Hartstog op see. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartstog op see - Malene Breytenbach страница 9

Hartstog op see - Malene Breytenbach

Скачать книгу

vrou is wat dit regkry om met die aantreklike dokter Gibson ’n afspraak te hê. Sy is seker baie mense op die skip weet wie hy is.

      Die pizzeria is taamlik vol, maar gelukkig staan mense op van ’n tafel reg in die middel en ’n kelner neem hulle soontoe.

      “Volgende keer gaan ons na ’n stiller plek,” sê Steve. “Iets meer intiem, waar mens nie hoef te skree om gehoor te word nie.”

      Justine glimlag net stil, dankbaar dat hulle juis nié in ’n intieme plek is nie.

      Hy bestel ’n bottel Australiese wyn en hulle kies pizzas. “ ’n Marinara met ’n dun basis, asseblief,” sê sy. “Die kleintjie.” Steve bestel die heel grootste pizza “met alles op”.

      “Welkom in ons vrolike geledere,” sê hy toe die wyn geskink is. Hy klink glase met haar en kyk diep in haar oë. “Jy moet na my kyk terwyl ons klink, anders bring dit ongeluk.”

      Justine kyk na hom, maar draai haar oë vinnig weg. Sy sien regtig nie kans om gehipnotiseer, verlief of te beïndruk met die man te lyk nie. Mense kyk na hulle. Sy voel vreeslik opsigtelik.

      Die aand verloop nietemin goed, want Steve gesels land en sand oor sy ervarings op skeepsvaarte, en oor Australië. Hy praat meer oor homself as wat hy belangstel in háár agtergrond en ervarings. Duidelik is hy selfgesentreerd, maar hy kry dit reg om die sjarme soos ’n kraan oop te draai.

      Toe die pizzas opgeëet is, stel hy voor hulle gaan na die casino.

      “Ek dobbel nie,” sê sy. “Dis iets waaraan ek glad nie verslaaf wil raak nie en baie mense raak maklik verslaaf. Dit skep ’n soort optimisme wat so erg is soos sjokolade eet. Serotonien word afgeskei as hulle iets wen en hulle wil dit weer en weer ervaar.”

      Hy grinnik. “Ek kan sien jy lyk nie na ’n dobbelaar nie, maar ek wil jou darem gaan wys hoe dit daar lyk. Dan kan jy my geluksgodin wees.”

      “Nee dankie, ek gaan liewer vanaand vroeg slaap.”

      “Ag, moenie ’n pretbederwer wees nie. Kom kyk net. Jy sal dit interessant vind. Jy kan die wedders sielkundig ontleed. Ek dobbel in elk geval nie veel nie en ek beperk die hoeveelheid geld wat ek elke keer neersit baie streng.”

      “Ag, nou goed dan.” Sy is tog nuuskierig om die opset te sien. ’n Casino is nie ’n plek waar sy ooit kom nie en sy wil darem nie soos ’n ou suurpruim lyk nie.

      Hulle loop verby mense in aanddrag. Mans het tuxedo’s aan en die vroue dra blink juwele en aandrokke. Justine is gefassineer deur die modes en glans. Haar klere is eintlik te informeel vir die casino, dis duidelik.

      Die casino is vol en Steve lei haar verby mense wat by roulette-wiele dobbel na ’n tafel waar ’n croupier kaarte uitdeel vir mense wat met hopies speelmunte van verskillende kleure voor hulle sit. Hier en daar groet mense die dokter. Justine sien sommer hier is passasiers met hope geld wat hul sakke brand.

      Die croupier is ’n sexy rooikop in ’n swart aandrok met ’n lae hals. Lang, blink oorkrabbers hang van haar ore af. Sy het vinnige, vaardige hande. ’n Man wat ook na ’n personeellid lyk, staan langs haar en hou alles fyn dop. Hy kyk op toe hulle naderkom.

      “Naand, dokter, kom jy speel?” vra hy met ’n glimlag. Die ander mense groet ook vir Steve en Justine kry die indruk dat hy gereeld hier kom.

      “Nie vanaand nie, dankie. Ek wys net vir ons nuwe verpleegster hoe julle mense van hul geld stroop. Ontmoet Justine Steyn, en dié twee is Shaun Harris en Jenny Simpson.”

      Die croupier kyk net vlugtig na hulle en glimlag klein, konsentreer dan weer op die kaarte.

      “Aangename kennis,” sê Shaun. “Ons hoop jy kom speel ook soms.”

      Justine glimlag. “Ek twyfel, maar dis interessant om dop te hou.”

      “Stel haar tog aan mý ook voor,” hoor sy ’n manstem. “Moenie so snoep wees met julle mooi verpleegsters nie, dokter.”

      Steve sug teatraal. “Ag ja, dáár is nou vir jou ’n wolf. Justine, dít is ons gesoute ou dobbelaar, Patrick O’Neil. Hierdie skip loop oor van die Ierse chancers. Pasop maar veral vir ou Pat.”

      “Is dit nou hoe jy ’n vriend aan jou godin voorstel?” Die man grinnik werklik wolfagtig. Hy vroetel met speelmunte wat hy met sy lang vingers bymekaarmaak en opstapel. Hy het al ’n hele aantal hopies voor hom. Aantreklik op ’n gladdebek, blink manier, dink Justine. Oormatig sonbruin, by die veertig jaar oud, sy aandpak onberispelik en duidelik van die jongste snit en mode. Sy swart hare is teruggejel en sy blinkswart oë lag haar uit.

      “Ek is niemand se godin nie,” skerts sy, maar kil, want sy voel aan dat dié man een is wat liefs heeltemal vermy moet word.

      “Jy kan myne word? Die betrekking is tans vakant.”

      “Nee, dankie, liewer nie.”

      Hy trek kastig ’n hartseergesig. “Foiled again!”

      Steve neem haar arm. “Kom, ons onderbreek die spel. Die mense moet konsentreer.”

      Net toe kom drie mense in en stap reguit na die blackjack-tafel waar hulle staan – sir Geoffrey en die Parfrey-egpaar. Almal is uitgevat. Die hele spul lyk so deftig soos die passasiers in die fliek Titanic net voordat die skip in die ysberg vasgevaar het, dink Justine.

      Sir Geoffrey kyk verbaas en nogal afwysend na haar. “Dobbel jy dan ook, verpleegster?”

      “Nee, ek is net gou op ’n besigtigingstoer, sir Geoffrey.”

      “Jy moet haar nie verlei nie, jou vabond,” raas die ou man kastig met Steve, wat lag.

      Justine is baie verbaas dat die ou lord nou so ’n sprankie humor toon. Hy kan dan nie nét suur en veeleisend wees nie.

      Sy sien hoe kyk Gwynneth Parfrey haar aan asof sy pas uit die haglikste agterbuurt in ’n paleis aangeland het. Natuurlik is sy nie so deftig geklee soos Gwynneth nie, steek eintlik sleg af by almal in die casino. Dit maak haar vies dat Steve haar hier ingesleep het tussen al die blink en vertonerige mense, hier waar sy nie hoort of wil wees nie, terwyl hy geweet het sy’s te informeel aangetrek.

      “Steve, ek wil nou asseblief na my kajuit gaan.”

      “Natuurlik. Ek neem jou gou.”

      Sy is seker hy gaan terugkom nadat hy haar geneem het, en sy aand omdobbel. Hy is sekerlik nie verniet so eie met die casino se personeel en die ander dobbelaars nie.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета

Скачать книгу