Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Vier begrafnisse en 'n troue - Pat Stamatélos

Скачать книгу

en is mal daaroor om kos te kook. Sy vrou Hilda was lief vir bak, om met sy bedsokkies te spog en om gaste vir ete oor te nooi.

      ’n Paar keer het dit al vir Dulcie gevoel of Dudley by haar probeer aanlê, maar dit kon ook haar verbeelding gewees het. Met sy oop, ongekompliseerde gesig en ongestoorde houding is hy nietemin ’n ware vriend.

      Hilda was eerste op die maaier se lys, toe Bennie en nou Hanna. Almal in die bestek van net drie jaar.

      “Maa . . .” sê Cheryl mooi en stoot die houer met blomblaartjies voor haar in.

      Dulcie vat ’n hand vol en gooi dit oor die plastiekpapawers, blink kis en blink handvatsels.

      “Arme oom Sparky,” snik Cheryl sag in haar ma se oor.

      Dulcie sien hoe Sparky trane afvee, of dalk is dit sweet. Met die rondhardloop om begrafnisreëlings te tref, telefoonoproepe, bak en kook en die soektog na geskikte begrafnisklere het sy nie gedink wat Sparky deurmaak nie.

      Natuurlik voel sy vir hom jammer. Ná dertig jaar is dit verskriklik om jou skielik alleen in ’n dubbelbed te bevind. Hy was ’n goeie man vir Hanna, en al een wat haar alewige gekla kon vat.

      “Hanna is ’n goeie vrou vir my,” het hy meermale gesê toe sy nog geleef het. “My huis is skoon, my kos op die tafel, klere gestryk en ek is gelukkig in die slaapkamer. Wat meer het ek nodig?”

      Sulke tye het Dulcie instemmend geknik en stilgebly. Hoera vir Fanny Mabaso, het sy gedink.

      Fanny het die huis skoongemaak, kos gekook, sy klere gestryk én hul inkopies gedoen. As Fanny saans aandete saam met haar familie in haar RDP-huis nuttig, vertel sy heel waarskynlik van die vet bruin vrou wat dink sy’s ’n queen en net heeldag op haar alie sit sonder om ’n vinger te lig.

      Dis net die slaapkamergeluk waaroor Dulcie gewonder het. Of liewer nié oor wou wonder nie. Wat haar betref, behoort die liefdespel van ’n seekoei en haar geliefde nie eens genoem te word nie. Die lewe is kort, aaklig en gewelddadig genoeg in Suid-Afrika.

      Dulcie kyk na Enver waar hy langs sy pa staan met ’n vuis vol blomblare, sien hoe sy pa aan sy mou trek. Enver maak sy hand oop en die blaartjies val oor die kis en oor sy skoene. Dis vir Dulcie al of daar ’n effense ongemaklikheid tussen pa en seun kom lê het. Gisteraand was daar juis ’n insident tussen die Amerikaners en die Suid-Afrikaanse vader.

      Hulle het almal om die groot tafel in Dulcie se eetkamer gesit, Cheryl besig om die laaste skottel aan te dra. Die seuns het die groente fronsend aangekyk, maar lippe afgelek vir die lasagne. Die oudste se naam is Puck, die jonger een Bowie.

      Cheryl het dit op haar manier bewoord: “Hallooo, maan roep aarde. Hoor jy my? Jy daar in Amerika, seun van die donker kontinent van Afrika. Wat op aarde het gebeur met name soos Enver, Lewis, Abraham, Ashwin en Nelson?”

      Dulcie glimlag innerlik. Die seuns se name het ’n grap in hulle huis geword.

      Ou Hanna was destyds in die wolke oor die name.

      “Ai,” het sy gesug, “hulle klink nes régte klein Amerikaners, nè, Sparky?” En toe daar ’n ongemaklike stilte van sy kant was, harder: “Nè, Sparky?”

      Sparky se kop het outomaties op en af begin knik, met sy groot glimlag wat tussen groot ore vassit.

