Liefde in die skemering. Lizet Engelbrecht

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Liefde in die skemering - Lizet Engelbrecht страница 3

Liefde in die skemering - Lizet Engelbrecht

Скачать книгу

Maar hy’t toenemend meer beslis en opgewerk geraak oor die storie . . .

      Sy tel ’n pen op en begin elke bladsy parafeer sonder om te lees. Sy’s glad nie seker of die kontrak wettig is of deur enige hof afgedwing sal word nie, maar sy gee haar woord en dis belangriker as ’n stuk papier.

      “Nou gaan ek vir dokter Hougaard bel,” sê sy ferm die oomblik toe sy die laaste bladsy voluit onderteken het. En sy gaan vra dat hy sommer ’n lekker dik perdenaald gebruik, voeg sy suur in haar gedagtes by.

      Oom Matty kyk haar tam maar tevrede agterna. Hy was nog nooit ’n dominerende of agteraf mens nie. Dis nie sy styl nie, maar hy is desperaat en in hierdie situasie het hy nie enige ander opsies nie. Sy’s ’n oulike meisie, dis vir seker. Aanloklik ook, en nog so jonk. Maar gaan sy plan slaag soos hy haar verseker het dit sal?

      Vir nóg bloed aan sy hande sien Matty Olsen eenvoudig nie kans nie.

      * * *

      Die ses-en-twintigjarige Joseph Greeff buk by sy ma se graf. Hy tel ’n hand vol klam sand op en laat dit deur sy vingers gly, herhaal diep ingedagte die proses. Om grond onder sy vingers te voel is vir hom ’n vertroude sensasie; dit maak hom rustig, maar hy’s nie nou besig met argeologiese opgrawings nie. Inteendeel, hier het hy onlangs presies die teenoorgestelde gedoen toe hy sy ma moes begrawe.

      Stadig kom hy regop. Sy ma is dood sonder dat sy hom ooit vertel het wie sy pa is. Selfs op haar sterfbed het hy gevra en gevra, maar sy het bly swyg. Afgetrokke staar Joseph nou na die poskaart wat by sy voete op die grond lê, asof hy ’n antwoord daar verwag. Hy’t lank daarna sit en kyk hier langs sy ma. In die notatjie agterop los sy hom met net ’n naam. Dis glo iemand wat die waarheid ken: Matty Olsen. Dis sy ma se laaste boodskap aan hom.

      Die somberheid wat met sy ma se dood oor Joseph neergedaal het, wil maar nie begin lig nie. Verjaarsdae. Kersfees. Nuwejaar, dit alles wag nog op hom – alleen. Dis nie asof hy en sy ma soos boom en bas was nie, maar sy was sy enigste familie. Sonder haar is daar niemand nie. Nie ooms, tannies, niggies of nefies nie, want hy weet nie wie sy pa is nie.

      Joseph buk en tel die poskaart op. Môre vind hy hopelik die waarheid uit. Hy blaas om die sand van die poskaart af te kry. Hy het gister oor die telefoon met meneer Olsen se privaat verpleegster gepraat. ’n Rissiepit en glad nie geneë met sy versoek om te kom kuier nie, maar sy het eindelik tog ingestem om vir hom ’n afspraak te maak. Sodat hy kan uitvind wie sy pa is – of was.

      2

      Monique loer deur die skuifdeure na buite waar die son op die klein branders speel en seemeeue krys. Die Joseph-persoon behoort nou enige oomblik te arriveer. Sy gooi haar lang swart vlegsel terug oor haar skouers en druk los haartjies agter haar oor in. Sy het hierdie gebaar nou al ’n duisend keer herhaal vanoggend, dink sy grimmig.

      ’n Voertuig se deur wat oop- en toegaan laat haar ligweg skrik. Hy’s hier! Die man met wie sy haar kwansuis vir die volgende agtien maande sal moet bemoei. Sy gaan wag senuagtig by die voordeur. Kuiermense is by hierdie huis so skaars soos wors in ’n hondehok en ’n eensamer mens as oom Matty het Monique nog nie teëgekom nie. Tog wens sy hierdie kuiergas vurig weg.

      ’n Lenige man met breë skouers kom nader gestap. Sy herken hom van die foto wat oom Matty vir haar gewys het, maar in lewende lywe vertoon hy langer. Sexier. En sy hare is beslis nie so netjies gesny as op die foto nie. Inteendeel. Monique kan haar oë nie van sy matraskop wegskeur nie. ’n Skaapskêr sal daarin verdwaal!

      “Goeiemôre, ek is Joseph Greeff. Ek het ’n afspraak met meneer Olsen.”

