Eindstryd. Willie Esterhuyse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindstryd - Willie Esterhuyse страница 7

Eindstryd - Willie Esterhuyse

Скачать книгу

en wou sterk sanksies instel. Dit is in Augustus 1986 gedoen. Haar woordvoerder, Bernard Ingham, het volgens Thabo Mbeki in 1987 nog na die ANC as ’n tipiese terroristeorganisasie verwys. Volgens Mbeki het hy gesê enige iemand wat dink dat die ANC Suid-Afrika eendag sou regeer, woon in “cloud-cuckoo-land”. Daar is onsekerheid oor die verband waarin dié opmerking gemaak is, maar Mbeki se weergawe vertolk wel sy persepsie van Thatcher en haar regering.

      Thatcher se sterk standpunt teen omvattende sanksies was vir apartheid-Suid-Afrika ’n groot politieke troos, al het dit ons land nie teen ekonomiese en finansiële erosie beskerm nie. Sy was nie net leier van die Britse Konserwatiewe Party nie, maar as mens ook konserwatief en sterk gekant teen kontak met die ANC as ’n organisasie wat volgens haar bandeloos en gewelddadig was. By geleentheid was sy selfs hoogs ontsteld oor die vooruitsig dat die destydse Suidwes-Afrika en Suid-Afrika deur Swapo, die ANC en die kommuniste gewelddadig oorgeneem kon word. Sy het onder meer vir Patrick Fairweather, Assistant Under Secretary of State, Foreign and Commonwealth Office, ingeroep om haar ontsteltenis onder sy aandag te bring. Dit blyk toe dat haar bron ’n verslag van ’n bekende Amerikaanse konserwatiewe instelling was. Dié het haar persoonlike konserwatiewe waardestelsel vertolk.

      Thatcher se vriend Ronald Reagan, president van die VSA, het haar meegedeel dat hy haar nie meer subtiel kon steun in haar teenkanting teen verskerpte ekonomiese sanksies en haar versigtige houding teenoor Suid-Afrika nie. Dit moet onthou word dat die Botha-regering, kort voor die Rubicon-toespraak en ná bloedige konfrontasies in swart en bruin woonbuurte tussen die polisie en betogers (byvoorbeeld in Port Elizabeth, in Maart 1985), in Julie 1985 ’n noodtoestand afgekondig het – die eerste keer in 25 jaar ná Sharpeville. Dis vir ’n rukkie opgehef, maar weer in Junie 1986 afgekondig, waarna dit jare lank van krag gebly en kort-kort afgekondig is. Die politieke doodloopstraat waarin Suid-Afrika reeds was, het steeds meer versmorend geword.

      Dié doodloopstraat kan met die tegniese term “stasis” of “ekwilibrium” beskryf word – bewerkstellig deur twee destruktiewe dryfkragte (revolusionêr en téénrevolusionêr) waarvan die eindresultaat onafwendbaar was: ’n sosio-politieke inploffing en ’n mislukte staat. Soms word van ’n “hurting stalemate” gepraat. Ek het nooit die storie van ’n staat wat in beheer was en wat met méér en sterker magsmiddele nog lank beheer sou kon uitoefen, aanvaar nie. Die Suid-Afrikaanse staat was teen 1986 vinnig op pad na ’n mislukte staat waarvan die elite op ’n totalitêre wyse beskerm sou moes word. Die ANC se meer gematigde leierskorps was nie hieroor opgewonde nie. ’n Mislukte staat, deur magsmiddele in stand gehou, vernietig oor die middel tot langer termyn ongeveer álle ontwikkelingsmoontlikhede. Per woord het PW Botha se Rubicon-toespraak Suid-Afrika miljoene rande gekos. Die gematigde ANC-leierskorps, waaronder Tambo en Mandela, wou nie ’n verwoeste vaderland erf nie. Die nuwe generasie Afrikaners wat in Angola moes veg, ook nie.

      Hóé uitsigloos die doodloopstraat geword het, was veral in die VSA duidelik. Op 21 Januarie 1986 is die Comprehensive Anti-Apartheid Act van 1986 in ’n gesamentlike sitting van die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat (die Kongres se 99ste vergadering) aanvaar. Dit was in alle opsigte “omvattend”. Die argument dat sanksies veral die onderdruktes en benadeeldes erger as die bevoordeelde wit mense sou tref, is daarmee vir goed van die tafel afgevee. Sanksies is aanvaar as die énigste oorblywende niegewelddadige middel om apartheid tot ’n val te bring. Die wetgewing het ook die VSA se beleid ten opsigte van ’n “negotiated settlement” uitgespel. Daarin is onder meer die volgende voorwaardes gestel: Beëindiging van die noodtoestand; vrylating van politieke gevangenes soos Nelson Mandela; ontbanning van die ANC en ander politieke bewegings; herroeping van apartheidswetgewing soos die Groepsgebiedewet en die Bevolkingsregistrasiewet; en die toekenning van universele burgerskap aan alle Suid-Afrikaners, ook dié van die “tuislande”, oftewel sogenaamde onafhanklike en selfregerende swart state soos die Transkei en KwaZulu.

