Mieke rock uit. Jana du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Mieke rock uit - Jana du Plessis страница 6

Mieke rock uit - Jana du Plessis

Скачать книгу

Ek soek maar.”

      Darling glimlag vriendelik. “Soek ons nie almal maar nie, you know. Waarin stel jy belang?”

      “Tale.” Mieke weet dit klink belaglik, maar wat sal sy omgee wat hierdie hipsters van haar dink? Maar sy gee om, sy weet net nie hoekom nie.

      “Skryfwerk,” voeg sy by. “Ek het tale geswot, so ek soek werk in daardie rigting. Ek sal daarvan hou om vir ’n tydskrif te werk, of so.”

      “Cool.” Darling knik. “As ek eendag groot is, wil ek ook ’n graad hê.”

      Mieke wil nie vra nie, want sy kan sommer net dink. Darling is Kayla se vriendin. Dis mos waar dat voëls van eenderse vere mekaar altyd vind. Hierdie halfvrou-halfkind (wat sekerlik nie Darling gedoop is nie) val seker ook van die een partytjie na die ander.

      Band-Aids, het Kayla haar en haar posse eendag genoem. Soos Kate Hudson en haar vriendinne in Almost Famous.

      “Ons slaap nie noodwendig met die band members nie, maar ons support die musiek. Dis waaroor dit gaan – die musiek,” het Kayla haar verseker.

      Die woord “groupie” mag nie genoem word nie, maar die naam Band Bitches is tans aanvaarbaar. Mieke sukkel om by te bly.

      “Dude!” Darling klap met haar hand op die tafel dat die koppies skoon vibreer en Ben se bier amper op die vloer beland.

      Mieke wip omtrent van haar stoel af. Thalia skuif haar koppie geïrriteerd, Kayla lag en Ben hou sy bier teen sy bors asof dit ’n pasgebore baba is.

      “Hier kom dit. Darling het nou weer ’n brainwave gehad,” spot Kayla, maar sy knipoog vir Darling. “What’s up, my bitch?”

      Tot Mieke se verbasing gooi Darling haar arm om haar nek. “Mieke!”

      “Wat van my?” skerm Mieke. Sy trek-trek aan haar toppie. Darling hou haar skouer styf vas, sy het geen wegkomkans nie.

      “Mieke kan ons join op Siek se road trip en daaroor skryf! Dis mos wat almal deesdae doen!”

      Ben sit sy bier hard neer. “Fuckin’ A! Brilliant. Dit sal befok wees, bra.” Hy sit sy hand op Mieke se skouer. Sy ruik sy sweet.

      “Uhm …” Mieke kyk dringend na Kayla. Red my, asseblief, smeek sy met haar oë, maar Kayla lag.

      “Dis nie ’n slegte plan nie, Miekels. Hoe lykit?”

      Het haar suster boom gerook toe sy nie gekyk het nie? Het sy nou heeltemal al haar varkies verloor?

      “Ek … Nee, wag …”

      “Ons vertrek eers oor ’n week. Daar’s oorgenoeg tyd om te beplan. Ons vat die pad vir ’n paar weke.” Darling verlos Mieke van haar greep, tel met haar vingers. “Dis ek, Kayla, die band, en dan jy! What do you say?”

      Mieke weet nie hoekom sy na Thalia kyk nie. Vir aanmoediging? Sy oorweeg dan nie eens om te gaan nie, wat sal sy nou goedkeuring by die koningin-bitch soek? Vrek, sy moet haar kop laat lees.

      “En Thalia?” vra sy tog.

      “Ek’s in die band,” sê Thalia droog, sluk die laaste van haar koffie af. “En ons twee is laat vir practice,” sê sy vir Ben.

      Hy sug. “Ja, ja.” Krap in sy beursie, haal ’n noot uit, gooi dit op die tafel.

