Ruiter van my drome. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ruiter van my drome - Schalkie van Wyk страница 7

Ruiter van my drome - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

retireer haastig en mompel: “Sien jy nou, Zandri? Ferdinand het my gewaarsku ou Ragie is gewelddadig. Draf in huis toe en bel hom, ounooi. Ek wil nie met die vrou handgemeen raak nie, maar ek gaan ook nie toelaat dat sy my nek breek nie.”

      “Jóú nek, Martiens Dippenaar?” vra Ragie verdwaas, vat haar hande op haar maag saam en lag hom goedig uit. “Nee, Martiensie, daar is net een blikskottel in my lewe, en sy naam is Ferdinand Adelmann. Kom wys hy weer sy perdegevreetjie op Reënboogrant, versuip ek hom lag-lag in die perde se watertrog.”

      Martiens bly onseker staan terwyl Ragie omdraai en met opsigtelike gemak haar twee groot, rooi tasse uit die viertrek tel.

      “Jou rug, Ragie . . .” waarsku hy. “Laat ek jou help.”

      “Daar skort niks met my rug óf my verstand nie, Martiens. Of gaan jy my in my gesig sê ek is kinds?” vra Ragie met ’n waarskuwing in haar stem.

      “Jy is byna sewe jaar lank al terug hier op Wyedraai, en jy het my in al die jare nooit gegroet as jy my op straat of by die kerk raakgeloop het nie, Ragie. Maar vandag praat jy met my asof ek ook ’n ordentlike mens is, sien ek. As jou seniliteit jou so vriendelik gemaak het, is jy seker welkom op Reënboogrant,” sê Martiens stroef, maar hy hou Ragie nog wantrouig dop.

      “Om liefdeswil, oom Martiens, tant Ragie is net so min seniel as wat oom is!” kom dit ongeduldig van Zandri. “Ferdinand is ’n verkrampte skinderbek wat glo ek is ’n ongehude ma, daarom wil hy nie hê dat tant Ragie by my moet woon nie.”

      “Hoe nou?” vra Martiens oorbluf, krap met sy regterhand agter sy oor en kry gloede van ergernis. “Maar dis mos ’n liederlike ding om te sê, Zandri! Nee a, ek sal die man ernstig moet aanspreek.”

      “Dis my eie skuld, oom Martiens. Ek het die Jordaans in Londen raakgeloop en vir Odette gesê Robbie is my kind. Dit was ’n lawwe grap, maar Odette het dit as die waarheid aan almal op die dorp vertel. As mense oom uitvra, sê tog maar vir hulle Robbie is my kind. Dit pas my vir eers dat hulle dit glo,” sê Zandri onverskillig.

      “Maar ek glo dit nie, want ek ken jou, ounooi,” sê Martiens met hartseer oë. “En Ferdinand . . . Die knaap ken jou so lank as wat ek jou ken. Vriende beskerm mekaar tog.”

      “Ag, dis nou ’n jammerte,” kom dit teleurgesteld van Ragie. “Ek het so gehoop ek sal jou kan help om jou seuntjie te versôre, my skapie.”

      “Nee nee, Robbie kom wel binnekort hierheen, tant Ragie, selfs al is ek nie sy ma nie. Ek hoop hy sal nie die enigste kind wees wat op Reënboogrant sal kom kuier nie en tannie sal my met hulle almal kan help,” antwoord Zandri, vat een van Ragie se tasse by haar en verloor byna haar balans. “Goeiste, het tannie bakstene hierin gepak? Help asseblief, oom Martiens.”

      Martiens tel die groot tas met gemak op en laat ’n laggie uit sy keel kriewel toe hy na Ragie kyk. “Pieperige kinders is mooi, maar ek het waardering vir ’n mooi, sterk vrou.”

      “Dit was ’n kompliment, tant Ragie,” sê Zandri vinnig.

      “Dankie, Martiens,” sê Ragie stroef, betrag Martiens oomblikke lank nog agterdogtig en glimlag dan klein.

      Zandri sien deur haar slaappkamervenster hoe Ferdinand se viertrekvoertuig voor die opstal stilhou, draf by haar kamerdeur uit en roep in die gang af na die die kombuis: “Bly waar tannie is! Ek sal van Ferdinand ontslae raak.”

      “Skrou as jy hulp nodig het, my liefie!” roep Ragie en neurie ou liefdesliedjies om aan haar gelukkigheid uiting te gee.

      Zandri ruk die swaar houtvoordeur oop juis toe Ferdinand sy hand uitsteek om die voordeurklokkie te lui en sê bars: “Bel en maak ’n afspraak as jy in die toekoms met die eienares van Reënboogrant wil praat, Ferdinand.”