      “Dis korrek. Dis jou eerste keer hier?” vra sy onnodig en kyk baie vlugtig in sy oë. Sy het nie lus dat hy die waarheid, naamlik dat sy weet wie hy is, in haar oë moet sien nie. Hy kan maar dink hy’t met ’n ander verpleegster gepraat.

      “Ja, dit is,” sê hy effens onthuts.

      “Wel, sit gerus,” sê sy toe hulle in die voorportaal staan, en beduie na ’n ongemaklike bankie. Sy kyk op haar horlosie. Vyf voor nege. Oom Matty is lankal gereed, weet Monique, maar hierdie man kan gerus maar wag.

      “Ek staan sommer,” sê hy nogal stroef en kyk op sy eie horlosie.

      Monique kyk onwillekeurig ook na sy pols en sien hoe die swart rubberband van sy luukse polshorlosie styf om sy arm sit. Die donkersilwerkleurige gesig lyk mooi by sy blas vel. Sy armhaartjies krul op teen die rubberbandjie. Sjoe! As hy so ’n duur horlosie kan bekostig, het hy mos genoeg geld van sy eie. Wat kom soek hy hier? Hy’s beslis nie lelik nie . . .

      “Ek sien jy bewonder my horlosie.” Sy byna sarkastiese stem ruk deur haar en Monique besef dat sy sowaar staan en staar het.

      “O nee, glad nie. Dis gans te opsigtelik,” sê sy koel en kyk hom in die oë. Maar dis tog baie mooi aan daardie verruklike arm, koggel ’n stemmetjie haar diep binne.

      Hy verwerdig hom nie om te antwoord nie, maar Monique sweer sy kon verbasing en daarna verontwaardiging in sy oë sien. Hy kyk stip na haar en skielik kry sy warm. Sy tel ietwat vervaard die afstandbeheerder op en skakel die lugverkoeler aan. Miskien moet sy hom tog al deurstuur na oom Matty toe, die wagtery werk net op haar senuwees.

      ’n Paar kamers daarvandaan lê oom Matty in sy siekbed en staar na die muurhorlosie. Daar’s vyf minute oor; Joseph het laat weet hy sal negeuur hier wees. Matty se maag maak ’n nare draai. Word sy grootste droom oor vyf minute waar? Of ’n nagmerrie?

      ’n Minuut of wat lank dwaal sy gedagtes na die laaste gesprek wat hy met Joseph se ma, Olivia, gehad het. Hy en Olivia weet al baie jare van mekaar, maar ter wille van Joseph het hulle destyds ooreengekom om mekaar te vermy. Hy sou hoegenaamd geen kontak met Joseph hê nie, tensy Olivia voor hom doodgaan. Indien dit gebeur, het hy belowe om haar seun te beskerm. Matty en Olivia deel ’n geheim.

      Dit was ’n belofte wat Matty nie ligtelik gemaak het nie, maar diep binne hom het hy nie vir een oomblik geglo dat Olivia hom met Joseph sou agterlaat nie. Dat sy voor hom gesterf het, maak geen sin nie. Hy is ’n ou, ou man! En nou sit hy met die gebakte pere.

      Toe die emosie Matty wil oorweldig, draai hy sy kop na die skildery van ’n ligtoring teen die muur. Hy dwing sy gedagtes ferm in daardie rigting. Van al sy skilderye is hierdie een sy gunsteling. Net jammer dat daardie spesiale iets nog altyd ontbreek. Hy kan nie sy vinger daarop sit nie, maar ’n fundamentele kleur, lyn of emosie ontbreek in hierdie skildery.

      Daardie ligtoring, dink Matty nou, is heel letterlik ’n uitbeelding van sy begin, maar ook van sy einde. Hy sou so graag die ligtoring wou oorskilder. Daardie ontbrekende iéts vind en byvoeg.

      In die ingangsportaal verplaas Joseph ongeduldig sy gewig op sy linkerbeen. Die vroumens staan en staan net, dit lyk nie of sy hom ooit na haar pasiënt gaan vat nie!

      “Gaan jy weer hierheen kom?” verbreek Monique die stroewe stilte.

      “Dalk, dalk nie, wat maak dit aan jou saak?”

      “Solank jy by die reëls hou,” sê sy ferm en druk los haartjies agter haar oor in. Die vent is bra ongeskik!

      “Watse reëls? Dit is tog meneer Olsen se huis hierdie, dan nie, nie ’n hospitaal nie?”

      “Dit is so, maar meneer Olsen is baie siek. Die enigste rede hoekom hy nie in ’n hospitaal opgeneem word nie, is omdat ek hom baie goed versorg en toesien dat hy nie ontwrig word nie. So, daar is reëls hier.”

      “Soos?”

Скачать книгу