Kopreis. Gerrit Rautenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kopreis - Gerrit Rautenbach страница 6

Kopreis - Gerrit Rautenbach

Скачать книгу

Johan Bakkes langs my saag balke en hoor nie eers die roep nie. Dis goed, laat hy slaap, want die pad is nog lank en lelik. Hy gaan netnou moet stange vat.

      Ons is Tjomma Twee, en sonder om te kyk, vat ek die handstuk en druk die praatknoppie.

      “Tjomma Een, Tjomma Twee staan by …”

      “Tjomma Twee, mooi so, kyk net of jy wakker is, ek slaap nou al die laaste 10 kilometer,” maak Tjomma Een weer ’n grappie. Tjomma Een is Piet du Toit, en hy is nie verniet Tjomma Een nie.

      Saam met hom is Kennister Maziezi Chibeya, bestuurder van Kabula Lodge en een van die trotse Lozi’s van Barotseland. Langs Kennister sit hoofman Bradson Mabuku Mubilikautema, leier van die streek waarin Kabula val.

      Agter ons is Tjomma Drie, oftewel Willie Booysen senior, Willie Booysen junior saam met Basie Steenkamp en Thys van der Merwe. Ons is iewers tussen Livingstone en Lusaka, op pad na die Kuomboka in Barotseland. Elke jaar ná die somerreëns, as die Zambezi sy walle oorstroom en die vloedvlakte in Barotseland te hoog styg, verhuis die koning van die Lozi van sy somer- na sy winterpaleis. Die Kuomboka (“om uit die water te kom”) gebeur nou al honderde jare en het een van Afrika se grootste ware seremonies geword. Die waterverskuiwing is omtrent 34 kilometer lank, duur amper agt uur en dit verg meer as 120 roeiers om die nalikwanda – ’n reuseboot van meer as 11 ton in die vorm van ’n makolo – te verskuif. Niemand weet presies wanneer dit gaan gebeur nie, maar ons is nietemin op pad. Net dalk beleef ons dit.

      ’n Paar jaar gelede was Kabula Lodge, 58 kilometer van Katima Mulilo op die M10, ’n taamlik verwaarloosde plek toe Piet en sy vrou, Leonie, daarop afgekom het tydens een van hul vele reise. Piet, wat in daardie stadium nog sterk betrokke was in die motorhandel, het besef die plek is ’n nuwe uitdaging wat wag. Vandag is hy die trotse eienaar van ’n lodge wat ’n perfekte basis is vir groot Afrika-ervarings en ekspedisies deur Barotseland in Wes-Zambië. Saam met Kabula het Piet vir Kennister geërf.

      Kennister met sy hoepel-poliobeen en sy vasbyt. Vandag is Kennister die bestuurder met ’n uniform, selfoon en ’n vierwielmotorfiets om hom vinniger te laat beweeg (ja, daar is positiewe gebruike vir dié goed). Buiten die opbou van Kabula en die bevordering van Kennister het Piet begin terugploeg in die gemeenskap. Vandag is daar byvoorbeeld ook ’n trotse Kabula-sokkerspan wat hul bene op die vliegveld sal breek om te wen. Vir Piet.

      Op ’n dag lank gelede het Piet my gekontak en ’n voorstel gemaak. Daar is nog nooit regtig breedvoerig oor die Kuomboka geskryf nie en volgens hom is ek die regte een om dit te doen. Net toe ek verskriklik opgewonde begin raak, het hy my gewaarsku dat die rede hoekom daar nog nie baie daaroor geskryf is nie, juis is omdat niemand, buiten die litunga, of koning, presies weet wanneer dit gaan gebeur nie.

      Litunga Lubosi Imwiko II laat bloot die maoma, oftewel die koninklike tromme, slaan die nag voor die gebeurtenis om die koninklike roeiers te roep om reg te maak om die volgende dag die groot roei te roei.

      Vanjaar was die eerste gerugte dat dit laat Februarie sou plaasvind. Toe besluit die litunga die water is nog nie reg nie, en verskuif dit na middel Maart. Inderhaas tref ons nuwe voorbereidings. Totdat die datum nog ’n slag verander. Dié keer het Piet gewys wat in hom steek en het hy vir mukwae (prinses) Monde Mubita aan sy kant gekry.

      Sy is die kleindogter van die litunga se tante en deel van die koninklike Barotse-instelling, en het bevestig dat 12 April die datum is. Ja, Piet is ’n man van invloed en met baie maniërismes. En as hy eers vir jou begin tjom sê, kan jy maar weet jy is deel van iets spesiaals.

      En nou is Tjomma Een, Twee en Drie op pad Kuomboka toe.

