Hartstog op see. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartstog op see - Malene Breytenbach страница 2

Hartstog op see - Malene Breytenbach

Скачать книгу

dalk is hier iemand aan diens om jou te ontvang.”

      Justine verwonder haar aan die prag van die skip, maar Jim Sylvester loop vinnig vooruit met haar tas, en sy moet byhou. Taamlik ver af in die skip se buik loop hulle by ’n lang gang af tot waar daar ’n kennisgewing is: Medical Centre. Hulle gaan by ’n deur in na ’n ontvangslokaal. ’n Man en vrou staan daar en gesels. Albei is in uniform, met epoulette. Haar uniform is ligblou en syne wit. Sy is jonk, blond en mooi op ’n snipperige manier, met ’n wipneus en vol rooi lippe. Hy is lank en donker.

      Justine snak na asem. Dis die man wat haar tas gered het! Met die tweede oogopslag is hy nóg meer oorweldigend. Mense draai seker oral om om na hom te kyk, of gee half verskrik pad as hy aankom.

      “A, hier is wel mense,” sê Jim Sylvester. “Ek het gedink almal is aan wal om die plesiere van Kaapstad te gaan beleef. Ek het jul nuwe verpleegster gebring.”

      Die twee kyk na Justine. Die meisie lyk verbaas. En waarom frons die man so? wonder Justine ongemaklik. Hou hy nie van wat hy sien nie, dink hy dalk sy is lomp en onhandig omdat sy haar tas laat val het?

      “Dit is ons senior dokter, Ruben Barnard, wat jou baas gaan wees, en ons fisioterapeut, Kate Smythe,” stel Jim haar voor. “En ons nuwe verpleegster is Justine Steyn.”

      “Aangename kennis, welkom by ons,” sê die blonde meisie, maar sy kyk Justine takserend op en af. Haar Australiese aksent is swaar.

      “Ons het so half en half ontmoet toe verpleegster Steyn haar tas by die loopplank laat afrol het en ek dit moes red,” sê die dokter. Hy praat goeie Engels en klink nie Australies nie.

      Justine vervies haar ligweg vir die spotklank in sy stem. “Dankie, weer eens, dokter,” sê sy kil.

      “Dokter Steve Gibson en hoofverpleegster Sally Williams het aan wal gegaan,” sê dokter Barnard. “In die hawens kry ons darem ’n blaaskans. Kate kan jou na jou kajuit neem en jou bietjie rondwys. Kate, sal jy? Dankie dat jy haar gebring het, Jim.”

      Die offisier grinnik. “Dis my plesier. Ek sien julle weer.” Hy glimlag nog breër vir Justine. “Ek hoop beslis ek sien jóú weer.”

      “Dankie, e … meneer,” sê Justine.

      “Jim. Die hele personeel ken my so.”

      “Jim, dan.”

      “Kom ek gaan wys vir jou jou kajuit,” sê Kate. “Volg my.”

      Hulle loop verby ’n lang ry deure totdat Kate asof lukraak een oopstoot. “Die sleutel is daar op die tafel langs die bed, ons het jou mos verwag. Dis kleinerig hier, maar funksioneel. Ek hoop net jy het nie te veel klere saamgebring nie. Die klerekas is piepklein. Hier is darem boetieks op die skip as jy iets moet koop om na ’n geleentheid te dra. Ongelukkig is dit besonder duur.” Kate kyk takserend om haar rond. “Ja, ons kajuite is seker nie ’n tiende so groot soos party van die luukse kajuite nie, die wat hulle ‘staterooms’ noem. Eendag wil ek nog in een van daai bly. As my eie skip ingekom het.” Sy lag.

      “Ek het nie baie klere gebring nie, ons dra mos meestal uniform, of hoe? Ek sal regkom met die klein ruimte, dankie. Dis vir my net heerlik om hier te kan wees.”

      “Oukei, maar jy kan later uitpak. Kom ek gaan wys jou eers die fasiliteite voor ek ook aan wal gaan. Dan kan jy jouself aan al die luukses verwonder en jou tuismaak.”

      Hulle stap gangaf. “Watter soort mense is die ander mediese personeel?” vra Justine. “Ek bedoel nou hoe oud, en so aan.”

