Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos

Скачать книгу

orgideë om te sien toe iets – volgens hom – hom dwing om die huis in te gaan. Hy het die deur oopgestoot en Hanna op die vloer aangetref.

      Toe het hy – volgens hom – die ambulans, die dokter en die hospitaal geskakel, in daardie volgorde. Ná hy hartmassering gedoen en geen reaksie gekry het nie, het hy – volgens hom – mond-tot-mond-asemhaling gedoen.

      Verdere besonderhede is vaag en – volgens Dulcie – ’n bietjie verdag. Ongelukkig was Sparky se pogings puur verniet. Sy geliefde Hanna was so dood soos ’n mossie.

      Met die vertel van die storie gaan Sparky graag oor tot aksie om te illustreer hoe hy gesukkel het om Hanna se lewe te red. Met ’n gekap op sy bors en swaar asemhaling sou hy betraand die drama op die kombuisvloer vir die soveelste keer vertel.

      Al wou Sparky almal oortuig dat Hanna aan ’n hartaanval dood is, weet Dulcie die doodsertifikaat sê versmoring. Met dié dat Sparky te aangedaan was om van nut te wees met enige reëlings, het hy Dulcie gevra om die doodsertifikaat by die dokter te gaan haal.

      Toe Dulcie die dokter vra wat tot Hanna se versmoring gelei het, was die antwoord ’n kaas-en-biltong-toebroodjie. Sy het die doodsertifikaat vir Sparky gegee, maar besluit om stil te bly oor die versmoring. Die lewe het haar geleer dis soms beter om te swyg soos die graf. Sparky weet wat die dokter geskryf het, en as sy interpretasie hartaanval is, is dit sy keuse.

      Toe sy stilletjies vir die kinders vertel hoe Hanna dood is, was Ashwin se reaksie: “Ag, shame, Ma, arme antie Hanna, what a way to go.”

      Inderdaad.

      Maar mens moet seker in gedagte hou dat Hanna asmaties was en jare lank kortisoon gebruik het. Dit was seker deels verantwoordelik vir haar opgeblase voorkoms. En gedurende een van haar min besoeke aan Hanna se huis (Hanna was nie gasvry nie) het Dulcie ’n botteltjie antidepressante in die badkamer gesien.

      Violet, wat van dié dinge weet, het haar verseker daar was min keuse tussen die kortisoon en die antidepressante – dit was óf die een óf die ander, maar vet sou Hanna bly. Sy het duidelik probleme van ’n ander aard gehad, en dalk nog slegte gene ook.

      Druppels sweet loop teen die draers se gesigte af toe hulle terugstaan en tussen die roubeklaers indruk. Net Sparky bly staan, sy oë vasgenael op die kis by sy voete, die pastoor aan die ander kant amper versteek agter Sparky se breedte.

      Die fyn sproei wat die vorige nag al begin val het, was ’n welkome teenvoeter vir die hitte, maar nou waai ’n geniepsige windjie die wolke weg. Die laatoggendson blaker neer op die groepie, wat meesal in swart aangetrek is.

      Dulcie glimlag innerlik toe sy sien hoe Cheryl die begrafnispamflet verwoed voor haar gesig en nek waai. Ander trap-trap die nat grond asof dit die kole in hulle skoene gaan uitskud.

      Pastoor Stoffel maak keel skoon soos een wat aandag soek. Uit die hoek van haar oog sien Dulcie hoe hy vir Rose bekyk, van kop tot tone. Dít behoort hom op te wen, dink sy.

      Hy maak sy Bybel oop. “In Job hoofstuk 1, vers 21 lees ons . . .” begin hy met ’n bewerige stem.

      Dulcie sug. Dié keer ’n bietjie te hard, want Cheryl gee haar ’n kyk. Sjuut, sê haar oë.

      Langdradige kerkmense maak Dulcie bang. Die moontlikheid bestaan dat hoe langer hulle praat, hoe meer sin gaan hulle maak. Dulcie se houding was nog altyd vat my geld en los my uit as sy haar R5 in die kollektebordjie laat val.

      Die truuk is om die muntstuk geluidloos te laat val sodat ander dink jou bydrae is ’n noot. Om oogkontak te behou en mooi te glimlag met die persoon wat die bordjie aanbied, is noodsaaklik. Jy wil nie hê hy moet jou hand dophou nie.

