Eindstryd. Willie Esterhuyse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindstryd - Willie Esterhuyse страница 10

Eindstryd - Willie Esterhuyse

Скачать книгу

’n teken van swakheid wees. Dié karaktertrek verduidelik ook sy Rubicon-toespraak. Dis wel so dat die EPG se voorgestelde roetekaart (1986) die groeiende internasionale konsensus oor ’n skikking beïnvloed het. Trouens, tydens die nie-amptelike gesprekke later tussen die Afrikaner-kontakgroep en uitgeweke ANC-leiers in Brittanje het die EPG se inisiatief telkens opgeduik.

      Die derde gebeurtenis waarna verwys moet word, het in 1987 plaasgevind: die begin van die Onafhanklike Beweging. Die aanloop hiertoe het vir die regerende magselite en sy stutorganisasies, soos die Afrikaner Broederbond en die Afrikaanse kerke, gevolge gehad wat nog nie na waarde geskat is nie. Dit was polities net so betekenisvol, indien nie meer nie, as die Dakar-konferensie (Julie 1987), want dit was ’n rebellie vanuit die hart van die Afrikanerdom én sy instellings. ’n Opstand téén die leierskap. Dié rebellie word ook gereflekteer in die artikel van Pauline Baker waarna reeds verwys is. Dis nou maar eenmaal so dat rebelle van binne méér politieke gewig as kritici van buite dra. Die interne rebellie het ’n lang aanloop gehad. Dit was aanvanklik hoofsaaklik ’n Stellenbosse rebellie, wat ’n politieke voordeel gehad het. Die beeld van die Universiteit van Stellenbosch was binne Suid-Afrika, en ook in sekere Westerse lande, iets waaroor baie gepraat is, al was dit soms in afwysende en ook ambivalente terme. Wat op Stellenbosch gebeur het, was dalk nie altyd opspraakwekkende akademies-wetenskaplike nuus nie. Dit was egter áltyd opspraakwekkende politieke nuus. Internasionale joernaliste het ’n stofpaadjie na Stellenbosch uitgetrap.

      Ek en Sampie Terreblanche het reeds in Februarie 1985 op Botha se versoek ’n ontmoeting met hom gehad. HW van der Merwe, ’n professor aan die Universiteit van Kaapstad wat noue bande met Winnie Mandela en die ANC gehad het, het ons genooi om Thabo Mbeki in Lusaka te ontmoet. Dit was na aanleiding van ’n artikel van Terreblanche in die Sunday Times. Botha het nie gesê hoe hy van die uitnodiging gehoor het nie. Hy het ons vriendelik dog dringend versoek om nie die uitnodiging te aanvaar nie: “Ons praat nie met moordenaars nie,” het hy gesê. Ons het aan sy versoek voldoen. Toe ons uit die gebou stap, sê Terreblanche: “As ons dit nie gedoen het nie, sou PW ons sweerlik by die venster op die agtiende verdieping uitgegooi het.” Ek het toe besef hoe belangrik Botha, iemand wat as Kaapse leier sy opmars na die hoogste politieke pos begin het, sy “Stellenbosse konneksie” geag het, en dat dit die een of ander tyd ’n bemiddelingskaart kon word. Daarom was hy selfs teenoor die uitgesproke Terreblanche baie meer versigtig as teenoor ander kritici.

      Dinge kom hierna vinnig tot ’n punt. In Oktober 1985, ná Botha se Rubicon-toespraak en kort voor Mandela in die Volkshospitaal opgeneem is, stig Terreblanche en ’n paar kollegas van die US, waaronder ek self, Besprekingsgroep ’85. Dit word ’n beitel wat die hart van die Botha-regime verwond. Dis in dié tyd, ná Mandela se hospitalisasie, dat Kobie Coetsee, minister van justisie, polisie en gevangenisse, met hom begin praat. Daar is by my min twyfel dat die moontlikheid dat Mandela in gevangenskap kon sterf, vir Kobie Coetsee en ander skielik ’n kommerwekkende probleem geword het. ’n Memorandum deur die gespreksgroep, voorberei deur die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk, oor die verslegtende toestande in die land, word op 28 Januarie 1986 aan Terreblanche se goeie vriend minister Chris Heunis oorhandig. Dit handel oor vier “konseptuele blokkades” vir ’n betekenisvolle hervormings- en onderhandelingsproses. “Magsdeling” was wel in daardie stadium nog die sleutelwoord. Die eerste blokkade was dat die buiteland ons in die steek gelaat het. Sónder die buiteland was dit nag vir Suid-Afrika. Tweedens, ’n onderhandelde skikking met swart mense in Suid-Afrika kon nie die ANC uitsluit nie. Nie alle swart mense was ten gunste van geweld nie. Derdens, die Suid-Afrikaanse regering se probleme was regstreeks herleibaar tot sy storie oor die “totale aanslag”, georkestreer deur Moskou. En vierdens, die Groepsgebiedewet en ander maatreëls moes waai. Die memorandum stel dit onomwonde: “Daar moet binne die volgende ses maande duidelikheid kom oor die regering se voorneme om van apartheid in al sy gestaltes ontslae te raak … of geweld, onluste en ekonomiese druk gaan afmetings begin aanneem wat ons bestaan veel meer sal bedreig as wat hoegenaamd voorsien kan word.” Die politieke teerling was gewerp.

