Maal. Nicole Strauss
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Maal - Nicole Strauss страница 1
Maal
Nicole Jaekel Strauss
Queillerie
Vir Ben
ook die niet is mos kos
– “Skemertaal” (Lotus, Jan Blom)
Die konsert
Ek het eers met my rug na hulle toe gesit, die man en die vrou in die koffiehuis. Ek kon hoor wat hulle sê, maar kon hulle nie sien nie, en my nuuskierigheid het die oorhand oor my sin vir ordentlikheid gekry. Ek het opgestaan, die kleedkamer besoek, en met die terugkom só by my tafel ingeskuif dat ek skuinsweg na die twee langs my kon kyk. Op die koop toe het die nuwe sitplek my ’n lieflike uitsig oor die agterste muur van die koffiehuis veroorloof, waar glase en koppies op rakke uitgestal is, blink en wit en duur, en ’n kristalkandelaar groots en magies uit die dak oor die gaste se koppe sy gelerige towerlig gestrooi het. Dis my gewoonte om altyd op ’n plek te sit wat my ’n blik deur die vensters van ’n kuierplek gee, sodat ek kan uitkyk buitentoe – die wêreld in – maar dié keer was ek alte gelukkig om die paartjie langs my, en die ryk interieur van die koffiehuis, stilweg dop te hou.
Wat my opgeval het, selfs toe ek nog met my rug na hulle gekeer was, was die stiltes tussen die twee. Nie die gemaklike stiltes wat tussen paartjies lê wat mekaar deur en deur ken nie, nie die gelaaide stiltes tussen mense wat met mekaar baklei nie, nie eers die verveelde stiltes wanneer twee mense werklik niks van mekaar wil (of kan) hoor wat hulle interesseer nie. Dit was ’n ander tipe, en ek kon nie my vinger daarop sit nie. As dit nie vir die stilte was nie, was dit dalk nie eers vir my nodig om my sitplek te verskuif nie. Gewoonlik is dit vir my genoeg om vreemde mense af te luister, en met net ’n vinnige blik my eie beelde wat ek van hulle in my kop optoor, met die werklikheid te vergelyk. Dikwels is die werklikheid vir my ’n teleurstelling.
Maar nie dié dag nie. Die liggaamstaal tussen die twee was meer interessant as dit wat hulle vir mekaar te sê gehad het. Dit was meestal sý wat die praatwerk gedoen het. Die man het amper niks gesê nie. Hy het teruggeleun in sy stoel, male sonder tal oor sy grys bokbaardjie gevryf, sy swartraambril afgehaal, dit teen die goue lig van die kandelaar gehou, en weer terug op sy krom neus geplak. Die oë agter die bril was staal.
Sy, aan die ander kant, was sag en mooi. Grysblonde, golwende hare was in ’n Franse rol agter haar kop vasgemaak; stringetjies daarvan het uit die rol gegly en om haar ore en teen haar slape gespeel. Haar oë, ook agter brilglase, was ’n sagter grys as syne, soos die see op ’n bewolkte dag, oortrokke eerder as stormagtig. Sy was sorgvuldig gegrimeer, keurig en klassiek; haar lipstiffie het sy êrens in die loop van die middag met ’n vars smeersel van haar salmpienk stafie opgeknap. Sy het ’n roomkleurige, lospassende broek aangehad, gemaklike plat skoene wat sy ’n paar keer onder die tafel uitgeskop en dan weer aangetrek het. Uitgeskop, aangetrek, asof die aktiwiteit onder die tafel kon vergoed vir die afwesigheid daarvan bokant die wit tafeldoek. Aanvanklik het ek gedink ek gaan hulle uitvang in ’n spel van voetjie-voetjie, maar sy paar gepoetste skoene het hy aan die punte van sy lang, uitgestrekte bene ver van die tafel af gehou.
Haar kaal voete, wat sy soms by die enkels oor mekaar gekruis het onder die tafel, het my herinner aan die meisie in die Stadtpark so ’n paar weke vantevore. Ek het haar onder Strauss se standbeeld aangetref. Sy het op haar oopgespreide jas gesit, haar voete uitgedop langs die leë skoene op die gras. Sy het ’n tydskrif deurgeblaai. Daar was groot plastiekringe aan haar vingers, maar ek was seker dat dit ter navolging was van die nuutste modegier en nie omdat sy nie duurder juweliersware kon bekostig nie. Haar sonbril het die grootste gedeelte van haar gesig bedek. Haar hare was kort en haar nek kaal. Die onderklere wat deur haar deursigtige toppie geloer het, was allermins goedkoop; ek kon die tekstuur van die kant onder my vingerpunte voel.
