Bambi en die boef. Anita du Preez

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bambi en die boef - Anita du Preez страница 5

Bambi en die boef - Anita du Preez

Скачать книгу

kraalogies. Skielik onthou sy: Sy kos is gedaan. Dit gaan nie ’n goeie Sondag wees nie. Sy gaan pluk ’n voos T-hemp en jeans aan om kafee toe te hardloop.

      Dit is eers toe sy daar uitstap met die tweepersentmelk en die pak voëlsaad onder die arm dat sy die stapel Engelse koerante by die deur raaksien. Sy vat tog maar een en gaan terug toonbank toe.

      Toe sy uiteindelik met haar koffie en twee van haar ma se beskuite op die rusbank nesskop, vou sy die koerant oop. Die kleurfoto onder die vou op die voorblad laat haar bloed stroomop deur haar are kook en iewers agter haar oogbolle opdam asof dit uitkomplek soek. Dis waarvan Margaret gepraat het.

      Bambi pronk lewensgroot styf langs Louis die Rampokker in sy mafia-outfit, en om alles te kroon lyk sy meer as in haar skik om daar te wees! Die foto is geneem in die sekondes net nadat die vent haar gesoen het, en haar hele lyf is na hom gedraai, met haar gesig blote sentimeters van syne af. Boonop is haar een been na agter opgeskop in die argetipiese kokethouding, en die wind lig die pers rok om oorgenoeg van die betrokke been te wys. Enige oningeligte wat dié foto sien, sal geensins daaraan twyfel dat sy dolgelukkig en reddeloos verlief is op die man nie. As Bambi nie geweet het dis sy self nie, sou sy óók so gedink het.

      “Cheap-cheap,” verbreek Napoleon die stilte met ’n dubbele aflewering van die enigste woord in sy woordeskat.

      “Dit kan jy weer sê,” fluister Bambi flou, en sy lees die onderskrif met ’n kloppende hart.

      Stud Louis van Breda and his gorgeous filly Bambi le Roux living it up on the ramp at the J&B Met on Saturday. Van Breda and his partner nabbed the prize for best-dressed couple, an all expenses paid trip for two to Mauritius. More pictures on page three.

      Bambi wens die aarde wil oopskeur en haar met rusbank en al insluk. Sy val agteroor teen die leuning en trek ’n kussing oor haar kop, vuurwarm in die gesig.

      Sy moet daagliks voor klasse staan en vir studente oor sake-etiek predik. Hoe kan hulle ná dese enigiets glo wat sy kwytraak, as sy breed in die koerant staan en flikflooi met ’n berugte skelm? En nogal vakansies beplan saam met hom! Hoe sal hulle ooit weer respek vir haar hê ná hulle dié flerriefoto gesien het? En dit terwyl sy so hard gewerk het om die regte beeld te skep. Haar altyd onberispelik gedra, kuise korporatiewe pakkies aangeskaf én haar swartraambril pal gedra. Alles om haar natuurlike blonde wulpsheid en die verspotte bokkiebynaam uit haar universiteitsdae te neutraliseer. Vir haar studente is sy me Hermien le Roux. Hierna sal sy seker bekend staan as Bambi die Bimbo!

      Wat haar die meeste bekommer, is die groepie studente wat moeilikheidmakers is. Hardebaard-mannetjies soos Chad Williams, wat met die kenmerkende gangster-swenkstappie loop en hul denims laag op hul sitvlakke dra. Sy het van dag een af besef dat sy hulle met respek en deernis moet behandel om te verseker dat hulle haar sal respekteer, aangesien baie van hulle vinnig moes grootword onder bitter omstandighede. Hulle moes hardegat houdings aanleer om te oorleef. Dis met hulle wat sy nou nóg meer gaan sukkel, want hulle ruik valsheid vinnig uit en hierdie foto gaan hulle beslis laat twyfel aan haar integriteit. Sy het só hard probeer om ’n perfekte rolmodel vir hulle te wees. En nou dít?

      En wat van Bertus? Om van haar ouers se reaksie nie eens te praat nie! Nee wat, sy kan netsowel nou ’n tjap op haar boud laat aanbring: goedkoop loskopdolla. Nee, nog erger, dom blonde goedkoop loskopdolla. Selfs haar hoop om eendag haar droomman te vind is nou seker na die maan. Watter man van inbors sal iemand wat lyk soos wat sy op daai foto lyk, ooit ernstig opneem?

