Joe Speedboot. Tommy Wieringa
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa страница 13
Dit was nie so moeilik nie. Joe het tevrede geknik en opgestaan. Hy is by die loods weg en het later teruggekom met ’n paar verroeste ysterstawe onder die arm. Die stawe was van verskillende diktes; die dunste een het hy in die bankskroef aan die kopkant van die werkbank vasgeklem.
– Nog ’n slag, Fransie, het hy gesê, en my by die bankskroef neergesit. Kan jy dit ombuig?
Ek het die staaf in my hand geneem en dit gebuig. Joe het die volgende staaf vasgeklem. Hy was dikker en ek het hom goed vasgevat. Ek het weinig weerstand ervaar toe ek ’n hoek daarin gebuig het, maar tog het die merk van die staaf bloedrooi in my hand gegloei. Dit het my laat goed voel as ek dinge kon buig.
Joe het nou die laaste staaf in die bankskroef vasgeklem. Dit was heelwat dikker as die vorige twee. Ek het my vingers daarom geklem en al my kragte ingespan, maar die verdomde ding wou nie roer nie. Ek het alles ingesit; ek kon nie vir Joe teleurstel nie. Daar het ’n snaakse geluid uit my keel gekom, ek het vir lewe en dood getrek, maar daar het nie veel gebeur nie. Behalwe dat ek iets soos glas wat breek en metaal op klip gehoor het. En toe gee hy mee – hy het stadig na my kant toe begin beweeg. Was dit bloed of snot wat uit my neus geloop het?
– Los maar!
Ek het laat los en tot my verbasing het die staaf soos ’n rek teruggespring. Daar was ’n harde slag en ek het gekreun van teleurstelling: Die yster was nie gebuig nie, dit was maar net die ander kant van die werkbank wat opgelig het – die geluid wat ek gehoor het, was dié van vallende bierbottels en gereedskap. Ek het misluk.
– Skitterend, het Joe gesê, moerse skitterend. Weet jy wat hierdie bank wéég?
Hy het langs my gekniel. Sy gesig was nou naby myne; hy het my aangekyk sonder om sy oë te knip en ek het gesien dat sy linkeroog iets anders uitstraal as sy regteroog – uit die linkeroog het vuur geskiet wat deur die regteroog getemper is, want daarin het ’n soort mededoë gelê wat groter was as wat ek kon verstaan.
– Daarmee kan jy nog baie dinge doen, met daardie arm van jou, het hy gesê. Hou hom fiks, mens weet nooit.
Hoofstuk 12
Dit was winter; die rivier het oor sy oewers gestoot. Rondom Veereiland het die water begin opdam en die oewerveld het meter vir meter onder die somber, klotsende water verdwyn. Die Lange Nek het oorstroom en kort voor lank het net die verkeersborde, lamppale en bome nog bokant die water uitgesteek. Piet Honing het die pont veilig in ’n noordelike inham van die rivier besorg waar die stroom nie so sterk was nie. Hy het nou met Betlehem Asfalt se amfibiese voertuig ’n veerdiens tussen Lomark en Veereiland aan die gang gehou.
Soggens en saans het die asfaltmanne bibberend vir hom staan en wag, die bestuurspan met hulle aktetasse en die arbeiders met hulle kosblikke in die hand. Die meeste asfaltmanne het nou vriesverlof gehad; die produksie het stilgestaan omdat geen vervoer tussen Veereiland en die vasteland moontlik was nie. Daar is hoogstens administratiewe werk en herstelwerk gedoen. Piet Honing het agterop die amfibiese voertuig aan die stuur gestaan en die koue het hom nie gepla nie – sy gesig het die tekstuur van duursame leer gehad wat met die jare verweer, maar nie verslyt nie.
Die mense van Veereiland, soos Engel en sy pa, het in die winter eilanders geword. Hulle het ’n week se voorraad op Lomark gaan haal en hulle dan weer in afsondering teruggetrek. Vroeër het jy regte anargiste daar gekry, ’n radikale spul wat aartappelmampoer gedrink en wetteloos hase gejag het, want die lang arm van die gereg het nie tot oorkant die water gestrek nie. Hulle was berug daarvoor dat hulle mekaar met die geringste aanmoediging oor die kop slaan. Nou is dit anders, die mense is nie meer so nie. Hulle het saf geword. Elkeen kan ’n bottel jenewer uit die winkel bekostig en as hulle die hond uitlaat, wonder jy watter een van die twee die huisdier is.
Die water het nou teen die winterdyk gekabbel, die watermassa so oorweldigend dat die dorp gelyk het soos Lomark-aan-See. Sodra dit donker word, het die lamppale bokant die verspoelde Lange Nek aangegaan, en reëlmatige oranje ligkringe gegooi oor die onrustige waters wat see toe spoed.
