Hartstog op see. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartstog op see - Malene Breytenbach страница 6

Hartstog op see - Malene Breytenbach

Скачать книгу

“Justine Steyn, dit is dokter Steve Gibson. Julle twee sal nou die fort moet hou terwyl ons ander kerjakker.”

      Steve, soos dokter Barnard hom noem, kom agter die ontvangstoonbank uit en steek sy hand na Justine uit. “Welkom, verpleegster Steyn. Ek hoop jy sal lekker by ons werk.”

      “Aangename kennis, dokter Gibson. Ja, dankie, ek glo ek sal.”

      Hy los nie haar hand nie en kyk diep in haar oë, sodat sy ’n blos van verleentheid by haar wange voel opkruip. Wat dink dokter Barnard van sy kollega se voorbarigheid en vrypostigheid? En dit nadat hy gesê het hy hoop sy kan mans ferm hanteer?

      Sy trek haar hand met mening weg en kyk die jong dokter kil aan, sodat dokter Barnard dit moet oplet.

      “Nou ja, dan groet ek eers,” sê hy flink. “Sien julle later weer.”

      Justine is diep spyt toe hy by die deur uit verdwyn. Sy voel uitgelewer aan dié jong dokter wat vir haar soos ’n opperste vrouejagter lyk. Kate het haar mos gewaarsku dat die man sy lyf casanova hou. Hy het seker ’n heerlike tyd op die skip. Sy kan haar indink dat die passasiers graag met hom flankeer. Dat álmal met hom sal wil flankeer. Mense raak mos so maklik op dokters verlief.

      “Het jy al by jou kantoor ingetrek?” vra hy.

      “Nee, nog nie.”

      “Kom, ek neem jou soontoe.”

      Op die deur staan “Junior Nurse”. Die kantoor is klein, maar het die nodige, ’n rekenaar, telefoon, lekker groot lessenaar en twee stoele. Dokter Gibson maak ’n kas oop.

      “Hier is basiese medikasie, verbande en so aan, maar ons het natuurlik ’n apteek. Kom ek gaan wys jou.”

      “Dokter Barnard het my reeds die apteek gewys, dankie, dokter Gibson.”

      ’n Vrou steek haar kop by die deur in. “Ek is vroeg terug, dokter … o, jy is seker ons nuwe verpleegster.” Sy kom in, ’n aantreklike vrou met rooibruin hare.

      “Hallo, Sally, kom ek stel jou voor aan verpleegster Justine Steyn. Dit is nou ons senior verpleegster, Sally Williams,” sê hy vir Justine.

      Sy kyk Justine takserend aan terwyl hulle hande skud, van kop tot tone, nie regtig vyandig nie, maar ook nie juis vriendelik nie.

      “Welkom. Ek hoop jy is al tuis.”

      “Dankie, ek is, verpleegster Williams.”

      “Sally. Ek sal jou Justine noem, maar ons noem die dokters ‘dokter’, nie op hulle voornaam nie. In elk geval nie voor die offisiere en passasiers nie. Skeepslui is nogal rangbewus.”

      Al drie stap saam terug na ontvangs, en Sally praat asof sy vooraf ’n toesprakie uitgewerk het. “Ons stel ’n rooster op sodat daar altyd mense hier aan diens is. Ek het jou op om vanaand sesuur na sir Geoffrey Percy te gaan om hom sy insulien te gee. Jy sal dit elke dag moet doen wanneer jy aan diens is. Anders gaan ek. Die man is heeltemal te belangrik om hierheen te kom. Hy is een van die grootste aandeelhouers in die skeepsredery.”

      “Kate het my reeds van hom vertel en my sy kajuit gaan wys.”

      Sally knik goedkeurend. “Uitstekend. Die man het gevorderde diabetes en ons moet hom goed versorg.”

      “Kom ons sit, dat ons haar mooi van sy geval kan vertel,” stel dokter Gibson voor.

      Die vroue gaan sit op twee stoele, maar hy maak homself op die ontvangstoonbank tuis.

      “Het jy al met diabete gewerk, verpleegster Steyn?” vra hy.

