Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie

Скачать книгу

sy vir hóm gewillig sou gaan lê. Hy het iets in haar wakker gemaak wat geen ander man nog ooit kon regkry nie. Hy het haar nie gesien nie; hy was te besig om met een van die ander jong meisies te gesels.

      Amelia het duidelik geweet dat sy hierdie man wil hê, verkieslik vir altyd, maar sy sou ook tevrede wees met slegs een nag van passie. Sy het gebloos vir haar gedagtes. En sy, wat met ’n afgewende, blosende blik gereageer het as ’n man net vir haar kyk, het iewers vandaan die moed bymekaargeskraap en na hom geloop.

      “Haai! Ek is Amelia, jy wil vir my vreeslik bekend voorkom. Ken ons mekaar?”

      Hy het sy kop stadig na haar gedraai, ’n frons tussen sy mooi oë, en ’n glimlag het oor sy gesig gesprei. “Ek is Gert. Ek ken jou, ja. Ons was saam op skool. Ek was ’n jaar of twee voor jou.”

      “Ek wou sê jy lyk bekend!” Sy het wragtig tóé gebloos, seker omdat sy so staan en lieg het, want sy kon Gert glad nie onthou nie. Hoe de donner was dit moontlik dat sy hóm nie onthou nie?

      “Doen my die eer aan en dans met my.” Hy het verspot voor haar gebuig, haar stewig aan die boarm gevat en na die dansvloer gelei, sonder ’n verdere blik na die blonde Barbie met wie hy gesels het.

      Sy en Gert het heelaand met mekaar gedans en gesels, terwyl Barbie dolke met haar oë na Amelia gegooi het. Teen die einde van die aand was sy tot oor haar ore verlief. Drie maande later het hulle begin trouplanne maak. Sy het vir haarself ’n droom geskep, aangevuur deur Gert se amper kinderlike vreugde oor hul toekoms saam. Luilekker dae op die plaas . . . sy hoef nooit weer te werk nie . . . haar lewe gaan so rustig wees, net sy en haar donkerkopreus.

      Haar droom het mettertyd haar nagmerrie geword. Verveling kenmerk haar dae. Wat aan die begin hemels was, het hel geword. Nee, nou is sy onregverdig. Sy is steeds verlief op Gert, dalk nog meer as destyds, en sy het twee wonderlike kinders.

      Dis nie haar huwelik wat hel is nie, dis haar omstandighede. Sy wil gaan wérk. As sy beroepsgewys gestimuleer word, weet sy, sal sy ook vir Gert die vrou wees wat hy verdien. Nie die patetiese huisvrou wat sy nou is nie. As sy gaan werk, sien hy haar dalk weer raak, praat hy dalk weer met haar. Reik hy dalk weer snags na haar lyf . . .

      All you need is l♥ve

      Daleen se selfoon lui net toe hulle by die padstal instap. Hulle het die stalletjie anderkant Aliwal-Noord op pad Queenstown toe raakgery. Dis in elk geval onmoontlik om dit nié raak te sien nie: pers, blou, groen en rooi, met ’n groot naambord: Piet se plek. Biltong, droëwors, vars vrugte en yskoue koeldrank, belowe die kennisgewingbord verder.

      Daleen voel haar hart agter haar ribbes skop toe sy Jan se naam op die skermpie lees. Sy verskoon haarself en stap na die ry peperbome aan die ander kant van die padstal.

      “Jan . . .” Sy voel hoe haar asem in haar keel stol, sodat dit byna onmoontlik is om te praat. Sy is oombliklik vies vir haarself. Sy gedra haar soos ’n verliefde tiener, en só ken sy haarself nie. Sy het nog nooit so opgetree nie.

      “Het jy al tot ’n besluit gekom?”

      Sy hoor die ongeduld in Jan se stem, wil haar eers daaroor vererg, besluit dan om dit te ignoreer. Hulle het hierdie rusreis tot satwordens toe bespreek. Dis háár tyd hierdie. Saam met háár vriendinne, sodat sy tot ’n ingeligte besluit kan kom. Sy gaan haar nie laat aanjaag nie.

      “Nee,” antwoord sy, sonder enige verdere verduideliking.

