Mieke rock uit. Jana du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Mieke rock uit - Jana du Plessis страница 7

Mieke rock uit - Jana du Plessis

Скачать книгу

intended.

      Hulle ma kom by die voordeur uit, flink op pad na haar Audi. “Is julle al op pad?”

      “Ja, Ma,” antwoord Mieke styf.

      Sy soen Mieke vlugtig op die wang. “Soet wees.” Sy wys met haar oë na Kayla. “En kyk mooi na jou sussie.”

      “Ja, Ma.”

      Haar ma skud haar kop. “Ek verstaan nie eintlik hoekom jy saamgaan nie … Maar nou ja, ek kan nie meer julle keuses vir julle maak nie. As jy terugkom, gaan jy ’n toekomsplan uitwerk, nè, Mieke?”

      “Ja, Ma.”

      “En as Marius dalk bel …”

      “Ma!” waarsku Mieke.

      “Hy besluit dalk om weer te probeer. Dit gebeur, Mieke. Wie weet.”

      “Ma verstaan nie …”

      “Ciao, Moedertjie!” Kayla gryp haar ma speels om die nek en soen haar.

      Sy trek ’n gesig. “Jy moet daardie slegte gewoonte van jou los, Kayla-kind. ’n Ware dame rook nie.”

      Kayla lag. Mieke sug verlig, glimlag dankbaar vir haar sussie.

      Hulle ma lig haar wysvinger. “En dis die laaste keer dat ek en Pa julle sponsor. Pa gee reeds vir julle genoeg sakgeld; ek weet nie hoekom julle nou eintlik soveel meer geld nodig het vir hierdie belaglike storie nie.” Sy sit haar sonbril op. “Geld groei nie op ons rug nie, maar ek gun julle hierdie laaste lawwigheid. En dan moet julle grootword.”

      “Aaaag, Mammie, jy rock!” skerts Kayla en maak die Chico se passasiersdeur oop.

      “Baai, Ma,” groet Mieke.

      Siek lyk só:

      Liam, die hoofsanger en kitaarspeler, is presies wat Mieke verwag het van ’n voorsanger. Langerige donker hare wat oor sy gesig hang, skinny jeans, twee-dae-laas-geskeerde gesig, rokerige stem, voor op die wa. Hy is korter as sy medespelers, nie veel langer as Mieke nie.

      Quinn “The Base” verbaas haar. Skoolseungesiggie, blonde krulhare, oop glimlag, mooi tande.

      Ben op dromme het – behalwe vir sy deur-jou-kyk-oë – arms wat enige meisie na haar asem sal laat snak. Sy T-hemp sit so styf dat Mieke kan sweer sy spiere gaan enige oomblik daardeur bars. Hy is besig om die laaste van Siek se tasse en toerusting in sy pa se kombi te laai. Sy kort bruin hare is deurmekaar – hy gaan seker vir die uit-die-bed-look. Sy jeans span om sy mooigevormde agterstewe. Nie dat Mieke eintlik kyk nie.

      En Thalia, vioolspeler en agtergrondstem, is mooier as wat Mieke met hulle eerste ontmoeting gedink het. Sy is slank, haar kleredrag is sexy tog vroulik, en haar hare … Haar hare is iets om van te huil. Wie behalwe die vrouens in Pantene-advertensies het sulke glinsterende hare? wonder Mieke waar sy teen die Chico leun en wag vir die res van die Pad Partytjie om klaar te pak sodat hulle in die pad kan val.

      Ben staan nader, steek ’n sigaret aan. “Is julle seker julle wil nie saam met ons ry nie?”

      Mieke skud haar kop. Dis die een ding waarop sy aangedring het. Sodat sy kan wegjaag as Siek vir haar te veel word.

      Ben skop-skop die voorwiel van haar karretjie. “Jy sal eintlik ’n beter storie kry as jy saam met ons ry. Al die kak wat ons praat sal jou kop laat spin.”

      Mieke weet nie of sy moet lag of huil nie. Die storie. Jinne tog! Wat as sy elke oomblik van hierdie gedoente haat en niks geskryf kry nie?

