorweghuisie gesit. Hy het haar sien afklim. Sy het by die hek gaan staan, maar dit het nie gelyk asof hy haar herken nie.

      “Kan ek help, meisie?” het hy gevra en aan sy pyp gesuig.

      “Dis ek, dis Sus,” het sy hees geantwoord.

      “My wêreld, wat bring jou hier?” Hy het opgestaan en nader gekom.

      “My ma het my gestuur, oom Jasper,” het sy gejok. Sus het haar ken op haar bors laat sak; hy het sy hand op haar skouer gelê. “Ek verwag,” sê sy toe. “Oor minder as drie maande …”

      Oom Jasper het na haar gekyk. Hy had ook sulke brakkie-oë soos haar ma. Sy gesig was bruin en leeragtig en stoppelrig, sy ore bak onder sy yl hare. “Kom in,” het hy uiteindelik gesê en haar hand gevat.

      Met sy stomp hande het hy ’n melkbeker uit ’n paraffienyskas gehaal, een van haar ouma se kraletjiedoilies daaroor. Toe eers het sy van die gepekelde beestong op die trein onthou, wat seker teen dié tyd al in Johannesburg was.

      Oom Jasper het die melk warm gemaak op ’n primusstofie. Dit vir haar saam met winkelbrood gegee. Gelukkig was ant Hildegard en haar twee niggies nog êrens by ’n kruidenier in die stad.

      Hy het vir haar slaapplek gemaak op die toegeboude agterstoepie, met ’n hol klapperhaarmatras en grys kombers. ’n Ekstra kussing het hy nie gehad nie. Hy het ’n meelsakkie met oorskiet­flennie gestop en toegeryg. Sy het bibberend op die kaal matras gaan lê en haar knieë teen haar maag opgetrek. Die matras en kombers het geruik na ou piepie en hond.

      Treine het verby die huis geratel en die vloer onder haar laat bewe. Die geklop op die spore het haar getroos. Vir die eerste keer het sy lewe gevoel, het sy haar kind voel roer. Liggies soos ’n mot het dit in haar beweeg.

      Toe onthou sy van jare gelede, toe haar ma eendag baie siek was. Sus was nog klein, nie ouer as sewe nie. Sy en haar boeties het teruggekom van die skool en haar ma in die bed gekry waar sy kriewel en kerm. Dit was toe vreemd om haar ma bedags in die bed te sien lê. Gewoonlik was sy onder haar blommetjieshoed in die appelboord of tussen die hoenders. Die bediende wat hulle toe gehad het, ou Dina, het hulle daar verjaag en gesê haar ma moet rus kry.

      Sus het toe maar in die voorkamer haar somme op haar lei geoefen. Twee plus twee is vier, vier plus vier is ag. Toe het sy haar ma hoor skree. Sy het by haar ma-hulle se kamerdeur gaan staan, die deur was op ’n skrefie oop.

      Oral was bloed. Op die lakens, haar ma se nagrok, op Dina se hande, en in die skotteltjie op die vloer. Haar ma het bedaar, net effens gekreun. Dina het “ploems” iets in die skotteltjie gegooi en met haastige voetstappe deur toe beweeg. Sus het blitsvinnig om die hoek geduik. Toe het sy oor die plankvloer na die skottel toe gesluip. Sy het geweet daar is iets in wat sy nie mag sien nie. In die skottel het ’n grysblou dingetjie van mensvleis gelê, soos ’n pasgebore varkie waarvan die ledemate nog nie gegroei het nie. Sy het versigtig daaraan geraak, dit was warm en slymerig. Haar ma was verskriklik bleek, maar het rustiger asemgehaal, haar oë toe met ooglede waaroor blougroen are loop.

      Dina het teruggekom met ’n emmer kookwater; Sus het onder die bed ingespring.

      Sy kon hoor hoe Dina haar ma met ’n lappie afvee, die lakens het sy in ’n bondel op die vloer gegooi. Die kamer het na karbolseep geruik.

      “Daai enetjie was nie lekker nie, Nooi, dis dié lat hy jou so siek gemaak het, maar nou’s hy uit, uit … nou gaan Mies beter voel.” Dina het die vloer “sloep-sloep” gemop. “’n Vrou se lyf weet as iets nie reg is nie, dan kom dit af, dis beter so. Die Here het dit so gemaak.”