      ’n Internasionale konsensus, soos in die betrokke wetgewing vertolk, het begin wortel skiet. Dit is dié konsensus waaraan die De Klerk-regering in Februarie 1990 gehoor moes gee. Dis interessant om daarop te let dat die VSA in die wetgewing van 1986 hom daartoe verbind het om ’n ooreenkoms te help bewerkstellig “to suspend violence and begin negotiations through co-ordinated actions with the major Western allies and with the governments of the countries in the region”. Op ’n ander plek in die wetgewing word selfs gesê dat “unbanning” moet geld vir alle groepe “willing to suspend terrorism and to participate in negotiations and a democratic process”. Die kwessie van geweld, of dit opgeskort (“suspend”) of afgesweer (“renounce”) moes word alvorens ’n onderhandelingsproses kon begin, was vir baie lank ’n turksvy. So ook die vraag of ander regerings by die skikkingsproses betrokke moes wees.

      Die VSA was in die Westerse wêreld ’n baie belangrike speler in die sanksieveldtog en meer as honderd maatskappye onttrek uit Suid-Afrika. Toe kom die skerpste en langste spyker: Finansiële sanksies, met die Amerikaanse Chase Manhattan-bank wat in Augustus 1985, ná die Rubicon-toespraak, die eerste hamerhou slaan. Sanksies het begin werk. ’n Lewenslange persoonlike vriend, Howard Wolpe, ’n vooraanstaande lid van die Amerikaanse Kongres en aktivis binne die Demokratiese Party, was die voorvegter in dié verband. Ons skerp verskille het nie ons vriendskap in die gedrang gebring nie, maar my wel gehelp om Suid-Afrika se krisis beter te verstaan. Self het ek nooit gedink dat die ANC en Thabo Mbeki se invloed op die anti-apartheidsbeweging volledig krediet vir die sanksiesukses moes kry nie. Die onbeholpe manier waarop die Suid-Afrikaanse regering sedert die tagtigerjare die politieke krisis in die land hanteer het, en veral die katastrofale Rubicon-toespraak, was ook ’n vername rede. Dit het apartheid van al sy moreel-politieke bekleedsels gestroop en die keiser poedelnaak in die Westerse openbare arena laat staan.

      Op Dinsdag, 29 Oktober 1985 kry die ANC die geleentheid om voor die Foreign Affairs Committee van die Britse parlement vrae te beantwoord en getuienis te lewer. Oliver Tambo, Thabo Mbeki en Aziz Pahad verteenwoordig die ANC. Die fokus van die gesprek is veral op geweld en die aanwending daarvan teen “sagte teikens”, asook die kwessie van sanksies. Robert Harvey wat die boek The Fall of Apartheid: The Inside Story from Smuts to Mbeki geskryf het, is as parlementslid ook teenwoordig. Die gesprek word, soos Mbeki dit teenoor my gestel het, “a grilling”. Maar ook ’n “breakthrough” vir die ANC se diplomatieke inisiatief. Tambo slaag die toets as ’n gematigde voorstander van onderhandelinge. Die Suid-Afrikaanse regering se mite van ’n bloeddorstige vyand word in die buiteland as ongeloofwaardig uitgewys.

      Die Westerse wêreld het in die middel-tagtigerjare sy hoop dat Afrikanerleiers tog ’n onderhandelingsproses op dreef sou bring, verloor. Selfs Margaret Thatcher was nie meer bereid om ’n goeie woord vir Suid-Afrika te doen nie. Botha was oor haar houding baie goed ingelig. Verskeie sakeleiers met invloed, soos dr. Anton Rupert van die Rembrandtgroep, veral vanweë sy Switserse kontakte, is mettertyd ingeroep om te help red wat daar te redde was. Rupert skryf uiteindelik vir Botha ’n lang brief (24 Januarie 1986) waarin hy sonder doekies omdraai sê dat die eintlike probleem van Suid-Afrika apartheid is. Dit het nie gehelp nie.1 Thabo Mbeki, wat nie juis ’n goeie woord vir Margaret Thatcher gehad het nie, het my in 1988 iets baie interessants meegedeel. Margaret Thatcher het haar vir PW Botha vererg. En die rede? Hy het Geoffrey Howe, haar minister van buitelandse sake, beledig. En al het Thatcher nie juis baie van Howe gehou nie, was hy darem die “Britse” minister van buitelandse sake en lid van haar span. Thatcher, wat Botha vantevore, in Junie 1984, by Chequers ontvang het, het tydens die ontmoeting dit redelik onomwonde gestel dat hy Mandela moes vrylaat. Sy was gekant teen volskaalse sanksies en het ook, tot Botha se groot vreugde, gesê dat ’n beëindiging van geweld ’n voorwaarde vir onderhandelinge met die ANC was. Dié kwessie sou baie lank ’n struikelblok wees.

      Howe besoek Suid-Afrika in Julie 1986. Nóg lede van die ANC, waaronder Nelson Mandela, nóg biskop Tutu wil hom te woord staan. Botha ontmoet Howe op 23 Julie en ook op 29 Julie. Botha was in een van sy slegte buie. Hy reken Tutu se menings is niks werd nie en dat buitelanders moet ophou om in Suid-Afrika se sake in te meng. Belangrike en doeltreffende politieke druk het ongetwyfeld hierna veral vanuit Brittanje gekom, ’n vername handelsvennoot en ook ’n land met ’n kulturele en demografiese erfenis

Скачать книгу