Hartstog op see. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartstog op see - Malene Breytenbach страница 5

Hartstog op see - Malene Breytenbach

Скачать книгу

netjies in sy uniform. Hy stel die ander mans aan haar voor as die eerste offisier en die uitvoerende stafkaptein. Hulle is almal bitter netjies, onberispelik, maar gelukkig ook vriendelik. Hulle lyk vir Justine soos sy haar verbeel sulke mense behoort te lyk in hul kraakvars uniforms. Omdat Jim haar van die epouletstelsel vertel het, let sy op na die kaptein se vier goue rangstrepe, vier swart-en-goue rangstrepe vir die uitvoerende stafkaptein en twee goue strepe vir die eerste offisier.

      “Julle lyk baie deftig. Ek sal nog al die epoulette leer lees,” sê sy met ’n glimlag.

      Die kaptein glimlag goedkeurend. “Welkom aan boord, verpleegster Steyn. Ek hoop jy sal dit geniet om deel van ons wêreld te wees.”

      “Ek is seker ek sal, dankie, kaptein.”

      * * *

      Justine pak haar klere in die klein hangkas weg, pak haar toiletware in die badkamer uit en trek haar nuwe wit uniform met epoulette aan. Dit lyk regtig vir haar mooi, so vars, skoon en professioneel. Dokter Barnard het aangebied om haar na die offisiersmenasie te neem vir middagete, waarna dokter Gibson terug sal wees en hy self vir sy landbesoek vertrek.

      “Hier kan mens nie kla oor die kos nie,” sê hy op pad na die menasie toe. “Eintlik is daar gans te veel daarvan en dis heeltyd beskikbaar. Jy sal sien, jy is nou langs die vleispotte van Egipte.”

      Hý lyk nie of hy hom ooreet nie, dink sy, en sy gaan beslis ook nie gewig aansit nie. Hier en daar kom hulle ander personeel of passasiers teë en Justine sien dat almal dokter Barnard met ontsag aankyk en groet. Vir haar bekyk hulle meestal net nuuskierig. Sy is baie selfbewus, eerstens omdat sy oorbewus is van die lang, aantreklike man wat selfversekerd langs haar stap, en tweedens omdat sy voel soos die nuwe munt wat nog blink as die mense na haar, die vreemdeling, kyk.

      Hulle klim trappe na waar daar ’n geroesemoes van stemme is.

      “Die mense eet al,” sê dokter Barnard. “Ek sit aan die kapteinstafel saam met die departementele hoofde, jy kan vandag by ons sit. Andersins kan jy kies waar jy sit. Die buffet is regtig smaaklik en ’n kelner neem al jou ander bestellings. Ons is bevoorreg om in die offisiersmenasie te mag eet.”

      “Kom ek wys jou die bemanning se menasie,” sê hy dan en laat haar inloer by ’n vertrek met lang wit tafels en plastiekstoele. Daar staan “Crew mess” op die deur. Daar is ook ’n buffet en Justine sien matrose en bemanning wat toustaan. Hier is dit nog meer lawaaierig as by die offisiersmenasie.

      “Dis hier waar jy verskillende nasionaliteite kry en vreemde tale van regoor die wêreld hoor,” vertel dokter Barnard. “Dit is behoorlik ’n toring van Babel.”

      Hy staan direk agter haar, byna teen haar. Sy is erg bewus van hom, en dat mense omdraai om na hulle te kyk.

      “Kom, ons wil nie laat wees nie. Hier eet ’n mens stiptelik.”

      Hulle gaan na die offisiersmenasie, ’n vertrek wat veel rustiger is, en nogal luuks binne. Aan tafels wat mooi gedek is met wit linne sit die offisiere in hul deftige uniforms.

      “Sien jy die kontras?” vra dokter Barnard.

      Tot haar vae ontsteltenis vat hy haar arm en lei haar na ’n tafel waar sy die kaptein herken, en die offisiere wat sy op die brug ontmoet het. Haar hart trommel behoorlik van die aanraking, maar sy doen haar komkommerkoel voor.

      “Jammer ons is ’n bietjie laat, ek het gou vir die nuweling die ander menasie gewys,” maak die dokter verskoning.

      Almal staan op.

