Eindstryd. Willie Esterhuyse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindstryd - Willie Esterhuyse страница 11

Eindstryd - Willie Esterhuyse

Скачать книгу

was ten gunste van ’n onderhandelde skikking in Namibië-Angola. Hy was ook oortuig dat so ’n skikking die weg sou voorberei vir ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika. Botha se Rubicon-toespraak en die suksesvolle sanksieveldtog in die VSA teen Suid-Afrika het in elk geval ’n groot politieke kopseer vir die Reagan-administrasie veroorsaak. In die VSA, met sy swart bevolkingskomponent en Demokratiese Party, was ANC-leiers welkome gassprekers by talle byeenkomste. Die ANC, met Tambo en Mbeki op die voorpunt, het ná Botha se Rubicon-toespraak die diplomatieke oorlog teen Suid-Afrika in die VSA loshande gewen. Vroeg in 1987 was Tambo byvoorbeeld in die VSA, waar hy talle gesprekke gevoer het, onder andere met Henry Kissinger, voorheen die VSA se minister van buitelandse sake. Regses in die VSA was oor Crocker se standpunt in opstand en het Suid-Afrika se “vriende” geword. Op Vrydag, 7 Desember 1984 trek die National Coalition of Americans Committed to Rescuing Africa from the Grip of Soviet Tyranny teen Crocker los deur ’n soort ope brief: “Why is Chester Crocker trying to sell 20 million black Africans into communist slavery?” Dit het die mite van die Totale Aanslag soos ’n handskoen gepas. En ook die verwyt aan Ronald Reagan dat hy, toe hy sy nominasie vir ’n tweede termyn as president aanvaar het (in Augustus 1984), gesê het: “Since January 20, 1981, not one inch of soil has fallen to the communists.”

      PW Botha, wat van my kontak met Crocker geweet het, vra my in 1988 om hom oor ’n paar sake te kom spreek. Hy was tydens my besoek vriendelik en teen die einde van ons gesprek op die punt af: “Jy en Crocker ken mekaar. Ek hou niks van die man nie en vertrou hom nie. Sê vir hom ons sal oor die konflik in Namibië en Angola verder moet praat; daar is ’n paar voorwaardes waaroor ons eers moet ooreenkom. Suid-Afrika en die SAW moet met waardigheid kan onttrek. Daar is ook kostes waarna gekyk moet word.” En toe, as ’n nagedagte: “Ek hou nie van die idee van lewensverlies en verminking van my jong manne nie. Die oorlog word te duur.” Die voorbereidingsprosesse vir ’n skikking was toe al goed op dreef en Botha was bewus van wat aan die kom was. Die gesprek met hom was een van die geleenthede waar Botha sy menslike gesig gewys het. Crocker het ook nie van Botha gehou nie. Hy was van mening dat “xenofobiese woede” meermale by Botha voorgekom het. Veral in kritieke situasies. Dan het Botha redelikheid en doodgewone praktiese werklikhede van die tafel af gevee. Persoonlik het ek altyd gedink dat Botha, omdat hy aan mag verslaaf was, maar tog aan moraliteit ’n plek wou gee, ’n ambivalente persoonlikheid was. Sy politieke en morele sensitiwiteite was voortdurend in konflik met mekaar en, soos sy voorganger, BJ Vorster, kon hy dit nie hanteer nie. Sy opvolger, FW de Klerk, het dit beter hanteer. Dis vermoedelik die rede waarom Botha hom ná sy uittrede aan ’n fundamentalistiese verstaan van die Bybel oorgegee het.

      Ek het vanaf die begin van 1988 baie oor die konflik in Angola-Namibië vanuit die gesigspunt van die ANC gehoor. Dit het my baie gou tot die besef gebring dat die skikking van dié konflik ’n voorwoord vir die beslegting van die burgeroorlog in Suid-Afrika sou wees. En, terwyl eersgenoemde konflik géén militêre oplossing gehad het nie, het die tweede dit selfs nog mínder gehad. Ek en Thabo Mbeki was dit hieroor van meet af aan eens. Min datums in ons geskiedenis was myns insiens so belangrik soos 22 Desember 1988, enkele dae voor Kersfees. Toe word die trilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika, Kuba en Angola onderteken. ’n Uitmergelende en duur oorlog was verby. Generaal Jannie Geldenhuys, Niel Barnard en Neil van Heerden (buitelandse sake) was deurslaggewende vredesmakelaars. In 1989 lei die Namibiese onderhandelingsproses tot ’n inklusiewe verkiesing en in Maart 1990 is Swapo in Windhoek aan bewind.

      Ná Botha se Rubicon-toespraak het die Botha-regering ál dieper in die moeilikheid gesink. Sleutelmeningsvormers het hulle ondersteuning van die idee van hervorming van binne af prysgegee. Ander het hulle entoesiasme vir dié strategie verloor en liewer stilgebly. Soos iemand uit NP-geledere dit in 1988 gestel het: “Intellektuele bankrotskap het by die NP ingetree. Al wat oorgebly het, was die gebruik van magsmiddele.” Later sou blyk dat morele bankrotskap ook ingetree het. Elemente van die staat is in moordmasjiene omskep. Die Botha-regime en sy veiligheidsmagte het hulle hande vol gehad met erge binnelandse burgerlike verset onder die meerderheid van die bevolking in ons land. ’n Interne erosieproses het ná PW Botha se Rubicon-toespraak ingetree. Dit het versnel namate buitelandse druk en binnelandse buiteparlementêre verset verhewig het. Die veiligheidsmagte was nie werklik in beheer nie, ondanks bombastiese versekerings. Die afgekondigde noodtoestande was hiervan die bewys. Soos Franklin Sonn dit in 1988 aan my gestel het: “’n Regering wat deur middel van noodtoestande regeer, is ’n regering in ernstige nood. Dis ’n kwessie van tyd. Apartheid staan reeds op die rand van sy graf.” Self het ek dié erosie sedert 1985 van baie naby ervaar vanweë my betrokkenheid by die Stedelike Stigting.