      “Hoe oud en miskien ongetroud?” spot Kate. “Almal hier is ongetroud. Arme ou Sally is al by die dertig en sy het nog nie op enige van die vaarte ’n ryk man gevang nie, al wou sy hoe graag. Toe kom sluit dokter Steve Gibson, wat ’n regte casanova is, by ons aan en sy raak dolverlief op hom. Hy noem homself kastig Mel Gibson se jonger boetie en hy verbeel hom hy is net so sexy. Hy is tog so verwaand, maar basies nie ’n slegte ou nie. Hy sal jou toets, maar of jy vir hom val, gaan van jou smaak afhang. Ek het lankal besluit hy is nie my soort nie. Ek hou van donker, stil mans. Stil, ernstig en sterk.” Sy lag vrolik, en Justine lag saam.

      “Hoe is dokter Barnard?”

      Kate trek ’n komiese gesig. “Ai, dié man. So hard to get! Hy is ook ’n Suid-Afrikaner, soos jy, maar hy is al lank skeepsdokter. Hy is geskei. Al wat vrou is, lê by hom aan. Daar is veral een wat hom letterlik stalk. ’n Weduwee, vreeslik common, maar baie ryk. Hý is nou die stil, sterk tipe waarvan ek hou. En hy is nie vatbaar vir vroue se attensies nie. Of nie waar ons dit kan sien nie, in elk geval. Hy sê mos altyd mediese personeel moenie te persoonlik met mekaar gaan staan en raak of te betrokke word by pasiënte nie. Dit skep net probleme en dis onprofessioneel. Mense op skepe is mos tydelik, soos voëls wat migreer. Bemanningslede wat getroud is, is lank van hul mans of vrouens weg. Loop maar lig vir party van hulle. Jim, moet ek sê, is darem nie ’n wolf nie. Hy is ’n sweetie pie van wie almal hou, hy sal ’n goeie vriend wees.”

      Justine volg haar in etlike gange af en by hóéveel trappe op, en deur klomp reusevertrekke. Sy kan haar verbeel sy is in ’n uiters luukse hotel aan land.

      “Dis darem bitter swierig,” merk sy op en kyk met groot oë na die muurversierings, pragtige meubels, hoë plafonne.

      “Ja, dis veronderstel om ’n paar weke se ontvlugting van alle lelike dinge op land te wees, en die passasiers word behoorlik gepamperlang. Daar is van die rykes wat van een plesiervaart na die ander gaan asof hulle nooit genoeg kan kry nie.”

      Hulle gaan na die boonste dek en Kate neem Justine na ’n groot saal met ’n verhoog, waar mense besig is om skoon te maak. Die plafon is ryklik versier en kristalkroonkandelare hang laag. Die dekor is in skakerings van blou met goud.

      “Sjoe, maar dis mooi,” sug Justine. “ ’n Behoorlike paleis.”

      “Hierdie is die Mountjoy Lounge, die grootste venue op die skip,” vertel Kate. “In die dag kan mense hier drankies kom geniet. Hier is ook daagliks ’n tradisionele middagtee in die Britse styl. Jy het ’n see-uitsig van alle kante, sien jy? In die aand is dit ’n konsertsaal, dan tree die Toppops Theatre Company op, of daar is ander konserte, kabarette, danse of sprekers ná ete. Langsaan is die groot eetsaal waar die meeste passasiers saans kom eet. Daar moet jy formeel geklee wees en die kaptein het sy tafel waarheen hy mense nooi.”

      Hulle loop deur en Justine kyk uit na die groot hotel in die Waterfront en die vasgemeerde skepe. Voor hulle is daar nou ’n uithangbord wat sê Raffles Coffee Bar. Justine loer daar in. Dit is vrolik gemeubileer, met rooi en wit wat die kleurskema domineer. Sy skat daar is nie minder as twintig tafels nie, plus kroegtoonbanke met hoë stoeltjies. Yslike koeke word in glaskaste vertoon en ’n heerlike koffiegeur vul die vertrek.

      “Ek gaan beslis hier kom kuier,” sê sy. “Dit lyk gesellig.”

      “Raffles is altyd oop, jy kan hier koek en koffie kom verorber totdat dit by jou ore uitkom. Die Black Forest-koek is to die for.”

      Daarna gaan hulle na ’n biblioteek met ’n vuurherd, leergemakstoele en lae tafels waarop koerante en tydskrifte lê, en donker houtrakke vol boeke. ’n Bibliotekaresse sit by ’n sjiek swart rekenaar. Sy kyk op en glimlag. “Hier kan jy ook van drie kante uitkyk,” sê Kate. “Ek weet nie hoeveel jy dan gaan lees nie, maar die plek raak nogal gewild, veral as die weer sleg is.

      “Nou vir die Heavenly Spa. Hier kry mens behandelings soos warmklipmasserings, aromaterapie, refleksologie,

Скачать книгу