      Heunis broei baie maande oor die memorandum. Hy lig Terreblanche uiteindelik in dat hy die memorandum met Botha bespreek het. Botha, saam met Heunis, ontmoet 28 van die rebelle op 20 Februarie 1987 in Tuynhuys. Ses van die rebelle tree as segspersone op. Botha spreek die groep hierna langer as ’n uur toe. Daarna probeer hy die vergadering met sy “laaste woorde” beëindig. Chaos breek toe uit, met Terreblanche en Botha wat op mekaar begin skreeu. Ek gryp in en sê ek is nou die voorsitter. Botha, verbaas, sê: “Dis my kantoor hierdie. Ek is hier die baas.” Die groot breuk wat lank gedreig het om plaas te vind, gebeur op dié dag. Terreblanche bedank uit die NP. Ander volg hom. Op 8 Maart reik die besprekingsgroep ’n verklaring uit wat die inhoud van die memorandum openbaar maak. Dit maak internasionale opslae. NP-magshegemonie begin verbrokkel. In Lusaka is hiervan meer kennis geneem as van enige iets anders. Hoop op ’n onderhandelde skikking het opgevlam. Ook in Pollsmoor, waar Mandela toe reeds met Kobie Coetsee in gesprek was.

      Daar was ten tyde van die haastige vertrek van die EPG reeds ’n skrif in bloed aan die muur: Angola en Suidwes-Afrika (Namibië). Daar was Swapo en die Kubane “die vyand”. Daar was ook ANC-kampe in Angola gevestig. Suid-Afrika het Unita, die opposisie van die mpla, die versetbeweging in Angola, en Swapo, die versetbeweging in Suidwes-Afrika (Namibië), gesteun. Jonas Savimbi was die leier en ’n persoonlike vriend van PW Botha. Trouens, by Botha se inhuldiging as president van Suid-Afrika in die Groote Kerk in Kaapstad (op 14 September 1984) was Savimbi ’n eregas. Die Totale Aanslag, en die SAW se Totale Strategie, was in Angola en Namibië sigbaar op die voordeur van ons land. En ook in kombuise, voorhuise en slaapkamers van diegene wie se jong seuns opgeroep is om die Totale Strategie uit te voer. Of, soos ’n NP-parlementariër en goeie vriend dit driftig aan my gestel het: “Om die kommuniste van ons grense weg te hou.” Die meeste Afrikaners het dit ook geglo. Min kwessies het op Suid-Afrika se interne politiek, veral vanaf 1988, so ’n impak as die Angola-Namibië-kwessie gehad.

      Op uitnodiging van die SAW kon ek self, saam met ’n klompie vriende uit die Stellenbosch-omgewing, die “operasionele gebied” besoek. Ons was hoofsaaklik in die noorde van Namibië. Daar het ons onder meer die dinamiese generaal Jannie Geldenhuys ontmoet. Ons was ook by die basis Omega – om te sien “wat die Weermag vir die Boesmans doen” – en ’n paar ander plekke. Ons het almal na Stellenbosch teruggekeer met dié oortuiging: “Die SAW veg vir ’n goeie saak.” Self dink ek nou dat die stryd om die behoud van die apartheidstaat onder meer weens die oorlog in Angola verloor is. Tesame, natuurlik, weens Suid-Afrika se steun aan die Demokratiese Turnhalle Alliansie (dta) tydens die verkiesing in 1989, aan Renamo in Mosambiek en aan biskop Abel Muzorewa in Zimbabwe. Dié en ander aksies om “die vyand” (die ANC) buite die grense van ons land te hou en “die vyande” wat reeds binne die landsgrense was aan bande te lê en selfs te vermoor, het die “ou” Suid-Afrika finansieel en moreel geknou. Oor dié kwessie sal daar wel in Afrikanergeledere nog lank ernstige meningsverskille wees. Daar is baie Afrikaners wat nog vas glo dat die oorlog in Angola tyd gekoop het vir ’n onderhandelde skikking in Suid-Afrika, myns insiens ’n regverdiging agterna en ’n vorm van retrospektiewe mitologisering.

      * * *

      Ek het Chester Crocker, later die VSA se assistentminister van Afrikasake, die eerste keer ontmoet by die Georgetown-universiteit in Washington, waar hy navorsing gedoen en lesings gegee het. Hy was ’n vriend van Tertius Myburgh, destyds redakteur van die Sunday Times. Ek en Myburgh het oor talle sake saamgewerk, onder meer vanweë ons betrokkenheid by die United States South Africa Leadership Programme (Ussalep), wat ’n kantoor in Washington gehad het. Voor sy aanstelling as assistentminister van Afrikasake in die Reagan-administrasie het Crocker Suid-Afrika besoek. Saam met Myburgh het ons ’n lang, indringende vertroulike gesprek gevoer oor sy (Crocker) se beleidsposisie ten opsigte van Suid-Afrika en ook die res van Afrika: Constructive Engagement. Ek en Myburgh was baie opgewonde daaroor. Crocker het mettertyd intensief by die konflik tussen Suid-Afrika en Namibië-Angola betrokke geraak, namate veral die Kubane op die voorgrond getree het. Hier en daar is daar selfs in veral burgermagkringe gefluister dat Angola Suid-Afrika se Viëtnam kon word, sou daar te ver en te diep binnegedring word. Daar was ook nie altyd harmonie

Скачать книгу