Eindstryd. Willie Esterhuyse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindstryd - Willie Esterhuyse страница 9

Eindstryd - Willie Esterhuyse

Скачать книгу

geword. En ook vir daardie Afrikaners wat nie net op versoening en vrede gehoop het nie, maar ook daadwerklik iets daaraan wou doen. Dié dilemma is verhewig soos die binnelandse burgeroorlog vererger het en die poele van welwillendheid in die buiteland begin opdroog het. ’n Voorbeeld hiervan is wat in die VSA gebeur het. Pauline Baker van die Carnegie Endowment, maar met haar oog op ’n toekomstige belangrike politieke pos, skryf in 1987 ’n artikel in Foreign Policy getiteld “South Africa: Afrikaner Angst”. Baker, vir wie ek verskeie kere ontmoet het en wie se politieke invloed gegroei het, gee ’n skerp ontleding van wat in Suid-Afrika aan die gebeur was. Sy doen dit ná die verkiesing van 6 Mei 1987 waaraan die Onafhanklike Beweging ook deelgeneem het. Sy reken dat klasseverskille onder Afrikaners ’n proses van “fragmentasie” ingelui het en dat die “disintegrasie van wit solidariteit” belangrike implikasies vir die “rasse-stryd” in Suid-Afrika het. Sy meen dat die NP se dalende aansien geleenthede skep vir die anti-apartheidsbeweging om pro-onderhandelingsinisiatiewe vir ’n oorgang na ’n “ware nie-rassige demokrasie” te skep. En dat die Weste dié geleenthede moet gebruik. Dis presies wat gebeur het. Botha se Rubicon-toespraak het hiermee gehelp!

      Vier ander gebeurtenisse, twee in 1986, een in 1987 en een in 1988, het ook bygedra om die proses van skikking te bevorder. Die een was die plotselinge bedanking van dr. Frederik van Zyl Slabbert as leier van die Progressiewe Federale Party (PFP) op 7 Februarie 1986. Hy bedank ook uit die parlement, ’n maand voor die Statebond se Eminent Persons Group (EPG) se besoek aan Suid-Afrika. Sy bedanking en dié van sy kollega dr. Alex Boraine, ’n gesiene PFP-parlementariër, het skokgolwe deur regerings- en opposisiekringe gestuur. Niks het myns insiens in daardie stadium die relevansie van die (wit) parlement as instelling so dramaties tot vraag gestel as dié gebeure nie. Dit het egter die moontlikheid dat Boraine en Slabbert aan die latere en onafwendbare geïnstitusionaliseerde onderhandelingsproses kon deelneem, gekelder.

      In politieke en intelligensiekringe is daar mettertyd gefluister dat hulle bedanking daarop gemik was om vir hulle sleutelrolle binne die onvermydelike skikkingsproses voor te berei, verkieslik op versoek van die ANC. Nóg die parlementêre partye nóg die ANC het egter aan dié moontlikheid ernstige aandag gegee. Thabo Mbeki het op ’n keer vir my gesê dat hulle dalk op ’n konsultasiebasis gebruik kon word. Hy het daaraan toegevoeg: “Dis tog duidelik dat die eintlike bedinging en onderhandeling tussen die NP en die ANC sal moet plaasvind.” Slabbert se boek The Last White Parliament (1985) het in ’n bepaalde opsig sy besluit voorberei. Of die parlementariërs van destyds, waaronder sy eie partygenote, sy boek goed verstaan het, is te betwyfel. Die “wit parlement” het uiteindelik ’n deurslaggewende rol in die skikkingsproses gespeel. Dit is so dat dit moeilik is om politieke leierskap sónder sterk ondersteunende instellings en stewige netwerke uit te oefen. Idasa kon nie eintlik so ’n instelling of netwerk wees nie.

      Die jaar 1986 was egter om ’n ander rede van groot deurslaggewende belang: Die mislukte besoek van die Eminent Persons Group van die Statebond aan Suid-Afrika tussen 2 Maart en 19 Mei. Die besoek is gesteun deur die 49 lidlande. Malcolm Fraser, ’n voormalige Australiese eerste minister, en generaal Olusegun Obasanjo, ’n gewese militêre staatshoof van Nigerië wat sy mag vrywillig aan ’n burgerlike regering oorgegee het, was die medevoorsitters. Ek was bevoorreg om sommige van die lede te ontmoet en onder andere met generaal Obasanjo gesprek te kon voer. Hy het ook met Nelson Mandela in die Pollsmoor-gevangenis gepraat. Van die ander lede is ook later toegelaat om dit te doen. Verwagtings het weer eens met die EPG se besoek opgevlam vir die moontlikheid van ’n onderhandelde skikking. Die groep het hieroor ’n werksdokument opgestel wat die elemente bevat het van ’n internasionale konsensus, deeglik en met toegewyde ywer deur veral Thabo Mbeki georkestreer. Margaret Thatcher, wat vir baie lank die swaard van erge sanksies probeer keer het, moes uiteindelik ook voor dié konsensus swig. Die onvoorwaardelike vrylating van Mandela en ander politieke gevangenes, en die prysgawe van die voorwaarde dat Mandela en die ANC eers die gebruik van geweld om politieke doelwitte te bereik moes afsweer, is onder meer in dié konsensus as kriteria gevestig om ’n skikkingsproses aan die gang te kry. Thatcher was veral ten gunste van die voorwaarde dat die ANC eers geweld moes afsweer omdat sy die ANC met die Ierse Republikeinse Leër en die Palestynse Bevrydingsorganisasie gelyk gestel het.

