Eindstryd. Willie Esterhuyse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindstryd - Willie Esterhuyse страница 16

Eindstryd - Willie Esterhuyse

Скачать книгу

op sy eie voorwaardes doen. Hiervan het twee baie swaar geweeg: Die afswering van geweld, en die posisie en rol van die kommuniste (SAKP). Teen 1988 het hy besef ’n kompromis wat hoop sou gee, is nodig. Die voorstel vanuit die Coetsee-komitee om Mandela na ’n huis op die Victor Verster-gevangenisterrein te verskuif, was vir hom ’n uitkoms en die eerste openbare sein van die Botha-regime dat Mandela se vrylating net ’n kwessie van tydsberekening was. Botha het teen dié tyd besef as swart leierskap in die hantering van die politieke konflik in Suid-Afrika ’n noodsaaklike rol moes speel, Nelson Mandela ’n sentrale figuur binne dié leierskap moes wees. Botha het egter alle leiersfigure wat kommuniste was, of volgens hom selfs daarna “geruik” het, met erge weersin bejeën. Naas die kwessie van geweld was Botha se fanatieke anti-kommunisme ’n sielkundige en politieke blokkade vir Mandela se vrylating. Barnard het egter onmiddellik Mandela se leierskapseienskappe herken. Mandela se internasionale politieke en morele status het in ieder geval sy leierskapsrol onafwendbaar gemaak. Dit was aanvanklik vir die Lusaka-ANC ’n probleem. Oliver Tambo was immers die amptelike leier.

      Hoe om Botha te oortuig dat ’n persoonlike ontmoeting met Mandela polities noodsaaklik was, was ’n baie delikate kwessie. Die voorbereidingsfase vir ’n amptelike skikkingsproses het ook voorbereiding van PW Botha vereis. Niel Barnard het, terugkykend hierop, in 2004 in ’n onderhoud (Heald, p102) die delikaatheid van die probleem skerp opgesom. “Vir PW Botha om met Mandela te praat, was van dieselfde moeilikheidsgraad as om George Bush te probeer oortuig het om Osama Bin Laden na die Withuis te nooi.” Die voorbereidingsfase was ingewikkelder as wat baie kommentators vandag dink. En dit het al vroeg begin met Mandela se eerste hospitalisasie. En toe gryp die noodlot in: PW Botha kry in Januarie 1989 ’n beroerte-aanval, iets wat Oliver Tambo in Augustus 1989 ook oorgekom het. Intussen gaan die proteste in Suid-Afrika en die gesprekke tussen die komitee en Mandela voort. Botha herstel sodanig dat hy met sy pligte as staatspresident kon voortgaan. Hy was toe nie meer leier van die NP nie. FW de Klerk, wat op 47-jarige leeftyd leier van die Transvaalse NP geword het, het op 2 Februarie 1989 ook die nasionale leierskap oorgeneem.

      Dis nodig om iets aan te roer waaroor al die partye tot die gesprek sensitief was: Die reaksie van ondersteuners as die gesprekke sou uitlek. Die kontrole wat Botha, Coetsee en veral Barnard hieroor kon uitoefen, was in baie opsigte waterdig. Hulle was binne ’n “stelsel” met burokrate wat nie links en regs uitgepraat het nie. Mandela het nie oor so ’n “stelsel” beskik nie. Hy moes op ’n paar mense vertrou en ook aanvaar dat die burokrate hom nie deur lekkasies aan die pers in ’n politieke verleentheid sou bring nie. Dit was een van die grootste risiko’s wat hy geloop het. Toegegee, sy regeringsgespreksgenote was van sy welwillendheid en samewerking afhanklik. Vertroue het ook baie te make met die aanvaarding van ’n verhouding van interafhanklikheid, tesame met die soort aspirasies wat deur die betrokke partye gekoester word. In die geval van Mandela en sy gespreksgenote was die verwagtings sterk én hoog: ’n einde aan politieke geweld en ’n proses wat vrede sou bring.

      Afgesien van die rapporteringsroete wat deur Mandela en Bizos na Lusaka oopgemaak is, en waarvan Kobie Coetsee bewus was, is daar ook ’n ander roete uitgebou: Operasie Vulindlela (Vula). Dit was die breinkind van die revolusionêre militantes wat van ’n militêre oorname van politieke mag in Suid-Afrika gedroom het. Die sukses van die UDF en ander organisasies het die uitgeweke revolusionêre gesigte laat sien van massa-mobilisasie wat tot regeringsverandering kon lei. Hulle was ook bang dat die leierskap van die massa-aksie hulle sou marginaliseer. Daar word toe besluit om Suid-Afrika te infiltreer, ondergrondse militêre strukture te vestig, wapenopslagplekke in te rig en met die massabeweging saam te werk. Oliver Tambo gee, vreemd genoeg, hiervoor die groen lig, skynbaar sonder om sy pro-onderhandelingsbinnekring in te lig. Mac Maharaj, ná vele intriges en planne wat verkeerd geloop het, en Siphiwe Nyanda rig hulle basis in die laattagtigs in Durban in om van daar af die ANC se revolusionêre projek te orkestreer. Ronnie Kasrils sluit hom later by hulle aan. Intussen voer Mandela gesprek met die Coetsee-komitee, salig onbewus van Maharaj en sy revolusionêre strydgenote se militêre planne.