      “Ek wens jy wil. Dis eensaam sonder jou.” Die versugting is hoorbaar.

      “Ek wil ’n deurdagte besluit neem, nie ’n oorhaastige besluit wat op hormone gegrond is nie.”

      “Hoe ver is jou pro/con list?”

      Daleen hoor die lag agter die woorde. “Moenie met my formule spot nie, jy weet dit werk,” lag sy ook.

      “Daleen, daar is nie nadele aan verbonde nie.”

      “Hoekom is nadele dan al wat ek sien?” Sy hoor die wanhoop in haar stem, sluk hard in ’n poging om haar stem neutraal te hou. “Ons gaan verantwoordelik wees vir die opbreek van ’n huwelik. Jóú huwelik. Ons gaan ’n kind ontwrig. Jóú kind. Te veel mense gaan seerkry as gevolg van ons.” Darius, haar pasiënte, haar vriende – ’n bose kringloop, voeg sy in haar gedagtes by.

      “Wanneer laas het jy aan jouself gedink? Jy’s altyd bekommerd oor wat ander gaan dink. Dink jy nie dis tyd dat jy jouself eerste stel nie?”

      “Ek het myself eerste gestel toe ek hierdie hopelose verhouding met jou begin het,” sug Daleen. “Toe het ek net aan myself gedink. En kyk waar is ons nou. Nie weer nie, nie dié keer nie. Ons moet ander se gevoelens ook in ag neem.”

      “Ek het aangeneem jy’s lief vir my.”

      “Ek is. Maar soms is selfs liefde nie genoeg nie.”

      “All you need is love . . .”

      “Jan . . .”

      “Ek is moeg om ’n leuen te lewe. My huwelik was nog altyd een groot, vet lieg. Ek gaan hierdie huwelik beëindig, dit sweer ek, wat jou besluit ook al is. Ek het gehoop dat ons saam ’n nuwe begin kan maak.”

      “Hoekom kan ons nie maar net aangaan soos nou nie? Niemand weet nie, niemand kry seer nie.”

      “Van een leuen na ’n ander? Nee, Daleen, nie weer nie.”

      Hulle groet en lui af, niks nader aan ’n oplossing nie. Twee mense wat mekaar liefhet. Wat bymekaar hoort, maar as gevolg van omstandighede nie naby mekaar gesien mag word nie.

      Daleen staar vir ’n oomblik oor die veld, na die berge, die spitse in die verte spierwit van die sneeu. ’n Pragtige gesig – iets soos dit sou sy graag met Jan wou deel.

      Sy plak ’n glimlag op haar gesig. Haar vriendinne mag haar nie só desperaat sien nie.

      Drie Janne

      Karien en Amelia loop by die padstal uit, hul arms gelaai met pakkies. Gewoontes is vieslike goed, dink Karien terwyl sy na die pakkies in haar hande kyk. Sy het onbewustelik al Dawid se gunstelinge gekoop: biltong en droëwors, die konfyte waarvan hy die meeste hou.

      Daleen kom aangestap na hulle, ’n glimlag so breed soos die Oranjerivier op haar gesig.

      “Julle al klaar? Gee my so ’n paar minute.”

      Sy kyk na die man wat in die deuropening verskyn. “Hallo! Jy moet Piet wees, ek’s Daleen.” Sy skud sy hand entoesiasties. “Pragtige plek wat jy hier het!”

      Karien skud haar kop stadig. Sy het haar nog altyd verwonder aan die gemaklike manier waarop Daleen met vreemdelinge kommunikeer. Sou hulle dit vir mediese studente as vak aanbied? Iets soos: “Hoe om met vreemdelinge te gesels.” Nee, dalk eerder: “Oorkom jou skuheid.”

      “Daleen het darem ’n breë glimlag,” merk Amelia onderlangs op.

      “Dis vandat sy daardie geheimsinnige oproep gekry het,” knik Karien en hou Daleen uit die hoek van haar oog dop terwyl sy druk in gesprek met Piet is. Waaroor sou hulle praat, die weer?

      “Weet jy van wie die oproep was?” vra sy vir Amelia terwyl hulle hul pakkies in die viertrek laai.

      “Jan.”

Скачать книгу