Kopreis. Gerrit Rautenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kopreis - Gerrit Rautenbach страница 2
Op 26 Augustus 1903, skaars ’n jaar ná sy aanstelling, was Harry op pad terug van so ’n lang perdepatrollie. Teen die aand het hy sy vier swart veldwagters met die pakdonkies gelos en vooruit gery om kampplek te gaan soek. Sy getroue hond Bull het langs hom gedraf.
In die sterk skemerte was daar ’n beweging in die lang gras en Bull het dadelik begin blaf. Skielik was die leeumannetjie daar. Groot en gevaarlik en reg om te spring. Dit het alles so gou gebeur, Harry kon nie eens sy geweer lig nie. Hy het sy perd linksom gepluk en spore ingekap. Die leeu het gespring, die perd skrams op die boud gekap, wat oorgenoeg was om die perd te laat spaander. Nadat hy vir Harry gegooi het. ’n Tweede leeu het nadergestorm en Harry aan die regterskouer gegryp en begin wegsleep in die wildpaadjie, terwyl die eerste leeu die perd agternagesit het.
Harry was onder die leeu op sy rug en kort-kort het die leeu hom raakgetrap met sy voorpote totdat sy broek en bobene verflenter was. Elke nou en dan het Harry se spore aan bossies en takke vasgehaak. Dan ruk die leeu hom vorentoe. En ruk die wond aan sy skouer al hoe verder oop.
Harry het homself reggemaak vir die ergste. Hy gaan leeukos word. Maar toe besef hy dat hy nog sy jagmes aan sy regtersy het. Omdat die leeu hom aan sy regterskouer gesleep het, moes hy onder sy rug deur met sy linkerhand werk om die mes uit te kry. Dit was ’n ordentlike, skerp T. Williams met ’n 11,5 cm-lem. Eindelik het hy die mes stewig in sy linkerhand gehad. Met ’n oorweldigende drang om te oorleef het hy korrel gevat na waar die leeu se hart behoort te wees en hom twee keer so hard hy kon gesteek.
Die leeu het hom ná die eerste steek gelos, maar grommend oor hom bly staan. Hy het ’n derde keer die leeu gesteek en ’n groot slagaar afgesny, want hy was dadelik deurdrenk van die dier se bloed. Die leeu het so ’n paar treë weggespring en Harry het pynlik regop gaan sit. Hulle het mekaar aangegluur.
Harry was oortuig die leeu sou weer aanval en het toe op hom begin skree en vloek. Dit het waarskynlik sy lewe gered, want ta het weggesluip en in die donker gaan lê en roggel. Mettertyd het sy gegrom oorgegaan in ’n diep steun. En toe word dit doodstil.
Harry het nie vergeet van die tweede leeu nie en bloeiend en pynlik in ’n valsdoringboom geklim. Ook net betyds. Die tweede leeu wou kom klaarmaak en dis hier waar Bull Harry gehelp het deur aanhoudend vir die leeu te blaf, maar elke keer te vinnig vir hom was as hy storm. Eindelik het die leeu moed opgegee en in die donkerte verdwyn.
Harry was teen dié tyd baie swak en bang hy val uit die boom. Toe maak hy homself met sy gordel vas totdat sy veldwagters hom daar gekry het. Saam het hulle sewe kilometer gestap tot by ’n ou buitepos met brandende stompe om die leeu weg te hou.
Die volgende oggend het hulle ’n draagbaar van komberse gemaak en Harry heelpad tot by Komatipoort gedra. Kameraderie is die wagwoord van oorlewing in Afrika.
“Nou ja toe, nou moet jy slaap. Môre ry ons wildtuin toe, Kleinman,” sê my pa aan die einde van dié vertelling. Ek kyk hom net grootoog aan.
“Ek kan nie, Pa. Ek is te opgewonde. Vertel my nog avonture. Avonture in die Kruger.”
“Nee wag, daar kom nog baie avonture later. Nou moet jy slaap. Tel skape tot jy slaap.”
“Nee, leeus. Ek sal leeus tel,” antwoord ek hom, maak my oë toe en voel net of ek my jagmes aan my sy het. Eendag gaan ek ook ’n veldwagter word.