      “O ja, maar nie intensief nie.”

      “Jy gaan nou met ‘intensief’ te doen kry. Die man is siek, maar hy is koppig en dring aan om heeltyd te reis. Eintlik is dokter Barnard die een wat met hom werk, maar as dokter Barnard van diens af is, staan ek noodwendig in.”

      “Onthou net, hy moet met ontsag behandel word, Justine,” vermaan Sally. “Nie bloot ’n goeie bedside manner nie.”

      “Ek verstaan.” ’n Mens moet natuurlik by die ou siel gatkruip omdat hy so belangrik is, dink sy vies, maar steek haar irritasie weg.

      “Hy het baie moeilik beheerbare tipe 1-diabetes,” sê Steve Gibson. “Hy is vyf-en-sestig en uiteraard heeltemal insulienafhanklik.”

      Die man is nie so oud soos sy haar verbeel het hy sal wees nie, dink Justine. Sy het aan ’n geriatriese grysaard gedink.

      “Hy kan maklik ketoasidose kry, met versnelde asemhaling, rooi in die gesig, naarheid of maagkrampe. Het jy al met sulke gevalle te doen gehad?”

      “Ja.”

      “Ons moet jou waarsku: Hy is baie stout,” sê Sally. “Hy kry dinge in wat nie goed is vir hom nie en hy drink báie whisky.”

      “Diabete word mos so dors,” grap Justine, maar die ander twee lag nie. Ag tog! Gaan sy dan die een verkeerde ding ná die ander sê?

      “As hy op ons skip moet doodgaan, sal daar geweldige reperkussies wees,” sê Sally. “Hy is ’n baie invloedryke man en sy seun in Australië is een van die direkteure van die redery. Hy vereis baie aandag van ons verpleegsters, maar dit kan nie verhelp word nie. Ons kan nie voltyds een aan hom afstaan nie. Sy neef en dié se vrou is veronderstel om na hom om te sien. Dit is waarom hulle saam met hom reis. Ongelukkig beteken hulle nie veel nie. Hulle is nie een medies opgelei nie. Sir Geoffrey moes eintlik sy eie verpleegster saamgebring het, maar hy sê mos hy hoef nie een saam te sleep nie, want alles wat hy nodig het, verpleging inkluis, is op die skip.”

      Dokter Gibson kyk stip na Justine. “En die man moet gerééld getoets word, hoor, vir ketoasidose en vir hoë bloedglukosevlakke. Bekyk die vel en bene van sy voete en bene goed. Alles, bloeddruk, cholesterol en trigliseriedvlakke. Ons neem elke paar dae urinemonsters om seker te maak dat sy niere goed funksioneer. Maar ek glo jy sal alles kan hanteer.”

      “Ek gee vir jou sy lêer om te bestudeer,” sê Sally. “Daarin sal jy alles sien, plus die dieet wat hy veronderstel is om te volg. ’n Dieetkundige het alles mooi vir hom uitgewerk, met die redery se kombuispersoneel saamgewerk en alles, maar ons weet hy verneuk. Hy is só veeleisend. Jy moet taktvol wees, al dryf hy jou teen die mure uit.”

      Justine veronderstel dat die ander moeilik met die ou aristokraat huisgehou het en nou moet sy, die nuweling, lekker bang gepraat word. Maar sy sal hulle wys sy kan dit hanteer. Geen pasiënt kon haar tot dusver intimideer nie en niemand gaan dit in die toekoms regkry nie.

      “Nee maar reg, ek sal die ou siel goed onder hande neem.”

      Die twee glimlag skepties.

      “Hy hou ook maar van fraai verpleegsters,” terg dokter Gibson. “ ’n Regte ou blinkoog.”

      Nes jy, dink Justine. Op dié skip is daar duidelik meer as een van dié soort man. Inderwaarheid skitter hier ’n hele versameling blinkoë.

      “Jy moet asseblief stiptelik om sesuur na hom gaan,” sê Sally. “Dis wanneer hy die verpleegster verwag.”

      3

      Justine

Скачать книгу