      Die enigste ander persoon wat mal is oor die name is Violet se man, Trevor. Bygesê, hy dink die hele wêreld is ’n grap. Dulcie kyk na die bebaarde man met die kaal kop vir wie Violet so lief is – die bewys van haar liefde duidelik sigbaar in sy boepmagie.

      Nou ja, daar sit klein Puck toe gisteraand, vingers wat naarstig om sy bord soek. “Mamsie! Where’s my fokken naaif?” skree-vra hy oor die tafel met sy mooiste Amerikaanse aksent.

      Almal was meteens tjoepstil, vurke belaai met kos wat voor die monde hang. Sparky het sy mes laat val.

      “Your fok ’n naaif is in your serviette, little darling,” het sy ma gesê, salig onbewus van die beroering wat deur haar little darling veroorsaak is. Dulcie het asem uitgeblaas, Cheryl het gegiggel en Sparky het lewe gekry.

      “Enver, jy kan gerus vir jou kinders maniere leer. ’n Mens praat nie so aan tafel nie,” het Sparky in Afrikaans gefluister, asof hy bang was Rose kan dalk verstaan.

      Enver het net gelag. “Nee, wat, Pa, hy vloek darem nie.”

      Die eerste ding wat Dulcie gedoen het ná almal huis toe is, was om vir Violet te bel. Agter geslote deure het hulle gekraai van die lag, en mekaar plegtig belowe om die staaltjie aan al wat leef en beef te vertel.

      Nou staan sy en luister na die ywerige poging van die roubeklaers om Hanna die graf in te sing.

      “Ma, sing tog,” fluister Cheryl.

      Sy maak haar begrafnispamflet oop, blaai raserig en gee haar dogter ’n betekenisvolle kyk, sien hoe Sparky ietwat senuagtig na sy kleinseuns loer. Sy glimlag. Hy bid seker dat hulle nie enige vloekwoorde oor hulle ouma Hanna se graf kwytraak nie. Sy kyk skrams na haar horlosie, dan na Violet. Violet wys haar die duim en sy knik instemmend. Show time.

      Sy hoop Fanny Mabaso is gereed vir hulle.

      Hoofstuk 2

      2

      Fanny Mabaso ís gereed, wit valletjiesvoorskoot en al.

      Dulcie, Ashwin en Cheryl was onder die eerstes om te ry en die eerste om by die huis aan te kom. Op pad het hulle by Checkers aangegaan en elkeen het iets gegryp en betaal. In Chesterlaan het Ashwin met ’n geskree van bande rem getrap en Dulcie het uitgespring, die trappe na die voordeur op gehardloop.

      “Fanny!” roep sy hard en storm die kombuis binne.

      ’n Verskrikte Fanny smyt haastig ’n sigaretstompie by die venster uit en glimlag mooi. Dulcie se groet word beantwoord met ’n kopknik.

      Vir ’n oomblik staan miesies en huishulp mekaar en aanstaar.

      “Nou ja, laat ons begin,” sê Dulcie en wys na die yskas. “Vat die skottels en sit dit op die eetkamertafel, die mense is by die voordeur.”

      Fanny maak haastig die yskas oop, vat ’n skottel in elke hand en loop eetkamer toe. Dulcie maak die yskas weer oop vir die skottel hoenderlewertjies en word begroet deur ’n rookwalm.

      “Fanny!” skree sy luidkeels. Oomblikke later kom Fanny ingevlieg.

      Die poedel tjank by die agterdeur.

      “Miesies?” vra Fanny skoon uitasem en maak die agterdeur oop. Nash die poedel kom ingehardloop, bokspring by die aanskoue van sy ounooi. Draai dan om om aan die vreemde vrou in die valletjiesvoorskoot te ruik.

      “Ek het jou nie geroep om die deur oop te maak nie! Laat meneer Douglas jou toe om in sý huis te rook?” Dulcie probeer kwaad lyk.

      “Miesies?”

      Dulcie bekyk die vrou van veertig plus met dieselfde bragrootte as Rose. Sy behartig Hanna se huis – nou Sparky se huis – met die presiesheid van ’n weermagmajoor, maar sy kan kamma nie ’n eenvoudige vraag verstaan nie.

      Dulcie

Скачать книгу