Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie

Скачать книгу

besluit Amelia, “ek neem ons almal saam af.”

      Dankie tog vir tegnologie en ’n slim seun wat die werking van die self-timer op haar nuwe digitale kamera vir haar verduidelik het, dink Amelia toe sy die kamera op ’n omgevalle boomstomp staanmaak en die knoppie druk.

      Sy gaan tussen Daleen en Karien staan, hand om die lyf, elk met ’n groot glimlag.

      Jare later sou dit nog haar gunstelingfoto bly. Hulle drie saam, onbewus van wat in die ander se gemoed aangaan. Die wind duidelik te sien in die branders op die dam, in die takke wat om hulle wieg, in hul windverwaaide hare. Vriende met geheime, maar vriende vir altyd.

      Apartheid in reverse

      Die terugtog teen die wind laat hulle skreeuend van die lag aan mekaar vasklou, hul monde wyd oop, die klank weggewaai deur die wind. Dit neem hulle baie langer om weer by die rondawel te kom.

      Daleen en Karien staan, elk met ’n koppie stomende koffie, bibberend van die koue hulle beurt en afwag om onder die warm stort in te spring.

      Dis ná twee toe hulle warm genoeg voel om die pad aan te durf. Middagete het bestaan uit een van Amelia se voorafbereide etes wat hulle in die mikrogolf ontvries en opgewarm het.

      “Ek sal bestuur,” bied Karien aan terwyl hulle die bagasie in die viertrek laai.

      “Ek moet erken, ek is nou lekker lui,” gaap Amelia terwyl sy die agterdeur oopmaak en inklim. “Julle weet mos ons boervrouens is gewoond daaraan om so ’n ou snoozie ná middagete te vang.”

      “Geen wonder nie, ná daardie groot ete van jou trek selfs mý oë toe,” gaap Daleen saam en oorhandig die sleutels aan Karien.

      “So, ek mik vir Burgersdorp?” vra Karien toe sy die viertrek aanskakel.

      “Burgersdorp is die logiese keuse,” knik Daleen, “ons kan vanaand daar oorslaap.”

      Sy lê terug teen die sitplek en laat toe dat die gerusstellende gedreun van die kragtige enjin haar sus. Wat gaan sy doen? Wat is die regte ding om te doen? Daar is ’n fyn lyn tussen reg en verkeerd, het haar pa gereeld gewaarsku. Wat vir die een persoon reg is, is nie noodwendig vir iemand anders reg nie. En die lewe het haar geleer dat die grys gebied tussen wit en swart soms baie breed is.

      Wat gaan haar twee dierbare vriendinne, wat sy al ’n ewigheid ken, van haar dink as die waarheid eendag uitkom? Want die waarheid kom altyd uit. Eendag, iewers wanneer jy dit die minste verwag, bars die bom, en dan sit jy met die gebakte pere.

      Daleen kry lag vir haarself. As haar Afrikaans-onderwyser haar nou kon hoor!

      Sy loer onderlangs na Karien. Sou sy regtig vanoggend gehuil het? Soos Karien nou daar sit, meerkatregop agter die stuurwiel, oë stip op die pad, lyk sy só weerloos dat Daleen die impuls moet onderdruk om haar styf teen haar aan te trek en alles wat verkeerd is in haar lewe reg te maak.

      As sy maar net kon, sug sy innerlik, as sy die vermoë gehad het om wonders te laat gebeur. Maar hoe kan sy Karien help as sy self nie eens ’n eenvoudige besluit kan neem nie? Nee, sy gaan nie nou daaraan dink nie. Ondervinding het haar geleer: hoe minder jy aan ’n probleem dink, hoe makliker kom die oplossing.

      Sy loer weer na Karien. Sy is bereid om ’n jaar se inkomste te verwed dat wat ook al met Karien fout is, met Dawid te doen het. Wat het Karien met Dawid laat trou? Was dit bloot haar ontydige swangerskap? Tog, Karien was nooit konvensioneel nie. Sy het nog nooit toegelaat dat haar Calvinistiese wortels haar lewensloop bepaal nie. Dalk is sy regtig lief vir Dawid.

