Vat 'n gap. Jana du Plessis

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vat 'n gap - Jana du Plessis страница

Vat 'n gap - Jana du Plessis

Скачать книгу

      Vat ’n gap

      JANA DU PLESSIS

      Tafelberg

      Vir Carmen Schaefer

      en my sussies, Suzanne en Hanlie

      Dankie-sê is belangrik, want hierdie boek is nie net myne nie. Hester Carstens, vir jou oneindige geduld en hand-vashou, jy rock.

      My ouers, dankie dat julle luister en probeer verstaan terwyl julle jongste dogter doen wat sy wil. Dank aan my sussies, Suzanne en Hanlie, vir julle geloof in my – ek hoop die boek maak julle trots.

      Ek sal ’n boek kan vol skryf oor my vriendinne. Julle is vir my superspesiaal en hierdie boek sou nie gerealiseer het as ek nie so seker was van die ondersteuning en geselsies wat altyd aan die ander kant van die foon vir my gereed gestaan het nie.

      Die Wimbledon-gang moet ’n spesiale bedanking kry. Hierdie paragraaf is net vir julle. Dankie dat ek op julle bank kon crash en by julle kon woon asof ek een van julle is. Al daai gekrabbel in my notaboek was toe nie verniet nie.

      My studente verdien ook ’n plekkie op hierdie bladsy, want soveel van julle is die inspirasie agter hierdie boek. Dis ’n storie vir julle, want soveel energie en passie moet gevier word. Ek love die lot van julle.

      Laastens is hierdie boek vir almal wat na iemand in ’n ander land verlang. Ek weet dis nie ’n maklike onderwerp nie en ek hoop die boek herinner jou daaraan dat jy nie alleen is nie. En dat jou mense altyd jou mense sal bly.

      Januarie

      Outfit van die maand:

       Wit Guess T-hemp

       Uitgewaste Diesel-kleefdenim

       Lang knooptrui van Rage

       Slate-leergordel

       Marion & Lindie-kunspelsjas

       Nine West-balletstylskoene

       RVCA-mussie, salmpienk

       YDE-blomoorbelle

       Goudkleurige serp van Accessorize

      Haar Gucci-bagasietas is sewe kilogram oorgewig. Jaz oorhandig haar getroue Visa-kaart aan die vrou agter die British Airways-toonbank. Met haar linkerhand. Haar regterhand is strategies onder haar handsak weggesteek. Sy rol haar oë toe sy hoor hoe Moeder luidkeels oor haar selfoon vir ’n vriendin vertel hoe hartseer sy is dat haar enigste dogter – haar enigste kínd – die land verlaat om groener weivelde te gaan soek.

      Maretha Jasmyn Coetsee, beter bekend as Jaz, wil so gou as moontlik van Maretha Coetsee Senior ontslae raak sodat sy aan die ander kant van die Departures-hek kan kom. Om te rook, om te shop, om van die aaklige naar gevoel wat aan haar kleef ontslae te raak.

      “Ek weet waaragtig nie hoekom jy so moeilik moet wees nie, Maretha, aangesien ek maklik vir Deidre kon vra om jou by die lughawe af te haal,” lê Moeder vir die soveelste keer dieselfde eier.

      Deidre, Moeder se suster en ’n vreemdeling vir Jaz, woon glo in die een of ander landelike area in die suidooste van Engeland. Maar Jaz het geen begeerte om skape en groen weivelde – soos dié op die poskaarte wat Moeder nou en dan ontvang en in die asblik gooi omdat dit haar huis “clutter” – te sien nie. Jaz soek die stad. Die glamour. Die fashion. Die polsende energie van Londen se strate en die mense wat daardie strate platloop omdat hulle êrens opwindend heen op pad is.

      Jaz kyk verby Moeder na die ma en pa wat soos besetenes aan hulle dogter klou. Die dogter breek los van haar ouers om haar arms om haar boetie te gooi. Boetman in sy Blou Bul-hempie druk sy suster só hard dat Jaz kan sweer sy hoor ’n rugwerwel kraak. Die oomblik is ampertjies te groot vir die ma; sy lyk asof sy gaan flou word, maar haar man staan vinnig nader om haar met sy boomstam-arms te stut. Dis net snesies en snot.

