Hartstog op see. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartstog op see - Malene Breytenbach страница 7

Hartstog op see - Malene Breytenbach

Скачать книгу

ook?”

      Die meisie kyk haar skewekop aan. Toe glimlag sy. “O, jy het my tweelingsuster, Mitzi, ontmoet. Ek is Marina.”

      Justine lag. “Jinne, maar julle lyk darem op ’n haar na mekaar. Albei ewe mooi, moet ek sê.”

      Marina giggel verleë. “Ons ruil soms uit. Dis pret. Ek sien hoe die superrykes lewe en Mitzi kom sien hoe die bemanning lewe. Niemand kom ’n ding agter nie. Ons doen dit al vier jaar lank.”

      “Dis lank. Ek is nuut in die ding en ek is juis nou op pad na een van die superrykes om hom sy insulien te gaan gee.”

      “Dit moet sir Geoffrey wees. ’n Regte ou korrelkop. Pasop vir hom. Hy is een van die eienaars van die skeepsredery en as hy hom vir jou vervies, kan hy jou sommer laat afdank. Hy het dit al met ’n kajuitkelner gedoen. Hy wil niemand behalwe Mitzi daar laat skoonmaak nie. Hy weet net nie dat ek soms haar plek inneem nie. Hy kry seker die stuipe as hy moet agterkom hoe ons hom flous.”

      “Ek verseker jou, ek laat nie op mý trap nie. Nie eens deur iemand soos hy nie. Hy is siek en ons moet hom verpleeg. Hy is ook van óns goedheid afhanklik.”

      Marina grinnik. “Gaan sien hom reg, verpleegster. Die ou blikskottel. Hy het die vorige verpleegster hel gegee en Mitzi sê hy hou ook nie van Sally nie.”

      * * *

      Justine gaan met ’n mate van huiwering na die vlak van die luukse kajuite. Sy is nou al verskeie kere teen die ou man gewaarsku en staal haar behoorlik vir wat kom. In haar hand het sy ’n medisynetassie met sy medikasie en ’n inligtingstuk oor wat hy mag en nie mag doen, drink of eet nie. Sy gaan hom vandag eers net ondersoek, en indien nodig begin sy môre pille uitdeel.

      Sy klop aan sy kajuitdeur en ’n vrou wat deftig geklee is, met blink juwele aan ore, hals en vingers, maak die deur oop. Sy is korter as Justine en maer, met opgedoende blonde hare.

      “O, jy is seker die nuwe verpleegster,” sê-vra sy uit die hoogte. Haar koue ligblou oë neem Justine van kop tot tone in. “Jy is vyf minute laat.”

      Justine sluk haar verontwaardiging. Nie nou al die fensie mense vies maak nie. “Goeienaand, mevrou. Dit spyt my. Dis ’n hele entjie van onder af en ek is nog splinternuut op die skip. Ek moet nog die roete leer ken.”

      “Jou naam?”

      “Justine Steyn.”

      “Hmmm. Ek is mevrou Gwynneth Parfrey. My man is die Honourable Robert Parfrey, sir Geoffrey se neef.”

      “Aangename kennis, mevrou.”

      Die vrou steek nie haar hand uit om geskud te word nie, knik net. “Kom binne.”

      Justine is opnuut getref deur die weelde van die kajuit, maar haar aandag word getrek deur ’n man in ’n leunstoel met grys hare en snor, en langs hom ’n seun in ’n rolstoel. Op ’n bank sit ’n middeljarige man, seker die seun se pa. Hy kom oorverfynd voor. Ingeteelde aristokrasie wat ondertrou, dink Justine met afkeer.

      “Bly te kenne,” sê die man en vat-vat aan sy ylerige snor. Sy hare is lig, met hier en daar grys, sy lyf kort en maer. Sy ligte oë kyk haar onbeskaamd vrypostig aan. “Ek is Robert Parfrey, dit is my neef, sir Geoffrey, jou pasiënt, en dis my seun, Robin, wat sy enkel gebreek het toe hy van ’n perd afgeval het. Ek spring jou voor, want ek weet jy gaan vra wat hom makeer.”

      Die seun, sien sy oombliklik, kyk haar met ’n uitdagende, neerbuigende houding aan. Sy hare is sandkleurig en hy het ’n sproetgesig. Hy lyk na ’n regte karnallie. Dennis the Menace.