’n Dosyn redes om Arusha toe te gaan
Mashono Fashions, staan daar in handgeverfde swart letters op die vuilwit naambord. Dit lyk nie soos die plek waar ek moet wees nie, maar dit is die plek waar ek moet wees. Agter my lê Arusha se oorvol, besige Kingdomstraat en bak in die son en stof. Ek is nou net deur ’n swetterjoel laggende kleintjies wat almal spesiaal dié mzungo se aandag soek. Mzungo ken ek nou al. Dis ’n witman. En witman is wat ek is. Op soek na ’n ander witman iewers in Mashono Fashions.
Ek kyk gou in my Swahili-fraseboek en kry mashono. Langsaan staan die Engels: fashion. So ek is by Fashion Fashions in Arusha, Tanzanië. Die deurraam is ’n verbleikte liggroen geverf. Bokant is die naambord. Effe skeef. Die hout onder die 16 lae verf moet horingoud wees. Iets selfs Arabies in die ontwerp. Weerskante van die raam hang verbleikte outydse oortrekrokkies aan verroeste droogskoonmaker-draadhangers. Die effe windjie wip-wip die rokpante heen en weer. Dit herinner aan ’n reënboog wat lanklaas reën gesien het soos die verskillende kleure omblaai. Die sale-bordjie dui aan dat dit al ’n jare lange uitverkoping is.
Ek stap deur die vaalgroen kosyn en skielik kan ek niks sien nie, maar ek ruik negosie. Iets amper soos boerseep. En ek hoor naaimasjiene kletter. Outydse Singers wat nog getrap word. Oral hang nog baie rokke rond aan handgemaakte relings. Noudat my oë gewoond is aan die gebrek aan lig, is dit al wat ek sien.
“Can I help you, dear chap?” sê een van die rokke dan.
Ek blaai die rok weg en daar staan iets uit ’n ander era. ’n Koloniale oumatjie wat tydens die dae van White Mischief haar misnoeë kliphard sou uitspreek. Sy is kort en net effe plomp en vee die sweet saam met ’n grys lok hare van haar voorkop af. Daar’s ’n vriendelike vraagteken in haar oë.
“I am looking for Steward Pringle? ” sê-vra ek, vir die oomblik baie dankbaar dat Swahili nie nodig is nie.
“A! Jy’s die joernalis,” sê Oumatjie dan. “My seun se kantoor is bo. Kom saam.”
Ek volg haar deur die doolhof rokke terwyl sy my vertel dat sy dit van Engeland af laat inkom, maar dat die vrouens plaaslik dit nie wil koop voordat dit ’n bietjie verstel word nie. Dan voel hulle hulle koop nuwe rokke.
Anderkant die rye rokke is ’n oop area met ’n houttrap regs wat dalk nie vir Os du Randt boontoe sou vat nie. Die res van die spasie is vol Swahili-vrouens wat trap en stik.
“Jambo! ” toets ek my beperkte Swahili op hulle.
“Karibu, karibu,” kom dit van hulle kant af en ek voel welkom.
“Habari? ” vra een en ek versteen. Oumatjie gryp in en verduidelik iets in Swahili voordat sy my meedeel hulle wil weet wat is nuus en dat sy vir hulle gesê het ek is ’n baie belangrike man wat kom skryf oor Steward se toeristeprojek, African Dream Safaris.
Bokant die trap is ’n ander wêreld. ’n Eerste Wêreld vol rekenaars, swartborde en kolomme vol datum-tydgroepe van besprekings. African Dream Safaris is Steward se droomkind wat waar geword het. Hy hou die Engelse se behoefte aan kolonialisme lewendig deur baie gesofistikeerde toere deur die Serengeti aan te bied. Die gaste vlieg Arusha toe en ry dan met Land Rovers (wat anders?) terwyl die Bedfords (wat anders?) vooruit gaan en kamp opslaan. Sodra die son wil-wil begin sak, kom die Land Rovers op die kamp af. Wit tente met muskietnette binne-in en lang tafels vol gin & tonic (wat anders?) wag vir hulle. In hoge Ingils verduidelik Steward dan aan sy gaste hoe die bos in Afrika werk terwyl tien dienaars sorg vir die gerief van tien gaste wat elk ’n duisend pond per nag betaal, wyn drink uit kristalglase, driegangmaaltye geniet met lapservette en Sheffield-silwer. Môre gaan die onontbeerlike safari dieper die Serengeti in.
Maar Steward is ’n lekker ou. Hy het my vir die aand oorgenooi na sy huis, net effe groter as die standaard Arusha-townshiphokkies, waar Oumatjie vir ons fish & chips (wat anders?) gemaak het terwyl ons ingevoerde John Smiths Bitters-bier gedrink het.