Hoewel Veereiland nou afgesluit was van die res van die wêreld, was dit ek wat eenkant gevoel het. Ek was buitekant die ligkring omdat ek nie die afwerking van die vliegtuig kon beleef nie. Joe en Christof het met die amfibiese voertuig oorkant toe gegaan; ek het soos ’n onrustige hond aan ’n ketting oor die dyk beweeg en van die winterdyk af oor die water na die fabriek gekyk. Die meeste van die tyd het hulle binne gesit en kon ek hulle nie sien nie. Woensdag het op my skouer gesit en kort-kort sy snawel in my oor gesteek.
Dit het begin vries. Binnekort sou Piet Honing ook nie meer met die amfibiese voertuig kon heen en weer nie; net die dapperes sou twee-twee die ysige see trotseer, met ’n tou om die middel en ’n haakstok in die hand vir as die ander een dalk wegsak. Hoogwater, vriesweer, en om alles te kroon die oewerveld wat ook toevries.
Ek het die hele tyd gewonder waarvandaan die vliegtuig moes opstyg, want jy het omtrent die lengte van ’n sokkerveld nodig gehad om in die lug te kom, en soveel plek was daar nie.
Dit was stil op die fabriekswerf; die laaigrawe het sonder werk tussen die berge klippies rondgestaan. Die hemel was helder en oop, en eindelik was daar beweging aan die oorkant. Ek het deur die teleskoop gekyk en gesien hoe Joe die deure van die loods oopskuif. Christof en Engel het die hemelsblou, vlerklose romp uitgestoot. Al was die vlerke nog nie aan nie, en al was dit nog allermins seker dat die affêre ooit van die grond af sou kom, het ek daarna gekyk asof dit die heel eerste vliegtuig op aarde was. Daar in die verte het die suiwer wens om met swaartekrag klaar te speel, uitgeloop op ’n langwerpige, taamlik wanstaltige bousel op wiele. Daar was ’n stertstuk, ’n propeller en ’n enjin, en of die ding ooit sou opstyg of nie, het ek iets gevoel waarvoor ek eers later, in die filmtegniek, die regte woorde sou vind: die triomf van die wil. Dit was Joe wat die kreatiewe ingewing gehad het, Engel wat die idee gestileer het tot ’n hemelsblou ruimtevaartuig, en laastens Christof wat vir die olie gesorg het. En ek? Ek het die vlerkribbes in die regte vorm gebuig.
Woensdag het sy snawel op my skouer gepoets; ek het myself voortbeweeg.
Nadat ek by die huis ’n bietjie hitte by die verwarmer gaan soek het, is ek weer terug soontoe. Die vlerke was nog steeds nie vasgesit nie. Joe het met die vliegtuig oor die terrein gery, met Engel en Christof agterna. Dit was asof ek hulle opgewondenheid op die dyk kon hoor.
Joe het gesê hy sou ’n voetbalveld nodig hê om op te styg. Daar was nou wel ’n vliegtuig, maar nog steeds geen aanloopbaan nie. Toe Joe so in die rondte ry met ’n sneeumus en ’n skibril op, het ek die eerste keer ’n bietjie aan sy versiendheid getwyfel, en – om eerlik te wees – ook aan sy genialiteit.
Toe hy die gebruik van die stuurarm ’n paar dae later onder die knie gehad het, ’n ingewikkelde taak as gevolg van die stuurstelsel met sy drie asse, het hulle die vlerke aangesit. Daar was min ruimte om tussen die asfalthope te maneuvreer; die vliegtuig was nou byna twaalf meter breed.
Op die dyk het ek skielik gekliek, eindelik gesnap wat Joe lankal gesien het: die oplossing vir die opstygprobleem. Dit was net so eenvoudig as wat dit briljant was: Joe het vir ys gewag, die ys sou sy aanloopbaan wees! Dit was briljant en ek het groot ontsag vir sy strategiese vernuf gehad. Miskien sou hy die vliegtuig daarna, as dit eenmaal van Veereiland af weggekom het, elders gaan stoor, iewers in ’n verlate skuur of ’n ondergrondse kelder; ek het niks meer as onmoontlik beskou in die teenwoordigheid van hierdie groot, kalm siel wat doodluiters bomme geplant en vliegtuie gebou het, en die hemele weet wat nog alles sou uitdink nie. Ek bedoel, hy was toe maar vyftien; mens kon nog ’n hele wêreld van onthutsende idees te wagte wees, wat hy met die onverstoorbaarheid van ’n fietsmaker sou uitvoer.
Hy was nie soseer