      Dis nie mense met wie sy graag vriende sou wou wees nie, dink Justine. Hulle steek nie weg dat hulle op haar neersien nie. Sy is mos ’n werknemer, ’n ondergeskikte, ’n diensleweraar. Met ’n stywe rug stap sy tot voor sir Geoffrey. Hy kyk fronsend na haar. Digte grys wenkbroue trek saam bo gelerige bruin oë. Bo sy grys weglêsnor is ’n groot haakneus soos die snawel van ’n arend. Sy lyf is maer en rankerig in ’n blink syjapon, en sy bloubeaarde voete is in leerpantoffels. Justine sien daar is monogramme op sy sakke en pantoffels geborduur. Hy lyk beslis nie gesond nie. Hy lyk ook nie vriendelik nie, eerder dikmond.

      “Good evening, young lady,” sê hy kil. Kyk haar op en af.

      Wat is dit met dié mense? Hulle moet nou net nie alles waarna sy so uitgesien het, vir haar begin bederf nie.

      “Kom ons gaan na u slaapkamer, sodat ek u kan ondersoek en inspuit, sir Geoffrey.” Sy kyk om na die ander wat hulle dophou. “Sal julle ons verskoon, asseblief.”

      Hy staan nogal flink op en loop vooruit slaapkamer toe. Sy volg en maak die deur agter haar toe.

      “Sal u asseblief op daardie stoel sit?” vra sy.

      Hy gehoorsaam sonder om iets te sê. Kyk net stip, takserend, na haar.

      “Trek asseblief u pantoffels uit sodat ek u voete kan ondersoek.”

      “Hoekom? Dis mos die dokter se werk. Jy is net hier om my in te spuit.”

      Justine staan en kyk bedaard af na hom. Hy is soos ’n iesegrimmige kind.

      “Nee, ek is nie bloot hier om u in te spuit nie, sir Geoffrey. U sal asseblief doen wat ek vra, anders moet u maar afkom na die mediese sentrum en soos die ander passasiers in die wagkamer vir die dokter wag.”

      Hy kyk verstom na haar, met sy mond oop. “Maar jy is parmantig!” merk hy bitsig op.

      Sy hou haar stem kalm, sodat sy nie aggressief klink nie. “Ek is die een wat weet wat goed is vir u, of wat sleg is, sir Geoffrey.”

      Hy draai een punt van sy snor, frons dat sy welige wenkbroue bo sy snawel ontmoet. “Nou maar goed dan.”

      Eerste ronde van die geveg gewen, dink Justine. Sy bekyk sy voete. Wit en blou beaar, maar minstens silwerskoon, die naels gepedikuur. Dié is ’n man wat van kop tot tone gepamperlang word.

      “Dit lyk nie sleg nie,” sê sy. “Voel u soms ’n prikkeling in u voete?”

      “Soms.” Sy oë kyk stip na haar. “My sig gaan agteruit. Ek laat my tande gereeld kontroleer. Ek laat my niere toets. Alles wat die dokter aanbeveel.”

      Justine maak die mediese tassie oop en haal die bloeddrukmeter uit. “Ek gaan u bloeddruk toets en ’n bloedmonster neem, sodat ons u cholesterol en trigliseriedvlakke kan nagaan.”

      “Vind jy nou die wiel van voor af uit of speel jy net graag dokter, verpleegster?”

      Sonder om te antwoord stoot sy sy mou op, draai die bloeddrukmeter om sy boarm, pomp, en lees. “Dis ’n bietjie hoog. Die dokter het aanbeveel dat ek al u metings neem, sir Geoffrey. Ek hoop ek doen my werk deeglik.”

      “Hmm. Nou goed dan. Doen wat jy moet. Wat help dit ek protesteer?”

      Justine neem sy hand en prik ’n vinger, trek ’n druppel bloed. “Hoekom sou u wil protesteer as almal moeite doen om u te versorg? As ek u was, was ek eerder dankbaar.”

      Hy gluur haar aan, sê niks. Sy ignoreer hom en berei die spuitnaald voor.

      “Dink jy dit is vir my lekker om siek te wees?”

Скачать книгу