      3

      Hospitaalbesoeke en geheime ontmoetings: Mandela, Coetsee en Barnard

      Dis een van die groot historiese ironieë van Suid-Afrika se oorgangsproses na ’n inklusiewe demokrasie: Die vurige en charismatiese Winnie Mandela, toe nog die vrou van die politieke gevangene Nelson Mandela, gooi ’n tou uit na die NP-minister Kobie Coetsee, ’n gebeurtenis wat uiteindelik sou lei tot Mandela se ontmoeting met Botha in Tuynhuys, Kaapstad, op 5 Julie 1989. Dis onwaarskynlik dat sy self gehoop het so iets sou gebeur. Dit was eerder ’n geval van die altyd selfversekerde Winnie Mandela wat haar deur niks en niemand laat intimideer het nie. Kobie Coetsee móés haar aanhoor. Sy was immers Nelson Mandela se vrou, na die Vrystaat verban en boonop bevriend met (wit) kennisse van Coetsee. ’n Paar dae ná haar man se tweede hospitalisasie weens tuberkulose (op 12 Augustus 1988) loop ek haar op die destydse DF Malan-lughawe, tans die Internasionale Lughawe van Kaapstad, raak. Haar prokureur, Ismail Ayob, was ook in haar groep. Ek was by dié geleentheid op pad na Brittanje vir samesprekings met Thabo Mbeki en sy groep. Sonder om twee keer te dink, stap ek nader. Ons groet. ’n Horde fotograwe en joernaliste storm terselfdertyd op haar af om foto’s te neem en vrae te vra. Ek vlug haastig. Dit was nie ’n foto waarop ek wou verskyn het nie.

      Nelson Mandela, toe 67 jaar oud, is in November 1985 in die Volkshospitaal in Kaapstad opgeneem vir ’n prostaatoperasie. Die Volks, soos dit genoem is, is deur die NG Kerk begin en in 1930 geopen. Dr. DF Malan, ’n eertydse dominee, later eerste minister van Suid-Afrika en een van apartheid se vaders, het die openingsrede gehou en onder meer gesê: “Dis geen plaaslike inrigting nie. Dit behoort aan die hele volk. Dis nie alleen maar ’n hospitaal nie. Dit is ’n volkshospitaal.” In 1981 moes die Kaapse Provinsiale Administrasie die hospitaal oorneem en in 1998 het Medi-Clinic die nuwe eienaar geword. ’n Interessante anekdote wat baie van die mens Mandela vertel, is wat tydens ’n besoek van George Bizos, Mandela se senior regsverteenwoordiger, aan hom in die hospitaal gebeur het. Die verpleegsters was Afrikaans en hulle moes gereeld die verbande omruil. In ’n stadium knip Mandela die gesprek met Bizos kort: Die verpleegsters moet hulle werk kan doen sodat hulle huis toe na hulle families kan gaan.

      Winnie Mandela, op pad om haar man in die hospitaal te gaan besoek, was op dieselfde vliegtuig as Kobie Coetsee, wat by Jimmy Kruger as minister van justisie, polisie en gevangenisse oorgeneem het (in Oktober 1980). Dit was Jimmy Kruger wat oor die marteldood van Steve Biko, dinamiese leier van die Swartbewussynsbeweging, in 1977 gesê het dat Biko se dood hom “koud laat”. Dié uitspraak was soos ’n kanonskoot in die harte van baie Afrikaners wat die NP gesteun het, maar ’n groeiende gewetensonrus begin ervaar het oor die magswellus van hulle leiers. Kruger verban Winnie Mandela in 1977 na ’n klein dorpie, Brandfort, in die Vrystaat, ongeveer 60 kilometer vanaf Bloemfontein. Hy wou haar wegkry uit Soweto, wat in 1976 ontplof het, maar haar ook nie te ver van die wakende oë van die veiligheidspolisie hê nie. Sy kon op Brandfort beter as in Soweto dopgehou word. Die polisiestasie in Brandfort het toe ook ’n simboliese adres vir Afrikaners gehad: Voortrekkerstraat. Simbolies, maar met ’n goeie dosis galgehumor, was die naam van die swart woonbuurt waar haar nuwe tuiste – sonder lopende water – geleë was: Phathakahle. Dié woord beteken iets soos “hanteer versigtig”, en dit het met Winnie Mandela daar nuwe politieke betekenis gekry. Dis vanaf dié dorpie dat sy, met natuurlik die toestemming van die owerheid, die tog na die Volkshospitaal aanpak.

      Coetsee, wat op 19 April 1931 op Ladybrand, ’n klein dorpie in die destydse Oranje-Vrystaat, gebore is,

Скачать книгу