Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie

Скачать книгу

gedek. Meer begrafnisse as huwelike, dink sy wrang. Nie omdat sy nie beter werk kon kry nie, maar omdat sy graag na haar tuisdorp wou terugkeer.

      Haar pa was toe al afgetree, maar besiger as ooit. Hy het in bykans elke komitee gedien, en was nog tot sy dood baie aktief by die skool betrokke. Hy is al amper drie jaar dood, dink sy verras, soms voel dit nog soos gister. Sy het nooit, soos so baie ander skoolhoofde se kinders, hand uitgeruk net om haar pa te wys nie. As sy reg onthou, het hulle nie eintlik probleemkinders in die skool gehad nie. Want haar pa was regverdig . . . goed.

      As enigste kind was sy nog baie afhanklik van haar ouers – dis hoekom sy Sandfontein se koerantjie bo ’n glanstydskrif verkies het. Seker ook omdat sy gedink het dat sy die koerant tot groter hoogtes kon neem. Die vermetelheid van die jeug, darem . . . Tog was sy nooit spyt oor haar keuse nie, want sy was gelukkig met haar beskeie werksomstandighede.

      Sy het een oggend opgestaan met die allerverskriklikste tandpyn, en ’n week lank met die pyn probeer saamleef omdat sy ’n fobie oor tandartse het. Dit bly eienaardig dat sy met haar tandartsfobie toe halsoorkop vir een geval het. Tot die oggend toe sy weer, ná die eerste mond vol van haar ma se saggekookte eier, inmekaargekrimp het van die pyn.

      “Ek het gister vir jou ’n afspraak by die nuwe tandarts gemaak,” het haar ma doodluiters gesê. “Jy loop nou al ’n week met ’n dik bek rond. Gaan vanoggend spreekkamer toe en kry dit agter die rug. Pyn verdwyn nie omdat jy dit ignoreer nie.”

      Met haar hand nog steeds beskermend om haar mond gevou, het sy grootoog omgedraai. “Wat het van dokter Maritz geword?”

      “Hy is mos pas op pensioen. Twee jong tandartse het sy praktyk gekoop; hulle het laas week begin. Ek het vir jou ’n afspraak by dokter Du Plessis gemaak, die mooier een van die twee. Ek moes ou Elisa se arm behoorlik draai om vir jou plek te kry by hom. Die ander tandarts het plek gehad, maar hy is nou regtig nie iets om na te kyk nie.”

      “Ma het vir my ’n afspraak by hom gemaak omdat hy aantreklik is?” het sy verstom gevra. “Ma, as jou tand seer is, gee jy nie om of ’n trol dit stop nie!”

      “Jy het nog nie vir Dawid du Plessis gesien nie! Selfs ek moet erken dat hy my knieë lam maak, en jy weet mos dis net jou pa wat dit nog ooit kon regkry.”

      Haar ma was reg. Een kyk in Dawid se blouer-as-blou oë, en sy was verlore. Soos in ’n goedkoop liefdesverhaal, dink sy wrang. Sy het hom ge-“dokter” toe sy daar in is, ’n uur later was hy Dawid, ’n paar maande later was hy haar verloofde, na nog ’n paar maande was sy swanger met Ronel en kort daarna was sy mevrou dokter Du Plessis.

      Wie weet of sy met hom sou getrou het as sy nie saam met hom in die bed gespring en swanger geword het nie . . .

      Dalk was dit die enigste keer dat sy haar pa teleurgestel het, mymer sy. Hy het nooit van Dawid gehou nie, het ook nie regtig probeer om dit weg te steek nie. Hy was vriendelik genoeg met hom, maar altyd op ’n afstand.

      Avontuurliker

      Amelia kyk glimlaggend na Daleen toe sy haar oë lui oopmaak en haar arms bo haar kop strek.

      “Rise and shine, sleeping beauty! En hier dog ek ek’s die enigste een wat in die dag slaap.”

      “Ja, toe, moet dit nie invryf nie,” gaap Daleen. “Waar is ons?”

      “Welkom, skone dame, by Aliwal-Noord,” sê Karien droog.