      Sy vertroetel vir koorsagtige oomblikke die idee om elke koerant by elke kafee op elke straathoek te gaan opkoop.

      Skielik is sy smoorkwaad. Sy smyt die kussing van haar weg en begin ’n woedepaadjie loop op haar Persiese tapytjie, op en af. Hierdie gemors is ongetwyfeld Margaret se skuld, niemand anders s’n nie! As dit nie vir Margaret was nie, sou sy nooit – haar landlyn lui.

      “Wat!” antwoord sy.

      Die persoon aan die ander kant runnik nes ’n perd. Bambi hoor ’n gegiggel op die agtergrond.

      “Kyk, Harold,” sis Bambi, “as jy jou lewe liefhet …”

      “Goeiemôre, gorgeous filly,” proes Harold.

      “Harold, ek gaan nou hierdie foon neersit en dan gaan ek na jou huis toe kom en –”

      “Moenie jou aan hom steur nie, Bambi,” praat Margaret in die telefoon, “hy is sommer simpel. Ek dink dis fabulous. Veels geluk! Dit beteken ons –”

      “Gmf!” sê Bambi en plak die foon neer.

      Dit lui feitlik dadelik weer.

      “Kry end, Harold!” gil Bambi.

      “Is dít nou hoe beroemde mense deesdae hul ma groet?”

      “O, hallo, Ma,” sê Bambi, bedees van skrik, “ek dog dis, uhm, Harold.”

      “Maar baie geluk, my kind. Ek sê mos lankal jy moet bietjie meer vroulik aantrek. Jy lyk pragtig op die foto.”

      “Bly Má dink so,” brom Bambi.

      “Is jy dan nie bly nie? Ek dog jy sou in jou skik wees met die vakansieprys. Hoe dan nou, my kind?”

      “Nee, niks, Ma. Ek’s net moeg.” Haar ma hoef nie te weet hoe die vurk regtig in die hef steek nie. Hoe minder sy weet, hoe beter. Anders wroeg sy weer. Magda le Roux is ’n kampioenwroeger.

      “Eet jy reg, kind? Jy lyk maer. Dalk moet ek vir jou van daardie tonic kry wat die apteker self meng.”

      “Ek is fine, Ma. Belowe.”

      Daar is ’n kort stilte.

      “En die man op die foto? Is daar iets tussen julle? Het jy dan nie laas nog gesê dinge kom dalk na ’n kant toe met jou en Bertus nie?” Een van Magda se grootste wroeginge is dat haar dogter nooit geholpe gaan raak nie.

      “Nee, Ma.”

      “Nee wat? Hy is vreeslik aantreklik, of wat sê ek? Tannie Moira sê hy lyk amper nes daai een akteur wat James Bond gespeel het … wat is sy naam nou weer?”

      “En toe?” praat Bambi se pa se diep stem skielik in haar oor. Hy het die gewoonte om sommerso die foon by haar ma oor te vat.

      “Hallo, Pa.”

      “Watse vreemde man is dié wat jy so in die koerant mee flankeer, Hermien? Waar is Bertus dan?” Herman le Roux draai nie doekies om nie. Boonop sal hy vir ewig dink Bambi is nog twaalf.

      “Sommer iemand wat ek ken, Pa. Niks om oor te praat nie.”

      “Wees maar in jou pasoppens, my kind. Hy lyk vir my altevol na ou Niklaas van Breda wat destyds vir die stadsraad gestaan het, en vir hom kon jy net vertrou so ver as wat jy hom kon gooi.”

      “Ontspan, Pa. Ek en die man het bloot toevallig voor die kamera beland. Daar is absoluut niks tussen ons nie.”

      “Gmf,” sê Herman, “jy het darem ’n goeie kop op jou lyf. Ek glo jy sal dit gebruik.”

      “Ja, Pa.”

      “Nou ja, dan groet ek maar, my kind. Jou ma sê ook totsiens.”

      “Baai, Pa,” sê Bambi,

Скачать книгу