      Die reis soontoe het op 8 April in Swakopmund begin en laatmiddag op 9 April is ek en Johan besig om die Cruiser hard gas te gee op pad na die Katima-grenspos. Hulle maak sesuur toe en ons wil vanaand nog in Kabula wees. Daar is baie planne om te maak. Roetes om uit te lê. Besluite om te neem. En oor drie dae loop die Kuomboka.

      Vyf minute voor ses is ons deur. Met ’n losbandigheid van verligting vat ons die M10 wes teen die Zambezi op. Ja, die pad het sy eie roetenommer, maar daar is nie veel meer pad oor nie. Elke tree wat ons vorder, raak die lig minder. Later kap ons daai pad in stikdonkerte, maar die opgewondenheid en avontuurlus word net groter. Iewers hier voor lê Kabula en Johan was vyf jaar gelede ook hier in ’n poging om die Kuomboka te sien. Hy het toe net vir Kennister gekry, en moes onsuksesvol en druipstert terugdraai. Gaan ons dit dié keer regkry?

      Op met ’n knobbelstuk-pad en af in ’n donga toe Johan ’n ander CD opsit. “Maria Magdalena” van Jan Blohm word ons temalied: “… met jou asem op sy hande, tienduisend kerse aan die hemel hang …” Die tienduisend kerse word die sterre oor ons koppe. Die lewe word mooi, die lewe word groot. In die donkerte lê Afrika steeds wyd. Dis waar ’n mens wil wees. Jou siel is oop. Jou hart klop tevredenheid. Iewers wag ’n groot gebeurtenis.

      Dan verrys ’n afdraaibord na Kabula voor ons. Regs af, dik sandpad en kronkels totdat hy ons uitspoeg in Kabula. Johan sit afwagtend vorentoe. Ek skakel die Cruiser af en ’n oomblik lank is dit net die tikkende enjin wat saam met die paar brandende lanterns se vlammetjies dans. Ons kyk vir mekaar. En skielik sien ons in die lig van die lanterns ’n hobbelsilhoeët grotesk soos uit ’n Spielberg-fliek nader kom.

      “Hy is nog hier …” grinnik Boeta Bakkes in sy baard.

      “Hallo, Mister Johan,” onthou Kennister hom met wit tande toe ons uitklim. Die wêreld is te groot om twee keer na dieselfde plek te reis, reken party filosowe. Se gat, bevestig hierdie herontmoeting.

      “Welkom, tjommas,” kom die rustige Piet nader uit die donker en ons voel veilig deel van iets groots en onbekends. Die essensie van reis.

      Die volgende aand het Willie senior en junior by ons aangesluit. Kaart voor ons oop stoot die opgewondenheid soos ’n vloedvlakte op. Mongu, die dorp waarom die Kuomboka plaasvind, lê skaars 250 kilometer noord van Kabula. Ons is sommer gou daar, reken ons tot Piet ons die nuus meedeel.

      Mongu lê aan die oostekant van die Zambezi, wat beteken ons moet halfpad by Sioma met ’n pont oor die rivier. En die pont lê diep versuip onder die hoë watervlak.

      So naby, maar tog so ver, dink ons en wil-wil net mismoedig raak toe Piet roete nommer twee voorstel. Daar is ’n pad aan die oostekant verby wat net so onder die 500 kilometer lank is en ons betyds by Mongu sal uitbring. Roete twee loop verby Mulobezi en Luampa, waar dit weer by die M9 tussen Lusaka en Mongu aansluit.

      Ons entoesiasme vat weer vlam, totdat ons besef niemand weet hoe die pad lyk nie. Aan die een kant wil ons avontuurlus nie weet hoe hy lyk nie, maar aan die ander kant wil ons verantwoordelik wees en alles moontlik doen om betyds by die Kuomboka uit te kom.

      “Moenie worrie nie, tjommas,” sê Piet die volgende oggend toe hy een van die plaaslike inwoners opspoor wat blykbaar kennis van die pad dra. Die man reken hy is skitterend en goed geskraap vir maklik ry. Piet vra of hy die pad al gery het en hy verseker ons hy het. Dis Afrika dié en vir sekerheid vra Piet hom wanneer laas hy die pad gery het.

      “Uhm … laat ek nou mooi dink,” krap die man kop. “So … iewers in 1975.”

      Ons besluit op opsie nommer drie. Via Livingstone, oor Lusaka en deur die Kafue-wildtuin tot in Mongu. ’n Ompad van oor die 1 000 kilometer wat langer as 27 uur duur. Ja, Afrika is nie vir sissies nie, maar kom sal ons daar kom. As die koning net nie weer besluit het op ’n ander datum nie. Iewers tussen Lusaka en Kafue het Tjomma Een vir Tjomma Twee laat weet hy slaap nou al vir 10 kilometer lank …

      Die Groot Watertrek het begin. Vroegoggend op 12 April vat ons die water in ’n boot wat ook soos

Скачать книгу