      Amelia volg Daleen se blik na die brug waaroor hulle ry, die skeiding tussen die Vrystaat en die Oos-Kaap. Die Oranjerivier vloei in ’n kolkende massa onder die brug deur. Vir ’n oomblik staar sy verstom daarna. Dis ’n vreemde gesig in die winter, aangesien die gebied in ’n somerreënstreek val.

      “Wat maak ons in Aliwal-Noord? Moes ons nie in Burgersdorp wees nie?” vra Daleen.

      “Ons het besluit Burgersdorp lyk darem te veel na Sandfontein, te depressing,” sê Karien. “Die ry deur die dorp was genoeg, nou kan ons ook sê ons was al daar.”

      “En ek wou by die kuns-en-stokperdjiewinkel in Aliwal-Noord uitkom,” sê Amelia. “Hulle het blykbaar die mooiste goed. Julle kan my daar aflaai terwyl julle supermark toe gaan. Onthou net om vir my sigarette te koop.”

      “Het ek nog nie genoeg vir jou gepreek oor daardie slegte gewoonte nie?” raas Daleen.

      “Askies, dokter, maar dié kankerstokkies is al wat my nog so te sê normaal hou. So, los my en my vieslike gewoonte uit. Ek moet ook dringend tekkies kry, so ons moet asseblief by ’n sportwinkel stop.”

      “Dis nie ’n slegte plan nie,” beaam Karien. “Soos Daleen ons laat stap, sal ek ook ’n paar gemaklike skoene moet kry.” Sy kyk vinnig op haar polshorlosie. “Dis amper vieruur, jy het ’n uur voor die winkels sluit,” waarsku sy Amelia toe hulle voor die kunswinkel stilhou.

      Toe hulle haar later daar kom oplaai, staan ’n glimlaggende Amelia en wag met pakkies boepens gelaai met inkopies.

      “Soos ’n kind op Kersdag,” mompel Karien terwyl Amelia haar pakkies in die kattebak laai. “Haar kinderlike opgewondenheid maak my soms naar!”

      Daleen knik instemmend. Soms is Amelia se entoesiasme vir haar stokperdjies net te oorweldigend.

      “Genade, ek het die mooiste goed gekry!” sê Amelia toe sy inklim. Toe sy geen reaksie kry nie, vervolg sy: “Ek het die oord buite die dorp gebel en sommer vir ons plek bespreek. Daleen, vat so, dalk kan jy my kriptiese aanwysings beter verstaan as ek. Iets ruik lekker!”

      “Ons het pizzas vir middagete gekry,” sê Daleen terwyl sy die stukkie papier aanvat.

      “Gesónde pizzas,” skerm Karien, “met baie groente en min vleis.”

      “Bestaan daar iets soos gesonde pizzas?” wil Amelia weet. “Onthou om gou by ’n sportwinkel te stop.”

      “Kom ons gaan swem,” sê Karien terwyl sy deur haar tas krap op soek na haar swembroek. Danksy Amelia se kriptiese aanwysings het hulle die oord maklik gekry. “Ons het oefening nodig ná daardie pizza.”

      “Is jy heeltemal gek?” roep Amelia uit. “Dis te koud!”

      “Hélkoud,” lag Daleen, en kry ’n verwytende kyk.

      Karien rol haar oë dramaties. “Warmwaterbron, Amelia, die klem val op wárm.”

      “Dit gaan nog steeds te koud wees. Julle kan swem, ek sal kyk.”

      “Tipies Amelia,” sê Daleen, haar blik tergend. “Altyd die toeskouer, nooit ’n deelnemer nie.”

      Amelia gluur haar verontwaardig aan, maar weier om op die aanmerking te reageer.

      Hulle stap af na waar die bordjies aandui die bron moet wees.

      “Dit ruik na méns hier binne,” sê Amelia en trek haar neus fyntjies op toe hulle die deur oopstoot en binnestap. Daar hang inderdaad ’n aardige reuk in die lug. Hulle is verstom om ’n jong paartjie in ’n vurige omhelsing in die water aan te tref. Karien kug hard, sodat hulle vervaard uitmekaarspat en verleë na die drie stuks staar.

      “Oeps!” roep Karien gemaak verskonend uit, haar hand voor haar mond.

      Amelia gaan

Скачать книгу