Stiletto. Karin Eloff

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Stiletto - Karin Eloff страница 5

Stiletto - Karin Eloff

Скачать книгу

dat my pa ons bad en ek onthou hoe sagkens hy met my en my sussie gewerk het. As hy my nat hare moes uitkam, het hy dit nooit getrek nie. Dit was ongelooflik belangrik; hy’t my nooit seergemaak nie.

      Die volgende man op wie ek smoorverlief geraak het, was die Amerikaanse popsanger Donny Osmond. Ek was daarvan oortuig dat ek eendag met hom sou trou, al het hy in Amerika gebly. Asof dít nou saakgemaak het! My liefde vir hom het my laat glo dat ek tot alles in staat was – selfs al moes ek soontoe swem. Ek het onderhoude met myself begin voer in my kamer oor my verhouding met Donny, waarin ek Engels met ’n Amerikaanse aksent probeer praat het. Die res van die gesin het agter die toe deur gestaan en lag vir my. Hulle het seker gedink dis oulik en skreeusnaaks. Ek was goed bek-af toe ek uitvind. Hoe kón hulle vir my lag? Sies.

      Alles is gedoen wat met ons gedoen moes word: My ma het ons gereeld tandarts toe gevat, daar’s saans vir ons stories gelees en ons is goeie maniere geleer. Ek het nie eens één keer in my broekie gepiepie nie, sover ek kan onthou. Toe ek in graad een was, het my ma besluit ek moet klavierlesse neem. Dit sou my dissipline leer, my diepliggende musikaliteit ontgin, verfyn en poleer. My nader aan Donny Osmond bring …

      Ek het nie vir dáái een geval nie, maar nogtans ingestem. Ek het tot in graad sewe met die klavier deurgedruk – lank nadat my Donny Osmond-fase so oud en deurgelees soos laasweek se Huisgenoot was. Ek het gevorder tot op die vlak van graad vyf met Unisa se praktiese eksamens. Ek het ook viool gespeel tot op die vlak van graad drie. (En nee, dit het nie soos ’n martelende tandetrekkery geklink nie.)

      Toe die tienerjare my soos ’n bolhamer tref, wou ek natuurlik niks meer van dié klassieke kak weet nie – dit was so uncool soos bril dra of etterpuisies op jou voorkop. My ma-hulle het my verseker dat ek eendag bitter spyt sou wees indien ek ophou, maar my redenasie was dat ek dit altyd later as ’n volwassene sou kon hervat as ek wou. (Verlede jaar, toe die gogga my wragtig weer byt, het ek besluit: Now for something similar, but completely different. Ek speel nou tjello.)

      Ek moet sê ek het op laerskool in fact sulke goeie maniere gehad dat ek eenkeer sommer my hand opgesteek het om vir die juffrou te vra of ek elders in die klas kon gaan sit omdat ek nie langs ’n dom seuntjie wou sit nie.

      Hoe het ek geweet hy was dom?

      Sommer. Hy wás net. Dit was mý besluit.

      Ek hét mos asseblief gesê, juffrou …

      My ma het in die Montessori-onderwysmetode geglo, en daar was nie daai tyd baie sulke kleuterskole nie. As gevolg daarvan was ek nooit in ’n kleuterskool nie. Toe ek in graad een kom, het ek glad nie die rympies geken wat die ander kinders reeds in die kleuterskool geleer het nie, maar ek kon skryf en lees. My ma het my nie gedruk om soos ’n baba te skryf nie, dus kon ek goed skryf, maar ai – my handskrif was lelik; daar was niks soos netjies sag op en hard af met die potlood by my nie. Dit was seker meer van ’n gekrabbel, want niemand kon dit lees nie. Ek het graad een toe amper gepluk omdat ek nie die simpel kleuterskoolrympies geken het nie en omdat my handskrif gelyk het asof ’n dronk spinnekop in ink geval en al struikelend oor ’n bladsy geskuifel het.

      In graad twee het ek my eerste pak slae in die skool gekry. Ek het “Johannesburg” met twee J’s gespel. Die juffrou wou weet of ek probeer snaaks wees, maar ek kon nie verstaan wat sy bedoel nie. Later daai jaar het ek haar telraam gebreek en amper ’n maagsweer daaroor ontwikkel. Ek wou nie stout wees nie; ek wou alles net-asseblief-tog reg doen. Soet kinders gaan mos eenvoudig makliker deur die lewe. Almal kon dit mos sien. Niemand hou van ’n ongeskikte, lui kind nie.