      Dina het die skottel met die mensvarkentjie opgetel. Haar ma het gekreun. “Dis beter lat Nooi nie sien nie, maar dit was ’n meisiekind gewees.”

      “Sjwiep-sjwiep” het Dina oor die nat vloer geloop en by die deur omgedraai. Sus kon haar bruin tone en harde geel toonnaels en enkelringe sien.

      “Darem was dit nie ’n seunskind nie.”

      Benjamin

      My ma skrop soos ’n mal ding in ons agtertuin. Ek kan deur my kamervenster sien hoe sy ’n paar uitgeblomde rankkappertjies uit die kruietuin ruk en die saad losskud. Dan spit sy weer om ’n roosboom en gooi kompos uit ’n sak; kry ’n slak tussen die viooltjies en slinger dit oor die muur tot in Plastiektiet se erf. “Bleddie parasiet!” skel sy.

      “Hoekom dóén julle nie iets nie?” kak sy twee hadidas op die tuinpaadjie uit. “Verdomde beenbekke, vir wat staan julle net daar?”

      Haar kop het haar nou behoorlik gelos. Eers was dit mos die skewe sign wat sy onder die posbus opgesit het. Toe ek een middag ná werk by ons hek inry, sien ek die bordjie met die bloederige letters daarop. Aanvanklik kon ek nie kop of gat daarvan uitmaak nie, maar toe figure ek dit uit: Malvrou woon hier. Betree perseel op eie risiko. Ek het dit net daar gelos, want eintlik is dit heel gepas.

      Maak ek mos die fout om nou die dag saam met haar te gaan inkopies doen. Toe ons by ’n kruising stop, gee sy sommer twee honderd rand aan ’n bedelaar.

      “Twee honderd rand? Is Ma laf?” het ek uitgefreak. “Al wat die ou sad sack gaan doen, is nog booze en drugs koop.”

      “So what?” het sy bebliksemd gevra. “Wat wil jy hê moet die arme drommel daarmee doen? ’n Fokken wall unit by Bears koop?” Sy het haar venster weer opgedraai. “Of ’n La-Z-Boy by Lubners?” Sy het gesnuif. “As die drank en dwelms hom vir ’n paar uur in die vergetelheid laat wegsak, as dit hom deur die lang nag kan kry, dan het ek hom mos ’n moerse guns bewys, nie waar nie?”

      Ek het amper my kar gerol. “Jeez, Ma, van wanneer af is Ma so ’n vuilbek?” het ek gevra. “Ma word een van die dae een en sewentig.”

      Sy het my begluur. “Fok, fok en nogmaals fok,” het sy uitda­gend gesê.

      Toe raak ek die verkeerde ding kwyt: “Mens kan Ma uit Hercules haal, maar mens kan wragtie nie Hercules uit Ma haal nie.”

      “Wat probeer jy sê, Benjamin?” het sy gesis, haar oë waansinnig.

      Ek het geweet ek is klaar kniediep in die kak, maar ek kon myself nie keer nie. “Ma kan so … so kommin wees as Ma die dag wil.” Die woorde was skaars uit, toe ruk sy haar sitplekgordel los, maak die deur oop en klim uit.

      “Jissis, Ma!” het ek probeer keer.

      Maar haar handsak was al oor haar skouer en daar steek sy die pad oor, loop amper voor ’n motorfiets in. Met haar boude wat links, regs, links, regs onder haar rok skommel.

      hoofstuk 3: pennevrug

      Esmeralda

      Sus se storie het na my gekom toe Benjamin een middag aan die kombuistafel uit ’n Engelse koerant voorgelees het. Ek het deeg vir Skotse broskoek uitgerol, want ek gaan altyd aan die bak as ek nie kan skryf nie, dan kom die tonele en karakters en intriges by my op terwyl ek eiervla roer of filodeeg met botter smeer of eierwitte klop. As dit nie werk nie, gaan ek net daar op die kombuisvloer op my knieë en bid met my besmeerde voorskoot aan vir uitkoms. Wat ek inderdaad die vorige week gedoen het toe selfs ’n omslagtige Griekse melktertresep nie ’n storie uit my kon kry nie.

      “Ag,

Скачать книгу