Liefde in die skemering. Lizet Engelbrecht

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Liefde in die skemering - Lizet Engelbrecht страница 5

Liefde in die skemering - Lizet Engelbrecht

Скачать книгу

as oom nie vandag na gesels voel nie, kan hy anderdag terugkom,” sê sy in ’n poging om oom Matty aan te moedig om Joseph te groet. Maar haar hart bloei vir haar pasiënt. Sy eerste kuiergas in baie maande, en dan is dit iemand wat hy nie eens kan vertrou nie. Vir die duisendste keer wens sy sy het geweet watter tipe bedreiging die vent vir haar oom Matty inhou.

      “Oom Matty, ek gaan nou loop. Ek los julle alleen, maar ek is nie ver nie. Roep as oom my nodig het, ek’s net in die studeerkamer. Is dit reg so?” Sy verwag nie regtig ’n antwoord nie. “Joseph, hy slaap nie, jy kan maar gesels. Jy’t veertig minute. Verskoon my.”

      “Hoe weet jy hy slaap nie? Hy lyk of hy so uit soos ’n kers is. Ek wil hom nie steur nie. Laat ek liewer oor ’n halfuur of so terugkom.” Joseph lyk soos ’n kat in ’n vreemde pakhuis.

      “Nee, praat gerus,” sê sy beslis. Halfpad deur die vertrek kyk sy oor haar skouer en sê paaiend: “Hy slaap nie, ek verseker jou, jy kan hom maar vertel waarna jy op soek is.”

      Monique trek die deur toe, maar nie op knip nie. Sy vertrou nie vir wolf in skaapsklere nie. Oom Matty het haar gister, nadat Joseph gebel het, maar bitter min vertel: dat hy die man se ma reeds jare ken. Dat hy die vrou belowe het om haar seun veilig te hou. Dit was vir haar die vreemdste, dat oom Matty nou sê dis Joseph wat onveilig is, nie hy self nie. Juis noudat oom Matty se seisoen draai en daar binnekort ’n erfporsie beskikbaar gaan wees? Dis mos duidelik: Binnekort gaan seun en ma seker beweer dat Joseph oom Matty se buite-egtelike kind is en moet erf.

      Vermoed oom Matty ook dat dit hul plan is? Is dit die rede vir sy vreemde versoek? Wil hy Joseph se aandag afgetrek hê deur ’n vrou? Maar wat dan van die storie dat hy die een is wat vir Joseph moet beskerm?

      Monique weet nie watter kant toe om te dink nie en het al meermale gewonder of oom Matty nie tog maar effe kinds raak nie, maar een ding staan soos ’n paal bo water: Sy sal nooit weer toekyk hoe geldgierige parasiete toesak op iemand se erflating nie. As dít is wat in hierdie situasie gaan gebeur, weet sy hoe om op te tree. En sy het elke woord van haar Florence Nightingale-belofte bedoel.

      Joseph weet nie hoe om die geraamte in die bed te benader nie. Die meeste ouer mans het yl hare of is bles, maar nie Matty Olsen nie. Bo die uitgeteerde lyf is daar ’n welige silwer boskasie wat Joseph nog meer ongemaklik laat voel. Dit lyk steeds of die ou man rustig slaap.

      ’n Tydjie lank staar Joseph na die vreemde skildery aan die oorkant van die vertrek. Dit is moeiliker as wat hy gedink het om hier te wees; die oom lyk so weerloos. Hoe dring ’n mens aan op die waarheid wanneer jy kan sien dat om bloot asem te haal ’n moeisame taak is vir die een wat moet vertel. En was sy ma seker hierdie antieke mens sal hom kan help?

      Die skildery trek sy aandag aanhoudend. Dis ’n vreemde uitbeelding van ’n onstuimige see en ’n ligtoring. Hy wonder of die skilder dalk kleurblind was, of depressief, want ligtorings is tog altyd simbole van hoop, veiligheid en redding, eerder as hierdie somber, neerdrukkende affêre. Dan draai hy met ’n sug terug na die bed. Hy glo nie die ou man luister nie. Hy kan netsowel sê wat in sy hart is en dit minstens uitkry.

      “Wie ís ek?” Joseph kry geen antwoord of blyke van lewe van die ou man nie. Nes hy gedink het. Hy sug swaar en wonder vir die soveelste keer wat die verbintenis tussen Matty Olsen en sy ma kan wees. Aanvanklik het hy ’n verhouding oorweeg, maar nadat hy die oom se ouderdom besef het, betwyfel hy daardie moontlikheid sterk.

      “Ek wil net weet wie ek is!” Joseph hoor sy stemtoon onwaardig styg en onthou van Hitler daar buite se dreigemente. Hy voeg heelwat sagter by: “Ek verdien die waarheid. Ek kan nie meer ’n vreemdeling in my eie vel wees nie. My ma het gesê oom kan my help.”