      In graad vier moes ons vir die ouens op die grens briewe skryf as deel van een of ander projek, en hulle het selfs vir ons teruggeskryf. Ek het geen idee gehad wat op die grens aangaan of dat die ouens vir wie ons geskryf het by geleentheid doodgeskiet of opgeblaas is nie. Ek onthou net hoe teleurgesteld ek was omdat ek gereken het dat die ou wat vir my teruggeskryf het nie baie goed kon spel nie.

      Ek het selfs onderhoofmeisie van die laerskool geword.

      Wil jy nou meer.

      My ma was baie streng met ons en het nie toegelaat dat ek my beenhare skeer of sykouse dra nie. Die seuns het my dikwels gespot oor my lang beenhare. Dit was verskriklik. Sykouse was totally die in-ding toe ek in graad sewe was. Jy was regtig hipercool as jy sykouse gedra het. Ek onthou dat ek briewe vir my ma geskryf het waarin ek haar behoorlik vir ’n paar sykouse gesmeek het, maar sy wou niks weet nie.

      Vroeg ryp, vroeg vrot, was haar mening. Daar was dus nie hoop vir my nie, het ek gedink.

      Maar die hoop beskaam nie. Een Saterdagmiddag in graad sewe het ek in die bad gesit. My sussie, wat toe al in die hoërskool was, het by die badkamer ingevlieg en vir my ’n skeermes deur die lug gegooi voor sy weer daar uit is.

      Jis, thanks, het ek gedink – maar wat de fok nou? Ek was baie opgewonde, maar het nie ’n idee gehad wat om presies volgende te doen nie. Hoe skeer ’n mens beenhare? Ag, wat. Hoe moeilik kan dit tog wees?

      Toe skeer ek sommer alles af, die helfte van my vel inkluis. Ek het soos ’n padongeluk gelyk, maar was ekstaties gelukkig: die seuns sou my nie meer spot nie. Uiteindelik was ek méér as net ’n koek en ’n akademiese wrak; ek was ’n koek én ’n akademiese wrak met gladde bene. En skraapmerke.

      Daar was darem een of twee seuns in die laerskool wat van my gehou het. In graad sewe het ek aan die skool se operette deelgeneem en verlief geraak op Tiekie die Nar. Ons is toe gekys. Hy’t vir my ’n klein, rooi satynhartjie gestuur via Mienkie, die skooltert. Ek het nie veel gedink van hierdie kys nie. Ons het dan nie eers met mekaar gepraat nie! Kommunikasie was regtig ’n probleem. Watter kys het ’n kans gestaan as ’n mens net skaam-skaam loer? Wat was die knaap se probleem?

      Mienkie was my verhoudingsraadgewer. Haar raad aan my was: “Sê net vir hom jy’s gatvol vir hom – dis al.”

      Die kys is toe uit.

      Toe’s ek met ’n ander outjie gekys wat vir my pouses groen Super M-melkskommels gestuur het. Dit was cool en alles, maar weer eens het die gebrek aan kommunikasie my gepla. Ten minste was die Super-M’s ’n beter deal as simpel satynhartjies. Ek het van sy praktiese aanslag gehou.

      Sondae het ons kerk toe gegaan, katkisasieklasse geloop, koerant gelees en gebraai, soos wat die meeste voorstedelike Afrikaanse gesinne gedoen het (en nog steeds doen).

      In die hoërskool het ek stadig begin om myself te word. Dit was in die 1980’s. Teen die agtergrond van die Noodtoestand en die laaste stuipe van die Bosoorlog het alles oor politiek gegaan. My ouers was aktief by die politiek betrokke, Vrye Weekblad is gestig en daar was baie integrasiegroepies op skool om ons aan swart kinders bloot te stel. Omdat ek nie sport gedoen het nie, het ek by die politieke en kultuurorganisasies van die skool aangesluit.

      Graad agt was vir my ’n baie ongelukkige jaar. Ek was smoorverlief op ’n outjie met punk-hare en bad-ass maatjies. Hulle was waarskynlik vir die derde jaar reeds in graad agt. Hulle stemme het al gebreek. Hulle was dom, maar sexy – sommer omdat hulle ouer en jagser as die res van ons was. My hart het gebreek toe Die Punk aankondig hy en sy gesin trek Kaap toe.

      My storm en drange het my toe sommer genoop om van die huis af weg te loop. Ek het geglo my ma druk my akademies te hard en sy’t boonop durf dink Die Punk is tydmors. Ek het baie seergemaak gevoel omdat sy nie my liefde vir hom ernstig wou opneem nie.

      Die hele skool het uitgevind ek het weggeloop, want ek het – wait for it – skóól toe weggeloop.

      Moenie lag nie. Dit was erg.

      Ek het nie huis toe gegaan die middag ná

Скачать книгу