      Die Botha-kabinet het die EPG-delegasie aanvanklik hoop gegee. ’n Dokument, met die sanksie van die Botha-kabinet, is op ’n vergadering van die kabinet met die EPG beskikbaar gestel. Daarin is gesê: “It is the conviction of the Government that any future constitutional dispensation providing for participation by all South African citizens should be the result of negotiations with the leaders of all communities … The only condition is that those who participate in the discussions and negotiations should foreswear violence as a means of achieving political objectives” (Mission to South Africa 1986:80). PW Botha het waarskynlik aanvaar dat die ANC dit nooit sou doen nie.

      Op 19 Mei 1986 gebeur daar iets wat met koeëls en bomme sê wie steeds die politieke kitaar in Suid-Afrika slaan: Die Suid-Afrikaanse Weermag, met Magnus Malan as minister, “teiken” op bruuske wyse “die vyand” (die ANC) in Botswana, Zimbabwe en Zambië. En die EPG was in die land, besig met die opstel van sy verslag! Dié drie soewereine lande was natuurlik lede van die Statebond. Om growwe sout in dit alles in te vryf, blyk dit dat president PW Botha die aanval goedgekeur het. Sy minister van buitelandse sake, Pik Botha, wat die EPG bygestaan het en ook gehelp het om die vlam van hoop aan te blaas, is nie vooraf oor die inval ingelig nie. Dit was politieke sinisme op sy brutale grofste, al wou Botha en Malan dalk daarmee die soewereiniteit van Suid-Afrika in ’n moontlike skikkingsproses onderstreep het. Dalk ook nie vreemd nie. Die noue samewerking tussen Suid-Afrika en Israel, ook militêr, het waarskynlik dié sinisme bevorder. Daar was ook iets anders: die binnegevegte tussen faksies binne die regering. Pik Botha en sy senior amptenare het gehoop op ’n politieke deurbraak in die rigting van ’n onderhandelde skikking. Die sekurokrate, en veral Militêre Inligting wat PW Botha se oor in daardie stadium gehad het, was nie entoesiasties nie. Daar was ook ’n magstryd tussen Pik Botha en van die ander kabinetslede, soos Chris Heunis (Grondwetlike Sake) en Magnus Malan (Verdediging). Veral Heunis het sy eie leierskapsdrome gehad en het naby PW Botha probeer bly.

      Die EPG, stert tussen die bene, pak sy koffers en verkas onverrigtersake. Die “ystervuis”, en nie dialoog en gesprek nie, het nogmaals geregeer. ’n Goeie kennis na aan die kabinet het my verseker: “Ons moet eers die vyand sag maak voordat ons kan praat. Die SAW is ons belangrikste troefkaart. En ons kan nie buitelandse inmenging toelaat nie.” Die EPG se inisiatief was egter nie ’n totaal verlore saak nie. Waar Margaret Thatcher in Oktober 1985 by die Statebondskonferensie in Nassau redelik onverbiddelik in haar standpunt teen verpligte sanksies was, het Brittanje in Augustus 1986, saam met die ander Statebondslande, sanksievoorstelle aanvaar. Om dit ietwat sinies te stel: PW Botha en Magnus Malan het haar geen keuse gelaat nie. Trouens, Thabo Mbeki het aan my gesê dat “Magnus se inval” tragies was, maar ook politieke manna uit die hemel. Thatcher het by die Statebondskonferensie (in Augustus 1986) selfs na PW Botha se “obstinacy” verwys, die feit dat Nelson Mandela nog steeds in die tronk was en dat, in die lig van die “fiasko” met die EPG, daar géén vooruitsig op ’n vreedsame politieke dialoog tussen die Suid-Afrikaanse regering en verteenwoordigers van die swart bevolking was nie. Sy was moedeloos. Soos Robin Renwick, die Britse ambassadeur in Suid-Afrika en iemand wat invloed by Thatcher gehad het, dit op ’n keer aan my gestel het: “Thatcher hou nie van onaangename verrassings nie. Die Botha-regering spesialiseer daarin.”

      In Augustus 1986, toe Thatcher haar persoonlike frustrasie en moedeloosheid oor die situasie in Suid-Afrika die eerste keer in die openbaar duidelik gestel het, was PW Botha ook in een van sy tipies veglustige buie. Tydens ’n vergadering van sy partygenote en ondersteuners was hy, soos iemand wat by die byeenkoms was dit kort en kragtig gestel het, “moerig”. Hy spreek immers ’n byeenkoms van sy party toe. Fel gekant teen buitelandse inmenging in Suid-Afrika se binnelandse beleid, en hy was hieroor altyd adamant, waarsku hy die wêreld: “Moenie ons onderskat nie.” Getrou aan die militêre faset van sy persoonlikheid, roep hy dramaties en met groot steun van sy partygenote uit: “Ons is nie ’n volk van jellievisse nie!” Hy kon nie ’n beter beeld teenoor sy ondersteuners gebruik het nie. Dis trouens die een

Скачать книгу