      Cheryl het nog baie om te leer.

      Dulcie kyk onderlangs na Sparky. Normaalweg is sy klere grys en oninteressant, outyds, en die patroon lankal oor die vervaldatum. Maar hy lyk baie netjies in sy swart pak, swart hemp en swart dotjiesdas. Sy spierwit hare is stomp gesny en staan pennetjieregop. Dalk ’n bietjie Mafia-agtig, maar nietemin swierig.

      Sy verkyk haar aan sy grootte, die breë skouers effens geboë. Op vier-en-vyftig is Sparky tien jaar jonger as die vrou in die kis en net twee jaar ouer as Dulcie. Al lyk dit of sy spierwit hare hom in Hanna se ouderdomsgroep wil plaas, het hy ’n jong gesig en groot, kinderlike oë die kleur van kaneel.

      Aangesien Sparky se ma verlief was op Kirk Douglas, wat die hoofrol in Spartacus gespeel het, is Sparky summier na hom vernoem. Nog voor sy geboorte was sy naam reeds ’n uitgemaakte saak, op ’n stukkie papier geskryf en in die onderste laai gebêre.

      Spartacus Kirk Douglas.

      Met die geboorte van haar tweede seun het Skoonma se heldeverering verskuif van Spartacus na Ben-Hur. Dus was Dulcie se man se naam nie minder merkwaardig nie.

      Benhur Charlton Douglas.

      Gedurende hulle eerste skooljaar het Spartacus Sparky geword en Benhur Bennie. En was Skoonma se grand idee om uitheemse name vir haar seuns te gee daarmee heen.

      Hulle pa was ’n maer, tingerige mannetjie, maar met ’n ego die grootte van sy skoondogter Hanna. Hy het eers in ’n poskantoor gewerk. Later het hy onderwys gaan gee, maar sy drome oor vernaamheid het saam met hom gesterwe. Het hy bly lewe, sou hy die volgende dag as viseprinsipaal by die plaaslike skool begin werk het.

      Dulcie voel hoe ’n giggel soos ’n borrel in haar keel opstoot en geluidloos op haar lippe ontplof. Sy maak haastig keel skoon voor Cheryl weer kan “Máá!”

      Sparky se seun Enver-Lewis kyk strak voor hom uit. Ná sy troue met die Amerikaanse Rose het die land van the free and the brave ook Enver se permanente tuiste geword. Enver en gesin se vliegtuig het twee dae gelede op OR Tambo geland. By die lughawe het Sparky en sy kleinseuns mekaar aangestaar soos vreemdelinge.

      “Sê hallo vir Granddad,” het Enver sy seuns geesdriftig aangemoedig.

      Die seuns en die ou man het mekaar aangekyk en uitgekyk. Toe wys die oudste een na Sparky se knieë.

      “Kyk sy snaakse knieë!” het die rammetjie-uitnek uitgeroep.

      “Kyk sy snaakse knieë!” het die ander een agterna geskree.

      Almal het na Sparky se snaakse knieë gekyk. Selfs Sparky het na sy knieë gekyk. Twee vreemd gevormde bene wat in teenoorgestelde rigtings bak staan onder die soom van sy kortbroek. Om die kniekoppe ’n maalstroom van oumensplooie.

      Ná ’n paar oomblikke van eerbiedige stilte in erkenning van Sparky se snaakse knieë het oupa en kleinseuns hand geskud, hulle hallo’s gemompel en toe stilswygend mekaar vermy. Die een het beledig gevoel, die ander twee opruiend gelukkig.

      Hanna se broer, Dudley, draai om en kyk Dulcie vir ’n oomblik vas in die gesig. Waaroor gaan dít? wonder sy. Dudley is die teenoorgestelde van sy suster. Lank en maer, beleef, ’n stadige manier van doen, en maklik om mee oor die weg te kom. En hare wat gesny moet word.

      Dudley se vrou is drie jaar gelede dood, en hy het onlangs besluit om vroeë aftrede te neem. Gedurende dié tyd het sy enigste kind, ’n dogter, besluit om na Skotland te emigreer. Sy het eenvoudig haar praktyk as sielkundige in Sandton verkoop en is vort.

      “Hoekom juis Skotland?” wou Dulcie weet.

      “Hulle het sielkundiges nodig,” het Dudley gesê.

      Dis

Скачать книгу