      Ag, dan is dit maar tot daarnatoe. Sy is nie hier om Siek gelukkig te maak nie. Sy skuld hulle niks.

      “Ek is seker daar sal genoeg tyd wees om iets te kry om te skryf.”

      Hy knik. “Is jy reg vir die party van jou lewe?”

      Sy probeer glimlag, maar weet sy lyk eerder soos ’n hamster met hardlywigheid. “Ek moet seker wees.”

      Darling en Kayla kom al giggelend uit die kommune wat Siek deel, hulle hande oorlaai met Darling se bagasie. Sy het glo gisteraand hier in Hatfield by Party Central – soos Kayla dit noem – oorgeslaap, sodat almal van dieselfde punt kan vertrek. Nie dat hulle vandag baie ver het om te reis nie. Cool Runnings in Melville en ’n woonstel van een van Liam se vriende is hulle eerste stop.

      Mieke kyk na Darling se oorgroot hemprok, luiperdmotief-tights en oranjegeverfde toonnaels. ’n Kleurvolle serp is om haar nek gedrapeer, ’n military type-baadjie om haar skouers. Sy en Kayla, uitgevat in ’n über-kort rompie, sykouse met gate, ’n los trui en plat bootsies, lyk soos iets uit ’n Rolling Stone-tydskrif.

      Mieke kyk af na haar eie boring jeans, Foschini-bloes en truitjie van Woolies. Sy moes na Kayla geluister het en saam met haar gaan shop het vir die Pad Partytjie. Maar sy was nie lus vir Kayla se klerekeuses nie. Sy sal self regkom, oukei. Sy is dan ouer en wyser.

      Sy het darem probeer. Op haar budget. Mr Price het oulike hempies gehad. En Woolies gemaklike jeans. Sy sal van môre af eerder die Mr Price-nommers aantrek. Al moet dit al wees wat sy die res van die tyd dra.

      “Halloooo, Bitch!” groet Darling vir Mieke. Gelukkig is haar hande vol tasse en spring Mieke die soenery vry.

      Sy maak die kattebak oop. Kyk na Darling se tasse. Slaan die kattebak weer toe en maak die agterdeur oop.

      “Jy moet maar bo-op jou bagasie sit. Of,” sy kyk vir Ben, “saam met die band ry.”

      “No way, Bitch!” Darling druk haar tasse in die motor. “Ek ry saam met die Bitches. Dis hoe dit is.” Sy gooi haar kussing en ’n slaapsak in. “Besides, dan kan die band my bietjie mis en uitgehonger raak vir my geselskap tot by die volgende pit stop.”

      Sy draai na Ben en gee vir hom haar laaste sak. “Of hoe, Bennie?”

      Hy lag, vat die sak by haar. “Ek neem aan dis julle tent wat ek moet laai. Soos altyd.”

      “Jy’s darem maar slim, my favourite drummer boy.” En sy knyp sy boud.

      Ben glimlag onderlangs vir haar, draai na Mieke. “Is julle reg om te gaan?”

      Tent? Watse tent? wil sy vra. Sy het nog nie ’n woord oor enige tentblyery gehoor nie! Maar sy kry nie kans om Kayla iets toe te snou nie, want dié het haar klaar in die passasiersitplek tuisgemaak en die motorradio aangesit.

      Mieke mik vir die motor se deur. “Dis seker nou te laat om om te draai.” Sy probeer lag, maar die klank wat uit haar mond kom, klink soos ’n papegaai wat aan ’n saadjie verstik.

      “Sien julle in Joburg, Bitches!” roep Kayla en waai vir die res van die band, wat al gereed sit in die kombi.

      Toe Mieke agter die stuurwiel inklim, sien sy hoe Thalia iets vir Ben sê en haar kop beslis skud.

      “Het jy die stuff gepak, Kay?” vra Darling.

      Mieke skakel haar karretjie aan, draai die truspieëltjie sodat sy vir Darling kan sien. “Watter stuff?”

      Darling giggel en skud Kayla se skouer. “Het jy?”

      Kayla

Скачать книгу