      Karien is die een mens wat Daleen geglo het haar drome sou najaag ná skool. ’n Dromer, ’n gebore skrywer. Sy het op skool nie juis oorgeloop van selfvertroue nie, maar sy was ook nie skaam nie. Sy sou ’n skrywer word, het almal voorspel, ’n beroemde skrywer. Daardie droom het nooit waar geword nie. Karien se verweer is dat sy nie goed genoeg is nie, terwyl Daleen vermoed dat die teendeel eerder waar is.

      Karien se enigste swakheid is dat sy haar nog altyd te maklik laat ompraat het. Dat sy moeilik “nee” sê. Kan dít die rede vir haar huwelik wees? Is Dawid só glad van mond dat hy Karien in die huwelik kon inpráát? Dawid . . . daar is nou ’n goeie voorbeeld van die wortel van alle kwaad. Die Sandfonteiners kan tot vandag nie uitgepraat raak oor die pragtige Du Plessis-paartjie nie, want ja, Dawid ís ’n mooi man.

      En hy het sy duim stewig op Karien se kroontjie. Hoekom sién sy dit nie? Karien maak soos hý maak, drink wat hý drink, eet wat hý eet. Dis nie hoe liefde moet wees nie, dink Daleen. Is liefde nie juis vryheid om jouself in ’n verhouding te wees nie? Is liefde nie juis om jou maat se donkerste geheim te ken en hom of haar nogtans te aanvaar nie? Vir haar, weliswaar ’n buitestander, kom dit voor asof Dawid Karien slegs aanvaar omdat sy haar aan sy wil onderwerp het.

      Dalk is sy onregverdig, bespiegel Daleen, juis omdat sy nog nooit van Dawid gehou het nie. Sy vind hom te arrogant, te veel van ’n skoupou, beslis nie goed genoeg vir Karien nie. Karien verdien soveel beter. Sy sug onwillekeurig.

      “En as jy so sug?” vra Karien.

      “Ag, ek dink sommer . . . Is dit nie vir jou ook eienaardig dat ’n mens se gedagtes altyd so op loop gaan wanneer jy in ’n motor is nie?”

      “Weet ek dit nie! Dis wanneer ek die volgende vyf jaar van my lewe beplan.” Karien kyk oor haar skouer na waar Amelia oopmond lê en slaap. “Siestog, sy kan regtig nie sonder ’n snoozie nie. Ook maar lekker bederf!”

      “Gelukkig snork sy nie. En ek wonder of sy met jou sal saamstem oor die bederf.”

      “Hoe bedoel jy?”

      “Soms dink ek Amelia kan haar hare uit haar kop trek van frustrasie. ’n Mens kan ook net sóveel teepartytjies vir buurvrouens hou.”

      “Of stokperdjies hê,” stem Karien saam.

      Dis vir ’n oomblik stil; net Amelia se diep asemhaling is hoorbaar.

      “Is jy gelukkig?” vra Daleen, haar blik voor haar op die pad.

      “Natuurlik! Hoekom sou ek nie wees nie?”

      Daleen sug innerlik. Karien se antwoord was té vinnig, té passievol. Dit was net so goed soos ’n erkentenis dat alles nie pluis is nie. Sy plaas haar hand op haar vriendin se skouer en is, ten spyte van haar vermoedens, verbaas toe sy Karien hoor snuif.

      “Ek’s fine, regtig,” sê sy sag. “Hoekom probeer jy nie ook slaap nie?”

      “Slaap is net vir die onskuldiges,” sug Daleen. Karien sal haar wel vertel, op haar eie tyd, weet sy.

      “Onskuld is soms net ’n verskoning vir onnoselheid.”

      “En ek was nog nooit onnosel nie.”

      “Presies,” sê Karien.

      Daleen draai haar só dat haar rug na Karien wys en maak haar oë toe. Slaap sal sy tog nie kan nie, sy dink sy het laas as tiener in die dag geslaap. Maar niks keer haar om te dínk nie.

      Sy het Karien leer ken as vyfjarige, toe hulle albei bedremmeld by die kleuterskool opgedaag het. Haar eerste indruk van Karien was dat sy die mooiste dogtertjie in die hele wêreld moet wees. Pragtige lang, donker hare en die donkerste oë. En haar klere! Sy het nie, soos

Скачать книгу