Toe die meisie uiteindelik van die gras af opstaan, die jas oor haar skouers gooi en die skoene aan haar voete glip, het die pienk lig van die aand al oor Wene geval. Dit was skemer, my gunstelingtyd van die dag. Ons het in die rigting van die Donau gewandel, ek en sy, haar sak oor haar skouer gedrapeer soos daardie outydse pelsdiertjies wat deesdae so verbode is, die koppies nog ongeskonde en heel, die ogies blink en beskuldigend. Sy het in die verbygaan die tydskrif in ’n drom gegooi.
Ek val myself in die rede; terug by die mooi vrou in die koffiehuis. Sy het ’n sagte, gebreide, koffiekleurige tweestuk by die broek gedra, ek dink dit was kasjmier. Om haar nek was ’n string melkwit pêrels, die perfekte sirkels van die juweel vier maal so groot soos die stringetjie wat my ma diep in haar onderklerelaai gebêre het, vir doop en troues en begrafnisse. En die dag toe ek graad gekry het. My ma se flenterpêreltjies kon nooit opmaak vir die ontsegging geskryf in die kringe onder haar oë, die kleur van donderwolke, of die motgifreuk van haar beste rok nie.
Mathilde oorkant my (ek het uit hul karige gesprek kon aflei dat dit haar naam is; toe sy ná die koffie en koek ’n bottel wyn bestel, het hy haar toegesnou: “Jy drink te veel, Mathilde.”) het haar sagte dog bewaakte blik – soms selfs verwytend, dink ek – dikwels op haar man gestip. Dan het sy monde vol koek fyntjies gekou, die krummels ligweg met ’n wit lapservet van haar lippe getik, en nou en dan die bordjie oor die tafel gestoot en só gedraai dat die silwer vurkie na hom toe wys. Hy het elke keer eenvoudig sy wang op haar gekeer, miskien sy kop geskud, iets kwaais onder sy asem gemompel. Mathilde het nogal vinnig die flambojante stuk apfelstrudel weggesit, elke laaste leksel room en blaartjie deeg het sy pad uit die porseleinbordjie na haar mond gevind. Toe die lekkerny op was, het sy lipstiffie aangesmeer.
“Jy gaan seker iets drink,” het sy gesê toe sy haar tweede Grösser Brauner bestel. Hy het vir die kelner, wat pikkewynagtig ’n swart skinkbordjie op sy gewebde vingers gebalanseer het, geblaf dat hy mineraalwater wil hê. “Funkelnd,” het hy bygevoeg.
Na die koffie met room en so halfpad deur die mineraalwater waaraan hy geproe het asof dit gif is, het Mathilde na haar horlosie gekyk.
“Nog ’n uur om te gaan,” het sy gesê en bykans onhoorbaar gesug. Hy het in sy stoel verskuif en sy een lang been oor die ander gekruis, sy arms voor sy bors gevou. “Ek moes maar ’n later vlug uit Zürich geneem het,” het sy bygevoeg, en die bottel wyn bestel.
“Jy drink te veel, Mathilde,” het hy gesnou en die waggelende kelner amper uit die pad gevee toe hy terugkom met die bottel Weisser Riesling en twee glase op die skinkbord, en heel onskuldig ’n wynglas voor Mathilde se man ook neersit.
Sy het vinnig ’n glas wyn gedrink en die kelner weer nader geroep.
“Die spyskaart, asseblief,” het sy beleefd gevra, uit pure verveling, vermoed ek. Die kelner het weggewip om die spyskaart te kry, en haar man het sy stoel hard en steurend agteruit gestoot, en bedonnerd weggebeur kleedkamer toe. Sy het skaam rondgekyk, en vir die eerste en enigste keer het ons oogkontak gemaak. Sy het verleë geglimlag, en vinnig van my oë af weggekyk. Sy het haar besig gehou met die spyskaart.
“ ’n Croissant met ham en kaas, asseblief,” het sy bestel toe die kelner versigtig nader kom, en hy het blitsig weer vertrek voor die eggenoot kon terugkeer.
In die tyd wat hy in die kleedkamer was (hy was lank weg) het sy nog ’n glas wyn gedrink. Ekself het my horlosie begin dophou, nou en dan oor my ken gevryf, soos wat ek doen wanneer ek senuweeagtig raak: dit was amper tyd vir die konsert. Hy het kort voor die croissant by die tafel aangekom, die nattigheid van die water wat hy oënskynlik oor sy gesig gaan spat het, nog blink en diamantagtig in sy baard. Hy het ’n tydjie lank met sy hande in sy sakke rondgestaan, na die kandelaar gekyk, vir iemand aan die oorkant van die vertrek geknik. Hy het gaan sit. Sy het behoedsaam die bord met die croissant (dit het heerlik gelyk) na hom toe uitgehou.