      “Nee, dis reg. Kom sit, verpleegster,” nooi die kaptein. “Wil jy iets drink?” Hy wink ’n kelner nader.

      “Stil water, asseblief,” vra sy. Sy voel erg bevoorreg om by dié belangrike mense te sit, maar wens eintlik dat sy nie so op haar eerste dag uitgesonder sou word nie.

      “Jy kan jouself by die buffet gaan help,” sê dokter Barnard.

      Sy luister hoe die mans oor skeepsake praat, drink dorstig van die water wat die kelner gebring het en staal haarself dan om kos te gaan skep. Die buffet is soos een in ’n baie goeie restaurant. Hier sal sy werklik moet oppas dat sy haar nie ooreet nie.

      Dokter Barnard volg haar en sy sien dat hy heelwat kos skep. Die eetlus van ’n fikse en besige man, dink sy. Sy skep vir haar net vis en slaai en gaan terug tafel toe.

      Die kaptein kyk glimlaggend na haar bord. “Jy hoef nie soos ’n voëltjie te eet nie, verpleegster. Hier is geen tekorte nie.”

      Sy lag. “As ek alles moes inskep wat lekker lyk, word ek netnou so vet dat ek die skip laat kantel.”

      Die mans lag en tot haar verbasing hoor sy ook dokter Barnard se lag opklink.

      “Ek sou ook daardie mooi figuurtjie oppas as ek jy was,” sê die eerste offisier en grinnik. “Ek vrees die bemanning gaan toustaan en hulle siek hou om die nuwe verpleegster te sien.”

      Het ons ’n wolf hier? wonder Justine. Sy naam is George Klopas, onthou sy. Hy is Grieks en aantreklik, maar sy hou nie van die vonkel in sy oog nie. En hy gaan waarskynlik altyd hier wees wanneer sy kom eet. Lig loop, dink sy.

      “Jy gaan seker ook vandag aan wal, dokter?” vra die kaptein.

      Ruben sluk, vee sy mond met die servet af. “Ja, vanmiddag, sodra dokter Gibson inklok. Ek moet vir my ouers gaan kuier en my seun sien.”

      “Hy woon by jou eks, nè?”

      “Ja. Hy is vanjaar vir die eerste keer hoërskool toe. Bishops. Hy word nou groot. Ek verlang, maar ons gesels darem oor Skype. Hy dink reeds hy wil ook medies gaan swot. Ek hoop hy verander nie van plan nie.”

      Justine luister aandagtig na dié gesprek, wat haar veel meer omtrent Ruben Barnard vertel as wat sy sou durf uitvis.

      “Wat is sy naam?” vra sy hom.

      “Reghardt.”

      Sy glimlag. “Nou toe nou! My broer se naam is ook Reghardt.”

      Hy glimlag terug maar kyk vinnig weg, na die kaptein. “Ek sal terug wees net voordat ons vertrek.”

      “Jy moet jou kort vakansie geniet,” sê die kaptein. “Jy sal jou seun seker darem ook tydens jou verlof ná hierdie vaart sien, nie waar nie?”

      “Ja, dan vlieg ek hiernatoe en kry ’n behoorlike kuier in.”

      Sy weet hy is geskei, en sy weet hy het ’n seun van so dertien of veertien. En sy gaan hom net nog tydens dié bootvaart sien, daarna gaan hy vir twee maande verdwyn. Sy raak sommer benoud by die gedagte dat sy dalk te min tyd gaan hê om hom werklik te leer ken.

      Sy eet stadig, gaan haal selfs vir haar roomys vir nagereg, sodat sy naby hom kan wees totdat hy klaar geëet het. Hulle loop laaste, verby die lawaaierige bemanning wat uit hul menasie uit stroom. Die mans staar behoorlik na haar. Matrose is seker maar so. Natuurlik het sy boonop nuutheidswaarde.

      Terug by die mediese sentrum is sy spyt dat dokter Barnard dadelik weer moet weggaan. ’n Ander man is daar. Dit moet dokter Steve Gibson wees. Hy lyk nogal soos sy haar voorgestel het hy sal, die soort mooi wat tieners sou laat kwyl. Nog in sy twintigs, effens korter as dokter Barnard, maar ook lenig, sy gesig

Скачать книгу