      Toe hy opstaan, lig hy sy sonbril en vat Miekse se hand in syne. Sy wil losruk, maar sy kyk vas in die mooiste paar blou oë. Van daai soort wat tot in jou siel kyk. Wat deur jou klere én onderklere sien. En wat Ben tien teen een help om diep in vrouens se onderklere te klim. Reg, hoekom sit sy hier en dink aan onderklere?

      Hy lig haar hand en soen dit. Sy sit effens terug. Wat ís dit met hierdie vriendekring en hulle vrygewige soenery?

      “Hoop ek sien jou op die pad … Kayla se suster.”

      “Mieke,” help sy hom reg.

      Hy lag. “Kayla se suster Mieke.”

      “Move jou gat, Ben.” Thalia is langs hom, aan die tik op haar selfoon, haar een oog op hom. “Let’s go.”

      “Ciao, ladies.” Hy waai vir Kayla en Darling en in ’n sweem van sweet en bier is hy weg.

      “I think he likes you,” sing Darling.

      Mieke skud haar kop vinnig. “ ’n Man soos daai hou van enigiets met boobs. En hy sal enigiets sê om nader aan daardie boobs te kom.”

      Kayla lag kliphard. “Ek het nie geweet jy kan so funny wees nie, Miekels! Dalk is dit my top wat aan jou afgerub het.”

      Mieke bloos. Ag nee, daai flippen bloserigheid al weer! Sy voel skoon omgeëllie. Vreemd. Uit haar plek. Hoe het sy hier beland? Sy wil uit hierdie klere klim en haarself diep in haar duvet toerol. Nou!

      Die kelner sit die breakfast special voor hulle neer. Spek, twee loperige eiers, tjips, roosterbrood en varkworsies. Mieke ril.

      Darling steel ’n tjippie van haar bord. “Girl, jy gaan super baie fun hê saam met ons. Die Band Bitches het die meeste pret, jy sal sien. Ons hoef nie all hours te practise nie en ons hoef nie met Thalia te deal nie.”

      Sy kyk vir Kayla. “Well … Not always. Maar die punt is: We have all the fun and none of the crap!”

      En al wat Mieke kan doen, is om haar vurk in ’n vet, olierige varkworsie te druk.

      3

      Mieke klap die kattebak van haar Chico hard toe. Maar die ding spring terug en tref haar amper in die gesig.

      “Kaylaaaa!” roep-skree sy. Kayla verskyn in die voordeur. “Jy sal jou koelsak voor by jou moet hou.”

      Mieke maak die kattebak heeltemal oop, tel Kayla se drankvoorraad met ’n gesukkel uit.

      Kayla tuit haar mond. “Maar Darling en al haar stuff moet ook nog inpas, onthou?”

      Mieke asem stadig in. Hier staan sy, karretjie gepak vir die Siek Pad Partytjie (soos Kayla dit gedoop het), voor haar ouerhuis op ’n laatmiddag in Pretoria. Wat het met haar gebeur? Was dit omdat die onderhoudvoerder by die aanlyn-tydskrif haar duidelik laat verstaan het dat honderde ander kandidate vir die vertaalpos aansoek gedoen het? Of was dit omdat hulle haar nooit vir ’n tweede onderhoud gebel het nie? Was dit toe dat iets in haar brein uitgehaak het?

      Want toe sy weer sien, loop sy in Kayla se kamer in en kondig aan dat sy ook ’n Band Bitch wil wees. Haar sussie het omtrent van haar bed afgeval – maar dit kon gewees het omdat sy ’n babelaas gehad het – en haar hande opgewonde saamgeslaan.

      “Yay, Miekels die Band Bitch! Welcome to the club,” was haar presiese woorde. Sy het dadelik vir Darling ge-WhatsApp. Dié het terug laat weet dat Mieke “delicious” is en dat sy nie kan wag om haar “in te lyf” nie.

      “Hoeveel flippen drank hét jy gekoop, Kayla?” sis Mieke deur haar tande terwyl sy sukkel om die koelsak op die agtersitplek in te pas.

      “Huh?”

Скачать книгу