Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie

Скачать книгу

die yskas nie, behalwe nou die bier en katkos. Ek was nie honger genoeg om winkels toe te ry of katkos te eet nie. Toe drink ek maar die bier. Ek was nogal bang my pasiënte ruik dit.”

      “As ek dan nou moet sê,” sê Karien, “het ek eenuur gister voor die skool gewag vir die kinders om uit te kom, hulle het nie gister sport gehad nie. Ek dink ek het ’n meat pie geëet.”

      “En ék was soos gewoonlik besig om getrou kos op te skep. Ons eet mos elke ete aan ’n gedekte tafel,” sê Amelia.

      “Wat Maria dek, ja,” sê Daleen, steeds kouend aan haar hamburger.

      “Dit is so. Ek weet ek is vreeslik bederf met die twee huishulpe, maar dis nou maar soos Gert grootgeword het. Hy glo nie daaraan dat sy vrou haar hande in skottelgoedwater moet steek nie.”

      Dit raak stil aan die tafel, elkeen konsentreer op die laai van die vurk, die kou van die kos.

      Daleen kyk om haar rond. Dit ís rustig buite seisoen, soos Amelia opgemerk het. Buiten hulle drie is die enigste ander klante ’n ouerige egpaar, en ’n pa en ma met hul seuntjie. Terrible twos, dink Daleen geamuseerd terwyl sy toekyk hoe eers die ma en dan die pa sukkel om hul spruit sover te kry om te eet. Hy is meer geïnteresseerd in wat om hom aangaan as wat voor hom is, lag sy in haar enigheid.

      Lag met ’n traan, soos ’n donnerse nar, dink sy ’n bietjie jammer vir haarself. Sal daar ooit ’n tyd kom dat sy haar eie kinders teen haar bors sal vashou? Seker nie. Wat haar antwoord aan Jan ook al gaan wees, daardie voorreg is haar, Daleen Joubert, nie beskore nie. Sy verlang, besef sy. Sy verlang wragtig al klaar. Hoe is dit moontlik? Sy was nog altyd so goed daarmee om haar emosies te beheer. En nou, skaars tweehonderd kilometer weg van die huis, verláng sy.

      Sy kyk op na haar vriendinne, albei skynbaar diep ingedagte. “Is dit moontlik om nou al, skaars twee uur op die pad, te verlang?”

      “Dit is,” sê Amelia nadenkend. “Ek verlang klaar na Gert.”

      Sy’s eerder rasend van bekommernis oor Gert, vermoed Daleen.

      “Ek verlang nog nie na my kinders nie,” sê Karien kouend. “Seker omdat hulle in elk geval hierdie tyd van die dag nog by die skool is, besig met sport. Die verlange sal my wel tref wanneer dit drieuur word en ek hulle moes gaan oplaai.”

      “Verlange na my kinders is al so deel van my dat ek dit skaars meer registreer,” sug Amelia. “Ek háát koshuise.”

      Karien kyk opsommend na Daleen. “Hoekom vra jy? Na wie verlang jý dan?”

      Daleen reik na haar servet, vee haar mond onnodig lank af voor sy sê: “Jy weet daar’s niemand om na te verlang nie. Ek het slegs gewonder of dit moontlik is.”

      Sy staan oorhaastig op om te gaan betaal. Karien kry dit altyd reg om tot in haar siel te kyk, dink sy effens verbouereerd.

      Sy teken die kredietkaartstrokie en kry die ander twee by die viertrek.

      Hulle vind hul rondawel sonder moeite. Sit ’n rukkie onkant gevang deur niksdoen op die stoep, voor hulle besluit om winkel toe te stap om slaai en peuselhappies vir die volgende paar dae te koop.

      “Daar is dalk iets te sê vir mans wat van bestemming tot bestemming jaag,” sê Amelia toe hulle die kruideniersware ’n rukkie later op die kombuistoonbank neersit. “Dis nog so vroeg en ons het niks om te doen nie.”

      “Jy’s reg, ek is klaar verveeld. Kom ons gaan verken die plek. Te vóét,” beklemtoon Daleen en reik na die rondawel se sleutel.