      Joseph sien hoe die grys kop effens beweeg, onrustig, maar die oë bly toe.

      Joseph se passie vir argeologie is juis gebore uit sy strewe om meer oor sy eie verlede uit te vind. In sy soektog na die waarheid het hy bedwelm geraak deur ander se geskiedenis en gebeurtenisse in vervloë tye. Jare lank het hy geglo sy werk is genoeg, dat hy nie meer omgee oor sy eie persoonlike verlede nie. Maar hy was verkeerd. Sy begeerte het net lê en prut, en nou, met sy ma in haar graf en sy enigste familie dus van hom weggeraap, kan hy dit nie meer binnehou nie.

      “Die verpleegster sê oom slaap nie regtig nie. Ek glo haar,” sê hy nou ná die beweging. “Meneer Olsen, oom? Kan ons asseblief gesels?”

      Die gryskop se oë gaan moeisaam oop. Dit lyk of hy sukkel om sy ooglede van mekaar weg te trek. Maar dan kyk Joseph skielik vas in die blouste oë wat hy nog gesien het.

      “Jy kom baie in die son sonder ’n hoed. Laas wat ek jou gesien het, het jy nie sulke sproete op die neus gehad nie. Die son is giftig,” sê die ou man stadig.

      Joseph kyk om om seker te maak niemand staan agter hom nie. Met wie praat die oom? Yl hy dalk?

      “Oom, my naam is Joseph, oom, ons het nog nie ontmoet nie. Joseph Greeff,” sê hy stadig en effens harder as normaal. Die oom moet sekerlik naby honderd wees. Moontlik doof? Seniel? Hoekom het sy ma hom tog hierheen gestuur?

      Onwillekeurig sluit sy vingers oor die sekelmaan-gelukbringer wat hy om sy nek dra. Dit was die laaste geskenk wat sy ma vir hom gegee het – dié antieke sekelmaantjie en ’n poskaart. Hy het dadelik geweet: In hierdie twee objekte lê die waarheid van sy lewe opgesluit. Die poskaart het net ’n paar reëls daarop gehad:

      Indien jy nog die waarheid wil weet, vind vir Matty Olsen. Vergewe my, ek wou jou net beskerm. Lief jou altyd.

      Joseph stap na die voetenent van die hemelbed. Hy lig die hospitaalstyl-inligtingsblad wat daar hang en lees: J. M. Olsen (Matty). ’n Besef stuur hoendervleis oor sy lyf. Matty Olsen is natuurlik die J. M. Olsen wat agterop sy sekelmaantjie gegraveer staan. Hy het dit lanklaas omgedraai en die in-skripsie gelees, maar hy kan homself skop dat hy nie vinniger die konneksie gemaak het nie.

      “Meneer Olsen, ons het ’n afspraak vir vandag. Kan oom nog onthou?”

      “Nou hoekom dink jy dat ek ons afspraak sou vergeet het?” Die stem is krakerig en koel.

      Joseph trap-trap rond. Hy kan nie sake nou beduiwel nie, nie nou nadat die verbintenis tussen die poskaart en die sekelmaantjie so treiterend naby is nie. “Ek het dit nie so bedoel nie, ek –”

      “En moenie so staan en skreeu nie, ek’s nie doof nie. Mens sal sweer ek’s stokoud soos jy tekere gaan.”

      Joseph se mond gaan vinnig oop en weer toe. Opwinding bruis deur sy are, maar dit lyk of hy nie ver gaan kom met hierdie man nie. Hy moet! Hy móét eenvoudig weet.

      “Vir wat skreeu jy so?” vra Monique skerp uit die deur. Sy kyk vinnig na haar pasiënt, maar oom Matty lê taamlik rustig teen die kussing. Dis eerder Joseph wat bleek om die kiewe lyk.

      “Ek het net effens hard gepraat, verskoon my.” Sy kan sien iets is met die man aan die gang, hy flous haar glad nie. Trippel rond asof die eindtye kom. Raak hy tog nie aggressief met oom Matty nie?

      “Vir wat? Oom Matty is nie doof nie,” sê Monique en stap nader. Sy lê haar hand vlugtig op oom Matty se voorkop. “Daardie lastige koors kan enige oomblik terugkeer. Oom, ek gaan nou weer, maar ek wil hê oom moet my roep as oom my nodig het. Ek is net hier buite.” Sy draai na Joseph. “En Joseph, hier hoef jy niemand te beïndruk nie, los maar die ‘meneer Olsen’. Ons praat sommer van oom Matty.”

      Sy wil wegstap, maar oom Matty vat haar aan die elmboog en sê vreemd verskonend: “Monique, hierdie is nou Joseph Greeff, jy weet,” sê hy en druk haar

Скачать книгу