      “Maretha, ek praat met jou!”

      O gats. Moeder het iets gevra, want sy staan hand in die sy en wag vir ’n antwoord. In haar uitgestrekte regterhand lê ’n iPhone.

      “Ek weet jy wou eintlik die iPhone vir Kersfees gehad het en nie die BlackBerry nie. Toe bring ek dit maar as ’n afskeidsgeskenk.” Moeder glimlag ingenome.

      Nie omdat dit ’n gebaar van liefde is nie, weet Jaz. O nee, dis nie hoe Maretha Coetsee se kop werk nie. Dis sodat sy goed kan voel oor hoe “in voeling” sy met haar dogter is. Dat sy kan spog by die celeb-ma’s wat hulle naels by haar laat doen oor haar status as ’n supercool ma.

      Jaz wil skree: As Moeder enigsins moeite gedoen het om my te verstaan, sou jy geweet het dit irriteer my grensloos dat jy my op my eerste naam noem! En dat ek glad nie ’n selfoon vir Kersfees wou gehad het nie.

      Die BlackBerry was van Pa Coetsee. Die wegdruk-en-terugtrek tussen Ma en Pa, tussen iPhone en BlackBerry.

      “Beteken dit ek het nou ’n nuwe selnommer?” Jaz wys na die iPhone in sy pienk jurkie. Dis cute. Dis dieselfde pienk as die mussie in haar handbagasiesak. Sy hou daarvan, maar sy sal nie vir Moeder die satisfaksie gee om te weet dat sy iets reg gedoen het nie.

      Moeder knik. “Ek het dit spesiaal vir jou gereël. ’n Splinternuwe nommer wat jy internasionaal kan gebruik.”

      Dankie tog. Moeder het hierdie keer geluister. Jaz neem Ma s’n, gee Pa s’n terug. ’n Ruiltransaksie: Pa se omkoopgeskenk vir Ma se troefkaart.

      “Thanks, Ma.” Sy draai die foon om en om, wil nie oogkontak maak nie. Die Blou Bul-familie is nie meer daar om haar aandag af te lei nie.

      Moeder steek haar hand uit – vir ’n drukkie? – maar laat rus dit ongemaklik op Jaz se skouer. “Laat weet as jy veilig is.”

      “Baai, Ma.”

      Jaz laat glip die foon in haar handsak. Maak asof sy ’n snesie soek. Moeder se oë blink, maar sy knip hulle vinnig. Sy soen Jaz vlugtig op die wang en met ’n “Soet wees!” en ’n knipoog is sy weg.

      Die meeste jongmense vat ’n gap-jaar om hulself te probeer vind, dink Jaz terwyl sy met kurkdroë oë deur paspoortbeheer beweeg, maar nie sý nie. Sy wil haarself hierdie jaar totaal en al verloor.

      Heathrow-lughawe is nie so indrukwekkend soos wat Jaz verwag het nie. Waar is die celebs, die sexy internasionale reisigers en modieuse jongmense? Almal lyk vir haar maar afgemat en glansloos so vroeg in die oggend.

      Sy staar na die aanwysingsborde. Waar is die moltrein – die bekende Tube – wat direk na Wimbledon ry? Sy haal haar iPod-oorfone uit; miskien sal dit haar konsentrasie verbeter. Maar die mengelmoes van vreemde aksente en die uitroepe van mense wat geliefdes herken terwyl hulle deur die elektroniese skuifdeure beur, bemoeilik sake aansienlik. Sy sug. Dalk moes sy vir Moeder geluister het. Sy sou beslis nie gekla het as ene Deidre nou met ’n naambordjie in die aankomssaal verskyn het nie.

      Jaz besluit om eers ’n koppie koffie te koop en ’n plek te soek om te rook. Sy vrek vir ’n sigaretjie! Of wat noem die Engelse dit? ’n Fag. Sy vrek nou vir ’n fag.

      Sy trek die handvatsel van haar bagasietas uit en druk ongeduldig deur die swetterjoel mense na ’n koffiewinkel in die hoek. Costa, sê die naam teen die muur. Fantasties. Jess het haar vertel van Costa se wonderlike

Скачать книгу