      Mandela was in hierdie voorfase van die onderhandelingsproses ongetwyfeld die persoon wat die grootste risiko geloop het om sy geloofwaardigheid te verloor. Dié besef het tot my deurgedring op my verjaardag op 19 Augustus 1988. ’n NI-amptenaar het met my oor die kwessie van vertroulikheid en geloofwaardigheid gepraat. En dat geloofwaardigheid ook verband hou met ’n mens se dissipline om nie vertroue te skend nie. Soos hy gesê het: “Dis eintlik baie maklik om iemand se geloofwaardigheid in die openbaar te vernietig as jy en die persoon vertroulike en private sake met mekaar gedeel het.” Ek het hierna besef dat Coetsee, sy NI-span en die ander amptenare baie ernstig oor die binnekringgesprekke was. Die vertroulike aard van die gesprekke het die erns waarmee die gesprekke benader is, bevestig. Wat in so ’n geval gebeur, is dat die deelnemende partye (“vyande” van mekaar) doelbewus en baie gedissiplineerd hulleself losmaak van die heersende beskouinge en posisies van hulle ondersteunersgroepe en dié se elites. In skerp verdeelde en gepolariseerde samelewings, waarin geweld ’n kultuur geword het, is vertroulikheid en eerbaarheid noodsaaklik. Dis waarom middelgrondgroeipunte selde indien ooit ’n openbare begin het. Trouens, die amptelike voorbereiding van die onderhandelingsproses ná FW de Klerk se epogmakende en moedige toespraak op 2 Februarie 1990 was aanvanklik nie ’n openbare proses nie, soos byvoorbeeld geïllustreer deur die geheime besoeke van ANC-ers uit Lusaka aan Pretoria.

      Mandela het in ’n stadium die wind van voor gekry. Daar was, soos in die NP, ook mags- en persoonstryde binne die ANC, nie net in Lusaka nie, maar ook in Suid-Afrika, waar die aksies van die United Democratic Front baie suksesvol was. Die Robbeneilanders het ook hulle eie agendas gehad. Govan Mbeki, pa van Thabo Mbeki, was byvoorbeeld ’n Marxis in murg en been. Hy was ideologies ver verwyderd van Nelson Mandela. Die gemeenskaplike vyand – apartheid – het hulle verbind, nie ideologie nie. Daar was maar altyd spanning tussen Mandela en Govan Mbeki, soos later, ironies genoeg, tussen Thabo Mbeki en die “linkses”. Die meningsverskille tussen Nelson Mandela en Govan Mbeki het van ver af gekom. In die jare sestig was daar ’n intense debat binne die ANC oor die sogenaamde Bantoestans. Mense soos Mandela, Sisulu en Tambo, wat ná Albert Luthuli se dood in 1967 eers as waarnemende president en later as verkose president oorgeneem het, het ’n gekwalifiseerde pragmatiese posisie ingeneem: Die Bantoestans kon gebruik word as basisse vir massa-mobilisasie. Hulle wou nie eens die term “sell-outs” gebruik nie. Dit was selfs in 1976 Mandela se standpunt. Landelike gebiede was immers ’n sleutel tot suksesvolle guerrilla-oorlogvoering. Govan Mbeki was fel gekant teen dié posisie. Hy was ’n Marxistiese ideoloog en kón nie die pragmatisme van Mandela ten aansien van die Bantoestans steun nie. Binne die buitelandse vleuel van die ANC, veral ná ’n besoek van lede van die leierskorps aan Viëtnam in 1978, is daar uiteindelik baie sterk klem op massa-mobilisasie gelê. En dis wat die UDF reggekry het.

      Govan Mbeki, toe reeds 78 jaar oud, se vrylating was een van die sake waaroor Mandela om onder meer humanitêre redes sterk gevoel het. Coetsee en sy span het hierin ’n unieke geleentheid gesien: ’n proefneming om die openbare reaksie op die vrylating van politieke gevangenes te beheer. Walter Sisulu, wat later vrygelaat sou word, was toe 76 jaar oud. Die proses wat tot Govan Mbeki se vrylating gelei het, is ’n storie op sy eie werd. Mbeki het nie die vaagste benul gehad waaroor alles gegaan het nie. Hy het op Robbeneiland agtergebly toe Mandela en die ander vier politieke gevangenes na Pollsmoor verskuif is. Hy word toe met ’n omweg vanaf Robbeneiland na Mandela gebring. En dié is maar vaag oor alles wat aan die gang is. In November 1987 word Govan Mbeki vrygelaat. Hy is nie eerstehands ingelig oor die Coetsee-Mandela-gesprekke nie. Selfs later, toe die twee in Victor Verster ontmoet het, het Mandela vaag gebly. Dis bes moontlik dat hy Mbeki, die Marxis, nie vertrou het nie. Dit was ook Govan Mbeki wat gedurende 1989, toe hy in Port Elizabeth gewoon het, verkeerdelik ’n gerug onder die UDF laat posvat het dat Mandela té welwillend in sy gesprekke met regeringsverteenwoordigers was. Dit het groot rumoer in UDF-kringe veroorsaak. Allan Boesak, ’n begaafde en charismatiese leier van die UDF, was veral verontwaardig. Die NP-regering, so moet onthou word, het géén aanneemlikheid in UDF-kringe gehad nie en is met wantroue en agterdog bejeën. Mandela het nie ’n “mandaat van die mense” (lees UDF) gehad nie. Die krisis is uiteindelik ontlont. Dit was ’n verkorte weergawe van Mandela se memorandum aan Botha wat die UDF-krisis

Скачать книгу