      Hy lyk ’n oomblik lank onkant gevang en dan skuif ’n donker masker van ergernis oor sy gelaat. “Jy het baie verander, Zandri,” sê hy ingehoue.

      Sy woorde laat haar huiwer. Verbeel sy haar, of was daar ’n tikkie verlies in sy stemtoon – so asof hy eens werklik van haar gehou het, mymer sy, maar verwerp byna onmiddellik die gedagte. Sy het haar verbeel Ferdinand was eens haar vriend en vertroueling, maar hy het haar bloot gebruik om vrye toegang tot haar oom Alexander se perde te kry. Sy weet dit.

      “Dis korrek, Ferdinand. Ek is ’n enkelma met ’n ses-jarige kind,” antwoord sy koud.

      Hy kyk na haar asof hy tot in haar siel wil kyk, sy donkerbruin oë byna swart, en skud sy kop stadig. “Ek glo jou nie,” sê hy eindelik.

      “Dis ’n skielike verandering. Gisteroggend kon jy nie wag om my aan my moederskap te herinner nie,” spot sy.

      Hy pers sy lippe hard saam en sy sien sy adamsappel beweeg toe hy sluk. “Ek het dit nie beplan nie. Ek bedoel, ek het nie Odette se skinderstories geglo nie, maar toe ek jou sien . . . Dalk was dit my manier om wraak te neem.”

      “Wraak? Waarvoor tog? Omdat jy glo ek het Klara omgepraat om saam met my Engeland toe te gaan, sewe jaar gelede?” vra sy verstom.

      Hy draai weg sodat hy oor die voortuin uitkyk. “Seker maar. My ma was maande lank siek oor Klara se besluit om weg te gaan en ek . . . e . . .” Hy draai terug na haar en sê saaklik: “Wat my redes was, is nie belangrik nie. Ek vra om verskoning oor my optrede, Zandri. Kan jy my vergewe?”

      “Nee, ek vertrou jou nie, Ferdinand. Toe ek klein was, was jy kamma my vriend, omdat jy al jou vrye tyd op Reënboogrant tussen die perde en in oom Alexander se geselskap wou deurbring. Jy sou veearts word en hy en oom Martiens kon jou enigiets oor perde leer. Nou gee jy weer voor jy is my vriend, omdat jy jou arme tant Ragie in ’n ouetehuis wil prop. Hoekom, Ferdinand? Ek dink tant Ragie is ’n pragtige mens en ek en oom Martiens sal haar geselskap baie geniet. Sy sal gelukkig wees by ons.”

      “Sy het ernstige rugprobleme wat ’n operasie –” begin hy protesterend.

      “Ek is ’n fisioterapeut, Ferdinand,” val sy hom saaklik in die rede. “Dis dwaas om ’n rugoperasie te ondergaan as dit nie absoluut noodsaaklik is nie. Ek sal sorg dat tant Ragie gereelde fisioterapie ontvang.” ’n Moedswillige glimlag kuier om haar lippe. “Tant Ragie se toestand kan nie so ernstig wees as sy jou met ’n swaar tas probeer aanrand het nie.”

      “Ja . . . ja, ek het daarvan vergeet. As sy tasse kan rondswaai, is sy seker gesond genoeg om my ma te gaan help,” sê hy fronsend.

      “Jy is die selfsugtigste, mees gevoellose man wat ek ken, Ferdinand Adelmann!” vaar Zandri kortasem van ergernis uit. “Tant Ragie is ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster, nie jou ma se gedienstige slavin nie. Het tant Ragie nie die reg om self te besluit wat sy met haar lewe wil doen nie?”

      Ferdinand frons verward. “Ek het aanvaar tant Ragie het dit geniet om my ma te verpleeg. My pa het gesorg dat tant Ragie geldelik vergoed word en haar pligte was veel minder veeleisend as in ’n hospitaal. Ons was almal dankbaar oor tant Ragie se teenwoordigheid in die huis, want my ma se gesondheid het wonderbaarlik verbeter terwyl sy haar versorg het.”

      “Vanselfsprekend, jou onnosele vent, want jou ma het dit geniet om ’n voltydse lyfbediende te hê,” sê sy bitsig. “Lees my lippe, Ferdinand: Jou ma het nie ’n hartkwaal of ’n nierkwaal of enige ander kwaal behalwe ipekonders nie. Vra dokter Kemp of jou eie broer as jy my nie glo nie. Maar al kry jou ma skielik al die kwale onder die son, sal tant Ragie haar nie gaan versorg nie. Tant Ragie

Скачать книгу