      Hulle stap op die stil paadjies wat tussen die rondawels deur kronkel. Daleen neem stewig die voortou, die ander twee blasend agterna. Dis nogal ’n groterige oord. Hier en daar staan ’n voertuig voor ’n rondawel, andersins is die plek verlate.

      Dis lekker dat die paaie nie net gelyk is nie, dink Daleen toe hulle ’n stewige opdraand begin uitstap. Sy draf genoeg gelyktes elke oggend.

      ’n Uur later laat sak hulle hul moeë voete in die yskoue swembadwater, broekspype hoog opgerol.

      “Nee, magtig, Daleen,” sug Karien en vryf oor haar seer, ongeoefende kuite. “Toe jy sê ons moet gaan stap, het ek gedink dís wat ons gaan doen. Nie op ’n drafstap voortstorm nie!”

      “Dit het darem die tyd ’n bietjie omgekry,” sê Amelia.

      Karien lê terug op haar rug, haar voete morsdood in die koue water. ’n Grys kat kom om die hoek gesluip. “Hier’s vreeslik baie katte,” merk sy op terwyl sy probeer om hom nader te lok.

      “Ek wonder wie sorg vir hulle,” sê Amelia.

      “Ek dink die restaurant sit vir hulle kos uit, anders kyk die gaste maar.” Daleen skud haar kop. “Dis eintlik ’n treurigheid om te sien hoe hulle saans om die braaivure bedel.”

      “Ek wil ten minste twee katte en twee honde hê.” Karien kom regop toe die kat haar ignoreer en gaan sit om hom te was.

      “Hoekom het julle nie diere nie?” vra Daleen, verbaas dat sy nou eers daaroor wonder.

      “Dawid is allergies,” sug Karien. “Ek kry altyd die kinders so jammer, dat hulle so troeteldierloos deur die lewe moet gaan. Gelukkig het hulle ouma ’n kat, anders was troeteldiere seker vir hulle ’n rariteit.”

      “Kom,” sê Daleen terwyl sy haar yskoue voete uit die water lig en energiek met haar hande begin vryf om weer die bloed te laat vloei. “Daar is ’n bottel wyn in die yskas wat nou baie hard na my roep.”

      Lesse in erotika

      Die winderige winterkoue het hulle eindelik teen skemer binnetoe gejaag, waar hulle nou tevrede moet wees om die mooi uitsig oor die oord deur die venster te bewonder.

      Karien neem ’n diep sluk van haar wyn, staar dan na haar voete. Op hierdie oomblik, weet sy, wil sy nêrens anders wees nie. Hier tussen haar jare lange vriendinne voel sy veilig.

      As sy net nie soveel na haar kinders verlang het nie. Die verlange na Dawid kan sy hanteer, maar nie die verlange na haar kinders nie. En dit pla haar dat Ronel vandag só gereageer het. Sy het geweet Dawid se ontrouheid sou ’n merk op hul dogter laat, maar sy was nie voorbereid op die verslaentheid nie.

      “Ek gaan gou die kinders bel, hoor hoe dit gaan,” verskoon sy haar en stap na die badkamer, waar dit meer privaat is.

      Ronel antwoord haar selfoon na skaars twee luie, haar stem hees van opwinding. “Ma sal nooit raai wat gebeur het nie!”

      Karien glimlag. “Ek is seker ek sal nie kan nie, vertel eerder.”

      “Jaco het uiteindelik wakker geskrik en my na die lentebal gevra!”

      Jaco is die seun oor wie haar dogter nou al amper ’n maand lank swymel, onthou Karien. “Ek hoop nie jy het dadelik ja gesê nie. Het jy hom darem eers so ’n bietjie laat sweet?”

      “Nou klink Ma nes Ouma,” sê Ronel verwytend.

      Inderdaad, dink Karien. “Jammer, my skat, ek is bly hy het jou gevra. Dis net nog lank, amper vier maande voor die bal.”

      “Maaa . . .”

      “Jammer.

Скачать книгу